T.T. Cloete. Onversadig. Tafelberg, 2010. ISBN: 978-0-624-04903-6
Resensent: Joan Hambidge
In hierdie groot worp van ‘n
digbundel wat Onversadig heet, word
die leser bekoor met die enorme talent van die digter T.T. Cloete.
Toe hy in 1980 met Angelliera gedebuteer het, noem Opperman
dit “koningskos”. En die leser word nooit versadig met Cloete se “heilige
nuuskierigheid” of Idiolek nie. Die
gedigte getuig van belesenheid, intelligensie en die vermoë om disparate dinge
saam te snoer. Die paradoks van menswees, van die klassieke letterkunde tot
nou, word onder die loep geneem. Die digter skryf oor ‘n Dakar-tydren
(satiries), die sokkerwaansin en die soeke na God op ‘n aangrypende wyse. Die
gedigte word gekenmerk deur ‘n tegniese beheer, flink hantering van ryme en
dubbelladings in gedigte. Selfs in klein gedigte soos die vers oor Maria Callas
word ‘n kunstenaarskap in ‘n paar reëls vasgelê:
maria callas
party sê
ag nee wat daar is te veel metaal
in jou
stem. ander sê jy is ’n nagtegaal
daar is ’n
tweede kuns maria
spaar jou stem as jy die onverdraagsames verdra
(107)
Die gesprekke met ouer tekste in Afrikaans, soos “Heimwee?”
wat ‘n kragtige parodie is van die bekende lied wat Mimi Coertse wonderlik
vertolk en ‘n gesprek met Toon van den
Heever se Op die Hoëveld, bewys hoe eietyds, modern die digter kan dig:
Op Toon se Hoëveld
The times they are a-changin’
Bob Dylan
Op die Hoëveld, waar dit oop was, en die hemel ver daar bo,
waar kuddes waaigras gehuppel het oor die veld
kon jy die aarde ruik en aan ’n bestemming glo… (73)
Die beeldvers oor Theo Wassenaar, “Foto van Theo Wassenaar”, (79) is
eweneens op die digter self van toepassing: met sy Psalmberymings en
herdigtings word tekste uit die vergeetboek gehaal. Cloete het immers al
Marilyn Monroe teen Dante geplaas en dit is hierdie jukstaposisies wat sy verse
so dwingend en goed maak.
Die gedigte oor die liefde en dood, is besonder hartgrypend. Die digter
skryf oor die geliefde vrou se dood en hiermee verander hy iets aan die
tradisie van die funeraire digkuns deur die oorsaak van die dood én die pynlike
agteruitgang te beskryf. Dit gaan in teen die dekorum van hierdie soort gedig
wat nie die redes vermeld nie.
In “fragmente van die onvolledige gedig” (159) skryf hy:
mense beslym gedigte in die smet
van hulle alledaagse gesprekke
hulle trap daarop en loop dit stukkend
met die wonders van hulle voete
die boer ploeg dit argeloos om
hy roei dit uit as plae
‘n Soort sinisme oor die effek van die digkuns word
hier verwoord, wat weer in ‘n ander gedig sy korrektief vind wanneer die digter
bely dat daar niks nuuts onder die son is nie en dat tekste ‘n nuwe lewe kry in
ons weergawes. Vanaf die Psalms, Salomo, nee verder terug, word die
wisselvalligheid en weerloosheid van die menslike bestaan beskryf in die interdigterlike
spel wat nooit ophou nie:
17 (Akhenaton: Hymn to Aton en Sint Franciscus: Canticle of the Sun)
met geringskatting van die nasies word
onmerkbaar langsaam en sag
fluisteringe van die een dag in die ander dag
millennium ná millennium uitgestort
Achnaton en Franciscus is op ’n interdigterlike plek
binne die fanakalo se poëtiese taal
skoon glansend bonasionaal
buite tydruimte…
(70)
Vir die fynproewer is daar intratekstuele verwysings binne
bundel- én oeuvreverband. Die gedig oor ‘n vrou praat terug met die verruklike
vers oor Marilyn Monroe gestulp in haar stilte (Angelliera).
Die temas is ryk en geskakeerd (van Rembrant tot
Uitkomsgerigte onderwys, van molle tot Dakar, van kraanvoëls tot die buitenste
ruimte, van Hendrik Biebouw tot ‘n bonsai). Ook die styl wissel: satiries,
nostalgies, ironies, skertsend, speels, droef, parodies, gedistansieerd. Die
vorme, soos ‘n mens by ‘n meester verwag, is eweneens verskillend in aanbod:
van die klein kwatryn tot ‘n magtige vrye vers met metriese en ritmiese patrone
netjies in beheer gehou. Die verwysings te veel om op te noem: Achilles en
Priamus en Sofokles en die hele santekraam van die mitologie maak hier duidelik
en by implikasie ‘n draai. Nader by ons: Van Bruggen, Wassenaar, Toon van den
Heever, Van Wyk Louw en altyd: Leipoldt, ‘n digter wat regdeur hierdie oeuvre
saampraat. Ek hoor in die lykdigte die verdriet van ‘n Totius, ek sien die
beheer van ‘n Opperman.
Om op 86 so te kan dig: trefseker, helder, intelligent en
aangrypend, verdien alle lof. Dis ‘n uitgebreide feesmaal hierdie digbundel.
Met sy debuut het hy die landskap van die Afrikaanse digkuns
verander. Met sy jongste bundel, wat 196 bladsye beslaan, bewys hy opnuut sy
meesterskap en sy invloed onder andere nou onlangs op Tom Gouws se bundel Ligloop (Human & Rousseau) en die
gesprek met Vermeer dui verder op sy belangrike posisie.
‘n Digter met epigone en navolgers is groot.
[Hierdie resensie het vantevore in Rapport verskyn.]