Sunday, June 28, 2020

Reisrubriek | Verbode stad | 2020


Sondag, 21 Junie 2020 tot Saterdag 27 Junie 2020

Damnation (Kárhozat) is Béla Tarr, die Hongaarse filmmaker se film uit 1988. Hy het dit gemaak saam met László Krasznahorkai.

Nie 'n wyse stap om hierdie troebel film op 'n donker Sondag met Solstitium te kyk nie. Karrer (Miklós B. Székely) is 'n depressiewe man wat verlief is op 'n getroude sangeres (Vali Kerekes) wat by die kroeg, die Titanic, sing. Die vrou verlaat die man want sy wil graag 'n naam maak vir haarself. Die film betrek smokkelhandel en Karrer gee van sy werk aan haar man Sebestyén (György Cserhalmi). Die man is vir 'n ruk uit die pad uit, maar dan is daar verraad. Te donker, te morbied.

Op my rak staan The last emperor van Bernardo Bertolucci het in 1987 verskyn as: L'ultimo imperatore. Dit vertel die verhaal van Puji, die laaste Chinese keiser vanaf sy troonbesetting tot politieke gevangene. Ons sien dus die ontwikkeling van China vanaf die ou geskiedenis tot die Kommunisme met Mao. Wat 'n aangrypende epiese rolprent met John Lone as Puji en Peter O'Toole as die skrywer van hierdie merkwaardige man se geskiedenis. Ons sien sy verhouding as jong kind met sy nanny en hoe hy aan haar bors drink ter troos. Gedeeltes van die film is in die Forbidden City geskiet – uiteraard met toestemming – en met ongelooflike aandag vir besonderheid word die geskiedenis weergegee. In 1924 word die jong keiser verban na Tientsin en gebeur die sogenaamde Beijing Coup. Hy word 'n dekadente playboy en kies die Japannese se kant in die oorlog. Tot sy nadeel.

Wenxiu skei van hom en die ander geliefde Wanrong word 'n opium-verslaafde. Bertolucci wys gewelddadige films oor wat in Japan gebeur het. In 1943 word hy heerser in Japan; maar ook dit loop sleg uit vir hom. Hy word 'n politieke gevangene weens hierdie verbintenis met die Japannese en word in 1959 vrygelaat: 'n verpletterde man en 'n tuinier tydens die kulturele rewolusie.

Daar is pynlike oomblikke soos wanneer hy sy kampkommandeur probeer red van vernedering tydens 'n anti-rewolusionêre parade. En wanneer hy as 'n toeris later die Forbidden City besoek, vertel hy vir 'n jong kind wie hy werklik is. Hy gee vir die jong kind – as bewys – 'n kriek wat hy persent gekry het by Sjen Boagen toe hy gekroon is as keiser.

Hy verdwyn egter voordat die kind met hom kan praat. Die kyker begryp meteens al die ironieë van so 'n slot: mense, selfs keisers, verdwyn gewoon net tydens 'n nuwe orde.

In 'n ander sleutel is Stealing Beauty (1996) met Liv Tyler as Lucy Harmon wat handel oor 'n jong meisie se ontmaagding tydens 'n vakansie in 'n Toskaanse villa. Hier word sy ook gekonfronteer met haar werklike, biologiese vader. In die hande van 'n mindere filmmaker sou die film gewoon potsierlik geraak het, maar Bertolucci ondersoek seks,verhoudings, siekte en jeug op 'n uitstekende manier. 'n Danstoneel op Nina Simone se beroemde My baby just cares for me verskaf 'n kode. Uitbundige dansers op 'n vakansieplek waar mense dikwels buite die strukture van 'n normale bestaan “oortredings” begaan. Alex Parrish, vertolk deur Jeremy Irons, is 'n skrywer sterwend aan 'n onbekende siekte. Die kyker vermoed wel dis VIGS. In die film word daar opgemerk dat jong mense VIGS vrees en daarom seksueel minder uitbundig is.

Lucy ontdek in die skryfwerk van haar moeder, 'n digter en model, die ware identiteit van haar vader.

Die ensemble-spel is opvallend. Mense wat op mekaar aangewys is in 'n vakansiehuis waar hulle eenvoudig net te veel van mekaar se privaatlewens weet.

En om op Blow up (1966) van Antonioni na al die jare weer te kyk, is eweneens 'n ryke filmervaring. Die bruisende sestigerjare met wilde partytjies. Verruklik mooi is Vanessa Redgrave en Sarah Miles in die verhaal van die modefotograaf (David Hemmings) wat in 'n foto-sessie per toeval 'n moord afneem. Daar is vreemde vinjette: die fotograaf koop 'n propeller van 'n vliegtuig in 'n antiekwinkel en ten slotte is daar tennis wat gespeel word deur akteurs wat alles in stadige bewegings soos in 'n Marcel Marceau-produksie naboots. Die verhaal is gebaseer op Julio Cortázar se Las Babas del Diablo.

Veruschka en Jane Birkin is ook hier.

Bergman wat gewoonlik negatief was oor sy films het hierdie een 'n meesterstuk genoem.  Ek gaan akkoord. Dit is 'n film waar elke oomblik betekenis dra. Was daar 'n moord? Of is dit verbeel? Kyk na die geruis van die blare aan die begin van die film.

My video-eienaar skryf Unforgotten voor. Ek kyk die twee eerste reekse in ademlose bewondering. Chris Lang en Andy Wilson se misdaadreeks met twee Londense speurders DCI Cassie Stuart en DI Sunny Khan is regte binge-TV. Nicola Walker en Sanjeev Bhaskar los moorde op waar persone verdwyn het en mense lieg om hulle basse te red. Elke persoon is op 'n manier aan die verdwene persoon verbind. En Cassie en Sunny is ménslike speurders - soos ons beleef in die tweede reeks waar die impak van kindermolestering ondersoek word. En die moordenaars (is hulle werklik moordenaars of gewoon net verweerders?) toegelaat word om met hul lewens voort te gaan. 'n Hele Saterdag, 'n yskoue wintersdag, na hierdie reeks gekyk. Diep onder die indruk van die spel, die storielyn en die hantering van omstrede kwessies soos rassespanninge en genderkwessies.

