C. Louis
Leipoldt. Kos vir die kenner: ‘n Kookboek
met meer as duisend goeie resepte. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978
0 7891 5480 2.
Resensent: Joan Hambidge
I. Kom gee vir my
‘n polfyntjie!
Meer as ‘n
duisend goeie resepte word in hierdie pragboek versamel deur een van ons
grootste gourmands. Nie alleen is die digter, C. Louis Leipoldt deur vele
besing as ‘n grootse digter nie, maar ook as koskenner het hy beslis nie sy
gelyke nie. Hierdie boek staan in die teken van nostalgie, met ‘n teruggryp na
‘n verlore wêreld wat hier bestendig word. In 1912 is die Ligue des Gourmands
gestig deur Auguste Escoffier.
Die nostalgie
word alreeds opgevang in die woordverklarings waarin woorde soos bouillon
vertaal word as boeljon (vleisaftreksel) of vlees wat vandag vleis is. Wat van
burnet wat pimpernel is.
Kom gee vir my
‘n polfyntjie, wil ‘n mens uitroep wanneer jy hierdie boek ter hand neem. Wat
is jou verkiesing, met ander woorde keuse?
Hierdie leser
behoort tot daardie geslag wat kookboeke lees uit vreugde en op die agterblad
word dit tereg deur Kerneels Breytenbach geprys vir die tydlose sjarme vir die
leser met ‘n ewigheidwaarde vir die smulpaap.(Wanneer keer Breytenbach terug as
kosresensent?) Jare gelede het ek in ‘n Johannesburgse restaurant gesmul aan
Leipoldt-geregte.
Hierdie boek het
oorspronklik in 1933 verskyn. Dit is Africana wat vir ons iets vertel van hoé
mense indertyd geëet het. Dus ‘n boek uit toeka se dae.
Kom ons kyk na
die soppe. Brandnetelsoep of aalwyn-, papkuil- of palmietsoep. Jy bedien dit
soos selderysoep nadat dit in bouillon gekook is.
Kluitjiesoep wat
ons vandag ken as vermicelli of ravioli. Kluitjie. Wat ‘n mooi woord.
En kyk wat word
daar van rys vertel. Soyer se manier of die Chicago-manier (met ‘n ui nogal!).
Geweet jy kan rys kook met kwepers en kaas? Of salm?
Kos is immers ‘n
groot gedoente tans as ‘n mens kyk na al die kosrubrieke wat in dagblaaie
verskyn. En elkeen is ‘n kenner. Jare gelede het Casper Scmidt ‘n digbundel
gepubliseer Pelgrims in aspiek en hy was verontwaardig omdat min lesers geweet
het wat vir ‘n ding aspiek is. Sult het hy uitgeroep. En oor sult skryf
Leipoldt eweneens uitvoerig met die styfheid te danke aan die toevoeging van
jellie of gelatien. By vissult praat
Leipoldt dan inderdaad van aspiekjellie waar hy vertel dat die sult so styf
behoort te wees soos die wit van ‘n gekookte pikkewyneier (bladsy 174)! ‘n
Gekookte pikkewyneier inderdaad.
Varksult, lees
ons, vra vir die uithaal van horings en afsny van ore met die vermaning dat jy
dit goed moet afwas. In Egipte en Zanzibar het ek dit met my eie oge gesien:
hoe jy ‘n heel varkkop of beesstert (nog met die hare aan) kan koop. ‘n Mens
word telkens bewus van die eindelose geduld waarmee kos berei word. Hier is
geen kortpaaie nie. Die kok moet bereid wees om self die dier te onthaar en af
te was om by die essensie van die gereg te kom. En moenie die sout vergeet nie.
Uiteraard het
dit alles met tyd te make. Hoeveel van ons het ‘n paar uur ter hand om ‘n
varkkop of beesstert te “hak” (in stukkies te sny)?
