Rustum Kozain. This carting life. Kwela, 2008. ISBN: 0 7957 0198 5.
Resensent: Joan Hambidge
Rustum Kozain se gedigte in This Carting
Life aktiveer ‘n komplekse verwysingsveld: Van Wyk Louw, Mandelstam, Heaney,
Derek Walcott, Edward Said, e.a. Hy gebruik die digters of teoretici op ‘n
wyedoek waarteen hy sy eie lewenservarings flits. Sy lewe as ‘n Paarlse kind,
boonop bruin, skerpsinnig èn sensitief, word vir die leser onthul. Veral sy
vader is die belangrikste fokuspunt in hierdie eg, ontroerende bundel waarin
die lewe gesien word as ‘n pelgrimstog en sowel herinneringe as ervaringe
verpak word in bokse soos onthul word in die sentrale gedig “This carting
life”.
‘n Sentrale vers waarin Kozain se tegnieke
ten toon gestel word, is “February moon: Cape Town”, ‘n sterk kreatiewe
besinning oor die liefde en verlies waarin die digter besef:
“how my modernism limits love”.
In hierdie stelling word ‘n kode vir die
leser gegee, net soos in die klein bibliografie, dat tekste inspeel op ander
tekste en dat die liefde gesien en alleen begryp kan word deur ander
tekste. In “Walking home with
Mandelstam” is daar dan die wete dat hy as’t ware deur die “tweede sneeu” loop
met hierdie digter wat ook op ongeregtighede gewys het. Die hele bundel sit dan
vol toespelings op bekende digters en Van Wyk Louw word as ‘n motto gebruik!
Familieportrette is eweneens iets waarin
hierdie digter uitmunt. Die vreeslose besegging van ‘n eenvoudige jeug waar ‘n
vader saans in ‘n orkes nie vir ekstra geld nie, maar om te kan dans en die
eenvoudige lewe te ontglip, is ‘n kragtoer. “Talking jazz” vertel hoe hulle
speel in wit hotelle, dans en uiteindelik is dit die kind wat kyk na die gate
wat die “double bass” in die linoleum laat.
Die digter het ‘n voorliefde vir die langer
gedig soos “Brother, who will bury me?”. Die gedig lewer relevante
kultuurhistoriese kommentaar, maar dit word op die duur te lank en uitgesponne.
Die beelding van familiebyeenkomste word in
reliëf geplaas met ‘n ander dwingende familieskap, naamlik die digkuns. Die
gesprekke met Derek Walcott en die subtiele toespelings op Robert Lowell en
John Berryman, maak van hierdie bundel ‘n besonderse leeservaring. (Die glossarium is vir die non-Afrikaanse
leser van nut, soos by Gabeba Baderoon wat soos hierdie digter in Engels dig,
maar Afrikaanse verwysings aktiveer.)
Louw se Nuwe verse is ‘n sleutelteks: ‘n
bundel waarin die jeug in oënskou geneem word en die skerpsinnige jong kind
geskep word deur die ouer digter. Kozain neem hierdie tematiek nog verder: hy
laai sy gedigte met politieke motiewe soos ‘n vernederende ervaring waar hy en
sy familie as “kelurlingmense” weggewys word by ‘n piekniekoord, omdat die plek
sou vol wees vir “hulle”. Hierdie aandoenlike vers, “Kingdom of rain”, verdien
om in elke bloemlesing opgeneem te word, omdat die hele kleinlike geskiedenis
van apartheid hierin saamgevat word. Die digter skryf sober, beheersd en juis
hierom het sy gedigte so ‘n geweldige impak op die leser. Die aanslag is nie
raserig nie. Die aanklag of verwyt word deur poëtiese tegnieke in beheer gehou.
Miskien is die ander belangrike aspek van
hierdie bundel dat dit nie bloedloos is nie, maar inspeel op ‘n Afrikaanse
tradisie van dig. Kozain versoen as’t ware twee tradisies in hierdie bundel:
die lot van die eens verdrukte (soos by Adam Small en Philander) en die sterk
intertekstuele tradisie bekend aan veral moderne Afrikaanse poësie.
Dit is ‘n bundel wat hierdie leser met
oneindige plesier gelees het. My eksemplaar sit vol donkie-ore. Dit praat met
ander digters en daar ‘n sterk bewustheid van die self binne ‘n postkoloniale
wêreld waar waarhede nie meer bestaan nie. Die digter verset hom teen ander se
oorheersing. Deurgaans bly ‘n mens bewus van ‘n weerlose èn weerbare ‘ek’ wat
die politiek, die liefde, eensaamheid` èn familie beskou.
Dit is bundel met ‘n handvol verse wat
werklik imponeer. Soos “Rain in May, Cape Town” en “Conversations with my
father”. En natuurlik: die reeds
genoemde “February moon: Cape Town” waarin die digter onbeskaamd sy liefde vir
die digkuns bely soos in ‘n gesprek met Seamus Heaney. Die reeds genoemde
“Kingdom of rain” en “Diaz Beach, Mossel Bay” tel eweneens as uitstaande verse.
“On my table, poems
are coasters: whisky rings
blur and blot the pain.”
(“February moon: Cape Town”)
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]