Jeanne Goosen. Plante
kan praat. Kwela Boeke, 2010. ISBN 978 7957 0300 3.
Resensent: Joan
Hambidge
Hiperrealisme
gemeng met absurditeit en ‘n gevoel van nihilisme. Gooi ‘n skeutjie gekheid by
en jy het Jeanne Goosen se nuwe kortverhaalbundel, na vyftien jaar. Dit heet
Plante kan praat.
Digter,
dramaturg, romanskrywer, kabarettis, rubriekskrywer, dit is Goosen. Die skrywer
van om ‘n mens na te boots (1975) en Lou-oond (1987); die weergalose Ons is nie
almal so nie (1990) en die heerlike satire ‘n Paw-paw vir my darling (2002).
Met so ‘n
gedugte skrywer is die leser altyd geneig om tekste vergelyk met ‘n hoogtepunt
en dan leesplesier te versmaai. Dit sal ‘n fout wees om hierdie boek te wil
afspeel teen ander Goosen-tekste. Lees dit eerder as besondere eenvoudige
verhale – amper soos die BY-rubrieke – met ‘n eiesoortige blik op die
werklikheid en ingeboude satire. Die mens in sy domheid en weerloosheid; in sy
geloof in ewigheidswaarde met ‘n gebrek aan humanisme. In hierdie opsig is die
slotverhaal ‘n kragtoer-in-die-kleine: dit heet “Nog ‘n dag” en die waansin van
die daaglikse joernalistieke werklikhede word aan die kaak gestel en dan word
dit die back-drop vir die fantasie
van die skrywer wat ‘n verhaal begin vertel (skryf) in ‘n taal tussen Afrikaans
/ Nederlands / Duits. Dit is skreeusnaaks met die verteller wat ten slotte
besluit:”I fall on the floor and I laughs and laughss and laughsss” (156). Die verkeerde grammatika en die herhaling en
vermeerdering van die s-klank, verïroniseer die gegewe. (“Heute Tag kwam ik in
mein offies”).
Die
titelverhaal, “Plante kan praat” (106) is ‘n oefening in gekheid. Hier is dit
die satiriese Goosen aan die woord wat die kits-roem van moderne digters
opstuur: ‘n enkele reël, “Plante kan praat” herskryf sy driekeer en omdat Johanna
van Huyssteen, die “digter”, dit goed vind, is dit dit goed. Triomfantelik is
sy, en Berlioz bloei oor FMR en sy hoor die plante wat praat met haar. Dit is
die digter Goosen wat in hierdie verhaal aan die woord is wat met haar
besondere (bykans) surrealistiese aanslag die lewe ontmasker as ‘n leuen. In
talle verhale is daar verwysings na musiek en mense wat deur musiek wil ontglip
uit die werklikheid wat hulle versmoor, verminder of verneder.
Hierom is daar
dan dikwels ‘n wrede blik op karakters, bykans asof die vertellende instansie
daarop uit is om te ontluister. “Fucked for life” (11) debunk die religieuse dimensie deur ‘n kru-verwysing wat binne die
opset van die verhaal aanvaarbaar is. In “Wolwors” (46) word geweld geparodieer
en dit wat lesers verwag van seks gekombineer met geweld. Inderdaad het ons
hier ‘n pornografie van geweld, maar sekuur in beheer gehou deur die vertelling
wat alles sekuur voorberei. Dis bykans asof Goosen hier die voyeuristiese leser
wil gee wat hy of sy verwag, en nog meer. Asof sy wil sê: jy het gevra, hier is
dit. “Ben Prins se voete”(109) wys op die gebruik van toeval in hierdie verhale
en retro-verwysings wat ‘n vervloë
wêreld oproep. Wat Harry Kalmer Sondae probeer doen in sy Rapport-rubrieke, kry
Goosen hier ongeforseerd reg.
“Hulle noem my
Jean’’ (116) wat inspeel op daardie onvergeetlike voorganger waarin Anneli van
Rooyen haar klassieke “Aan die einde van die reënboog” sing, betrek die
gender-tematiek van die verhale met die refrein: “Ek is ‘n vrou en ek vat kak
van niémand nie”. Die man “snak soos ‘n doedelsak” wanneer sy met hom
klaarspeel. Eers lag ‘n mens; dan word jy oorval met deernis vir die karakters
wat uitgelewer is aan vooroordele en diskriminasie. ‘n Mens sou hierdie verhaal
kon benader as ‘n soort fantasie waarin die verteller klaarspeel met almal wat
haar al leed aangedoen het.
Goosen skryf oor
low-class joints, oor dollas, oor
Durbs en Parow, oor mense wat aansuiker, oor verskoppelinge, oor ‘n ou wat
soos ‘n Champion spark plug lyk: maar
vertel kan sy vertel. Van Spokie Snygans se ervarings of ‘n trassie, Gladys die
sex-change, se leed. Wreedheid word
afgewissel met hartverskeurende teerheid soos “Begeerte”(87) waarin ‘n simpel
mens nie sy begeertes en drome kan verwoord nie en ten slotte die sagte lied
van ‘n reënvoël kweel.
Dis ‘n boek wat
vele emosies in ‘n mens wakker maak. Ek
was gaande oor die laaste digbundel Elders aan diens (2007) en hierdie verhale
vra vir ‘n saam-lees daarmee.
Die donkerkant
van die lewe word dikwels gewys asof die verteller buikspreker is van die
melancholie. Die verhale lees vlot, maar met elke her-lees, word ‘n mens bewus
van die slim komposisie.
Ons noem haar
Jeanne Goosen.
Welkom terug,
Jeanne.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]