Imraan Coovadia. Transformations:
Essays. Umuzi, 2012.
Resensent: Joan
Hambidge
Hierdie bundel essays heet Transformations, geskryf deur die romanskrywer, Imraan Coovadia.
Dit is een van daardie boeke wat ‘n mens optel en gewoon net nie kan neersit
nie. Die skrywer neem jou op ‘n reis deur die letterkunde en leestradisies.
Waarskynlik een van die mees onthoubare bydraes is sy essay oor Vladimir
Nabokov en hoe Nabokov ‘n Iranese skryfster verlos het uit haar ellende. Lolita is waarskynlik een van die grootste
romans van die twintigste eeu; dit is nie ‘n werk oor obseniteit of pedofilia
nie. Dit is eerder ‘n teks wat leeskonvensies uitdaag en ‘n gemeenskap se
vooroordele aan die kaak stel.
Coovadia, begeesterde kommentator wat hy is, lewer ook as
Suid-Afrikaanse Indiër kommentaar op die Dewani-saak in die bydrae
“Cheapskate”. Hier kyk hy na die leuens en vooroordele wat hierdie saak
gekelder het: van Cele se ontoepaslike opmerking oor Dewani tot al die slaggate
in die saak. Is die horlosie werklik weg gegee? Of was dit alles deel van die
blufspel? Hoe het dit gekom dat Dewani (deur sy persoonlike assistent) sy vrou
se ongebruikte reiskaart kon terugeis? Hy het hierdie blik van die “insider’;
hy praat immers oor kodes en miskien, spekuleer hy, was Dewani bang sy vrou sou
hom “out”. Hy wys op die dominansie in die verhouding, die Barbie-pop (as
fetisj) en hoe Dewani (soos Shabir Shaik) in die media ontstig oorkom, maar
saans uitgaan na restaurante. Coovadia gebruik sy Indiese agtergrond, en meer
spesifiek, sy kennis van Gujarati en die geldkultuur (“you pay for quality”) om
hierdie somber saak te analiseer. (Regsgeleerdes sal waarskynlik verskil en
voel dat ‘n media-analise te veel staat maak op omstandigheidsgetuienis.)
Maar kom ons keer terug na Nabokov. Lolita funksioneer ook rondom ‘n regsbeginsel. Coovadia neem ons op
‘n fassinerende reis rondom Nabokov se belangstelling in vlinders (o.a. die
Kallima, die dooie blaar-vlinder). In hierdie essay kyk hy na hoe ons beter
lesers kan wees en weer waaksaam moet wees vir wat hy noem “the shapes of
ethical seduction” (33). In “Curveball 2” verwys hy na Azar Nafisi se Reading Lolita in Tehran. En hier kan ‘n
mens werklik sien hoe insigryk Coovadia die kodes van ‘n gemeenskap kan
interpreteer. Hierdie memoir was vir 117 weke op die NY Times se bestseller-lys
en Coovadia vertel vir ons hoekom: elke roman van Nabokov is in wese ‘n boek
teen tirannie, enige vorm van tirannie. Hy betrek die beroemde Cornell-lesings
en dit wat Nabokov oor ander romansiers skryf, kan op sy werk van toepassing
gemaak word.
Oor J.M. Coetzee skryf hy vreesloos – in die kapasiteit as
voormalige student en weer eens verbyster hy die leser oor die
“insider/outsider”-blik. Coovadia het immers in New York vertoef, studeer aan
Yale & Harvard. Hier kan hy met groot insig skryf oor Coetzee se verplasing
na Adelaide en hoe hy deur die Engelese letterkunde getakseer is. Natuurlik
stem ‘n mens nie orals saam met hierdie provokatiewe resensent en kritikus nie.
Coovadia is nie bang vir die knuppel-in-die-hoenderhok nie: hy het immers ‘n
geweldige skerp aanval ‘n paar jaar terug op Breytenbach geloods in die Sunday
Independent en die Afrikaanse literaria het hom gestriem. En om die Afrikaanse
letterkundige sisteem as “soupy” te beskryf, is onregverdig. Is alle Afrikaanse
skrywers in een pot sop te vinde? Ek glo nie. Daar is ook spanninge en
alliansies.
Elke essay is ‘n ervaring. Dit getuig van belesenheid,
passie en ‘n vermoë om wetenskaplike kennis te versoen met letterkundige
insigte (soos die bydrae oor Nabokov). Man en perd word vermeld. As hy R.W.
Johnson as ‘n ou eenbeen-Tory beskryf of Rian Malan kapittel, kan ‘n mens sien
hoekom. Die intellektuele gedrewenheid imponeer. Die essay oor Tolstoi word ten
slotte ‘n belangrike vraag oor die funksie van die letterkunde.
“Against the book”, die openings-essay provokeer: wie lees
en hoekom lees ons steeds?
Teenoor Coetzee wie se essays hy as “withholding” beskryf,
is hierdie bydraes op die man af of “in your face”. Die bewondering vir die
skryfroetine van ‘n Coetzee of ‘n Pamuk kom duidelik na vore. En minder bekende
terme (vir die gewone leser) soos “prosopopoeia” word verhelder. Politieke
transformasies word bespreek soos Mbeki se Briewe aan die Nasie skerp
geanaliseer. Belesenheid word goed geïntegreer in “How they see us” met
verwysings na Shakespeare en Said.
En vir die rekord: dit was Jakobson wat Nabokov se
aanstelling aan Harvard gekelder het met die beroemde uitspraak dat as ons hom
beskou as ‘n belangrike skrywer, gaan ons dalk volgende ‘n olifant aanstel as
die Professor van Soölogie?
Dit doen die reputasie van Umuzi gestand om hierdie boek te
publiseer in ‘n tyd waar ons verswelg word deur middelmatige letterkunde.
[Hierdie resensie het voorheen in Rapport verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die
resensent.]