Kerneels
Breytenbach. Piekniek by Hangklip. Human
& Rousseau, 2010. ISBN 978 0 7981 5603 5.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Speurverhaal
sonder ‘n speurder? Die speurverhaal sedert Edgar Allen Poe se The purloined
letter (waaroor Lacan en Derrida uitgebreid gepolemiseer het) het altyd ‘n
speurder, al is dit dan net die leser wat uiteindelik die rol van die speurder
vertolk. (Hier is wel dieetspeurders aanwesig wat mense uitvang wat kroek met
‘n dieet.) Kerneels Breytenbach se vorige roman Glimlag (1993) was eweneens
aweregs. Soos die kortverhale Morsdood van die honger (1992) word die leser
dikwels onkant betrap deur die lewe se ontoevallige-toevallighede.
Piekniek by
hangklip aktiveer ook Peter Weir se rolprent Picnic at hanging rock (1975) met
sy onseker einde. Wie is die skuldige? Die oop slot van die film het vele
kritici lank laat kopkrap. By Breytenbach word die skuldige van die
openingstoneel aan ons bekend gestel. En ons getuies wat toekyk hoe die verhaal
ontvou.
Joshua Gumbo (van
die Lucky Thirteen-sindikaat) skiet Sonja Griessel se ouers per ongeluk dood
tydens ‘n mislukte kaping. Sy soen haar kaper op die mond en dit ontstig hom so
dat Josua haar dan agtervolg. Hy het deur hierdie aksie sy mojo verloor. Sy
vertrek Kaap toe om te traumatiese gebeure te verwerk en vestig haar op
Pringlebaai.
Hierdie roman is
soos die Maigret-reeks van Georges Simenon. Die fokus nie net op die uitkoms of
oplossing nie, maar op die psigologiese spanninge tussen mense. Breytenbach is
‘n fyn stilis en ‘n meester van ironie. Met tonele wat Bakhtin as karnavalesk
sou beskryf.
Boonop skep hy
‘n ouktoriale verteller wat van die leser ‘n medepligtige maak met uitsprake
soos “boonop weet hy nie wat ons weet nie” en met hofies wat ‘n hoofstuk
voorafgaan. Jy word ook as liewe leser aangespreek. Dit is dus ‘n vertelling
wat deurentyd kommentaar lewer op die leesproses en die gebeurlikhede soos dit
ontvou. En daardie “ons” is dan eintlik die speurder-as-leser.
Henry Fielding
(1707 – 1754) se Joseph Andrews en Tom Jones is duidelike intertekste wat die
opsomming van die verhaalgebeure verduidelik. Fielding was magistraat; Sonja is
‘n prokureur. Daar is ook toespelings op Pamela / Shamela-parodieë, te wete die
antwoord op Richardson se ernstige roman.
Die roman speel
in op Etienne Leroux se Een vir Azazel met daardie roman se eiesinnige
aanpassing van die speurverhaal. ‘n Mens dink ook aan Erica Jong se Fanny
(1991), wat met die tradisie van die Fielding-roman in gesprek tree. Die
verhaal van Fanny Hackabout-Jones is ‘n parodie van Fielding se werkswyse. Ons
vind ‘n literator (hy is ‘n trassie) wat biografieë skryf onder andere oor Abel
Coetzee en Jan Senekal. Karel Schoeman maak ‘n buiging, soos Barend J. Toerien
met sy groot neus. (Semioot: jy moet snuffel en al die tekens reg vertolk.)
Op ‘n
skerpsinnige wyse word die rol van die verteller en skrywende instansie
geanaliseer en die talle verwysings na die bestaan van God, Boeddha, karma, die
noodlot wat ‘n meditasie word oor die implikasies van skryf. Flaubert se dictum
oor die funksie en rol van die skrywer in ‘n verhaal, word op sy kop gedraai.
Die verteller meng die hele tyd in en is nooit afwesig nie.
Ons vind
eweneens vreemde name vir karakters, so bekend aan Thomas Pynchon se werkswyse
waar dit ‘n simboliese implikasie dra, soos Jaap Schvantz of Cas van Ryneveldt.
(Oedipa Maas, eat your heart out. Oedipus, my ass…)
Daar is vele
toespelings: na musiek, na kos, volksfabels en ander verhale wat die boek
kompleks maak. Dit lees vlot en onderhoudend, maar onder draai die duiwels
rond. ‘n Bitter gal in die soetste wyn, as jy wil. En die Afrikaanse digkuns
word eweneens betrek.
Kuberkrakers,
dieetspeurders, argitektuur, Nietzsche, Latynse frases, spirituele debatte, die
soeke na jou mojo, vertrouenswendelaars in religieuse praktyke (soos die United
Church of Zambia), maak van hierdie parodies-satiriese roman ‘n ervaring wat
jou laat lag (soos oor gedekonstrueerde kookkuns!), maar ook laat sidder omdat
dit felle kommentaar lewer op die geweld in ons samelewing.
Austin Powers skeer die gek met James Bond en júis in sy satiriese antwoorde wys hy op die pornografie van geweld in Bond-films. Hierdie roman wil ons, soos wat Fielding gedoen het, attent maak op die werklikheid daarbuite. Hierom herken ons werklike mense, soos wyle Kobus Pienaar aan wie die roman opgedra is.
Austin Powers skeer die gek met James Bond en júis in sy satiriese antwoorde wys hy op die pornografie van geweld in Bond-films. Hierdie roman wil ons, soos wat Fielding gedoen het, attent maak op die werklikheid daarbuite. Hierom herken ons werklike mense, soos wyle Kobus Pienaar aan wie die roman opgedra is.
Die piekniek
tree uiteindelik in gesprek met Sewe dae by die Silbersteins en veelal lewer
die roman vernuftige kommentaar op die gesprek tussen Etienne Leroux en Thomas
Pynchon. En Fielding se siening oor hoé romans die werklikheid reflekteer. (Die
verwysings na Kafka en Henry James verdien verdere speurwerk oor hul sieninge
van wat romans wil bereik. Ek hoor ook Nabokov soms in die agtergrond lag. En
Aristoteles oor oorsaak en gevolg moet ook opgevolg word!)
Dit is ‘n
boeiende teks. Uitstekend geskryf en met hierdie roman lewer hy ‘n teks wat ‘n
besóndere plek inneem in ons romankuns. Die kos- en musiekkenner, die
rubriekskrywer en uitgewer se ervarings het neerslag gevind in hierdie ryp
werk. Dit was beslis die moeite werd om hiervoor agtien jaar lank te gewag het!
Ek was so teleurgestel toe ek hierdie boek klaar gelees het…ek wou nog meer
lees.
Dit is ‘n roman
wat my vreemd genoeg teruggeneem het na Die Mugu: oor hoe toeval jou lewe kan
verander.
[Hierdie resensie
het vantevore in SlipNet verskyn.]