Verder is daar stapels boeke wat gelees moet word. Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis, nuwe digbundels van Jerzy Koch, Lynthia Julius en die aangrypende tweede bundel van Eunice Basson. 

Verder verpak ons nou resensies vir FineMusicRadio per Whatsapp. Die ateljee laat nie buitemense toe weens die virus nie.

Gister lees ek Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens wat by Kwela verskyn het en sopas die WA Hofmeyr gewen het. 'n Klein boek met 'n impak soos 'n donderhou. Dit herinner aan Saul Bellow se Seize the day, meen my buurman.

Van den Berg se vertelling handel oor Seb se lewe: 'n lykbesorger wat lyke balsem en organe moet terugpak in afgestorwenes se lyke. Die boek se motoriese moment is wanneer die sterwende seuntjie, Gawie, saam met sy ma 'n kis kom uitsoek. Hierna ontdek Seb sy huwelik is verby én sy werkplek gaan sluit. Dramatiese gebeure soos in die film Butley waar die hoofkarakter se lewe in een dag inmekaartuimel.

Rondom die kinderstorie oor die drie wense: die wens op die bord en die wors op die neus, word die menslike ennui beskryf. En die derde wens wat alles neutraliseer.

Die verhaal heet in die Frans Les Souhaits ridicules – oftewel drie belaglike wense – van Charles Perrault in 1697. Jupiter gee die arme houtkapper drie wense. By die huis wens hy vir wors op die tafel – sy nydige vrou is woedend oor dié wens en hierom wens hy dat 'n wors op haar neus sal land.Uiteindelik word die derde wens gebruik om die wors van haar gesig te verwyder.

(Die boek word op die buiteblad deur Marita van der Vyver aangeprys ...)

Hier is die wete dat die lewe 'n toevallige hel is. Jou fata is bepaald nie uitgedink of beheer nie. En die Rubik-blokkie word as matriks gebruik om die vertelling, 'n Sprokie vir ons eie tyd, te orden.

Daar is helaas in die lewe geen maklike oplossings.

Butley – met Alan Bates – is in 1974 vervaardig met Harold Pinter as regisseur. Hieroor het Pinter geskryf:
Simon Gray asked me to direct Butley in 1970. I found its savage, lacerating wit hard to beat and accepted the invitation. . . . The extraordinary thing about Butley, it still seems to me, is that the play gives us a character who hurls himself towards the destruction while living, in the fever of his intellectual hell, with a vitality and brilliance known to few of us. He courts death by remaining ruthlessly – even dementedly – alive. It's a remarkable creation and Alan Bates as Butley gave the performance of a lifetime.
Dit is 'n film wat my altyd sal bybly: die alkoholiese akademikus wat sy vrou en manlike minnaar op een dag verloor. Bykans alles speel af in sy kantoor en sy verhoudings met ander mense is - om dit sagkens te stel - onaangenaam. 'n Siniese, sarkastiese man met 'n enorme kennis van Eliot en Beatrix Potter.

© Joan Hambidge

Sunday, June 21, 2020

Reisrubriek | Prysloos | 2020


Woensdag, 17 Junie 2020

Dr Dlamini-Zuma het in ongeveer 500 bladsye (voorgelê in die hof) om te probeer verduidelik waarom sigarette verbied moes word. Dis glo die regering se plig om ons te beskerm. En omdat dit 'n nuwe siekte is, weet sy ook nie altyd wat waar of wat wolhaar is rondom Covid-19 nie.

En veral weerloses moet beskerm word. Mag so wees, maar sigarette, die weet alle rokers, het 'n kalmerende effek op mense.

Nogmaals: dit bly my demokratiese reg om te rook.

*

Vers & Vrou (red. Karen de Wet) verskyn binekort by Human & Rousseau. Ons word gevra om gedigte op WhatsApp op te neem vir 'n plasing op die internet. Die bekendstelling kan nie gebeur nie, maar die gedigte sal wel vir lesers / luisteraars beskikbaar wees. Dit is altyd goed om 'n digter sélf gedigte te hoor voorlees.

'n Stil avontuur om die verse op te neem. Die korter gedigte werk beter op WhatsApp as die langer verse.


Donderdag, 18 Junie 2020

N.P. van Wyk Louw is gebore in die koue Sidderland op 1 Junie 1906, en oorlede op 18 Junie 1970. Talle herdenkings asook  die Louw-gedenklesing deur Jeremy Veary aan UJ is aanlyn beskikbaar op Litnet.

Op Versindaba verskyn daar etlike gedigte vir die digter. Verskillende perspektiewe kom na vore – met 'n uitstekende gedig van Jan Swanepoel.

In Tydskrif vir Geesteswetenskappe van 2 Junie 2020 word gedigte van my opgeneem.

Ignatius bid vir sy orde
– ’n palinode

Dat pyn bestaan, wás nodig, Wyk,
om my te puur van spotspraak:
om so mý deurdink en inpraat
die vloei van invloed te ontwyk.
Wit wolwe van ’n rooflied,
laat ons in die looggat inkyk:
dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
om woorde op te vang in mý lied.
Om my te puur van grootpraat,
of in jou woorde gewoon net na te praat.
Dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
vir dieper priem én fyner kyk.
Dat pyn bestaan, dat pyn bestaan ..

Palinodes, pastiches, parodieë verskyn daar in hierdie dae oor hierdie gerekende digter wat soveel erkenning bly afdwing.

Die verskillende reaksies bewys sy belangrikheid soos die akademiese artikels sy relevansie bevestig.


Vrydag, 19 Junie 20202

Ongeveer 80 dae in grendeltyd in klim ek in my motor en ry Stellenbosch toe om koffie te drink met 'n kollega.

Iemand wat ek bykans elke drie weke gesien het, sit nou voor my. Ons gesels oor die afgelope tyd en ons ellendes. Van ingeperk wees. Ons gesels ook oor professor Nattrass en die openbare debat rondom haar gewraakte kommentaar. Hoe nou verder?

Hoe gaan nuanses nie tans verlore nie. Leon Schuster se films word nou diep geberg, omdat dit aanstoot mag gee. Showmax se intromingsdiens dink dis dalk ras-onsensitief. You must be joking! (1986) is een van die gemerktes.

