Wednesday, January 30, 2013

Melt Myburgh - Oewerbestaan (2010)



Melt Myburgh. Oewerbestaan. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 3690.

Resensent: Joan Hambidge

Om te Lorca of nie te Lorca nie, that is the question…

U sal my ken. Danksy Uys Krige se wonderbaarlike vertalings, nee eintlik herdigtings van my werk. My naam is Lorca. Federico García. Gebore in 1898 in die Andalusiese dorp Fuente Vaqueros naby Granada. Die storie van my sterfte in 1936 ken julle. Nou ontvang ek hier ter hoër orde ‘n digbundel Oewerbestaan van ene Melt Myburgh (uitgegee deur Protea) waarin hy, wil dit my voorkom, buikspreek vir my. Die digkuns, soos die donkie, is ‘n wonderlike ding en kollega Pablo Neruda het mos op ‘n keer opgemerk dat daar geen digters is nie, maar alleen die digkuns.

Oor die “ars moriendi” is daar veel gedig in my taal en in my letterkunde. Daar is vele odes en coplas. Ons dans inderdaad in Spaans. Hierom is daar ook himnes en die duende is eie ons land en tradisie.

Kan ‘n Germaanse taal dit opvang?

Of moet ‘n digter van daardie Suiderland maar liefs hou by beelde soos “John Deere” en “Eskom”?

Jy vra:

hoe skryf ek, dierbare frederik, hiérdie landskap vir jou oop

sonder om reëlreg my eie graf in te loop? (16)

Miskien as jy begin nadink oor beelde soos hoe op aarde kan ‘n telefoon “slank” lui? En werk die begrip mirador binne jou “oewerbestaan”?

Miskien moet jy maar lewers rus in die kameeldoring se koelte en hou by die wêreld wat jy ken..

Dis meer outentiek.

En ja, die sentimentele is die výand van die digkuns nes die gebruik van die plat woord, my vriend (bladsy 36 en 39).

“om federico” heet ‘n afdeling in jou boek. Ja, die omtes van die hart is soomloos soos die verbeelding. Ek dink nie Pablo sal daarvan hou as jy my as die grootste digter uitsonder nie! Hoe klink donker seuns hul kastanjette op my? Jy bedoel seker dat hulle klink ‘n glasie op my, nie waar nie? M-e-l-o-d-r-a-m-a as ‘n bul in my naam sterf en sonbruin plakkers bloed smak”?

Que?

Jy moet my vergewe: in die ruimte van die duende het ek geen blad meer voor my mond nie en werklike ellende moet eers lank staan voordat dit in ‘n gedig opgevang kan word.
En vir Laurie Gaum ‘n gedig: “jesus in vlak water”?

Maar wanneer jy skryf oor jou werklike ervarings en nie afgeleide gedigte pleeg nie, werk dit: soos “privaat skool” of met ‘n minder bloeddorstige hand dig soos “sissy spacek in ‘n kombuistafel”.

“n heuphoogte mantra teen verlies”?

Pace, pace, senor.  

Lank sal die poësie lewe, in al haar glorie!

Lorca

Telepaties versend

Naskrif: Hierdie reaksie deel ek graag met u, liewe leser.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]