Trienke Laurie
Trienke Laurie. Ek sien 'n rooi bul storm. Tafelberg
Uitgewers, 1999. ISBN 0 624 03782 7.
Resensent: Joan Hambidge
Vir haar debuut Skietspoel
is Trienke Laurie met die Ingrid Jonker-prys bekroon en sopas het die tweede
bundel Ek sien 'n rooi bul storm verskyn wat 'n
herdigting is van Siener van Rensburg se visioene oor die toekoms van veral die
Afrikanervolk.
Die tweede bundel, ja, die tweede is die moeilike hekkie
vir die digter. Laurie se eerste bundel het hierdie leser behaag. Die tweede
bundel is dus meer historiografies in aanbod en waarskynlik 'n té ambisieuse
opdrag vir 'n jong digter. (En 'n digter se ouderdom word bepaal volgens die
datum van publikasie en nie die werklike chronologiese ouderdom nie.)
Die digbundel begin met 'n aanhaling uit C. Louis
Leipoldt se “Die koperkapel” - sonder die titel. Die interessante voorspellings
van die ou Siener word hier as gegewe gebruik in die gedigte wat werklik nog
nie werklik vers geword het nie. In “Oorlogskos”(p. 10) verneem ons:
Ek onthou nog hoe haastig bak
die stormjaers in reusel...
Hoe lyk dit met 'n kerfie biltong
om aan te peusel?
Reusel en peusel?
In “Beeskraal”:
Neef, julle geleerdes beweer
olifant en das
is van dieselfde ras.
Het elkeen nou gelyke sê:
Kan hy, die grootoor,
noodwendig die fynste hoor?
Wie is die slimste:
das wat in die kranse skuil
of jakkals wat in die oopte staan
en teen die volmaan huil?
Nie die koei wat die hardste bulk,
gee die meeste melk nie. (p. 53)
Die voor-die-hand-liggende rymdwang wat in vele verse
aan bod kom, raak op die duur moeisaam. Ook is die gedigte metries nie afgewerk
nie. Die sillabiese patrone is eweneens uit pas en veral wanneer 'n mens die
gedigte hardop lees, kom die ondeugde duideliker na vore.
'n Vers hoef nie streng patrone na te volg nie, maar
wanneer dit oortree word, moet die digter op ander maniere kompenseer. Robert
Frost het gemeen dat die skryf van 'n vrye vers soos die speel van tennis
sonder 'n net is.
Die probeem is dat Laurie soms rympatrone navolg en soms
nie. Die gedigte maak dus 'n onbeholpe indruk. Ook word die groot gedagte
dikwels met 'n uitroepteken onderstreep - soveel so dat Laurie al die digter
van die uitroepteken genoem kan word.
Die oorwegende indruk wat hierdie bundel laat, is
werk-in-wording. Ons sien dus eerder die kladboek van 'n bundel met
moontlikhede. Enkele gedigte is af, maar die geheel laat die indruk van haas.
(Soos talle boeke oor die Anglo-Boereoorloog.) Miskien is die bundel te gou
gepubliseer.
Want dit is jammer, want die enkele mooi gedigte word
versmoor deur die oorwegend swakker meerderheid.
Die visioene van Siener van Rensburg word nooit werklik
opruiende poësie nie. As ons praat van die lyding van die kinders in die
oorlog, laat dit 'n mens hier koud. Miskien omdat daar net te veel woorde
ingespan word. Generaal De la Rey se dood ontroer eweneens nie. Ons weet
presies wat die ou Siener voorspel het: die Afrikaner moet hom verootmoedig
voor God. Ook dit, kry nooit 'n spirituele krag nie.
Daar is talle voorbeelde binne die Afrikaanse poësie van
digters wat die lewe/voorspellings van 'n bekende figuur herdig het. Plaas
hierdie bundel langs Antjie Krog se Lady
Anne en al die besware spreek vanself. Dan praat ons nie eens van N.P. van
Wyk Louw of Opperman nie.
Die engel is nog nie uit die klip verlos nie. En dit is
jammer want plek-plek word daar mooi gedig:
Die waarheid van my woorde blyk
as die warm yster daaroor stryk;
midde-in die smeltkroes en stryd
sal die mense opnuut in my gesigte glo...
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]