Wat?

Ek onthou meer as tien jaar gelede 'n busrit tussen Kimberley en Pretoria met 'n Schuster-film op die Greyhound en jong swart weermagoffisiere wat brul van die lag.

Humor is immers oordrewe en dit werk met stereotipes wat ons almal herken.

Lag is die groot gelykmaker. 

Lag verlos ons van spanning.

En hierdie denkepolisie onderskat mense se sintuig vir ironie en humor.

Die rit na Stellenbosch Vrydagmiddag is 'n verlossing. Skielik kyk jy anders na die natuur: die lug vol helder wolke, die kalfies en babavarkies op 'n plaas tussen Kaapstad en Stellenbosch verlos my uit die grendeltyd. 

Wanneer is hierdie outjies gebore?

Daar is lewe na grendeltyd.


Saterdag, 20 Junie 2020

'n E-pos brom in 'n inboksie rondom die Johannesburg Review of Books se kritiek teenoor die Media24 Boeke Literêre Pryse en die feit dat al die wenners wit mense is.

My reaksie per e-pos aan Rapport:
'n Ingewikkelde kwessie. 
Maar in alle regverdigheid: NB uitgewers het die afgelope paar jaar geweldig baie gedoen om swart skrywers te bemagtig. Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Lynthia Julius (wat sopas met Uit die kroes gedebuteer het) word deur NB-uitgewers gepubliseer. 
Trantraal skryf selfs ‘n rubriek in Kaaps in Rapport. 
Trouens, hierdie skrywers kry ongelooflik baie geleenthede om buitelandse geleenthede en feeste by te woon. 
Antjie Krog doen baie agter die skerms om swart skrywers te bemagtig. So ook Kwela uitgewers. Annari van der Merwe het jare gelede baie gedoen om swart skrywers publikasiegeleenthede en ‘n stem te gee. 
Hoe kan ‘n mens eis dat boekpryse demografies verteenwoordigend moet wees? 
Dit stel ‘n eis asof die skryfproses beheer en voorspel kan word. 
Ras- of gendereise wanneer dit by kreatiewe prosesse kom, is politieke eise. 
Moet ons Philip Roth van ‘n kortlys afhaal omdat hy vroue uitbeeld wat vir ‘n vroulike kritikus aanstootlik is? Of nie meer Updike lees nie?  
Groot boeke is dikwels politiek inkorrek – want onthou: jy kan die stem IN die teks nie gelykstel aan die werklike skrywer nie. 
Nou ja: die wenners en beoordelaars is wit. Kan van hierdie swart kritici Afrikaans lees en reg laat geskied aan die proses?
*

Wayne C. Booth se beroemde teks The rhetoric of fiction (1961) moet weer deur hierdie kritici gelees word.

'n Teks (film of boek) gebruik retoriese strategieë om 'n storie te vertel. Hier is die sogenaamde implied author relevant: die sogenaamde tweede self van die werklike skrywer wat in die teks 'n bepaalde boodskap oordra. En daardie boodskap, mag verskil van dit wat die werklike mens dink of predik.

Hierom is die sensurering van films en boeke tans uiters problematies. Dit beteken nie die skrywer dink dis "reg" nie. Daar is ingeboude strategieë wat kommentaar lewer op mense se oordele en vooroordele.


© Joan Hambidge

Wednesday, June 17, 2020

Reisrubriek | Windroos | 2020


Sondag, 14 Junie 2020

Martin Scorcese se Who’s knocking at my door? is sy filmdebuut. Oor hierdie film is daar geweldig baie geskryf soos dat Harvey Keitel dalk die dubbel is van Scorsese (Who’s That Knocking at My Door/ How the world met Martin Scorsese. Besoek 15 Junie 2020).

Wat vir hierdie kyker relevant is in 2020 is die genderpolitiek. Die vroue word naak gewys en Keitel word nie ge-full frontal nie. Dis eers met Bad lieutenant en Jane Campion se The piano wat ons alles sien. Eers in die negentigerjare dan.

Ongelykhede dus in genderkwessies.

En die hantering van die vrou se verkragting is ontstellend. Hy dink dis haar skuld dat saam met die man in die motor was en hierom het dit met haar gebeur.

‘n Sogenaamde low budget-film, maar steeds ‘n baken in die filmkuns.

*

Die winter byt. Elsa Joubert is oorlede aan Covid-19.

Elsa Joubert vir Media24:
Die eerste werk wat ek van Elsa Joubert meegemaak het, was Die Wahlerbrug in my eerstejaar aan die US in 1975. Hierna Ons wag op die kaptein (1963), Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) en Die reise van Isobelle (1995) wat ek as hoogtepunte beskou. Ook haar reisvertellings – as solo-vroulike reisiger deur Afrika o.a. – het my beïnvloed. En Spertyd– haar laaste teks – wat verslag lewer van oudword en eensaamheid is ‘n uitsonderlike teks: iewers tussen fiksie en waarheid. Ingeperk in ‘n aftree-oord. Nou gaan ons in hierdie dae weer na die ryk, geskakeerde oeuvre kyk. Bonga (1971) verdien ‘n herlees.  
Haar bydrae het ‘n impak gehad op die politiek (ek dink hier aan Poppie Nongena), maar sy het eweneens die rol van die bevryde vrou wat buite die patriargale orde dink en skryf, verteenwoordig.
*

Wegneem-etes begin nou byt. Ek bel ‘n restaurant, laat weet ek is 6 nm daar om die kos op te tel. Reël alles met die bestuurder. 

So by my kool – hulle neem net kontant. Dus: tot by die ATM, terug vier blokke – tuis by die huis moet die kos opgewarm word. Beslis sien hulle my nie weer nie.

Restaurante sal in ‘n ander sleutel moet begin dink. Dis kos is duur, die afleweringsfooi ook.

En kommunikeer duideliker.


