John Clare
(Ed.). Captured in time: Five centuries of South African Writing.
Jonathan Ball, 2010. ISBN 978 1 86842 378 1.
Resensent: Joan Hambidge
Captured in time
is ‘n hoogs aanbevole kompendium waarin vyf eeue van Suid-Afrikaanse skryfwerk
vir die leser byeengebring word. Vanaf Luis de Camoes, Jan van Riebeeck,
Livingstone, Paul Kruger, Winston Churchill tot Antjie Krog, Zakes Mda, Johnny
Steinberg en Marlene van Niekerk is hier aan te tref. Natuurlik met die grotes
soos Gordimer, Brink, Coetzee…
Die samesteller,
John Clare, se rubrieke gee al reeds ‘n aanduiding van hoe die geskiedenis van
hierdie land verloop het: die Boesmans en Hottentotte, die reisverslae,
slawerny, oorloë, sendelinge, ensomeer.
Dit is ‘n
moeilike land om te omhels (embrace):
dit is ‘n land van rassespanning en konflik. Ons het die woord apartheid gemunt
en uiteindelik beleef ons ‘n demokrasie na onderdrukking en wit oorheersing.
(Uiteraard kan so ‘n kompendium nooit alle stemme verteenwoordig nie en moet
dit volgens hierdie leser benader word vanuit ‘n persoonlike perspektief. Dit
sou ‘n ander kritiek behoef om die hiate uit te wys.)
In my jeug het
ek Suid-Afrikaanse geskiedenis bestudeer en waarskynlik soos alle jong mense
dit as dor, droog en vervelig ervaar. Wat jammer! Veral gedagtig aan die feit
dat groot romans byvoorbeeld gebaseer is op daardie geskiedenis: ‘n mens dink
hier aan Coetzee en Brink, byvoorbeeld.
Dieselfde geld
die Boereoorlog wat jaar na jaar deel was my skoolkurrikulum en wat vandag
eenvoudig fassinerende leesstof is; veral vanuit die perspektief van ouer
digters soos Leipoldt byvoorbeeld. Tekste oor hierdie oorlog is gewoon boeiend
nie net vanuit ‘n historiografiese perspektief nie, maar eweneens as belydende
tekste. Belydenisse vanuit die konsentrasiekampe vertel van ‘n onreg en
skending van menseregte wat volledig onaanvaarbaar is en bly.
‘n Mens lees
hierdie versameling van tekste as ‘n gesprek en antwoord op verdrukking en
ongerymdhede. Nie alleen is daar prosatekste nie, maar selfs gedigte wat vele
kwessies soos landskap, die verhouding tussen moederland en kolonie, apartheid,
reisjoernale (soos Francois le Vaillant) word hier opgeneem. Waarskynlik moet
‘n mens die verslae van die WVK saamlees met die Boereoorlog-tekste.
Die keuses uit
tekste en samevoeging daarvan (onder ander ‘n uittreksel uit Age of iron langs Triomf bring ander
perspektiewe na vore. Inderdaad word die tekste dan in hierdie kompendium
ópgevang in ‘n soort “time-warp”. Buite konteks en in samesnoering met ‘n ander
vertelling word ironieë uitgelig en skryfstyle se verskille al hoe duideliker.
Twee klassieke verse vind ons ook hier: Ingrid Jonker se beroemde gedig oor
“Die kind” en Ingrid de Kok se hartgrypende vers or die VWK, “The archbishop
chairs the first session” wat so eindig:
There was a long
table, starched purple vestment
and after a few
hours of ceremony,
the Archbishop,
chair of the commission,
laid down his
head and wept.
That’s how it
began (462).
En hoe kook ‘n
mens se bloed nie wanneer jy die verslae oor die Boeroorlog lees nie! Ons lees
Conan Doyle oor “the acre of massacre” (en nou lees ons weer Buller se plan (Ingrid Winterbach)
hiermee saam) en William Plomer se ironiese gedig “The Boer war” (277) wat so
eindig:
They took the
hill (Whose hill? What for?)
But what a climb
they left to do!
Out of that
bungled, unwise war
An alp of
unforgiveness grew.
Een van die
groot figure van ons land, Jan Smuts, se bydraes is ook hier aanwesig en Guy
Butler se gedig “Cape Coloured Batman” (320) som die ellendes van
rassevooroordeel op:
Damned from
birth by the great disgrace.
Herman Charles
Bosman word “whimsical” (?) genoem en Oom Schalk Lourens, sy alter ego, lewer
satiriese kommentaar op die vooroordele en sosiale ongeregtighede van die tyd.
Wat ‘n wonderlike verhaal en deur middle van oordrywing en grappighede word
selfverheerliking aan die kaak gestel.
Taalkwessies kom
aan bod soos beskryf deur J.M. Coetzee in Boyhood
(372) en hoe die jong kind nadink oor sy identiteit:
“Because they
speak English at home, because he always comes first in English at school, he
thinks of himself as English. Though his surname is Afrikaans, though his
father is more Afrikaans than English, though he himself speaks Afrikaans
without any English accent, he could not pass for a moment as an Afrikaner”
(372).
Hoe tydloos bly hierdie problematiek nie, gedagtig aan die taalstryd aan
die Universiteit van Stellenbosch en die vrees van die huidige rektor dat die
universiteit in die hof mag beland, as die hulle nie verengels nie!
Hierdie lywige
boek is besonder mooi uitgegee met kleurfoto’s van meer resente skrywers. Daar
was darem sekerlik ‘n meer resente foto van Brink beskikbaar?
Dit is ‘n boek
wat vir elke Suid-Afrikaanse leser ‘n aan te beveel is. Ook ‘n moet word die
leser van die huidige Afrikaanse romans wat kommentaar lewer op ons
geskiedenis.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]