Michael Ondaatje. Anil's
ghost. Knopf, 2000. ISBN 037540538.
Resensent: Joan
Hambidge
Die romankuns het sedert Henry James se verskyning op
die toneel al hoe meer gerig geraak op die sogenaamde binnespraak of sogenaamde
sream of consciousness-tegniek. By die Kanadese skrywer, Michael Ondaatje –
gebore in Sri Lanka – word hierdie tegniek bykans iets poëties.
Die leser betree die landskap van digterlike taal en
verskillende vinjette word saamgebind om 'n uitsonderlike verhaal te skep.
Reeds met The English patient –
waarvoor hy tereg met die gesogte Booker-prys bekroon is – het Ondaatje hom
bewys as 'n eiesoortige storieverteller. Sy romans beweeg in konsentriese
sirkels en is assosiatief saamgesnoer eerder as liniêr. Dit het te make met die
feit dat hy – in sy eie woorde - eerder beeldend werk en 'n roman met 'n
assosiasie begin.
Anil's ghost is die digter en romanskrywer se vierde roman. Dit
speel af in Sri Lanka, voorheen Ceylon (aan die suidpunt van Indië) tydens die
burgeroorlog. 'n Jong vrou, Anil Tissera (gebore hier), maar in die VSA en in
Engeland opgelei as forensiese antropoloog, verteenwoordig 'n internasionale
menseregte groep ten einde geweld en moord te ondersoek. Dit geskied alles
vrywiilig.
Die roman maak definitief 'n kniebuiging na moderne
vroulike speurverhale, soos die van Patricia Cornwall waarin dr Kay Scarpetta
die manlike domein van die forensiese antropologie/geneeskunde betree. Ondaatje
gee ook aandag aan die identiteit van sy vroulike hoofkarakter wat haar naam
van haar broer oorgeneem het. (Wou die skrywer dalk hiermee kommentaar lewer op
moderne feminismes se obsessie met naamgewing en vroulike identiteit?)
Die roman word meer as 'n speurverhaal. Dit is ook 'n
verhulde liefdesverhaal. Sarath, haar teëspeler, was nog altyd op haar verlief,
ofskoon sy behoort het aan sy broer. Hulle ontmoeting by 'n party in Colombo is
ryk vertel, vol innuendo's. Ook wanneer hy haar finaal groet, word oortuigend
verbeeld. Ou liefde roes bepaald nooit(p. 211).
Die geweld is egter die deurlopende motief wat die leser
telkens na die asem laat snak. Dit is die onderstroom van die roman wat 'n aura
skep van 'n vreemde, onheilspellende droom vol tekens en simbole.
Bekende en alledaagse uitsprake, wyshede en liedjies
word ook hier kreatief aangewend.
Dit is 'n roman geskryf deur 'n ervare storieverteller
en 'n bedrewe digtershand. Dit was ook 'n voorreg om die skrywer te hoor
voorlees by die sesde Harvard Square
Boekefees in die VSA.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]