Maandag, 15 Junie 2020

Dial M for Murder. Hitchcock op sy stukke. ‘n Man (Ray Milland) wil sy vrou vermoor en kry ‘n kennis (Anthony Dawson) uit sy studentedae in Cambridge met vele aliasse om dit namens hom te doen. Afpersing, want hy wis dat die man geld gesteel het. Hitch is hier. Ons sien hom aan tafel sit by die reünie ongeveer 13 minute wanneer die film begin het. Die vrou (Grace Kelly) se minnaar, die Amerikaanse misdaadskrywer ene Mark Halliday (Robert Cummings) waarsku egter: in die lewe is daar nie ‘n perfekte moord nie. Iets loop altyd skeef.

Die man wat wil wraak neem op die ontroue vrou en haar geld wil bekom, word getroef deur ‘n slim speurder (Chief Inspector Hubbard vertolk deur John Williams).

Wanneer die beeldskone Gracy Kelly uitgaan met haar minnaar, dra sy rooi. Tuis is sy in wit.

En alles wentel om ‘n sleutel. En los note wat vir die afpersing weggebêre is.

*

Dis ‘n pakkende film wat ek twee aande na mekaar kyk.

Die man en vrou eet ontbyt. Dan sien jy in die koerant dat haar geliefde per skip aankom uit die VSA. Dan fokus die kamera op die deur – ‘n belangrike kode want die dief het haar sleutel, wat haar man daar geplant het – gebruik om die deur oop te maak.

Die man haal die sleutel uit die betreder se sak, neem sy sleutel. Alles op die moordtoneel.

En die speurder ruil sy jas met die man s’n om. En so kan hy dan die man fnuik wanneer hy probeer om die deur oop te maak met die verkeerde sleutel.

Uiteindelik word die vrou se lewe gered, want weens die afpersing van die betreder (wat haar man gehuur het), het die jurie haar skuldig bevind aan moord.

Aliasse, voorstellings, bedrog, afpersing, dryf die verhaal vorentoe. As die vrou nie ‘n minnaar had nie, was sy dalk onskuldig bevind?

En as dit nie vir die slim speurder was nie wat meer weet as die misdaadskrywer, was die minnares dood. En as hy nie ook geweet het van die klomp kontant in die man se hande waarmee hy die moordenaar wou betaal nie, kon hy nie die man vaspen nie.

Lacan/Derrida se polemiek oor E.A. Poe se The purloined letter is ter sake. Die verwisseling van geld/briewe is in Dial M for murder tersaaklik.


Dinsdag, 16 Junie 2020

North by Northwest is in 1959 deur Hitch gemaak. En hy is aanwesig aan die begin van die film by die bus waar die deur gesluit is en hom dus uitsluit.

Hierdie film het my in Meditasie geïnspireer om ‘n gedig te skryf:

North by Northwest

Eva Marie Saint, in ‘n dokumentêr,
(of is dit nou Eve Kendall?)
vertel alles oor Hitchcock
se North by Northwest. Ou potjierol
se film oor paranoia en vals identiteite.
Ouer as die skone Eve, lap sy geheime uit:
Cary Grant was nie haar minnaar, en nee,
by Mount Rushmore sou sy nie kon afval
(daar was stutte en stellasies), en Cary
moes in ‘n ateljee koes en swenk voor 
‘n vliegtuig se giftige sproei.
Eat your heart out, Sigmund Freud, Sigmund Freud.
Mount Rushmore was ‘n Hollywood-replika:
‘n afdruk van George Washington op ‘n eendollar-noot.
Hy was immers die eerste president, nes Alfred H.,
die koning is van vrese só irrasioneel (jy kan die stof
ruik op Thornhill se pak koesend, duikend).
‘n Trein deur ‘n tonnel? Bid jou dit aan!
Dit staan reeds in Shakespeare, 
Hierdie North by Northwest.
By Paramount bly die crop-dusting-toneel ónnabootsbaar
nes ‘n eenmalige aanraking of one-night-stand.
Eendag mag jy dalk ook voor die kameras staan
en die ongerymdhede uitlek en bely hoe ál my gedigte
(veral oor ons stiekem verhouding) blote maakwerk was.

*

Nou fokus hierdie kyker net op die pakkende rolprent oor ‘n man, Roger Thornhill, aangesien word vir ene Kaplan (Cary Grant). Hy word ontvoer en dan verander sy lewe in ‘n nagmerrie.

Hoewel die nasionale intelligensie die fout agterkom, wil hulle hom nie red nie. Hy moet self opsnork, omdat hulle Vandamm (James Mason) wil uitrook.

Eva Marie Saint is die vrou (en dubbel-agent). ‘n Film wat suspension of disbelief tot groot hoogtes voer, maar die kyker aanvaar dit. Met Mount Rushmore waar Roger vir Eve Kendall red. Soveel kinkels in die kabel wat net deur Hitchcock beheer kan word.

Met ‘n herbesoek, is dit opvallend hoe die treintoneel al gekaap is deur ander filmmakers. Hier word die man weggesteek. By James Bond in From Russia with love (1963) word die vrou in bo-kajuit weggesteek.

*

In Die Burger is daar ‘n tersaaklike polemiek oor blokraaisels en sogenaamde “Engelse woorde” wat sekere lesers irriteer.

G. (Ollie) Olwagen het gelyk in Die Burger van 6 deser dat alles wat Engels klink, nie uit Engeland kom nie. Wyle Johan Combrink, ‘n voorste taalkundige, het ons geleer dat jy alleen oor anglisismes ‘n uitspraak durf maak, indien jy Nederlands tot in die sewentiende-eeu sou ken.

In hierdie dae van inperking, stof ek weer my Franse en Italiaanse grammatika af. Wat lesers eweneens as Engels sien, kom uit Frans, en uiteraard uit Latyn.

En hy het gelyk dat hierdie sinonieme ons taal verryk.

Oor blokraaisels het hy eweneens gelyk (DB, 15 deser). Vir die een te maklik; vir die ander weer te moeilik. Wanneer ‘n mens woordeboeke lees, kom jy dikwels agter hoeveel woorde daar in jou eie taal opgeteken is, wat jy nie ken nie. En waarom nie neologismes help skep nie? Wat van hoogtartend vir iemand wat hooghartig en uittartend is?

