Mari Grobler. Toe dit nog vroeg was. Tafelberg Uitgewers,
2010.
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie bundel
het bykans ongesiens verbygegaan. Dis ‘n baie mooi bundel waarin die digter
veral die San-wêreld ontgin – met woordverklarings en voetnote. In “Winter”(35)
word die liefdesvers nuut aangepak binne die wêreld van die San. Die gedigte
klink outentiek op en getuig van deeglike navorsing. Maar die navorsing bedreig
nie die gedig nie. Die primordiale bestaan van die San word beeldend vergstalt.
“Jy’s mooi” (38) vang die inkantatiewe aard op van’n bestaan onder die gounja
(maan).
Die afdeling
“Storie” handel weer oor die intiem-persoonlike waar ‘n geliefde afgestaan is
aan die dood. Die verbeelde, mitiese gegewe word dus hier deel van die digter
se bestaan:
sy mag nie ‘n
dooie volg
sy drome wakker maak nie
omdat afreis van
spore glo
onsigbaar is
(57)
Die een
voetspoor op die bundel word dan ‘n klein ikoon binne-in die teks waar ons twee
voetspore vind – met die leser as ‘n spoorsnyer.
Die bundel praat
met die hele tradisie van die San, nie net met die Afrikaanse tekste nie, maar
ook met Stephen Watson se Return of the moon. Veral
Eugène Marais se boesmanverhale word hier geaktiveer en die herdigtings van
Antjie Krog word ook opgeroep. Grobler gee egter haar eiesoortige interpretasie
van die gegewe. Sy werk met min woorde, helder beelde en die verse het beslis
‘n sjamanistiese kwaliteit. Daar is enorme skoonheid in hierdie eenvoud
opgesluit. In spaars woorde neem sy jou terug na al die debatte oor hierdie
gedigte, onder andere die kwessie van besit/appropriasie. Aan wie behoort
hierdie tekste van die San? Daar was al woedende en onverkwiklike debatte
hieroor.
Die Bleeks is
die opskrywers en hierna het die tekste allemansgoed geword. Elke digter wat
uit hierdie bron kom skep het, gee ‘n eiesoortige interpretasie aan die teks.
En dis tekste wat alreeds afgelei is. Mari Grobler gee myns insiens ‘n
oorspronklike en nuwe spin op hierdie tekste.
Reënman
Kxau, eienaar
van stories
het droom geword,
hy lê alleen
in ‘n skuiling
met sy bene na die ooste
hy rus in ‘n
diep graf tussen rotes
met ‘n
waterskilpaddop gegraaf –
hy kom steeds as
dit reën (70)
“naglig”(16) is
onthoubaar mooi met die slot:
hy verstaan die
taal wat kwartels
deurnag met wyfies
onder ‘n volmaan
praat
Daar is mooi en
sterk beelde (soos “Die volstruis laat my vlug met die wind van voor. // Hy wat
soos weerlig skop” (26) of
die maer hart
ná laaggety,
‘n leë poel (13)
Dis so jammer
hierdie bundel het ongemerk verbygegaan, want dit verdien beslis meer aandag.
Dis goed om binne die intellektuele tradisie ook hierdie soort gedig te lees
wat sterker op die emosies aanspraak maak.
Xô! Dis ‘n mooi
bundel.
[Hierdie
resensie het vantevore in Die Volksblad
verskyn.]