Andries Samuel. Wanpraktyk. Human & Rousseau, 2010. Isbn 978 0 7981 5282 2.
Resensent: Joan Hambidge
Met Tempermes het Louis Jansen van Vuuren, wat sopas by Queillerie
verskyn het, ‘n nuwe energie in ons digkuns geblaas met sy ongelooflik ruige en
energieke verse. Die debuut van Andries Samuel by Human & Rousseau heet Wanpraktyk en getuig weer van
intellektuele beheer. Die digter is ‘n argitek en die leser vind sketse en
ontwerpe by die gedigte. By Van Vuuren is dit weer die skilder wat kommentaar
lewer op sy bedryf.
Die gedig as wanpraktyk dus, as
iets wat die grensoorskrydende of onnoembare moet voorstel, is die deurlopende
motief in hierdie aangrypende bundel. Dit begin met die wêreld van die
oer-Testamentiese en die Hebreeuse digkuns. Die openingsgedig, met sy fyn
toespelings op die ou-Testamentiese gegewe van die offer, die weegskaal en die
Egiptiese mitologie dat die siel geweeg kan word, eindig so:
ek weeg my daagliks
by die gewig van ‘n kind (12)
Die kind word later in ‘n klein
vers as ‘n geitjie beskryf en ons word in Tel Aviv geplaas. Die
Olyfwoestyn-vertalings van Ben Gurion en Steyn, soos Olga Kirsch se verse uit
daardie landskap, word slim geaktiveer.
“nieu-bethesda” (15) word
jammerlik genoeg ontsier deur die woord “sadness”, terwyl kragwoorde, natuurlik
vir effek, vir my gevoel soms onnodig opdoen. Waarom tog “omen” en
“declaration”?
Ek het dit nie teen Engelse woorde
per se nie, maar dan moet ek wel as leser oortuig word dit is funksioneel.
Maar elke digter het sy idiolek,
sy eie idiolek. Dieselfde geld die gedig “berigte van herkoms / psalms vir die
verste kind” (16, 17). “all god’s children took their toll” (18) word ‘n
mosaïek en kan gelees word as ‘n meerstemmige vers.
“blues in yk” (25) gesels met
Antjie Krog se bokkie en struktuur van haar koorsange keer terug na Januarie-suite veral.
“styf” (52), draadtrek-vers, word
sydelingse kommentaar op die skryfproses. ‘n Mens kan hierdie gedig met Roland
Barthes se Le plaisir du texte (Die
plesier van die teks) saamlees en presies sien wat die grote Barthes bedoel het
met plesier en dit wat buite woorde lê.
styf
met my hande vryf ek my piel
op en af pluk ek dit
aanhoudend
ek trek my draad –
ek trek dit uit en volg dit
ín
ek pak my piel beet
soos ’n probleem
al skommelend
probeer dit uitkom
ek dink ek tos net lekker
maar angs groei uit my
soos ’n pielstyf –
ek gryp dit soos ’n dwaas
rem dit in plesier
al pols dit van verdriet
tap ek myself leeg
die bietjie ek wat nog oor
is
spuit ek weg oor onvrugbare
lappe
my handlangerende hande
my onpaar minnaars
Die gedigte beweeg dus tussen die
konstruksies van die argitektoniese ontwerpe en die gedig as on-afheid of
gesprek met ánder gedigte. En dis
hierdie beweging tussen twee media wat die gedigte interessant maak. Ons lees
immers gedigte ook vir die stiltes, nie net die woorde nie, het Harold Bloom al
gekonstateer. Die gedig as “wanpraktyk” speel terug op Baudelaire se “blomme
van boosheid”. Hier word die gedig ‘n besegging van leed en verlies.
In “losklim” (36) is die rotsmaniak se tog
iets wat die noodlot tart en “onversadigbaar wulp die grond haar dye”. Die
gedig word dus méér as net ‘n vers oor ‘n rotsklimmer. Soms is die verse te
emosioneel, ‘n bietjie “meningbesete” (37), maar wanneer die gedig oortuig is
dit uiters behendig vir so ‘n jong digter. “Enkele tegniese besonderhede oor
water” (32) maak ‘n gedig van die digter se bedryf:
ek is ‘n troebadoer
van die wellustige en ingewikkelde
geheime
van roes en verrotting
Die digter slaag die toets van die
ware digterskap, naamlik om onthoubare, konkrete beelde te skep, wat die leser
nooit sal vergeet nie:
teen die hitte wat bak soos ‘n
pofadder (68)
my dogtertjie
is ‘n geitjie
sy bak in liefde
soos in son (13)
Daar is knap taalontginnings
(“hoekom reik jy jou hand”, 57) en gesprekke met Michael Ondaatje en Anne
Michaels, o.a.
Die skoonheid van hierdie bundel
is soos by Tempermes geleë in die
on-afheid en bruisende energie daarvan.
Dit gaan goed met ‘n digkuns wat
soveel uiteenlopende debute kan akkommodeer soos Samuel, Van Vuuren en nou onlangs:
Martina Klopper se Nadoodse ondersoek.
[Hierdie resensie het vantevore in
Die Volksblad & op SlipNet verskyn.]