En ‘n leser se probleem met die woord virtueel vir vergaderings, steur my nie. Omdat hierdie vergaderings nie die regte ding is nie. Soveel van die gesprek gaan verlore. Met ‘n onderhoud kan jy die mens nie werklik takseer nie. Klein sub-tekste gaan dus verlore soos die knip van ‘n oog (senuweeagtig) of ‘n hand op die been.

© Joan Hambidge

Sunday, June 14, 2020

Reisrubriek | In kamera | 2020


Donderdag, 11 Junie 2020 – Saterdag, 13 Junie 2020

Annie Hall van Woody Allen is in 1978 uitgereik.

Dit bly ‘n baken in die filmkuns wat tegnieke betref. Ons weet byvoorbeeld wat die twee karakters werklik van mekaar dink, danksy die gebruik van onderskrifte. Wanneer Annie by die terapeut is, sien ons terselfdertyd Alvy Singer se weergawe van die gebeure, die sogenaamde split scene-tegniek.

Die optrede van werklike mense wat in die film optree as hulself was die tyd ver vooruit: Marshall McLuhann, Paul Simon, Truman Capote, o.a. Daar is verwysings na Jack Nicholson en Anjelica Huston. McLuhann speel hier homself, ofskoon Allen Fellini wou gebruik, wat helaas nie wou optree nie. Terwyl hulle wag om ‘n film te kyk, maak ‘n pedant wat TV, Media & Culture aan Columbia doseer, opmerkings en McLuhann help hom reg oor sy foutiewe aannames oor die media. (“Was die lewe maar so!”, is Alvy se versugting.)

Die gesprek met die kamera is uiteraard ‘n tegniek wat Fellini reeds gebruik het. (Allen maak dan ook later films waarin hy sowel Fellini as Bergman vereer.) Alvy as ‘n volwassene besoek sy skool in Brooklyn en wonder wat het van sy skoolmaats geword. En skielik verneem ons dan waar hulle nou in die lewe is.

Daar is baie letterkundige verwysings. Wanneer hy by Annie aandoen is Sylvia Plath op die boekrak was sy as “neat” beskryf. Wanneer hy in die bed is, haal hy Balzac aan: “There goes another novel.” Die hoofkarakter bely hy is uit NYU gegooi omdat hy in die metafisika-eksamen in die siel van die student langs hom gekyk het.

VPL staan vir die visible panty line. Wat toe nog kon, pre-#metoo.

“Do you speak shellfish?”, vra hy vir Diane Keaton wanneer hulle kreef gaar maak.

Die grappe word afgewissel met verwysings na WOII in swart-en-wit-films. Met cartoons wat die storie verder vertel.

En Freud se boek oor humor is hier met vele verwysings na psigoanalise oor die familie-lewe. Seks met ‘n vrou word as Kafkaesk beskryf en as jy selfmoord pleeg, sal jy volgens psigoanalise steeds vir die sessies moet betaal wat jy misgeloop het.

Annie, wat ook sing in ‘n nagklub, vertel vir haar psigoanalis sy droom Frank Sinatra versmoor haar met ‘n kussing.

Diane Keaton is tereg met ‘n Golden Globe bekroon vir haar vertolking van Annie Hall en die film is vier keer bekroon.

Alvy Singer en Annie Hall. Sy rook ‘'n joint en die verhouding werk goed totdat hy haar sien met haar professor. Dinge werk nie meer nie en hy skryf dan ‘n drama oor hul lewe saam. Uiteindelik kom hul weer bymekaar uit.

Die film lewer ook kommentaar op Joodse identiteit teenoor die WASP’s wat Keaton verteenwoordig. Gender- en identiteitspolitiek word onder die soeklig geplaas. Alles gedoen met die voice over met die kommentaar van die hoofkarakter.

Ten spyte van die akkolades het Peter Cowie en John Simon negatief gereageer. Eersgenoemde het die kulturele verwyngs as oorbodig ervaar (missing the point completely) en in die New York Magazine het Simon die volgende pryslose woorde geuiter: “Unfunny comedy, poor moviemaking, and embarrassing self-revelation ...”

Volgens hom is Keaton se vertolking in swak smaak.

Al wat hier as swak smaak beskou kan word, is die onvermoë om die film se (post)modernistiese grensverskuiwings in te sien.

*

Net voor grendeltyd wys Knives out (Rian Johnson) by die Labia-teater wat ek misgeloop het. Gelukkig het my VD-winkel dit te hure. ‘n Besonder verfrissende speurfilm met kopknikke na Murder she wrote en Agatha Christie. Een van die karakters kyk na die bekende TV-series.

Die kyker dink sy weet wat die waarheid is, want jy sien elkeen se waarneming van die moord (selfmoord?) van die patriarg. En elkeen het ‘n motief. Die patriarg is ‘n misdaadskrywer, ene Harlan Thrombey (Christopher Plummer), wat na sy verjaarsdagparty op 85 dood aangetref word.

Die gehuurde speurder Daniel Craig (as Benoit Blanc) lei jou aan die neus rond tot teen die einde wanneer die hele sak patats uitkom. Sy gesig is donker/lig. Die kamera fokus dikwels net op die donkerte. Sy aksent is swaar om te verstaan. Hy praat opsetlik binnesmonds. En al die sterre wat hul harte uitspeel, moet vermeld word: Toni Colette, Christopher Plummer, Frank Oz, Don Johnson van Miami Vice-faam.

En Thomas Pynchon se Gravity’s Rainbow verskaf ‘n kode: the path of projection determines by natural law ...
The word “gravity” appears 28 times in the novel, while “rainbow” appears 16 times. The most widely agreed-upon interpretation is that the title “Gravity’s Rainbow” refers to the shape of the V-2 rocket’s trajectory, a rainbow-shaped parabola caused by gravity (Gravity's Rainbow Title - Thomas Pynchon Wiki | Gravity's Rainbow. Besoek 14 Junie 2020).
En die jong versorger wat opgooi wanneer iemand lieg, laat alles heerlik ontplof ten slotte wanneer sy die moordenaar uitvang met ‘n leuen.

Afpersing, familie-intriges, ‘n testament wat verander word en die dood van die vader gee aanleiding tot emosies in hoogste rat.

Uiteraard suspension of disbelief wat met ‘n tweede kyk sal verbrokkel, maar ontspannend wel.

