Johann Lodewyk Marais. Diorama. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 365 3.
Resensent: Joan
Hambidge
Sedert sy
debuut, Die somer is ‘n dag oud, wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys, het die digter
Johann Lodewyk Marais omgewingspoësie begin ontgin en ‘n bundel ter viering van
Marais se “Winternag” gepubliseer: Honderd jaar later.
Hy skryf gereeld
oor die figuur, Eugène Marais, veral op die Versindaba se webruimte. Hy het ‘n
doktorale proefskrif voltooi oor Marais se wetenskaplike en natuurprosa.
(Terloops, op
die publisiteitspamflet word daar verwys na “Wintersnag”). Daar was ook ‘n
reisboek oor Mosambiek en versamelbundel oor ekologiese gedigte: Ons klein
en silwerige planeet (saam
met Ad Zuiderent).
Die jongste
bundel heet Diorama en is ‘n voortsetting van die bundel
Aves wat oor
voëls gehandel het.
Die outydse
voorblad is deur Thomas Baines (Herd of buffalo, opposite Garden Island, Victoria Falls, 1862).
Diorama dan in
die sin van die skaalmodel van ‘n landskap of
historiese momente. Die digter
nooi dan ook die leser in die programgedig uit:
Ek wil in my
gedig ‘n wildtuin skep
en jou uitnooi om ‘n besoek te kom bring (13)
En wat ‘n
uitnodiging is dit nie! Die leser beleef ‘n springhaas, maar terselfdertyd word
dit ‘n meditasie oor die
skryf van ‘n gedig. In die vers oor “Streepmuis” (22) word die onmoontlikheid
van die proses vergelyk met die vang van ‘n streepmuis en die bladsyverwysings
na die boek waarin jy moet blaai, dui op die intertekstuele proses van sowel
die skryf as die lees van ‘n gedig. (In “Rooiduiker”, 38 byt die gedig in die
stof!)
Soos dit ‘n goeie digter betaam, is die gebruik van ou patrone nie aan
hom onbekend nie soos in die voortreflike, “Gevlekte hiëna” (23), ‘n soort
villanelle, met sy herhaling van twee reëls en die gebruik van twee rymklanke.
Heel vlot beweeg hy dan na die kwatryn met “Luiperd” (24). Later is daar ‘n
handvol haikoes. Marais se digterlike handtekening is om met die gestroopte
vers te eksperimenteer en “Wildehond”(27) bewys hoe goed hy dit kan doen. Die
“fyn besonderhede” van die optekening is opvallend en die digter maak
opwindende poësie oor wilde diere en plante. Daar is toespelings op bekende
gedigte en ‘n in-grappie oor die “Okapi” (35) wat bloot as “Aha!” aangegee
word. Met die konkrete voorstelling word
ook geëksperimenteer in “Rietduiker” (45) waar die uitgespreide vlerke oor die
bladspieël staan.
Marais het in sy
debuut, Die somer is ‘n dag oud, aangrypende verse oor sy jeug geskryf. In hierdie bundel
keer hy terug na die landskap van sy jeug: nou is daar plaasmoorde en aanvalle.
Die tuin van Eden is aangetas. So beskou word die diaroma dan ‘n representasie van sy digkuns
én persoonlike ontwikkeling. Die beeldgedigte is suiwer: ‘n mens kry ‘n portret
van ‘n bekende soos Jan Smuts, Richard E. Leakey, Jane Goodall, e.a. Dit word
egter nie dordroë navorsingsgedigte nie, maar verse wat ontroer en tref. Tobias
maak ook ‘n draai hier en selfs Saartje Baartman is verïkoniseer.
Daar is
uitstekende verse in hierdie bundel soos “Die brein” (15)
En “Springhaas”
(21). En die volgende juweel het onlangs
op die Versindaba se webblad verskyn:
Diego Maradona
Die
vlugvoetigste is Maradona
met ’n
durende veggees in sy bloed.
Hy wat met
grasie die nr. 10 dra.
Kleintyd
het hy ’n sokkerbal geja
en
teenstanders gesystap met sy spoed.
Die
vlugvoetigste is Maradona.
Gou het hy
met sy flinke rabona
die klubs
’n prys laat betaal vir sy voet.
Hy wat met
grasie die nr. 10 dra.
Oral in
Napoli en Sevilla,
op én af
van die veld, was hy verwoed.
Die
vlugvoetigste is Maradona.
Sy aangee
na Jorge Burruchaga
het die
hele Buenos Aires laat toet.
Hy wat met
grasie die nr. 10 dra.
In ’n
stampvol en luide Azteca
erwe hy
die Wêreldbeker se soet.
Die
vlugvoetigste is Maradona.
Hy wat met
grasie die nr. 10 dra.
Die gesprek met
Van Wyk Louw, soos die debuuttitel en die bundel oor die omgewingsgedigte
suggereer, word voltrek in die gedig “Ex unguine leonem” (85). Daar is gestaltes
en diere in hierdie
voortreflike, netjies-afgewerkte bundel. Die spel tussen verhulling en
onthulling word deurgaans goed hanteer.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]