Johann de Lange. Die
algebra van nood. Human & Rousseau, 2009.
Resensent: Joan
Hambidge
Hertzoprys vir poësie (2011)
So ongeveer twee jaar gelede het ek begin om ‘n studie te
skryf oor die werk van Johann de Lange wat sopas bekroon is met die Hertzoprys
vir poësie. Wat ‘n verruklike opdrag het dit nie geword nie. Ek het die prosa
herontdek en die “vreemder as fiksie”-aspek van sy kortverhale noukeurig begin
bestudeer. Ons het ‘n lang vriendskap, een van wedersydse respek vir mekaar en
kritiese gesprekke oor die digkuns.
Akwarelle van die dors. Dit is nie alleen die titel van
Johann de Lange se debuutbundel nie, maar dit is hoe ‘n mens hierdie ryk
geskakeerde digkuns kan tipeer. Dit is ‘n digkuns van die paradoks, van
ónvervulling en juis hierom is daar ‘n intense belewing van die oomblik én die
skoonheid in verval. ‘n Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers
kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ‘n herhalingsdrang
deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid
Jonker, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik)
getipeer as net ‘n gay-digter. Hy het van die sterkste verse oor hierdie tema
in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet),
maar De Lange het ‘n Januskant. Hy is sowel cruiser as besinger van die
skoonheid. Hierom die gesprekke met en herdigtings van o.a. Dickinson,
Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader tuis, Opperman, T.T. Cloete, Ina
Rousseau, Wilma Stockenström. Hy het veral in die bekroonde bundel, Die algebra van nood, die gesprek met
N.P. van Wyk Louw en Sheila Cussons tot ‘n hoogtepunt gevoer. Hierdie palinodes
praat weer terug met die gedigte in Wordende
naak.
Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood,
kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike én digterlike
ouers, die “naakte algebra” van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en Vigs,
verse oor ikone (soos Marilyn Monroe, Kurt Cobain) en verse wat oor die aard
van die digkuns handel.
Die wêreld-van-die-digkuns word ‘n metafoor om die werklike
lewe te beskryf; iets wat regdeur die oeuvre loop. Die intratekstuele én
intertekstuele aanslag kom nou helder na vore wanneer ‘n mens na die hele
oeuvre kyk. Groot digters keer immers terug na dieselfde temas en onderwerpe.
Tereg noem die digter ‘n keuse uit sy werk Judasoog, want die “judasoog” betrek nie
alleen die eksplisiete seksuele verse soos “Loergat” (uit Nagsweet) nie, maar aktiveer die posisie van die leser as voyeur
wat die private bestaan van die digter betree. Trouens, jonger navolgers van De
Lange het beslis nie die vermoë om die eksplisiete en selfs transgressiewe
beeldgebruik só oortuigend te gebruik nie. Die digter kan nooit van kitsch of
grillerigheid beskuldig word nie, al dig hy oor reeksmoordenaars wat tot
simbole verhef word. ‘n Kritiese reaksie op Die
algebra van nood dat dit te veel sou staatmaak op “bruikleen”, mis egter
die dwingende gesprek met ander digters, dit wat Harold Bloom so raak as ‘n
“axnxiety of influence” beskryf het.
Selfs die gebruik van die plat woord (soos in “Tongnaai 2”)
word metafories so in beheer gehou dat ‘n mens net jou hoed kan afhaal vir die
digterlike energie.
Wordende naak en Nagsweet, uit 1990 en 1991 onderskeidelik, bly my twee
gunstelingbundels. Dit staan in die middel van die oeuvre – en al die ander
bundels keer weer terug na hierdie twee suiwer bundels. Die Orpheus-mite is ‘n
belangrike sleutel vir die begryp van hierdie digkuns met sy vele
“correspondances” en “blomme van boosheid”.
Van die Tierra del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland,
van die Kaap tot Wladiwostok, vibreer hierdie gedigte met hul fyn toespelings
op die Griekse mitologie en ou wyshede. “Daar is geen einde aan die skep van
tekste nie,” lui ‘n motto uit Prediker 12:12 wat die digter al gebruik het.
Johann de Lange is eweneens ‘n begenadigde vertaler (soos sy
vertalings van Stockenström bewys het) en ‘n besóndere kortverhaalskrywer. Maar
dit is in sy digkuns waar ons onder die indruk kom van ‘n suiwerheid:
Die sagste wat ons het, die taal,
bestaan solank ons asemhaal.
En in die jongste bundel staan
hierdie vers:
Pa
Op ’n foto wat ek van jou het
luier jy swart & wit op Kerkplein.
Jy dra ʼn wit hemp & oortrektrui,
die wyepyp-broek se naat
is pynlik netjies ingestryk,
die skoene gepoleer.
Agter jou tuur die vier brons
krygers hand op die roer
uit groenspaan van die tyd.
Jy lyk seunsagtig, rusteloos,
sigaret in jou linkerhand,
& glimlag half sku.
Langs jou, op die vaal sement,
val jou skadu ambivalent.
Hierdie digkuns is al bekroon met die Ingrid Jonker- en
Rapport-pryse en die Pankrator-prys vir ‘n vertaling is Johann de Lange
internasionaal bekroon. Die algebra van
nood is ‘n waardige bekroning, nie alleen omdat ‘n gay-digter lanklaas
bekroon is nie, maar ook omdat ons in hierdie digkuns ‘n besondere vakman aan
die woord vind.
[Hierdie resensie het vantevore in
Die Burger verskyn.]