*

The Silence. Bergman in 1963.

Hierdie film was sy tyd ver vooruit. ‘n Vrou wat masturbeer voor die kamera en ‘n ander een wat seks het met ‘n optelman. Die suster vertel vir die sieke van twee mense wat sy sien seks het. Later sien haar kind haar met ‘n kelner in die hotel. En haar suster klop ook aan die deur en konfronteer haar suster voor die optelman.

Hier is ‘n kind as die afloerder; hy skrop sy ma se rug in die bed en dwaal in die hotel rond waar daar Spaanse dwerge in ‘n kamer is wat hom intrek in hul spel. (Hulle is hier vir ‘n show.)

Bach speel in die agtergrond met stilte tussen die twee susters. Die een ‘n vertaler; die ander een met ‘n kind. Die suster met die kind wil die siek vertaler-suster verlaat en vertrek dan met die kind. Die vertaler bely haar ellende aan die portier in die hotel – wat niks verstaan nie. Sy skryf ‘n brief vir Johan – met vreemde woorde ...

En die deurlopende motief: “There is no need to discuss loneliness. It is a waste of time.”

Die film begin en eindig in ‘n trein. Alles speel af in Timoka, ‘n Oos-Europese stad waar oorlog gaan uitbreek. Twee susters (Ester en Anna en die kind, Johan) bevind hul in ‘n eens grandiose hotel. Die kind is bewus van die oorlog. Hy kyk by die treinvenster uit aan die begin en sien pantsermotors deur strate ry.

Die sieke drink. Sontag se Illness as metaphor?

Stilte as ‘n taal, seks as ‘n taal.

Spieëls, skote met lig en donker, lang stiltes – Bergman se handtekening is alreeds hier wat hy later in Cries and whispersverder ontgin. ‘n Sweedse Lost in translation.

*

Celebrity. Woody Allen. Wanneer Woody Allen self ‘n karakter vertolk, is sy opmerkings oor die lewe grappig. Wanneer Kenneth Branagh dit doen, val dit plat.

‘n Brit in New York? Ons weet wat Sting sing ...

‘n Swart-en-wit-film wat die impak van ‘n egskeiding ondersoek tussen ‘n skrywer ene Lee Simon en sy onderwyseres-vrou, Robin wat later ‘n beroemde TV-persoonlikheid word.

Kenneth Branagh is ‘n ploertige romanskrywer wat reisverhale skryf en dan artikels skryf oor beroemdes. Inmiddels ontmoet Robin (Judy Davis) ene Tony Gardella (vertolk deur Joe Mantegna) wat haar na nuwe plekke neem. Uitstekende vinjette is hier: Donald Trump as homself! Charlize Theron is ‘n bitsige model en Leonardo DiCaprio skitter in ‘n morsige hotelkamertoneel met dwelms en aanranding. Winona Ryder is puik as ‘n aktrise wat nie beheer wil word deur ‘n besitlike man nie.

En bulderend snaaks is die toneel waar die verskopte minnares in weerwraak Lee se roman bladsy vir bladsy in die water gooi, terwyl sy op die ferry vertrek.

Boonop was dit sy enigste kopie.

‘n Film wat net nie oortuig as film nie. Te glad, te veel name, te veel onontginde momente ...

Die Allen-obsessie met kreatiewe mislukking of kreatiwiteit wat die werklikheid beheer, is hier. Stekies is daar (Sunny von Bülow is ‘n celeb al is sy in ‘n koma) en grappe soos For whom the toilet flushes. Die film begin met die woorde HELP wat ‘n spuitvliegtuig oor Manhattan uitspoeg.

Maar ‘n swak Woody Allen-film gee altyd stof tot nadenke. Wat dink hy nou van Trump?

*

Nou is dit Sondag. Doodstil. Ysig koud. Padblokkades verhoed dat mense Ceres toe mag ry om die sneeu te ervaar. Nog ‘n belaglike inperkingsregulasie. Die DA se poging om haarkappers weer oop te kry, het vereers misluk. Die hofdatum is uitgestel, want die opposisie het nie betyds hul dokumente ingehandig nie.

Opsetlik?

Drankverkope sal nie opgehef word nie, lees ons in die pers. En niemand glo meer die regering nie. Rond en bont. Dubbelpratery. Die linkerhand weet nie wat die regterhand knoei nie.

En wie moet ons bedank?

Beslis nie vir Boland Bank nie. Hierdie ekonomiese gemors word by die dag skrikwekkender.


© Joan Hambidge

Saturday, June 13, 2020

Reisrubriek | O, my papa | 2020


Maandag, 8 Junie 2020

Grendeltyd is nog nie verby nie. ‘n Lys van restaurante wat gesluit het in Kaapstad en omstreke, land op my selfoon. ‘n Skokkende lang lys.

Boonop is daar fopnuus (blyk dit): daar gaan weer ‘n inperking op drankverkope wees. Ek bel my superette en tel wyn op. Die bestuurder belowe hy sal ‘n J&B vir my kry die volgende dag, omdat die drankwinkeltjie langsaan ‘n lang tou mense (met maskers) moet bedien voor 5nm. Dit lyk soos by Loftus Versfeld soos almal toustaan vir ‘n drinkding.

Die refrein: Ons gaan nie meer droëbek sit nie. En hoe weet ons dit is fopnuus in ‘n land waar regulasies verander word sonder waarskuwing?

Verder bruis die internet pro-en contra-argumente oor Nicoli Nattrass se omstrede “commentary” in ‘n wetenskapsjoernaal. UCT word gekritiseer vir hul sanksie; sy word aangevat oor haar metodologiese mankemente in dié stuk. Dit word soos ‘n sokkerwedstryd met die skare wat opgesweep meedoen. ‘n Hewige reaksie inderdaad wat na alle kante geel kaarte uitdeel.

Rassisme versus onsensitiewe navorsing. Ons versus julle. My kommentaar hou ek terug totdat die stof gaan lê.

En een van die bekendste tabakwinkel in Kaapstad sluit: Sturk’s. Breytenbach het hier sy twak gekoop soos vele ander bekendes. Ons ken die beroemde foto van Breyten met sy pyp en ‘n slapende Yolande teen sy skouer in ‘n trein.

