Doc Immelman. Baarde, briewe en barmhartigheid. Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 4853 0011 3.
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie handvol rubrieke Baarde, briewe en barmhartigheid van Doc Immelman word op die agterblad deur Erns Grundlingh beskryf as “Namibië se eie Hemingway”. Nou ja, as dit so is, kan ‘n mens my die Emily Dickinson van Suid-Afrika noem.
Hemingway was ‘n baie spesifiek gekodeerde skrywer en hierdie enigsins lawwe uitspraak verminder nie heeltemal die bydrae van die stukke nie. Die rubriek is immers altyd róndom ‘n persoonlikheid of persona gebou. Die goeie rubriekskrywer het ‘n handtekening en kan sy leser verras. Dana Snyman se kenteken is ‘n skeutjie nostalgie plus ‘n opsommende einde. Johan van Zyl wissel weer sy aanslag af: humor, erns, bitsigheid, nostalgie.
Hoe lyk ‘n Immelman-rubriek wanneer ons die twaksakkie oopmaak?
Helder, konkrete beskrywings soos onder meer in die aangrypende bydrae oor die dood van ‘n hond (“Eros”) en enige persoon wat diere liefhet, sal met hierdie stuk kan identifiseer. Dit is geskryf in ‘n onderbeklemtoonde sleutel en sonder fieterjasies met ‘n treffende slot.
In “Raaisels” word daar ‘n bietjie gespot met die menslike kondisie. Wat is die toppunt van eensaamheid? Wanneer jy in die spieël kyk en niemand sien nie.
“Met verkyker en verkyk” word ‘n stoutigheid met die leser gedeel. Iets waarmee hierdie geliefde rubriekskrywer kon wegkom, omdat hy dikwels intieme ervaringe met sy leser deel oor olifantjag en ander jagervarings.
Gebou rondom die ervarings en mymeringe van die storieverteller en jagter, gee die rubrieke ‘n kykie in die lewe van die skrywer. Die rubrieke is gestroop en essensieel. Daar is nie ‘n woord uit sy plek nie, omdat die rubriekskrywer gewoonlik nie meer as 900 woorde het nie.
Intelligent en onderhoudend laat hy hom uit oor die funksie en betekenis van dagboeke en hy moedig lesers aan om elke dag ervarings op te teken sodat hulle ervarings jare later betekenisvol sal wees.
Hierdie bundel is Immelman se tweede versameling rubrieke van die “meesterstorieverteller” en geliefde Namibiese skrywer. Dit vang ‘n bepaalde tydsgees vas en soos met enige rubriekskrywer sal daar bepaald aanhangers wees. Vir diegene met ‘n knipmes en botteloopmaker. Dis ook vir jagters en sommer net vir diegene wat hou van ‘n netjies geskrewe rubriek oor uiteenlopende onderwerpe. Pretensieloos is dit. Dit volg op die vorige versameling Ruacana tot Rosh Pinah (2011).
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]