Carel van der Merwe. Skaduwee. Umuzi, 2012.
Resensent: Joan Hambidge
Carel van der Merwe het
hom binne ‘n kort periode gevestig as ‘n skrywer van spanningsromans soos Nasleep en Geldwolf. Hy het die gesogte Eugène Marais-prys verower. Die skrywer skryf sowel in Afrikaans as
Engels. Ek is op rekord dat ek Geldwolf
in een sitting deurgelees het.
Die jongste roman word
gepubliseer deur Umuzi en het al die bestanddele vir ‘n ontsnappingsroman. Paul
du Toit het hom in die Verenigde Koninkryk kom vestig. Hy is ‘n man met ‘n
verlede wat Suid-Afrika tien jaar gelede verlaat het. Hy is middeljarig, geskei
– boonop is sy werk vervelig en sy huidige verhouding werk nie. Alles dus
aanwysings dat hy oop is vir iets nuuts (gevaarliks) en eintlik psigies ‘n
bietjie onstabiel dus. Wanneer hy dus ‘n opdrag ontvang van ‘n ryk Londense
finansier wat hom terugneem na SA, dus die ruimte waarheen vandaan kom, besef
die leser instinkmatig – en veral die leser van spannings- en misdaadverhale of
–films – dat die karakter binne ‘n gevaarlike ruimte gaan inbeweeg.
Nou onlangs het ek die
eerste drie reeks gekyk van Damages
met Glen Close as die onoortroffe, meesterlike en bedriegende Patty Hewes.
“Cliff hangers” wat van een episode na ‘n volgende geskep word, sorg vir
spanning. Boonop is die storieplan meesterlik uitgewerk – byvoorbeeld: sy het
‘n seun uit ‘n vorige verbintenis wat dus as’t ware ‘n “oop plan” laat vir ‘n
volgende reeks. Nou weet jy: die volgende skurk/booswig/kliënt gaan (moontlik)
die vader wees. En so is dit dan. Maar wag. Kom ons kyk na presies waarom Carel
van der Merwe so suksesvol is.
Die spanningsverhaal word
gelaai met persoonlike waarnemings. Ons sien dus die binnelewe van die
hoofkarakter en hoe hy ontuis voel binne sy verhouding met ‘n lewensmaat wat
pas swanger geraak het. Hy onthou ook sy mislukte huwelik en in die opdrag om
‘n jong meisie se bewegings te monitor, neem hom in donker areas in. Sy
gewelddadige optrede – in ‘n onbesonne oomblik aan die begin van die roman –
word ‘n ander spanningslyn wat die leser laat voortlees.
Hierdie soort romans word
nie om dowe neute nie as “page turners” beskryf, omdat ‘n mens agter die
oplossing(s) aanlees. Die eksterne en interne spanninge van die hoofkarakter
bepaal dus die plotlyn van die roman. Terselfdertyd is dit meer as
spanningsverhaal, omdat die karakter nie bloot oppervlakkig waarneem nie. Die
skaduwee van die titel verwys inderdaad na die proses van liminaliteite of
grense wat telkens oorgesteek of verken word. In Jungiaanse terme is dit ook
dit wat hy probeer onderdruk of verdring in sy quest. Die skrywer gebruik dus
die struktuur van die spanningsverhaal wat gelaai word met sterk sosiale en
politieke kommentaar soos hoe vreemdelinge voel in Londen en die grondkwessie
in Suid-Afrika.
Ek beveel hierdie roman aan
vir alle spanningsverhaallesers – daardie tipe wat Le Carré se loopbaan gevolg
het en presies weet wat die formules (en afwykings) behels.
Paranoia, emosionele en
fisieke uitdagings en die quest maak van hierdie roman ‘n hoogs leesbare teks.
[Hierdie resensie word
afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]