In hierdie dae rook ek heerlik aan pyptabak gerol in papier. Waarskynlik is sigarette vir my iets van die verlede.

Daar word vertel dat Etienne Leroux verskillende pakkies sigarette gekoop het en dan dit in ‘n nuwe pakkie gemeng het. In ’n kroeg was hy dan altyd verras deur watter een hy kry om te rook!

*

In die grendeltyd my versameling Fellini’s weer bekyk – behalwe vir La strada wat ek gisteraand ontdek het in ‘n ronde skyfversameling.

Die inperking met al sy frustrasies het ons almal die tyd gegun om weer bekende en beminde boeke en films te besoek. Soos ‘n ou vriend wat jy na jare toevallig raakloop en in ‘n restaurant gesels oor toeka se dae. 

Vreugdevol is die ontdekking van Ingmar Bergman se Autumn Sonate met Ingrid Bergman (die moeder) en Liv Ullman die dogter.

Herbstsonate is gemaak in Noorweë in 1978. Bergman het in daardie tyd probleme gehad met die taksman en moes Swede verlaat. Hierom is die film geskiet buite Oslo. Dit was dan ook Ingrid Bergman se swanesang as aktrise.

Die filmkritici was verminderend oor die film. Een het dit kamermusiek genoem.

Dit is egter ‘n uiters gevoelige film oor ‘n oordonderende, suksesvolle pianiste se besoek aan haar dogter. Wanneer die dogter vir haar klavierspeel, sien jy in die moeder se oë haar afkeur oor die lomp vertolking.

Die moeder word letterlik gekonfronteer met haar verlede; ‘n dogter wat in haar skadu leef, ‘n skoonseun (predikant) wat alles met “begrip” gadeslaan, ‘n gestremde dogter wat weggestoot is en die dogter (Ullmann) se verwyte oor haar moeder se hantering van hul vader. Sukses en hoe jy moet keuses maak tussen jou beroep en familielewe, word so briljant geanaliseer in hierdie uiters subtiele film. Die spanning tussen Eva en Charlotte 3 wat mekaar na sewe jaar weer sien – is ‘n applous werd. Ons word eweneens gekonfronteer met Eva se verwerking van die dood van haar vierjarige kind en haar liefde vir haar gestremde suster, Helena, wat sy kan verstaan.

Die film is vol simbole: die moeder gee aan die dogter ‘n horlosie persent wat sy van ‘n bewonderaar gekry het. En die film lewer voortdurend kommentaar op die spanning tussen hede en verlede. Wanneer Eva Chopin se Prelude No. 2 in A mineur vertolk, is die kyker bewus van haar beperkinge. Wanneer die moeder dit vertolk – met haar slank, gevoelige vingers – hoor ons dit is beter. Maar dis wreed in haar hantering van haar dogter.

Die moeder se nagmerrie en vrees dat die dogter haar versmoor, is in die werklikheid simbolies waar. Sy was nooit werklik ‘n moeder vir haar kinders nie. En Helena wat haar roep as “Mama, kom!” is hartverskeurend.

Sal hierdie moeder en dogter ooit weer kan versoen? Sal die moeder die dogter se brief van boetedoening reg vertolk?

*

Liv Ullmann was ‘n minnares van Bergman tussen 1965 en 1970. Sy word beskou as sy muse en hier is sy in ‘n film as ‘n eks-geliefde wat die ingeligte filmkyker nog ‘n verdere dimensie na vore bring.

Haar vertolking van Nora in Ibsen se A doll’s house is ‘n hoogtepunt. Ook bekend as regisseur, filmmaker, juris by filmfeeste en uitstaande in Persona (1966) en Scenes from a marriage (1973). Cate Blanchett het haar as regisseur beleef in A streetcar named desire (2009) in Sydney. Wat ‘n voorreg.

In Persona is sy op haar beste. Die stilgemaakte vrou in die inrigting. Speel toneel met oë en gesigsuitdrukkings. Ons weet hoe gaande Žižek oor hierdie film was weens die suggestie wat alles dra. Ons hoor net van die seksuele avonture; as dit gewys was, sou ons dit as pornografies ervaar het.


Dinsdag, 9 Junie 2020

My buurman is gaande oor La dolce vita wat ek vir hom geleen het. Hy sien dadelik die die verskillende temas wat losweg saamgesnoer word en die verhaal vorentoe dryf: die religie, naglewe, partytjies, vroue ...

*

Autumn Sonate bekyk ek weer. Die konfrontasie tussen moeder en dogter is pynlik. Vol verwyte. Liv Ullmann as die dogter takel die moeder omdat sy haar verwerp het oor haar voorkoms en haar hare as kind afgesny het. En wanneer sy na die moeder gegaan het – wat besig was met ‘n repetisie – het die moeder haar weggejaag.

Sy het gevoel dat die moeder haar bloot as ‘n pop sien waarmee sy kon speel wanneer sy tyd gehad het. ‘n Uitsonderlike toneel oorabandonment of verlating wanneer die moeder haar en die vader agterlaat vir haar klavierloopbaan.

In die konfrontasietoneel is die dogter se jaloesie opvallend. En sy takel die moeder oor haar oomblikke waar sy onsuksesvol was as pianiste.

Die analise van verwerping en vermindering word uitstekend gedoen. Die dogter verwyt die moeder oor hoe sy haar aangetrek het. Sy het haar hare gesny en drade in haar mond gesit sodat sy grotesk gelyk het. Sy was vir die moeder ‘n mislukking, boonop aaklig en sonder talent.

“We negotiated the loneliness,” slinger sy die moeder toe. Die haat het in haar lewe oorgeslaan na angs.

“Is my pain your secret triumph?”, wonder sy.

Die spel tussen Ingrid Bergman en Liv Ullmann is puik. Die kamera fokus op hul gesigte met die moeder s’n vertrek van ontsteltenis. Haar oë bloedrooi gehuil.

En dan kom die voorhamerhou: die moeder het haar gedwing om ‘n aborsie te hê met Stefan, die jeugliefde en Helena se siekte het vererger, omdat die moeder nie aandag gegee het toe sy moes nie.

