Ante Miljak. Eyes
of the owl. Sterling House Publishers, 1998. ISBN 1 156315 078 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Eyes of the owl dra die sub-titel “a journey in the spirit of Africa”
en is geskryf deur Ante Miljak, 'n Kroaat wat moes wegvlug van die
Kommunistiese onderdrukking. Ons verneem in 'n woord vooraf dat die skrywer
beoog (het) om met hierdie roman die mens natuurbewus te maak.
'n Beseerde vader en sy seun probeer oorleef in die
Okavango swamps. In hul stryd om oorlewing, is die vader diep onder die indruk
van die natuur se skoonheid en dat diere slegs wreed is omdat dit in hulle aard
is. Die mens, daarenteen, se wreedheid is berekend en gebore uit magsug.
Boonop het sy vrou hom ook ontval en veral sy seun
worstel met die verlies van sy moeder.
Ons het dan nie te make met 'n suiwer ekologiese roman
nie. Die vertelling sit vol didaktiese aanwysings soos wanneer die vader,
Rurik, sy seun, Kito, beleer oor die wreedhede van die lewe.
Dit is dan ook 'n soort spirituele teks waarin die
karakters eintlik draers word van 'n bepaalde lewenswaarheid, soos die bekende
vertelling van die arm vader,'n skoorsteenveër, wat sy kind van die dak laat
afgly. As hy hom sou probeer keer, sou albei sterf en dan is die arm familie
sonder inkomste algeheel.
Die jong kind is natuurlik uiters ongelukkig oor dié
wreedheid - die vader wat die storie
vertel en die vader wat die wreedheid laat gebeur - maar hierdeur word die gang
van die lewe geïllustreer.
Ek meen veral Jiddisje-vertellinge sit dikwels vol van
hierdie soort didaktiek; ek dink hier aan Saul Bellow en Isaac Bashevis Singer,
maar natuurlik is die verhaal groot genoeg om hierdie soort bepeinsing te dra.
Vir my gevoel staan dit dikwels 'n bietjie te veel voorop sodat dit die
verhaalgang belemmer.
Dieselfde geld die filosoferings oor die Kommunisme en
die gevare wat dit inhou vir mense. Die preke kan 'n mens werklik uit enige
dagblad haal en omdat dit ook so oer-bekend is, irriteer dit (hier)die
leser.
En veel van 'n storie is daar ook nie nou juis nie. En
die beskrywing waar die vader met 'n groot luislang stoei is wel goed gedoen,
maar die hele roman word ondermyn deur die naïewe prekerige styl. En die prosa
is eenvoudig net nie goed genoeg sodat 'n mens die boek hiervoor kan geniet
nie.
Eyes of the owl illustreer daardie onuitgesproke reël oor goeie prosa:
as 'n mens te openlik wil filosofeer of uitvaar teen die ongeregtighede van die
lewe, dan werk dit nie as prosa nie. 'n Goeie verhaal moet boei in die eerste
instansie om die storie.