Douglas Reid Skinner. Blue
Rivers Poems. Snailpress / Crane River, 2012.
Resensent: Joan
Hambidge
Douglas Reid Skinner het in die tagtigerjare ‘n gedig
geskryf wat al vir soveel jare by my spook. Dit gaan oor ‘n vader wat sy
kinders dissiplineer en orals teen die mure is daar bevele opgeplak. En hoe die
digter op hierdie regime reageer, het ‘n verbluffende gedig tot gevolg gehad.
Nou pas het sy Blue Rivers verskyn.
Die digter is tans woonagtig in Engeland, maar is ‘n boorling van Upington. ‘n
Handvol uitmuntende bundels het al verskyn: Reassembling
World, The House in Pella District,
The Unspoken en The Middle Years.
Hy dig tegnies in beheer en elke gedig is afgeweeg. Daar is
nie ‘n woord uit sy plek uit nie. Daar is slim toespelings op ander digters en gedigte,
maar dit is volledig deel van die grein van sy verse. In “Intermezzo” (13) word
daar nagedink oor hoe alles verander tussen belewenis en beskrywing. Hierdie
gedig is opgedra aan wyle Don Maclennan, self ‘n behendige digter en deur
verwysings na Seferis, Bashõ en Yeats word ‘n vriendskap en die impak van ‘n
digterskap onder die loep geneem.
Die gedig word dikwels in hierdie bundel ‘n ruimte van
bewaring (“Long distance”, 12). Wanneer siekte of ‘n prosedure beskryf word,
doen die digter dit ónemosioneel, gedistansieerd sodat die impak des te sterker
is (“Secession”, 35).
Dit is nie gedigte wat onmiddellik hul geheime prysgee nie,
maar vir die leser wat hou van dieper kyk, is daar heeerlike vondste soos die
personifikasie op bladsy 23 (“chairs coughed”) of die gedig “Sentimental
Education” wat inspeel op Flaubert se roman uit 1869 en die bekende roman Das Perfum van Patrick Süskind. Die vrou
dra Chanel, die man bekyk haar en die hele fantasie speel in sy gedagtes af
wanneer hy die trein verlaat in die “crowded rush-hour gloom”. Die leser wat
sowel Flaubert as Süskind na hierdie gedig bring, word beloon met ‘n troebel
gedig wat lank na die lees in jou gemoed draal. Daar is wonderlike beelde soos
‘n swart sak wat soos “a badger fast asleep” is (“Waiting Room”, 40). Hy praat
van “memory’s heartache” (55) en in talle gedigte word die leser bewus van die
blik (gaze) van ‘n sensitiewe persoon.
Die digter besin oor sy plek op die aarde soos in die
treffende “Offering” (46) en “Theology” (34). In “Offering” is daar ‘n
besinning oor die natuur, maar die gedig word terselfdertyd ‘n ars poetica
omdat die gedig kommentaar lewer oor die bome se siklus tot die papier waarop
hy die lyne van ‘n gedig probeer lees (en skryf).
In “Fragment” (49) word ‘n korrespondensie tussen Kafka en
Rilke aangebied, net om in endnote te skryf dat sover sy digterlike kennis
strek, was daar geen korrespondensie tussen die twee skrywers nie. Alles is dus
net “ink and paper” soos ‘n motto van James Sacré waarsku. Daar word elders ook
geskryf dat die woorde van óns weet alvorens ons van hulle kennis neem! Vir die
aanhanger van Derrida se absence/presence
en woorde se sonderlinge argiewe, is daar dan uitermate baie te vind.
Daar is dikwels ‘n gevoel van on-begrip by die digter self.
In ‘n vers oor (en vir) sy vader “Unsuitable”(32) droom hy oor die vader en hoe
hy ‘n pak moet aantrek wat te groot vir hom is. In hierdie aangrypende vers
word die worsteling met die vader, afgesluit in die dood, in ‘n droom
uitgewoed. Hierdie skreiende vers getuig van emosionele eerlikheid en
selfkennis. En dit, saam met tegniese beheer en belesenheid, is wat ‘n ware
digter onderskei van ‘n babbelaar. Sy besondere vermoë tot detail, verdien
eweneens vermelding.
Daar is handige endnote vir verdere speurtogte. Dit is ‘n
waardige toevoeging tot ‘n belangrike oeuvre.
[Hierdie resensie het voorheen in Rapport verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die
resensent.]