Zenobia Kock. Die kruppel engel. Protea Boekehuis, 2012. ISBN 978 1 86919 809 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Dit is ‘n roman oor identiteit. Tina bly op ‘n skaapplaas en
haar grootmaakpa is ‘n skaapwagter. Sy vermoed haar werklike pa is die boer op
Engelsplaas, die naburige plaas waar daar ‘n engel is. Verder gaan sy skool in
die Rising Star, maar sy wil eintlik in die Afrikaanse dorpskool wees.
Uiteindelik gee Jakop haar raad om haar werklike pa vir geld te vra. Die
skrywer het ook Die mense wat so rou is geskryf en Die kruppel engel vra skerp
vrae oor identiteit: ras, gender en taal.
Dit is ‘n eenvoudige vertelling, terughoudend aangebied,
maar dit is júis waarom dit ‘n mens so in die maag tref. Ellendes oor herkoms,
stryd oor waar jy moet skool toe gaan, onbegrip oor woorde wat buite die
ervaringswêreld lê, word hier weergegee. Dit is dan ook ‘n vertelling wat
taalaktiviste en –politici moet lees wanneer die belangrikheid van
moedertaalonderrig negeer word.
Die rol van die engel in hierdie vertelling aktiveer
ontvlugting en vir die psigoanalitiese leser is hierdie kontak met die
bó-sienlike insiggewend in die ruimte waar daar ‘n suur windjie oor alles waai.
Die outeur kry dit bykans deurgaans reg om die jong gemoed
perfek weer te gee: angste, onsekerhede, opwinding – en ook onbegrip.
Die storie gryp aan die hart. Dis ‘n menslike, direkte
vertelling – sonder foefies. Dis goed om hierdie soort vertelling te lees as ‘n
soort korrektief op bevoorregte skrywers wat van buite af inkyk. Die skrywer
identifiseer met die lotgeval van haar karakters sonder agentskap. (In ‘n
onderhoud op Litnet beken die skrywer dat sy wou weet waar dit staan dat
anderkleuriges nie na wit kerke toe mag nie. Die werklike skrywer kritiseer dus
die “wet van die vader” en gebruik ‘n jong kind as voertuig om hierdie magskap
te kritiseer.)
Ongevraagde swangerskappe, armoede, molesterings,
ras-verskille en die soeke na geborgenheid is die belangrikste temas van die
verhaal. Die eerlike aanbod maak dat ‘n mens dit nie kan neersit nie. En dit is
‘n prestasie dat ‘n mens amper voel asof die teks kon outobiografies wees!
Dalk die werk by die destydse NG Sendingkerk?
[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die
resensent.]