Cas van Rensburg.
Die Prinses in elke vrou. Hemel &
See Boeke, 2010.
Resensent: Joan Hambidge
Cas van
Rensburg, die bekende joernalis en dramaturg, is ‘n kenner van Jungiaanse
sielkunde. Die Prinses in elke vrou is ‘n verwerking van sy werk, Die sprokie
van Diana, Sneeuwitjie en die stories wat ons leef. ‘n Ander bekende werk is
Jou drome – die onbewuste het ál die antwoorde.
Die gebruik van
die verhaal of legende om ‘n bepaalde psigoanalitiese gegewe te verduidelik of
belig, is bekend aan die werk van die beroemdste psigoanaliste. Freud het die
verhaal van Oedipus Rex, oftewel koning Oedipus gebruik om identiteit te
verduidelik. Woody Allen gebruik eweneens die gegewe van Sofokles in sy film
Matchpoint om iets aan die kyker tuis te bring, naamlik Sofokles se standpunt
dat dit beter sou wees om nooit gebore te wees nie, as om al die ellende van
die wêreld te moet deurmaak. En al die verwysings na klassieke tekste en opera,
maak van hierdie film ‘n besondere kykervaring.
Byatt en Sodré
gebruik ook stories om by die innerlike verhaal uit te kom in hul boek
Imagining characters, terwyl die cantadora, Clarissa Pinkola Estés eweneens die
storie of fabel gebruik om sekere psigiese kwessies te belig.
Cas van Rensburg
skryf helder en toeganklik. Dit maak van die boek ‘n besondere leeservaring,
omdat daar psigoanaliste is – veral die Lacan-navolgers – wat so troebel en
ondeurdringbaar skryf, dat die styl dikwels ‘n versperring word. Dit is met
opset, sal hulle argumenteer, want die onbewuste kan nie direk benader word
nie. Van Rensburg gebruik kenners soos Jung (Carl Gustav en Enmma), James
Hilman en natuurlik Marie-Louise von Franz (Shadow and Evil in Fairytales,
o.a.) om sy studie te begrond. Sneeuwitjie en
Diana, en twee nuwe sprokies: Charlene wat met Albert getrou het en Catherine
wat met die seun van Diana ‘n verbintenis aangegaan het.
In navolging van Jung en die siening van argetipes word die studie ‘n boeiende verslag van hoe ons almal ons potensiaal ontgin. Wanneer dit nie gebeur nie, soos in die geval van ‘n voortydige dood, is daar dikwels pyn by ander (of, by die persoon self). In navolging van James Hillman is elke mens soos ‘n akker wat tot ‘n boom moet of kan ontwikkel.
In navolging van Jung en die siening van argetipes word die studie ‘n boeiende verslag van hoe ons almal ons potensiaal ontgin. Wanneer dit nie gebeur nie, soos in die geval van ‘n voortydige dood, is daar dikwels pyn by ander (of, by die persoon self). In navolging van James Hillman is elke mens soos ‘n akker wat tot ‘n boom moet of kan ontwikkel.
Van Rensburg wys
op die mens se innerlike reis en hoe jy met jou innerlike figure (animus,
anima, skadu) moet versoen. Party mense kan uiterse ellendes troef of oorwin.
Dit is asof hulle ‘n meerdere persoonlikheid in hulle dra en die konflik kan
oorstyg. (Vir die kreatiewe mens is hierdie boek ‘n besondere handleiding,
omdat dit wys hoe chaos en konflik georden kan word in kreatiewe uitsette.)
Die boek is
geskryf vir Jan/San en Alleman. Animus, anima, die skadu, individuasie,
komplekse, ensomeer word verduidelik op konkrete wyses.
Die mens se
psige is broos, skryf Van Rensburg. Enige mens staan die gevaar om
“ondergedompel” te word. Hierom is vriende as raadgewers belangrik, omdat die
alleenreis gevaarlik kan wees (120).
Dit is jammer
dat die boek nie ‘n indeks het nie en dat daar nie datums by die tekste in die
bronnelys is nie. Die skrywer wou waarskynlik eerder ‘n storie vertel, die
peripeteia waarna hy verwys.
Die sprokie van
Diana word vertel met die Sneeuwitjie-verhaal. Elke oomblik in hierdie verhaal
betrek Van Rensburg. Hy lees skerpsinnig (nes Propp en Jolles in die
narratologie) en wys hoe die storie psigiese inhoude dra. Vir verskillende
lesers sal verskillende aspekte in die verhaal tersaaklik wees. Vir my was dit
relevant om te lees hoe ervarings in die jeug in die volwasse lewe sy beslag
kry; die hantering van die skadu (eerder as die onderdrukking of ontkenning
daarvan), klippe en kristalle as simbole van die Self en heelheid.
Setfoute: p. 118 bet moet lees het; 122 bet moet lees het, 123 bet moet
lees het; he 127 ; 138 bet; 144 by / hy.
Lees hierdie
boek. Ek wou my ene weggee, omdat ek soveel boeke besit; maar het daarteen
besluit. Dit is te belangrik vir my. Ek wil weer lees, nadink…
Bronne:
Byatt, A.S.
& Sodré, Ignês. 1995. Imagining
Characters. Six Conversations about
Women Writers (red. Rebecca Swift). Londen: Vintage, Random House.
Estés, Clarissa
Pinkola. 1992. Women who Run with the
Wolves. Contacting the Power of the
Wild Woman. Londen: Rider.
[Hierdie
resensie is vantevore op Fine Music Radio
gebruik.]