Wednesday, January 23, 2013

Louis Jansen van Vuuren - Tempermes (2010)



Louis Jansen van Vuuren. TempermesQueillerie Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 7958 0021 4.

Resensent: Joan Hambidge

Soms verskyn daar ‘n bundel wat die leser onkant betrap. So ‘n bundel is die skilder Louis Jansen van Vuuren se gedigte: Tempermes. Hoe kan ‘n skilder sy hand aan die digkuns waag?, wonder ‘n mens.

Totdat jy dit lees. Dis ‘n wonderlike, aweregse, oordadige, geil bundel. In Roland Barthes se woorde is “die grein van die stem” hier ongetemper. Die verse kort inperking, beheer, maar paradoksaal is dit juis hiér waar die skoonheid lê: in die oordaad, of dan, in die ongetemperde, sinnelike spel.

Want moet jou nie bluf nie; die digter ken sy tradisie en digterlike vorme. Daar is ballades en intertekste, ‘n aubade, ‘n sestina en ‘n fyn toespeling of wat op ou Afrikaanse liedere.

Waarskynlik sou ‘n groter tegniese beheer aan te beveel wees, dink ‘n mens. Nee, dis eerder in die ongebreidelde aard waar die skoonheid van die bundel lê. En dis juis hierdie soort ambivalensie wat die bundel interessant maak. Presies dit wat Barthes met “jouissance” bedoel het: die vreugde wat jy nie onder woorde kan bring nie.
Dis daardie soort bundel wat jy weer en weer lees en die verwonding opvang agter die grap of spel.

Daar is ‘n wonderlike vers oor Sylvia Plath wat getuig van digterlike beheer: “Stillewe” (42) en dan ‘n klein show stopper soos die volgende:

Hangkas

op geskaafde en gedweilde
dennehoutplanke
langs ‘n hangkas
wat pleit om klere
staan twee pare skoene
met sole wat slyt

agtergeblewe
gespes
soos jou beloftes
gebreek   (27)

Die bundel getuig van belesenheid: daar is verwysings na Odusseus, Jason se vlies, die Bybel, Kirke, FAK-liedere, ensomeer. Die ruige verbeelding sal ‘n mens nooit vergeet nie:

Die windpomp kreun sy droë draai (18)
                                                        
“Bedvaart”(34) (‘n mens lees ook bedevaart) se spel met taal laat ‘n mens die hoed lig. Die gesprek hier met Eveleen Castelyn se beroemde gedig op die babbeljoentjie is grappig. Die lykdig vir “Nikolaas” (13) is eweneens ‘n hoogtepunt in die tradisie van die funeraire gedig:

Bleekperd se ruiter het die boodskap gebring,
woorde wat seil soos ‘n slang.
Nou is jy grys gepoeierde as:
vaal vierkantjie-boks, net jou naam daarop.


Veral die liefdesvers word nuwe lewe gegee met geil en helder beelde: soos “Donker oksel” (33), “Stansa” (36) (“Ek huil na jou, / ‘n stalsiek hings”).

“Carpe noctem” (45) som die digterlike tegniek enersyds ten beste op: dit speel in op die bekende, flirteer met die geykte, die kamp-verwysing, maar ruk die vers in sy bek net voor jy dink dis “over the top”. Andersyds is daar die suggestieryke gedig “Slaaploper” (17). Onderlangs praat verse met mekaar: die boetabroer se klam asem word later ‘n mond wat soos ‘n purper gulpvy oopbars. Daar is vrese wat soos die ek in die nag jaag (“Die dye van die nag is ‘n langhaar-wolf”, 45). Onder die speelsheid is daar pynlike herinneringe.

Dis ‘n bundel wat die digkuns onverwags getref het! Op die oomblik is daar ‘n hele paar nuwe stemme wat groot belofte inhou. Dit is soos ‘n oordadige blommerangskikking met veldblomme. Daar is beslis wildeals in hierdie heuningwals. (Dankie Philip de Vos).

[Hierdie resensie het vantevore in Die Burger verskyn.]