John Conyngham. The
lostness of Alice. Ad Donker, 1998. ISBN 0 86852 216 3.
Resensent: Joan
Hambidge
The lostness of Alice deur John Conyngham is 'n asemsnakkende leeservaring.
Selde nog het hierdie kritikus so 'n bedrewe roman gelees oor die geweld in hierdie
land. Teen die agtergrond van die geweldgeteisterde Natal, raak 'n jong meisie
weg.
Sy verdwyn met al die impliksies wat dit tot gevolg het:
is Alice vermoor? is dit 'n seksmoord? 'n politieke daad? Die pers - en meer in
die besonder - Sally, 'n joernalis, raak geobsedeer met hierdie saak. Van buite
af kyk haar vriend, Chris(topher) Jameson toe. Hy is 'n boer en eweneens getref
deur die misterie rondom Alice se verdwyning.
Nou as u hierdie roman wil lees, beveel ek u aan om my
op my woord te neem en dit dadelik te gaan koop. Moenie verder lees nie, want
enigiets wat ek verder skryf, sal die impak van hierdie boek se trefkrag
verminder.
Die verteller-as-waarnemer word in hierdie roman
ingespan. Chris lees Sally se dagboek sodat hy sake kan rekonstrueer en so
stadig maar seker besef die leser dat Chris net van buite af as 'n koel, macho
boer lyk. Binne-in hom woed dit van emosies: sy ouers is vermoor; hy had
ervarings in Angola wat hom waarskynlik nie ongeskonde gelaat het nie.
Inmiddels raak sake tussen Sally en Chris vertroebel
wanneer hy dink (weens inligting uit die dagboek) dat sy ontrou is aan hom en
'n affaire het met die speurder. En dan ruk dit hom so, dat hy op vlug slaan
sonder om iemand daarvan te vertel. Hy vertrek na Londen; later spandeer hy tyd
in Spanje en in Marokko.
Op hierdie reis besef die leser: jy is as't ware besig
om die roman (eerder 'n lang brief aan Sally) te lees. In al sy omswerwinge
praat hy met 'n Professor Mason in Gibraltar oor hoe die tyd van 'n persoon se
dood bepaal kan word. Uit die aftakeling en die siklusse van insekte word dit
afgelei.
Hier dan word die roman iets van 'n speurverhaal want hy
stuur 'n brief - gekonstrueer uit koerantletters - na Sally se koerant. Wat dit
natuurlik dan publiseer as sou hy die moordenaar wees en dat Interpol hom binne
vier-en-twintig uur sal vastrek.
Die leser weet dis 'n blufspel: Chris is nie in Londen
nie, maar in Gibraltar en hy reeds die Noord-Afrika polisie ontglip vir 'n
aanranding.
Dis 'n verbluffende roman wat op soveel vlakke simultaan
afspeel. Die kodes van die speuverhaal (skuld, paranoia, ondersoek en
misverstand) à la Georges Simenon word hierin geaktiveer. Een “leuen” of
misverstand kan 'n mens skuldig laat lyk. Ook betrek die skrywer die moderne
kodes van 'n Patricia Cornwall-verhaal met die wetenskaplike aanslag van
outopsies, en ander wetenswaardighede wat moorde help oplos.
Nou weet ek, liewe leser, u het in elk geval bly lees,
ten spyte van my “waarskuwing”. Maar dit sal nog steeds nie die roman bederf
nie. Die roman werk met die spanning van die film Picnic at hanging rock van Peter Weir. Ook word besoeke aan sieners
ingespan om die moord te help ontrafel.
Die leser is uiteindelik die een op wie se oordeel
aanspraak gemaak word. Hy/sy “sien” binne-in Chris se kop en glo hierdie
karakter. OOk word die roman in drie afdelings verdeel: The farm; Wanderings en
The rock - dus vertel vanuit die agterna-perspektief, maar soms aangebied asof
dit nou afspeel.
Die roman word versier met 'n mooi buiteblad en Barry
Ronge spreek die regte oordeel uit wanneer hy die skrywer, John Conyngham loof
vir sy ontsettende taalbeheer.
Ek is nie 'n clairvoyant nie, maar hierdie boek gaan al
die pryse inpalm.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]