Thursday, March 21, 2013

H.P. van Coller (Red.) - Perspektief & Profiel: Band II (1999)



H.P. van Coller (Red.). Perspektief & Profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis: Band II. J.L. van Schaik, 1999. ISBN 0 627 02346 0

Resensent: Joan Hambidge

Deel II van Perspektief & profiel word as 'n millenniumgeskenk vir Afrikaans geadverteer. Meer in die kol kan geen advertensie wees nie, want dit sal 'n mens bykans 'n millennium neem om al die verwysings, kruisverwysings en verswygings in èn om hierdie literatuurgeskiedenis te kan kontroleer.

Oor Band I het die uwe haar al uitgelaat in Boekewêreld en Band II is 'n voortsetting van die arbeid om die veelkantige Perspektief & profiel, wat sedert 1951 al met ons is, aan te vul. Veelkantig is bepaald die operatiewe woord en hoewel daar in die literatuur sprake is van 'n huis met vele wonings, gee hierdie twee dele die indruk van 'n aangelapte, aangeboude huis. Met elke stukkie bouwerk is die ou huis vergroot, verbreek en aangebou.

Uiteindelik is daar verskillende modes te bespeur in hierdie huis-sonder-plan. Natuurlik kan geen redakteur(of bouer dan) hiervoor ter take geneem word nie, want die postmodernistiese onthaalarea lê neffens die modernistiese garage; die dekonstruktiewe kombuis naby die stiplees-binnehof.

Ons verneem dat bouers (ek bedoel navorsers) oor 'n breë spektrum deelgeneem het. Dat daar sprake is van “bewese akademiese kwaliteit”. Nie al die bydraes behaag hierdie leser eweveel nie.

Helize van Vuuren se “Perspektief op moderne Afrikaanse poësie (1960 - 1997) is 'n literêr-eensydige oorsig om dit sagkens te stel. Haar uitsprake oor Cloete is onregverdig omdat sy nie die tegniese invloed van die digter op die jonger digters verreken en dus nie die werklike normdeurbrekende invloed erken nie. As sy nie van sy poësie hou nie, het ek daar vrede mee. Maar sy moet sy invloed beslis erken.  

Sy sien hom as 'n opvolger van Totius, terwyl sy kennelik die subversiewe elemente in sy poësie mislees. En waarom mag daar nie psigologies-teenstrydige elemente in 'n digter se werk wees nie?

'n Bars deur die wasbak dus.

Ook 'n paar ander barste is in die muur te bespeur in die kritikus wat iets van 'n bouinspekteur begin speel.

Stephan Bouwer word net so terloops, terloops bygehaal in die rubriek oor gay-poësie (!). Kon iemand nie hierdie stuk gekorrigeer het nie? Studente gaan immers hierdie kompendiums bestudeer, naskryf en aanhaal!

Daar word geweldig baie gepubliseer in Afrikaans oor skrywers en tendense. Kyk maar na Perspektief & profiel en literêre tydskrifte waarin 'n stroom van artikels gepubliseer word. Hierom is dit ook nodig dat die buite-kanonieke praktyke beskryf word. Hein Willemse is hier aan die woord en die ingeligte leser sal weer eens nie vrede hê nie en die waterpas moet uithaal.

Die buite-kanonieke is lankal deel van die hoofstroom in Afrikaans. Hierdie skrywers word gepubliseer deur hoofstroom uitgewershuise en geresenseer met al hul spesiale voorskrifte in die resensent/kritikus se onbewuste. By wyse van spreke: die buitegeboue is nou al deel van die hoofgebou! Het iemand iets gefluister van wie sal nou die hek teen die postmodernisme sluit?

Hein Willemse het gelyk: die kanon kan nie beskou word as 'n waardevrye seleksie van “beste werke” in 'n bepaalde literatuur nie(p. 9). Die Afrikaanse kanon laat al bykans twintig jaar mindere werke ook toe en dit moet hy beslis toegee. (In 'n lesing by RAU indertyd het Willemse die woord kanon uitgespreek asof dit 'n skietding is.)

Maar Heinrich Ohloff beantwoord waarskynlik die meeste vrae in sy bydrae wat eweneens 'n perspektief op die poësie gee (1900 - 1960) wanneer hy vra: Waarom verander literatuur? Oftewel: waarom het die huis al groter geword en die bouplan slordiger en ontoereikender?

Hier vind 'n mens 'n rustige, oorwoë denke oor die literatuur. Ohlhoff het nie byltjies te slyp of swaardjies te trek nie. Hy skryf oor die woord en wederwoord-dinamiek van die Afrikaanse letterkunde. Hy haal ook ouer kritici aan wat dikwels die toets van die tyd deurstaan het. Soos Cloete, Grové en Opperman, byvoorbeeld wat hierdie leser weer teruggeneem het na ou essays oor die poësie. As 'n literatuurgeskiedenis dit presteer om 'n mens na die huis se verborge kelder te neem, is dit geslaagd - al wil-wil die nuwe dak soms afwaai of die gekleurde geute van die sisteemteorie en resepsie-estetika 'n mens iets irriteer.

Hierdie twee bande gee waarskynlik 'n weerspieëling van van hoé die Afrikaanse literatuur gedurende die afgelope eeu verander, verbeter en byderwetser geraak het. En moontlik ook paradoksaal leër. Daar is baie boeke en baie bydraes en 'n woning met vele kamers. Die ywerige dosent sal dikwels die jong student moet beskerm teen (waarde)oordele en hiper-geleerdheid. Teen 'n ontwerpersyskas in 'n stokou kombuis.

Daar is kontekstualiserende en dieptestudies. En beslis 'n oorsig duisend - ten spyte van die hiate (waar is die of daai?) of verskille.  Die belangrikste bydrae van die twee bande is dat geen uitspraak meer kan aanspraak maak op ewigheidswaarde nie. Alles stroom deur grens en teorie aaneen. Maar hopelik bewys hierdie studies tén minste een belangrike punt en dit is dat die Afrikaanse letterkunde in een eeu uiters gesofistikeerd geraak het: letterlik van 'n beskeie kombuisletterkunde'tjie tot 'n gerekende internasionale Letterkunde wat selfs 'n internet roman oplewer aan die einde van hierdie eeu!

Van Oom Lokomotief tot Koekie Ziervogel (waar is sy, terloops?); van Zeus tot die Zen-Boeddhisme; van huisvrou tot feminis, ensoverder.

Die boeke kos 'n skamele R120,00 elk. Dankie aan HP van Coller en natuurlik Francis Galloway vir hul toesighoudende en redigerende aandeel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]