Valiant Swart. Toorwoorde roep my. Lapa Uitgewers, 2010. ISBN 978
0 7993 5090 6.
Resensent: Joan Hambidge
Almal het al die
ervaring gehad om ‘n Afrikaanse lied of song oor die radio of TV aan te hoor
met pynlike gevolge vir die oor. Die lirieke geen ‘n nuwe naam aan rymdwang. ‘n
Film soos Liefling – die movie het hierdie Kaptein laat dink nee en nogmaals
nee. In hierdie verband is Valiant Swart se songs ‘n heerlike afwisseling. Dit
het oemf, dit klink lekker op die oor en die kultusfiguur (“vir ouens soos
ons”) se bundel Toorwoorde roep my
sal waarskynlik ‘n blitsverkoper word.
Op die agterblad
vergelyk Danie Marais die sanger met Leonard Cohen. Volgens hom behoort Valiant
Swart in Groot verseboek as Cohen in
die Norton Anthology of Poetry
opgeneem is. Cohen was egter ‘n bekroonde digter voor hy sanger geword het en
waarskynlik een van die mees behendige liriekskrywers nóg. Swart is wel ‘n
beoefenaar van “rock ‘n roll”-ballades en volgens Danie Marais het hy homself
al in die kollektiewe bewussyn van die volk ingegrawe. Inderdaad: soos ouer
liedere dit ook al reggekry het soos “Heimwee” wat as lied, veral in die
weergalose vertolking deur Mimi Coertze. Dieselfde geld die Boerneef-liedere
wat die meeste mense eerder as lied ken, nie as gedig nie.
Wanneer ‘n song
of lied gebloemlees word, dan vra dit om digterlike inspeksie. Dan kyk ‘n mens
na die ryme, die metrum, die refreine, die beelde. Natuurlik is dit
andersoortige, nee eerder, eiesoortige poësie. Dit moet gesing kan word. “die
donker kom jou haal” (78) maak dus van herhalings gebruik soos die
villanelle en “kom ons braai” (168) word
as ‘n sonnet tipeer met ‘n refrein. Veertien reëls staan hier, maar dit is
egter nie ‘n klinkklare sonnet nie. Dit wil waarskynlik ook nie die strikte patrone
van rym en metrum naboots nie. As geskryfde sonnet haal dit dus nie heeltemal
die paal nie, maar ‘n mens weet dit kan werk as song.
Hierdie
versameling bevat sowel Afrikaanse as Engelse bydraes. Daar is bepaald verse wat onthoubaar is soos “eyeshadow”
(67) met sy onthoubare en humoristiese blik op hierdie meisie, wat sowel
tragies as komies is:
sy’s ‘n
bruistablet verslankie
en sy smaaks
(sic!) haar outjies funky
Hierdie digter
sing sy songs van die sterre en die maan. Hy sing en skryf en praat in
loslit-Afrikaans, gebruik soms ‘n Engelse woord en sing die duisende myl blues
oor sy baby. Die bundel het my weer terug geneem na Gert Vlok Nel se gedigte en
hoe die song en die gedig bedmaats raak. Binne die Amerikaanse digwêreld dink
‘n mens aan die bekoorlike verse van Billy Collins.
Gunstelinge sal
sekerlik vir verskillende lesers anders wees. Hierdie leser het gehou van
“Horison Hotel” (91) van reisigers met dieselfde verhale en die melancholiese
aanslag van “waar die dromers dwaal” (95).
Is die Engelse woorde altyd sinvol?, wonder ‘n mens. Waarom word
“people” in ‘n gedig gebruik? Is dit funksioneel of is ek net outyds?
Die boek is
pragtig uitgegee en op die agterblad word die teks in tikmasjienstyl geskryf.
Lees gerus as jy jonk van hart is en hou van rock ‘n roll-ballades. (In die persverklaring word hierdie bundel as
nie-fiksie getipeer en debuutteks verkeerd gespel. In die teks vind ons ook ‘n
verkeerde spelling van millennium.) Die jongste uitgawe van Groot verseboek
neem ook gedigte op uit die Nuwe stemme-reeks en hierom sou ‘n bydrae van
Valiant Swart ook sy plek kon vind.
Die idee van wat
poësie is (en nie is nie) is deesdae al hoe meer vloeibaar. Die verskillende
songs of liedere of lirieke se vorme vra vir ‘n studie: Hennie Aucamp, Koos du
Plessis, Gert Vlok Nel, Valiant Swart, Roof Bezuidenhout...
Hier’s soul en
blues en rock ‘n roll-ballades. Die titel kom uit “oosweswals” (98):
langs die
onderste bome
oor die solders
van die Noorde
toorwoorde roep
my
ek’s
droomverlore
daar staan ek op
die teerblad
langs my bakkie
met my sweetheart
daar’s ‘n
kragdraad en ‘n weerhaan
en ‘n silwer
karavaan
[Hierdie
resensie het vantevore in Die Volksblad
verskyn.]