“Having a sense of reality is a talent,” hoor ons.

In hierdie verwyttog onthou Eva die verskillende horlosies wat altyd getik het in die huis. En dit word verbind met die horlosie wat haar moeder vir haar as geskenk gegee.

Alles gaan hier om tyd. Dat onthou en herinneringe tydloos is.

*

Die verhaal word geraam deur die man wat alles vertel. Hy is die waarnemer. Sy vrou weet nie wie sy is nie. Hy begryp haar psige en verwonding oor haar moeder en die dood van ‘n kind en dat sy ‘n moeder word vir haar gestremde kind.

Hy plaas die brief wat Eva aan haar moeder skryf in ‘n koevert. Gaan sy dit lees? Gaan sy dit begryp?

Die kyker weet dat dit niks sal verander nie. Op die trein weg van die huis waar die konfrontasie plaasgevind het, verontskuldig sy haarself. Oor die lot van haar gestremde dogter en wens dat sy eerder moes sterf.

Dan – tipies Bergman – het ons skielik deernis met haar. Sy bely dat sy altyd huis toe verlang en wanneer sy daar is, wil sy elders wees.

*

Ingrid Bergman se “bullet proof”– angles is bekend. Sy kon vanuit enige hoek verfilm word. In hierdie film word haar natuurlike skoonheid opsetlik afgebreek. Sy rook, haar oë is bloedrooi en die kamera fokus op haar groot neus. 

Vir die regisseur, Ingmar Bergman, is haar spel belangriker as haar persona, boonop ‘n komplekse een. In 1949 raak sy swanger met ‘n kind by Roberto Rossellini, die filmmaker en skei van haar man. 

Veral in die VSA is sy gekritiseer oor hierdie buite-egtelike verhouding. Sy trou met Rosselini, het drie kinders by hom, maar helaas hou die huwelik nie. Isabella, haar dogter, word later ‘n befaamde aktrise o.a. in David Lynch-films. Sy was getroud met Martin Scorsese. Sy was ook die gesig van Lancôme in haar jeug.

Ingrid Bergman verower drie Oscars. En word veral onthou vir haar spel in Casablanca (Ingrid Bergman, winner of 3 Oscars, is dead -- The New York TimesBesoek 10 Junie 2020).


Woensdag, 10 Junie 2020

Die koue slaan toe. Vannag – 8 in Sutherland. Sidderland. Van Wyk Louw se ruimte.

Die reën slaan teen my balkonvenster om drie vm waar ek kyk na die onderhoud met Roman Polanski oor sy lewe. Dit heet Roman Polanksi: A film memoir (2011: Laurent Bouzerau). Sy lewe, sy films, die moord op Sharon Tate, die verkragting van ‘n minderjarige, die regter se uitspraak wat hom laat wegvlug het – ‘n verstommende film waarin hy met sy vriend, Andrew Braunsberg oor alles praat. Twee gesprekke: die huisarres in Switserland, September 2009. En dan oor sy lewe na die vrylating.

Hy het verskoninge gevra vir sy optrede (en geld betaal), maar telkens word dit weer opgediep en die vrou vertel sý bly die slagoffer. Samantha Geimer het Polanksi vergewe, maar die ander rolspelers hou hierdie saak lewend(ig).

‘n Mens sien sy jeug wat hy jare later opvang in The pianist. Soos die grusame dood van kinders by ‘n skool het werklik gebeur. Soos die honger en eet van gherkins.

Die impak van die oorlog en alleen vir die effek van die oorlog en die verwoesting van Warskou maak hierdie dokumentêr die moeite werd. En die pers se snedige hantering van hom met die moord op Sharon Tate. Geen simpatie (Roman Polanski on The Murder of His Wife Sharon Tate | The Dick Cavett Show - YouTubeBesoek 11 Junie 2020).

*

Knife in the water (1962), Repulsion (1965), Rosemary’s baby (1968), Macbeth (1971), Chinatown (1974), The tenant (1977), Tess (1979), Bittermoon (1992), The pianist (2002) is my allergunstelinge. Sterk films wat die menslike kondisie analiseer.

Bloedskande, moord, verraad, die bose (soos in Rosemary’s baby met die voormalige vrou van Woody Allen, Mia Farrow) en die wonderskone Tess met Nastassja Kinski, het die filmkuns verryk.

Sy jeug was een van ‘n voortvlugtige. Sy ma is dood in die konsentrasiekamp en sy pa trou weer. Hy word groot op die platteland waar daar weinig skool is en sy hele laerskoolloopbaan het hy weens die oorlog verloor. Hy leer homself lees met die Rolandslied. En sy pa, as ‘n volwasse man huil wanneer hy na die liedjie “O mein Papa” luister, want dit was die lied wat die Duitsers gespeel het aan die einde van die oorlog.
Oh, my pa-pa, to me he was so wonderful
Oh, my pa-pa, to me he was so good
No one could be, so gentle and so lovable
Oh, my pa-pa, he always understood.

Gone are the days when he could take me on his knee
And with a smile he'd change my tears to laughter

Oh, my pa-pa, so funny, so adorable
Always the clown so funny in his way
Oh, my pa-pa, to me he was so wonderful
Deep in my heart I miss him so today

(Eddie Fisher - Oh My Papa (O Mein Papa ), 1954)
Miskien was alles sy fata, meen Polanski. 

Laat ons die mens skei van die films. Die mens agter die boek (film) met rus laat, soos Van Wyk Louw al gevra het.

Boonop het die meeste negatiewe mense nog nooit eens ‘n Polanski-film gesien nie.

*

At grand central station I sat down and wept


Vanoggend val ‘n reiskoepon Hanoi
VN 0090731 op die vloer en ‘n treinrit
tussen Saigon en hierdie stad stop
by geen stasie vir ander passasiers
of reisigers in Viëtnam ‘n ruimte
van oorlog en bunkers en vegvliegtuie. 
Só ‘n besoek herinner vanoggend
aan jou stiltes vlymender as ‘n messteek
of spore doodgevee sodat geen spoorsnyer
by my treinstasie jou sal vind o liefde 
van my opgemaakte opgedroomde armoris.


© Joan Hambidge