II. Wys my die
plek
C. Louis
Leipoldt se “Boggom en Voertsek” is waarskynlik een van die mees geparodieerde
gedigte in Afrikaans. Op hierdie wyse word ‘n digter lewend gehou in die
digkuns wanneer digters reageer op sy gedigte. Die heruitgawe van hierdie
pragboek bestendig eweneens sy posisie as koskenner. In hierdie tyd waar daar
soveel boeke oor die grensoorlog verskyn, staan hierdie boek dan in die teken
van nostalgie. In sy insigryke voorwoord maak Peter Veldsman ‘n tersaaklike
opmerking dat Kos vir die kenner tydens die armblankejare geskryf is. (Dit is
deur Veldsman se toedoen dat hy deur die ATKV vir sy enorme bydrae vereer is.)
Dit is volgens hom nie ‘n praktiese kookboek nie, maar eerder ‘n wegwyser. Soos
hy dit stel:”’n prikkel tot die wonderwêreld van plaaslike kos sowel as die
kookmetodes van Europese en ander kosghoeroes. Dit bly ‘n droomboek waaruit jy
ongedroomde kosdrome kan droom”.
Ek benader dit
as ‘n boek van versugting en ontvlugting.
III. Bedaar, O
Heer die hartstog wat tot haat / Teen broer en
buur wil opbruis as ek vind … (uit “’n Kersnaggebed”)
In 1933 verskyn
Sigmund Freud se Nuwe Inleidende lesings tot psigoanalise waarin hy die funksie
van verdringing (repressie), versugting en drome verder verduidelik. In hierdie
jaar korrespondeer Freud met Einstein oor die implikasies van oorlog en Hitler
word ‘n magtige persoon in Duitsland. In hierdie tyd benadruk Freud dat ‘n
droom ‘n wensvervulling is oor dit wat nie in die werklikheid bestaan of beleef
kan word nie. ‘n Mens sou dus hierdie boek kan benader as ‘n ontvlugting uit
die harde werklikheid van nood. Terselfdertyd is dit ook ‘n boek van opvoeding.
Leipoldt verduidelik vir sy leser dat die eerste resepte in Latyn geskryf is en
dat die beroemdste kokke in die vorige eeu was algar Fransmanne en hierom bly
sekere begrippe dus in Frans staan.
Die oudste kookboek is die Chinese Hong Tso. Hy
begelei sy leser oor die herkoms van woorde en ‘n mens moet jou dus probeer
indink hoé het lesers in daardie tyd op hierdie inligting gereageer. Soos die
woord kabob wat beteken om op ‘n stokkie (te) spit en braai. Hy verduidelik wat
consommé is.
Die oudste kookboek is die
In sy inleiding
skryf Leipoldt dat die kookkuns so oud soos die mensdom self is. Vir hom is die
kookkuns internasionaal. Ons manier van kook en kosbereiding verskil nie van
ander lande nie. Elke land het wel sy eie skottels. Dit wat ons as eg Afrikaans
ervaar, is geregte onder ‘n ander naam. Tog het ons wel unieke veldkos soos
wateruintjies, veldkool, jakkalskos, ensomeer. Hy spreek eweneens die kwessie
aan dat ons hier ‘n man vind wat resepte byeenbring; in daardie tyd was dit
immers die terrein van die vrou.
IV. ‘n Nuwe
liedjie op ‘n ou deuntjie
Kos is ‘n
manifestasie van ‘n bepaalde kultuur. In Indië word daar nie net kerrie gemaak,
omdat dit lekker is nie, maar omdat dit ‘n wyse was om kos langer te laat hou.
In ons land is dit biltong. Leipoldt se boek tree in gesprek met vele ander
kookboeke.
En dit is ook ‘n
historiese dokument. Gaan kyk byvoorbeeld wat is ‘n Prins Albert-poeding!
Die handige
bladwyser maak die boek vir die kosleser en verbruiker oop.
En die
liefhebber van Leipoldt se digkuns, want hy bly ‘n onbetwiste meester, behoort
weer terug te keer na klassieke gedigte soos “Die oerbos” of “Die Beste”.
Hierdie boek is
die beste! En gelukkig vergaan alles nie soos mis op die vlei nie, want Human
& Rousseau en Peter Veldsman het hierdie boek vir ons terug gebring. Hulde
aan nostalgie, aan verlange na onbekende plekke soos Padang en Insulinde en
Borneo. En lekker kos.
[Hierdie
resensie het vantevore in Rapport
verskyn.]