Paul Christelis. Rabbit
season. Mail & Guardian Books, 2001. ISBN 09584340 5 0.
Resensent: Joan
Hambidge
Rabbit Season van Paul Christelis het waarskynlik die
mooiste buiteblad van enige roman die afgelope paar jare. Op die voorblad staan
Bugs Bunny as 'n teiken met skote in en op die agterblad is daar 'n windpomp
wat die eg-Suid-Afrikaanse sfeer wil weergee. Die roman word tereg as 'n
kultusroman bemark en dit is 'n inderdaad presies die geval ten spyte van
hierdie leser se aanvanklike skepsis.
Dit is 'n hibriede roman wat die invloed van populêre
kultuur op ons lewens ondersoek. In hierdie geval dan “Bugs Bunny” en ander
bekende strokiesprente vorm die sub-teks vir 'n verhaal oor waansin, die vrees
vir die dood en die invloed wat die familie op 'n mens se psige het.
In strokiesprente kan die onmoontlike gebeur en daar is
sekere kodes wat hierin aangetref word: karakters se ogies wat op dieselfde
manier omrol en dat enige vorm van geweld altyd oorwin kan word. Dit is helaas
anders gesteld in die werklikheid: die menslike psige kan net soveel pyn
verduur en die verwysing na die moeder wat 'n kenner van Sylvia Plath is, word
eweneens 'n ironiese kommentaar op die gebeurde.
Dit is 'n roman wat ook kommentaar lewer op presies
waarheen moderne universiteite op pad is met kursusse soos “media studies”.
Hierdeur word erkenning gegee aan die invloed van presies dit wat Umberto Eco
raaksien in The role of the reader.
Die outeur speel vernuftig tussen die voorskrifte van die
sogenaamde “oop” en “geslote” teks. As Donald Duck al 'n geleerde Marxistiese
analise kon verduur, is Bugs Bunny eweneens belangrik vir die romankuns.
Soos Bitterkomix ondersoek hierdie roman ook die troebel
verhouding tussen kind en ouers. By eersgenoemde is dit dikwels 'n groteske,
skrynende analise van magsvergrype, terwyl dit in laasgenoemde op 'n subtieler
manier weergegee word. Die rede vir die emosionele onrus is die suggestie van
molestering. Dit word egter so subtiel aangebied soos in Saul Bellow se Herzog
dat die leser bladsye later daarna moet terugkeer(p. 215).
Wat kan alles gebeur in 'n strokiesprent wat in die
realiteit pynlik en onmoontlik is? Daar is altyd 'n vinnige regstelling van pyn
of geweld. Die oog is soos 'n blinding en daar is maar net sterretjies of voëltjies
om die oë (p. 168)!
Daar is verwysings na Hunter S. Thompson en Thomas Pynchon
en die Amerikaanse droom wat 'n nagmerrie geword het. Maar die roman wat
waarskynlik die sterkste inspeel op hierdie kragtoer vol slim verwysings - ja
selfs Eliot gooi hier 'n draai - is ongetwyfeld Catcher in the rye.
Dit is postmodernistiese antwoord met al sy gedigte, film-
en teksverwysings, op Salinger se karaktertjie, Holden Caulfield se ontgogeling
met die grootmenswêreld.
“Merci bucket” aldus Bugs Bunny aan Paul Christelis vir 'n
opwindende roman.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]