Tuesday, January 29, 2013

Karina Magdalene Szczurek (Samest.) - Encounters with André Brink (2010)



Karina Magdalene Szczurek (Samest.). Encounters with André BrinkHuman & Rousseau, 2010. ISBN 978 0 798 152 18 1.

Resensent: Joan Hambidge

Karina Magdalene Szczurek, die eggenote van Brink, is die samesteller van hierdie Festschrift. Die tapisserie van unieke anekdotes, dikwels vinjette, gee ‘n blik op hierdie komplekse skrywer, akademikus, intellektueel, dramaturg, segsman van sestig, reisskrywer, en mentor vir vele ander skrywers. 

Brink se werk as kritikus is waar hy deur die jare waardevolle insigte gegee het en as kanoniseerder van die digkuns, die werk van Opperman voortgesit. Omstrede is hy dikwels en as uitgesproke kritikus van apartheid, uiters relevant. Sy bemoeienis as skrywer verraai dikwels ‘n politieke opstand met sensuur as ‘n harde werklikheid. Sy werk veral oor die romankuns is lofwaardig en hy het inderdaad, soos vele bydraers getuig, ons van ‘n bedompige Calvinistiese denkwyse verlos. 

Ek het verlede jaar Jacques Lacan en Die Ambassadeur gedoseer en het opnuut onder die indruk gekom van hoe vernuftig hierdie teks funksioneer. ‘n Storie kan hy vertel en boonop word Lacan se triadiese sisteem vasgevang in hierdie teks. Was dit so bedoel of het die teks dalk die Franse leefwêreld ingeadem waarvan Brink so deel was?

Die boek is in Engels, persoonlik sou ek dit in sowel Afrikaans as Engels wou sien. Origens is die afwesigheid van bekende vriende opvallend: kon of wou hulle nie deelneem nie? Of is dit soos ‘n bruilof? ‘n Mens vra liefs nie hoekom sekere mense nie daar is nie…

Vir verskillende lesers is hy verskillende dinge. Die aangrypende stuk van sy seun Gustav Brink, lewer kommentaar op die afwesige vader en die uiteindelike besef dat die vader in sy afwesigheid altyd dáár was.

Emma van der Vliet en Susan Mann skryf oor sy formidabele werk as studieleier (iets waarvan ek ook kan getuig): op die punt af, vinnig en altyd hulpvaardig. Sy vrou lewer ‘n persoonlike belydenis van hul ontmoeting en hoe dit haar lewe verander het. Antjie Krog wys op sy humor en hoe hy haar en ‘n ander digteres een aand by ‘n party vir Koos Human moes red uit die kloue van ‘n vatterige professor. Met Brink as die redder wat selfspottend opmerk dat dit nie veel sê vir sy “gevaarlike” reputasie as hy skielik hierdie rol moet vertolk nie. 

J.M. Coetzee wys daarop hoe betroubaar hy as kollega was in die samestelling van ‘n boek: geen tantrums of uitgeskuifde dead-lines nie. Dit is waarskynlik Chris Barnard wat die spyker op sy kop slaan: die man in lewende lywe is ‘n heer; tel hy egter die pen op, dan is hy vurig en aanvallend. Hettie Scholtz wys op hoe hy met ‘n uitgewer kon saamwerk om ‘n boek op die regte oomblik by die regte lesers uit te kry. Kerneels Breytenbach is die eerste leser van sy romans ná die klein sirkel.  

Mark Solms is erg komplimenterend en wys op die invloed van A chain of voices op sy lewe in die buiteland en dat hierdie roman ‘n belangrike rede was vir sy terugkeer na sy eie land. Beslis insigryk is sy opmerking oor die “arrogansie van die hede” en hoe die herskrywing van die verlede of geskiedenis ‘n mens transformeer. En die gerekonstrueerde geskiedenis is ook duidelik af te lees wanneer ‘n mens die museum, Museum van de Caab, op sy Delta-plaas besoek waar verskillende stemme elkeen hul verhaal vertaal. 

Die bydraes is intiem-persoonlik, miskien soms te intiem (soos die huldeblyk van sy vrou); ander kere onthullend waar daar geskryf word oor hoe kwaad kan raak as hy tydens ‘n rugby-wedstryd gesteur word; selfkoesterend wanneer daar geskryf word dat die grote Brink het ‘n bydraer se lesing bygewoon en notas geneem…

Soms is die kamera na aan die objek, Brink; ander kere is dit wye, afstandskoot. Miskien is dit juis die bydrae van Mark Solms se psigoanalitiese perspektief waarmee ‘n mens hierdie boek moet ontsluit. Verskillende stemme, verskillende “ekke” wat hul weergawe gee. Soms is daar oorvleueling, maar hieruit kan ‘n mens ‘n weergawe gee van ‘n veelsydige, talentvolle en komplekse mens. ‘n Man wat hom eweneens nie maklik laat ken nie. Paradoksaal skaam.

Tog is daar lojale vriende wat deur die jare by hom staan, kom wat wil. Daar word eweneens geskryf oor hoe dit was om hom aan te stel as ‘n Afrikaanse skrywer binne ‘n Engelse department. En hoe goed hy hom hier laat geld het, waarskynlik net so goed soos hy binne die Romaanse of Afrikaanse afdeling van die UK sou optree.

Moenie hom pla as hy Sewende laan of rugby kyk nie. Brink se werk takel die windmeulens en Cervantes is ‘n baie belangrike teks vir hom. Hy is ‘n behendige storieverteller en die spanning tussen die verbeelde/simboliese/reële, om Lacan weer by te haal, loop reg deur sy werk. Wars is hy van die metafisika en ons ken almal sy belydenis van sy hergeboorte in Parys en sy ontdekking van die Eksistensialisme.

‘n Lobola vir so ‘n omvattende lewe van skryf met ‘n liefde vir Mozart, rugby, bobotie, piesangslaai, Anna Netrebko, reis, Parys en vroue. En boonop sjarmant ordinêr, in Antjie Krog se woorde.

Brink het ‘n hele geslag mense in Afrikaans bevry van politieke vooroordele met Kennis van die aand. En hoeveel skrywers kan dit presteer in enige letterkunde?

En hoeveel skrywers het ook buite hul landgrense so ‘n huishoudelike naam geword?
Maar soos met enige eiesinnige openbare figuur: daar sal vir en teen-stemme wees. Vele bydraers bely hoe hulle is wie hulle is deur hierdie skrywer, soos veral Naas Steenkamp se bydraes illustreer. Die boek het nogal ‘n Franse voorkoms en publikasie is moontlik gemaak deur ‘n ruim skenking van Jannie Mouton.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]