Fanie Viljoen. Grilbrigade. Human & Rousseau, 2010.
Resensent: Joan Hambidge
Om vandag ‘n
kinder- of jeugverhaalskrywer te wees, beteken dat jy moet stelling inneem téén
die moderne media en tegnologie: selfone, MXit, en al die ander verskynsels
bedreig en daag die kinderverhaalskrywer uit om iets te skep wat die jong leser
sal boei. Hoe kry ‘n mens dit reg om steeds te midde van soveel foefies die
jong kind se verbeelding te stimuleer? Wel, jy bou jou verhaal rondom hierdie
verskynsels: Carina Diedericks-Hugo het reeds in haar Thomas@-reeks gewys dat
dit gedoen kan word en die leser word selfs verwys na die internet of ‘n interaktiewe
“game” (speletjie klink so outyds) af te laai.
Fanie Viljoen
begryp ook iets van hierdie kompleksiteit met sy verhaal Grilbrigade, pragtig
uitgegee deur Human & Rousseau en met skitterende illustrasies deur Luan
Serfontein.
Dus ‘n
uitstekende kinderverhaalskrywer en uitmuntende illustreerder kom hier bymekaar
uit in ‘n boek wat lekker lees. Daar is ook QR-kodes vir besoeke op Facebook of
‘n kuier op Fanie se webwerf.
Wil jy weet van
die Grilbrigade? Beslis. Lees hierdie boek en koop dit vir jou jong kinders.
Net een beswaar: sou ‘n mens in moderne tye ‘n jeugkarakter Buks noem? Ons het al ‘n
Jasper en Trompie gehad. Maar is die naam Buks “cool”? Ek dink nie so nie. Nietemin ‘n
wonderlike avontuur saam met die Grilbrigade.
Ek lees graag
Alice Miller se studies oor kinderpsigoanalise, soos The drama of being a child
en hierom geniet ek kinder- en jeugboeke. Die terugkeer na jeugboeke, beweer
kenners, het dalk iets te make met die tyd toe jy nog gelukkig was. Daardie
oomblik voor jy jou onskuld verloor het en Carina Diedericks-Hugo het in ‘n
radio-onderhoud opgemerk dat die jeugboekskrywer sy/haar beste werk lewer juis
deur terug te keer na daardie oomblik. Die soort (jeug)boek waarvan jy hou,
verraai dan ook iets van jou. Ek is gaande oor Saartjie Baumann en die
Maasdorp-reeks. A, dr Serfontein doen dit ook vir my. Dis hoekom ek nooit die volmaakte
man kon vind nie.
Dit is vandag
wonderlike tye vir die kind. Daar is soveel insigryke kinder- en jeugboeke. Ek
gaan beslis nie Grilbrigade weggee nie!
[Hierdie
resensie is vantevore op Fine Music Radio
gebruik.]