Wednesday, January 23, 2013

Mongane Wally Serote - Revelations (2010)



Mongane Wally Serote. Revelations. Jacana, 2010. ISBN 978 1 77009 808 4

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad van die roman Revelations skryf Colin Gardner dat Serote die belangrikste digter van die apartheid era is. ‘n Relevante stem beslis, maar nie die belangrikste een nie. Serote is bekroon met die Noma- en Pablo Neruda-pryse. Hy het die Orde van die Ikhamanga behaal en sy debuutbundel Yakhal’inkomo (1972) is indertyd bekroon met die Ingrid Jonker-prys. Hy is geweldig vereer en belangrik om van kennis te neem is dat hy die gesogte MFA aan Columbia in New York behaal het. Daar het reeds drie romans verkyn, twee bundels met essays en tien digbundels. 

Revelations is ‘n roman oor Bra Shope, ‘n skilder, se ervarings van post-apartheid Suid-Afrika. Dit is uitgegee asof dit ‘n Moleskin-dagboek is om die joernaalaanbod van die roman te beklemtoon. Ons werk dus hier binne die tradisie van die belydenisteks. Met ‘n vertellende ek wat Bra Shope se doen en late opteken. Daar is herinneringe, skerp waarnemings, soos dat ‘n mens altyd iemand se karakter uit sy hande kan aflei en opmerkings oor stede:”Cities, these things we call cities, are the same the world over. Cement, tar, brick, iron, electricity, lights of red, blue, pink, white, and a sprinkling of sun, wind, trees and flowers(…) At times they all seem to project the fragility of life; at other times they make life itself shrivel. Windowpanes by the hundreds, many storeys high, were twinkling against the morning light and the traffic lights; millions of eyes goggling at the city, staring in wonder, screaming with joy at the sight of it until I, too, felt gazed at” (9). Uit hierdie aanhaling is die digterlike aanslag van die fokalisator duidelik. Christopher Isherwood se I am a camera kom in die geheue op.

Daar word eweneens nagedink oor die funksie van foto’s in ons lewens en hoe mense verskillende emosies kan weergee en dat die fotograaf die regte oomblik moet vasvang. Ook oor die bestaan in hotelkamers en hoeveel mense dit al bewoon het.
Die boek gee insig in die lewe van die exile en al die harde realiteite van ‘n bestaan gekoppel aan opofferinge en ideale om die politieke realiteit te verander. Sowel wit as swart bewussynvegters is ontnugter oor die huidige politieke toestand. Dit is geen geheim dat sowel wit as swart intellektuele ongemaklike vrae stel oor die verydelde droom nie. Die gegewe word in opposisie geplaas met Pinochet se geskiedenis en Mugabe word ook betrek. Hiermee word die universaliteit van ontnugtering met politieke werklikhede in skerper reliëf geplaas.

Die boek maak van bekende tegnieke gebruik wat ons in hierdie soort roman aantref, soos die waarnemer of optekenaar van die doener se lewe wat bewus is van die vervlegting van hul lewens; verwysings na politieke situasies; die gebruik van pertinent herkenbare persone en plekke. Dis ‘n post-apartheid roman. Dalk is die politieke aanslag dikwels te oorweldigend en sou hierdie leser ten minste ‘n groter fiksionalisering wou gesien het.

Vir lesers wat vir jare lank in hierdie land verminder is deur drakoniese wette wat hulle stemloos gelaat het, is dit ‘n belangrike deurbraak om só ‘n soort optekening te lees. Dit vra uiteraard vir ‘n saamlees met Breytenbach se skerp analises van die politieke werklikheid. Oor die impak van politieke ongeregtighede op mense se lewens (Mosambiek, Chile, Suid-Afrika, Swaziland, Zimbabwe) word onder die loep geneem. Krog se Country of my skull vra vir ‘n herlees saam met hierdie teks.
Die titel verwys na ‘n dansopvoering waarin gestalte gegee word aan dit wat buite woorde lê.

Daar word ruimskoots van Afrika-woorde  en –uitdrukkings gebruik gemaak in die teks soos inyanga, mbaqanga, ditloo, ngaka bongaka, ditaolo, ensomeer. Dalk ‘n klein glossarium agterin met ‘n volgende uitgawe?

Die verwysings na folklore is insiggewend: soos jy vang ‘n bees aan sy horings en ‘n mens aan sy tong. Die perspektief van Otsile wat buikspreek, opteken, hoor en verduidelik, vorm van die basis van alles. Vir die wit leser is dit ‘n openbaring om te weet hoe eensgesind ons voel oor die feit dat ons bymekaar verbypraat, ontstig is oor haweloses se lot en in digterlike beelde word die armoede by die Kaapse lughawe beskryf. Sekere politieke uitsprake is geyk en oorbekend, maar vir ‘n buitelandse leser waarskynlik belangrik. Daar word kritiek gelewer op die ontkenning van die belangrikheid van tradisionele gelowe en beklemtoon dat alle mense in wese aan mekaar verbind is. Die slopende impak van ‘n vriend se dood op die gemoed word besonder goed beskryf.

Hierdie boek gaan beslis sy bedoelde lesergehoor bekoor. ‘n Groot roman is dit egter nie. ‘n Leesbare en relevante een wel. ‘n Politieke Lobola vir die lewe.

[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]