Francesca Marciano. Rules
of the wild. Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 05256 X.
Resensent: Joan
Hambidge
Rules of the wild deur Francesca Marciano het al die bestanddele vir 'n
goeie ontspanningsroman: 'n klomp wittes in Oos-Afrika leef as ekspatriate in
mekaar se sakke. Daar is etes, neuswysige dokters, liefdesintriges, en ja,
dwelms.
Die roman speel af in 'n moderne Nairobi met die jonge
Esmé wat tot Afrika en die buiteland behoort. Natuurlik is daar twee minnaars
om die wroeging aanskoulik op te vang: Adam, die tweede-generasie Kenyaan en
Hunter, 'n Britse joernalis. En die naam Nairobi word gestand gedoen in hierdie
roman.
Die roman word vergelyk met Out of Africa (Eat your heart out, Karen Blixen!) en White mischief en 'n mens besef dat Britse flaptekskrywers net so
waagmoedig is as ons plaaslike redakteurs.
Dit is beter vir 'n roman om dit op sy eie meriete te
maak, want gewoonlik val 'n vergelyking met 'n klassieke teks vir die jong
skrywer sleg uit. Of: dit veroorsaak 'n lesersweerstand by die ingeligte/kwasterige
resensent.
Maar Ms Marciano kan skryf, hoor. Sy het daar visuele
van die draaiboekskrywer verplaas na die romankuns en die boek skop af met 'n
kwellende stelling oor die aard van die gemeenskap waarin sy haar bevind: alles
is tweedehands; almal deel in mekaar se intiemste ervarings.
Ook vang sy die ambiance van die Afrika-wêreld goed op
en hoe moeilik dit vir die nie-Afrikaan is om hierdie kontinent ten volle te
kan begryp. Die verteller het ook 'n ironiese blik op haarself en haar omgewing
wat sy beskryf.
Haar huidige ervarings word telkens verduidelik in terme
van die verhouding wat sy met haar vader, 'n digter had. Al wat vir hom
belangrik blyk te wees, is woorde. Uiteindelik word hy siek,en die mag wat hy
oor woorde het, verloor hy.
Ook word verskillende romans ingelei met 'n motto uit 'n
klassieke roman -en veral Henry James, daardie kenner van die ekspatriaat se
psige, is 'n belangrike interteks in hierdie roman.
Ook kyk die karakters na die film Out of Africa; 'n soort ironiese kommentaar op hul lewens.
Liefdespyn en -verraad word met geweldige hartstog
uitgebeeld en veral die toneel waar Hunter ons hoofkarakter weer sien in
Rome,is gelaai met die teenstrydighede wat enige groot hartstog kenmerk. Ook
die dood van 'n ongebore kind en die verlies van 'n vriendin word goed vertel.
Daar word ook tersaaklike kommentaar oor die politiek
gemaak (Hutsus, Tutsis)en die hele Afrika-milieu wat grootwildjagters en
Amerikaners (al begryp hulle nie veel nie) so bekoor.
Dit is 'n goed geskrewe boek. Dit sal sowel die genieter
van ontvlugtingsromans se aandag hou as die ernstige leser wat meer op die
verwysings en innuendo's in hierdie roman sal let.
En my tersyde oor flapteksskrywers? Kyk net hoe verkeerd
is hierdie roman bemark met 'n soetlike voorblad en pulperige opsomming. Dit
het bepaald meer om die lyf. Al is dit nie heeltemal Henry James of Karen
Blixen nie.
Tog was die uwe aangenaam verras!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]