Daleen Venter (Red). Om te skryf. Van Schaik Uitgewers,
2012. ISBN 978 0 627 02987 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Langs die bekende kompendiums vir voornemende skrywers
is hierdie dikke boek ‘n waardevolle handleiding. Kan ‘n mens iemand leer
skryf? Bepaald, mits die persoon besef dat skryf ‘n ambag is en dat jy sekere
tegnieke onder die knie moet kry.
Dus om te skryf, beteken dat jy moet kennis neem van
ander se werk sodat jy kan sien wat is reeds gedoen in jou taal (en genre)
sodat jy nie herhaal of afsteek by gevestigde name nie. Meer nog, jy kan dalk
die aftog blaas indien jy besef dat dit wat jy wil skryf reeds beter gedoen is
deur ander skrywers voor jou. Goeie literatore is nie noodwendig goeie skrywers
nie. Uitgewers kan goeie raadgewers wees, maar self sukkel om iets van
waarde te lewer. (Daar was maar min kere ‘n T.S. Eliot op die toneel.)
Deurwinterde dosente beskik miskien oor teoretiese kennis, maar faal wanneer
hulle kreatief werk.
Daar is baie skryfskole en -kursusse in Afrikaans.
Party mense reageer snedig op hierdie kursusse en maak mentors die verwyt dat
hulle epigone skep of boeke wat nie werklik dwingend goed is nie. Dit is wel so
dat skryfskole die droogte in die digkuns opgehef het.
Die boek is gebaseer op Kane en Peters se Writing
Prose: Techniques and Purposes (1986) en bekende en minder bekende
skrywers het meegehelp. Daar is vertalings van bekende tekste soos Johann de
Lange en Henriëtte Loubser se “Die kwaad van my storie” deur T.E. Lawrence,
James Thurber se beroemde “Die eenhoring in die tuin”, vertaal deur Yvonne
Beyers. Hoe lekker is dit nie om Auden weer te lees nie.
Elke bydrae word deur vrae vergesel wat die
leser/leerder dwing om na die sub-teks van die teks te kyk. Die boek bevat
afdelings: skryf oor jouself; skryf oor ander (die sogenaamde karakterskets);
skryf oor plekke en dinge; oor gebeure; oor idees en oortuigings; skryf om te
definieer; skryf om te oorreed; om te begin en te eindig; skryf oor kuns en
media; stylkwessies…
Bekende buitelandse name staan langs ‘n plaaslike
produk. En goeie skryfwerk, of dit nou in ‘n vertaling of in Afrikaans is,
voldoen aan dieselfde standaarde, naamlik om met so min woorde as moontlik tot
die punt te kom. Om ‘n begin en ‘n slot bymekaar uit te bring. Om te kan
suggereer. Om die gespierde sin te kan skryf.
Elke goeie skrywer op aarde skep egter sy / haar eie
reëls wat dikwels onnabootsbaar is. Hierom praat ons van die
Hemingway-handtekening. Of die arm man se Oprah Winfrey/Tom Wolfe as die
nabootsing flets is.
Die leser word voorsien van skerpsinnige kommentaar
soos oor William Styron se “Die pottebakker se grond” wat as impressionisties
beskryf word en terselfdertyd “uitwaarts” beweeg na ‘n breër emosionele en
filosofiese besinning.
Daar word ook ‘n handige afdeling gewy aan die
koerantberig deur Bun Booyens. En deurgaans is die subteks van hierdie boek:
daar bestaan verskillende soort skryfwerk wat verskillende oogmerke of
doelwitte het. Die tradisionele rubrieke vir skryf behels: vertelling,
beskrywing en kommentaar. (Wanneer laas het u liewe leser die woord pennevrug
of boerebedrog gelees?) Jy kan ‘n iPad wen indien jy wys op feitelike foute of
spelfoute of waar ‘n belangrike insig gemis is. En jy kan / mag ‘n beter
Afrikaanse teks voorstel, maar dan moet jy dit ook van vrae en voorstelle
voorsien.
Dit is ‘n uitsonderlike boek wat onder andere Flannery
O’Connor se klassieke essay bevat “Die skryf van ‘n kortverhaal” en John Ciardi
se “Robert Frost: Die pad na poësie”, ‘n aanbevole werkstuk vir
skryfskool-deelnemers.
Opperman en Van Wyk Louw is ook hier nes Audrey
Blignault. Binne een vakgebied kan daar meerdere toonaarde vereis word en dit
word geïllustreer aan die hand van twee hofuitsprake van Johann Kriegler.
Kennis van die reg is nie nodig om hierdie skryfwerk te geniet nie, wel
konsentrasie! Die figuur J.C. de Wet se “Die stipulans, die promittens en die
derde” verduidelik waarom die professor soveel gesag afgedwing het.
F.L. Lucas se “Bedagsaamheid teenoor lesers” dra die
waarskuwing dat ‘n mens verkeerd verstaan kan word.
Ten slotte, in die woorde van Defoe: goeie styl moet
deur almal verstaan word…
Of in die gevleuelde woorde van Lucas: Die meeste
onduidelikhede is ‘n onverdunde en onnodige euwel.
Die boek herinner ‘n mens opnuut daaraan hoe groot
skrywers – soos Molière en Faulkner – hul werk aan hul kokke en manlike
bediendes voorgelees het! En as hulle dit nie
verstaan het nie, is dit gewysig totdat hulle dit verstaan het. Kyk hoe helder
formuleer Clay Shirky nes Dylan Thomas, daardie ongelooflik kragtige digter, in
‘n stuk “Sir Philip Sydney”. Of die wenke van Hilaire Belloc. Eweneens word
daar klem geplaas op die konkrete waarneming bó abstraksies. Filosowe soos
Plato, Degenaar en Wilhelm Jordaan se lewenswyshede verpak in helder woorde.
En nou onthou ek die gevleuelde woorde van ‘n leermeester
aan universiteit: daardie man se styl is so lomp soos ‘n mier wat deur heuning
beur!
Skaf hierdie boek onverwyld aan. Dit is nie net ‘n
deurstopper nie. Ek het twee eksemplare: een van hul word geskenk aan Crito vir
die onverdrote ywer om resensente se skryfwerk op die skaal te plaas en te
torring.
Hierdie boek neem beslis ‘n ereplek in langs Hennie
Aucamp se Die blote storie.
Ek gaan dit beslis voorskryf vir my studente.
[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en
word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]