Charl J.F. Cilliers. The
journey. Malgas Publishers, 2010. ISBN 978 0 620 45617 3.
Resensent: Joan
Hambidge
4 April 2010
Die Afrikaanse digkuns het sy eie webruimte
(www.versindaba.co.za), resensente, bloggers, debatte en kanoniseerders. Met al
die gebreke en strydpunte is dit so: Daar word van die nuwe stemme kennis
geneem en veral Protea het die afgelope paar jaar ’n tuiste geword vir die
digter wat nie by die hoof-uitgewers soos Tafelberg of Human & Rousseau ’n
bundel kon uitgee nie. Die Engelse digkuns is jare lank gedra deur Gus Ferguson
se onverdrote ywer en nou en dan verskyn daar by UCT Press ’n nuwe digter.
Meestal “verdwyn” digters ná ’n publikasie in ’n “little magazine”.
In 2008 het ek die Collected
poems van Charl J.F. Cilliers gelees nadat ek met sy werk in tydskrifte
kennis gemaak het. In sy digkuns ondersoek hy “a world at once / that is / and
never is”. Die jongste heet The Journey
met ’n besonderse foto van ’n ongerepte landskap. Na regs is daar telefoondrade
wat ’n soort kontak impliseer en daar is donker wolke wat ’n naderende storm
dalk aktiveer. Die spanning is reeds in die voorblad ingebou: die lewe as ’n
reis met lewenstorms; dog is daar kontak met ander.
Daar is ’n aangrypende gedig oor Ingrid Jonker waarin die
volhoudende gesprek oor die digter aan die bod kom. Hy skryf vanuit die
perspektief van die vader wat die kind verwerp het en hy beklemtoon die
grimmigheid (“unheimliche” in Freud se terme) van die gesprek oor haar:
“bloated, ashore / under flocking / curved beaks / and beating / wings of
words” (bl. 13). Hy deromantiseer die digter en gee ’n nuwe perspektief op haar
bestaan. Dit is immers wat die ware digter uitsonder wanneer daar nuut gekyk
kan word na geykte sake of onderwerpe soos ons sien in “Combat zone” (bl. 15)
waar die oorlogvoering deur die rekenaar gebeur (“death is a mere smudge of
emerald green”, bl. 15). Daar is ’n huldeblyk vir I.L. de Villiers wat hy in ’n
soort rondeel skryf, waarskynlik ter nagedagtenis aan die digter wat so met die
distigon en tersine gewoeker het.
Daar is vele goeie verse in die bundel en “Mantis Revisited”
(bl. 50) waarin die biddende mantis aan sowel die dood as die skryfproses
gelykgestel word. En enige liefhebber van die digkuns weet die tegelykertyd-aspek
is die waarmerk van die goeie gedig. Iets staan in die plek van iets anders. In
die behendige triolet “The blind mole: triolet” (bl. 98) wys ’n vormvernuf van
gedigte wat dikwels maklik en “oop” lyk, maar so netjies inmekaargepak is. ’n
Sentrale gedig in die bundel is “Watching trains go by” (bl. 104) waarin die digter nostalgies skryf
oor hoe die lewe verander het:
There was a time
when we all
waited by the tracks
to watch the trains
come through,
bringing new faces.
Maar dit loop uit op die verbeelde herinnering wat in die
digkuns plaasvind wat die werklik ervaring laat sinkopeer met die pynlike besef
van hoe die wêreld verander het:
The station building now
is overgrown: shrubs
amongst the trees, vines, and grass
where children play:
but no one there waves
to strangers (other
than themselves)
in magical trains going past.
Dit is ’n ryk geskakeerde bundel waarin die digter vele
temas bespreek: die dood van ’n mededigter, nostalgiese kyk na ’n verlore
bestaan, skryf oor reptiele, oor treine. Dit is ’n werklike lewensreis wat
gekarteer word en die verbeelde reis van en deur die digkuns. Wanneer het die vader
gesterf? En hier word die versaking so navrant aangespreek wanneer ons verneem
die vader is dood tien jaar ná sy dood.
Die bundel het my geraak omrede die tegniese beheer en die bespreek
van ’n wye reeks relevante onderwerpe soos die lykdig vir David Farrell of die
besonder sterk vers oor die selfmoord van walvisse.
Dit sou vir die digkuns-liefhebber ’n lonende leeservaring
gewees het. Dit is ’n skande dat die digter sy eie bundel moes publiseer en
mindere Engelse bundels of vertalings gepubliseer word.
Bestel van franban@mweb.co.za of Malgas Publishers, Posbus
169, Privaatsak XI, Melkbos strand, 7437.
[Hierdie resensie het vantevore in die Volksblad verskyn & word hier afgedruk met vriendelike
vergunning van die resensent.]