Monday, January 21, 2013

Charl J.F. Cilliers - Karoo: Haiku Variations (2012)




Charl J.F. Cilliers. Karoo: Haiku Variations. Malgas Publishers, 2012.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie digter het al bekendheid verwerf met sy enorm knap vertalings van Afrikaanse digters en sy mooi bundels soos The Journey en A momentary stay. Sy jongste bundel Karoo – met die onderskrif Haiku variations – takel die eenvoudige, gestroopte vers. Daardie soort gedig wat Van Wyk Louw in sy “Klipwerk”-reeks aangespreek het. ‘n Mens dink hier aan:

dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek

wat in die eenvoud soveel interpretasies dra. Of Pound se beroemde gedig:

In a Station of the Metro

The apparition of these faces in the crowd;
Petals on a wet, black bough.

Steven Gould het al daarop gewys in The new Anthology of American Poetry (2003) dat hierdie vers uit veertien woorde bestaan en dat dit dalk ‘n slim spel is met die sonnet! Uiteindelik “verstaan ‘n mens hierdie gedig omdat jy dit in jou verbeelding laat gebeur.

In Afrikaans is Eveleen Castelyn die ongekroonde beoefenaar van die haikoe en Cilliers se bundel bevat ‘n handige nawoord oor die struktuur van die digvorm.

Hy wys op die debat rondom die gevoel dat dit onmoontlik is om hierdie vorm in Engels baas te raak. Uiters leersaam is die verwysing na die kiru of snypunt in hierdie gedig wat vergelykbaar is met die wending of dénouement of die volta in die sonnet. Die bekende sewentiende sillabes behels die on (morae) in die 5/7/5-patroon wat ‘n kigo of seisoenale woord bevat. Binne hierdie vorm is daar variasies soos die jiyuritsu. En dan merk Cilliers op: “In the postmodernist world of hyperactivity, the haikuesque experience is a refuge of outer- inner reflection, of acceptance of stillness, of the beauty of transient things…”

Oor hierdie digter se werk het ek al uitgebreid geskryf en gewys op sy besondere talent om met spaarse woorde ‘n hele simboliese konstellaat te skep. Ook as vertaler het hy daardie gawe om in die skoene van ‘n ander digter in te klim en dit wat buite woorde lê, op te vang.

Lees hierdie bundel vir ‘n handvol pragverse:

Magnolia

The magnolia grows
older petal by petal
leaf by falling leaf.

(81)


The Frog

From its huge belly
The frog disgorges a storm
The trees do not move.

(55)

Dit bly ‘n skande dat hierdie digter homself moet uitgee, terwyl gesiene uitgewershuise minderwaardige digters publiseer.

Bestel hierdie boek per e-pos van die skrywer by franban@mweb.co.za.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]