Dan Sleigh. Wals met Matilda. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978
0 624 05146 6.
Resensent: Joan Hambidge
Wals met Matilda was die wenner van die Sanlam Groot romanwedstryd.
Dan Sleigh se Eilande en Afstande is historiese romans met liefhebbers en
kritici. Wals met Matilda is ‘n meer eietydse roman.
En nou is die resensent dadelik
versigtig: hierdie roman begin met ‘n skrywer wat uitvaar teen die gebruik van
literatuurteoretiese terme en clichés wat die skrywende verteller irriteer.
Maar die skrywer in die boek is
mos nie noodwendig die werklike skrywer nie? Of wat praat ek alles.
In geleerde terme: hierdie is ‘n
metafiksionele roman, ‘n roman-oor-‘n-roman waarin die skrywende instansie ‘n
skrywersblok beleef en besin oor die skryfproses én die verhouding tussen skryf
en lewe. Is ons in ‘n spanningsverhaal? Die roman lewer kommentaar op die
kreatiewe proses en die ontvangs van ‘n roman. Ons beleef die skrywende
instansie se werklike lewe teenoor nog een in fiksie, wat spanning skep, bykans
soos “cliff-hangers” in ‘n vervolgverhaal. Die karakters waarmee hy die
woonstel deel, is skrywers wat aan dieselfde maatskappy as hy behoort.
Daar is satiriese kommentaar op die huidige uitgewersbedryf, die meet van sukses (wat geldelik is) en hoe skrywers moet skryf wat die mark eis. Ten spyte van die skrywende instansie se minagting vir verwysings na ander tekste as onnodig, is dit dan duidelik dat hierdie roman in wese verwys na Georges Perec se Life: a user’s manual waar die lewens van karakters binne ‘n woonstelgebou in verskillende hoofstukke ondersoek word. Die mede-skrywers is herkenbaar as jy die Afrikaanse romanwêreld wil inlees en die besoek van figure uit die uitgewersbedryf word raak beskryf.
Daar is satiriese kommentaar op die huidige uitgewersbedryf, die meet van sukses (wat geldelik is) en hoe skrywers moet skryf wat die mark eis. Ten spyte van die skrywende instansie se minagting vir verwysings na ander tekste as onnodig, is dit dan duidelik dat hierdie roman in wese verwys na Georges Perec se Life: a user’s manual waar die lewens van karakters binne ‘n woonstelgebou in verskillende hoofstukke ondersoek word. Die mede-skrywers is herkenbaar as jy die Afrikaanse romanwêreld wil inlees en die besoek van figure uit die uitgewersbedryf word raak beskryf.
Dit is ‘n
verhaal-binne-‘n-verhaal: ‘n storie oor die wals van Mathilda en Japie se
ontdekking van die vreemde landskap. Op bladsy 226 word die geskiedenis van die
bekende lied verduidelik! Die historikus-Sleigh verskaf allerlei sleutels oor
Australië en Kaapstad wat die verhaal meervlakkig maak. Nieu-Suid-Wallis 1897
en Middelburg-Karoo word teenoor Kaapstad, 2009 geplaas.
(Hoeveel mense vlug nie tans na
Australië nie?) Historisiteit is immers een van die knelpunte van die
postmodernisme waarin daar (dikwels) gepeuter word met geskiedkundige feite,
soos in D.M. Thomas se Flying into love of The white hotel sodat die spanning
tussen fiksie en werklike gebeure verder geproblematiseer word.
Die boek is vlot geskryf en ‘n
hele arsenaal van tekste kom staan voor die deur: Julian Barnes se Flaubert’s
parrot (met die versugting dat die leser verskillende eindes in koeverte kan
kies) en John Fowles se The French lieutenant’s woman met sy dubbelslot. In die
teks is daar etlike verwysings: van A man for all seasons tot Boerneef, van die
geskiedenis van Gordonsbaai tot die huidige sienings rondom Afrikaanse boeke
(raai wat is die uitgewershuis se naam!), reklamering en resensies. Op die
agterblad word daar verwys na die boek as een met hope, hope houding. Besluit
self oor die D:F, oor die skrywende instansie se liefde vir die see, oor Japie,
die dwalende karakter.
Die boek het attitude. Teenoor die
bakens en dikwels lang, uitgesponne historiese romans soos Eilande en Afstande,
is hierdie roman veerlig sonder om oppervlakkig te wees. Dit vra besonder
tersaaklike vrae oor die aard van die romankuns. Die boek is soos die
Weetbix-boksie: ‘n roman-binne-in’n roman met nog stories…
Le linceul n’a pas de poches,
oftewel, die lykkleed het nie sakke nie en die roman lewer skerp kommentaar op
die moderne uitgewersbedryf wat eerder ‘n geldmaker sal publiseer as ‘n roman
wat goed nagevors en geskryf is. En die skrywer? Haak hy af met sy muse? En
Japie Jumbug? En Matilda? Hoekom verdwyn sy so vinnig?
Die historiese kenner, Dan Sleigh,
lewer baie interessante kommentaar op taalkwessies, historiese feite en die
algemene kulturele stand van sake. Van hier tot Doer Onder. En ja die
lied word ook afgedruk. En naskrif: kan hierdie irriterende tendens in die
Afrikaanse letterkunde om keurders, uitgewers, redakteurs, ontwerpers en
vooraflesers te bedank? Dis hulle werk.
[Hierdie resensie het vantevore in
Rapport verskyn.]