Johan van Wyk. Gesig van die liefde: Ingrid
Jonker. Privaat uitgegee, 1999. ISBN: 0 947445 44 5.
Resensent: Joan Hambidge
I.
Toe Ted Hughes se The
birthday letters verlede jaar verskyn het, is die Engelse letterkunde weer
opnuut bewus gemaak van die pynlike verhouding tussen hom en Sylvia Plath.
Johan van Wyk het in sy studie oor Ingrid Jonker ons vir die eerste keer in die
Afrikaanse letterkunde attent gemaak op die biografie as teks en waar teks ten
einde gelees moet word as die grafskrif of epitaaf. Die teks Ingrid Jonker,
Sylvia Plath, Anne Sexton, Marina Tsvetajeva is die geboorte- tot en met die
sterftedatum.
Ofskoon dit 'n fassinerende teksverskuiwing tor gevolg
het, veroorsaak dit egter ook probleme wanneer die geskrewe teks benader word.
Is dit goeie gedigte of is dit gewoon deur die kultusstatus van die digter tot
Grootse Poësie verhef?
Was Ted Hughes reg om die stilte te bewaar oor sy vrou
se dood tot en met die grootse laaste bundel - 'n bundel wat so diep droef is
dat 'n mens instinkmatig weet dat hy hierna moés sterf- of moes hy jare gelede
al die stilte verbreek het? Niemand kan sulke pynlik-eerlike gedigte oorleef
nie. Nie eens die aardse boer en skrynwerker-digter nie. Daar was ook net te
veel spekulasie en psigobabbel deur al die jare heen. Hieroor skryf Janet
Malcolm insiggewend in haar studie The
silent woman.
Sy meen dat elke storie/mite/teorie/geskiedenis net 'n
teks is wat 'n fasset openbaar. Maar die werklike finale Sylvia Plath sal ons
nooit ken nie. Ten spyte van Hughes se suster se stellighede en vorige
standaard-biografiese studies wat dikwels as gesaghebbend geparadeer het. 'n
Mens dink ook aan die Letters home en die vele geredigeerde dagboeke. Was dit om
die kinders te beskerm of alles ter wille van Hughes se selfbelang? Ook
publiseer die dogter, Frieda twee jaar gelede 'n digbundel. Niemand kan egter besluit oor die gehalte nie, omdat die
skadu's van die twee ouers oor haar gloei.
Tog is dit interssant dat die verikonisering van Plath
deur die jare plek gemaak het vir 'n meer krities-afsydige blik. Die feministe
mag haar steeds aanprys, maar al hoe meer studies gee 'n meer gebalanseerde
blik op die komplekse verhouding tussen Plath en Hughes. Kortom, The birthday letters het die bordjies
verhang. Vanf A. Alvarez se fassinerende inleiding in sy studie tot selfmoord The savage god waar Plath se dood die
inleiding vorm tot laasgenoemde bundel het daar 'n duidelike
perspektiefverandering, eintlik kentering plaasgevind. Plath is nie meer die
stil slagoffer nie.
II.
Plath, Jonker en Anne Sexton se poësie het my nog altyd
geboei en oor aldrie se lewens het ek oor die jare heen gedigte geskrywe. Interne verhuising bevat 'n reeks oor
Plath en Jonker lê versprei in vele bundels. Sowel as digter as teoretikus vind
ek hierdie digteresse interessante 'toetsgevalle'. Johan van Wyk se doktorale
proefskrif van 1986 Die dood, die
minnaar en die oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks had 'n
belangrike invloed op my denke.
Hierom dan is Van Wyk se studie onontbeerlik vir ons
kritiek. Sy proefskrif - my kopie in los blaaie! - het deur die jare al
voosgevat geraak en hierdie leser is in die besonder dankbaar vir die
publikasie, weliswaar self uitgegee.
Van Wyk verwys (onnodiglik) selfverminderend na die
studie, wat net R30, 00 kos, as 'n boekie, en hy publiseer net die biografiese
gedeelte, omdat dit die gewone leserspubliek interesseer. Jonker is inderdaad
gekanoniseer (Mandela het immers "Die kind" in die parlement
voorgelees) en jong lesers is gaande oor haar digkuns. ('n Mens moet egter nou
ook nie die gewone leser se kennis oorskat nie. So het iemand een aand in 'n
kroeg vir my gevra: "Wat is nou weer die naam van daardie digteres wat by
Drieankerbaai verdrink het? O ja, dit was mos Antjie Krog.")
Persoonlik vind hierdie leser dit jammer dat Van Wyk nie
die hele studie gepubliseer het nie. Daar verskyn bittermin teoretiese studies
in boekvorm en die miljoene bloedlose artikels in tydskrifte gaan dikwels
verlore. Of is net agter subsidie-erkenning aan geskryf.
III.
Johan van Wyk noem haar "digter van die
miskendes". Hy skryf: "Haar poësie is onopgesmuk. Onder haar gedigte
is van die mooiste evokasies van die liefde, van die kinderdae en van die
misterie van die dood." In 112 bladsye kry die leser 'n helder blik op
haar lewe en minder bekende feite soos die moeder se onstabiele geestestoestand
word bekend gemaak. NALN is duidelik geraadpleeg en selfs manuskripte word met
vers en kapittel betrek.
Johan van Wyk en die promotor André P. Brink se
perspektief word gegee op die figuur-Ingrid Jonker. Daar was egter ook 'n ander Jonker; nes 'n
ander Plath. Beide digters was ook bekend vir hul selfsug en bitsigheid. Nou
ja, groot digters is nie noodwendig groot, kompassievolle of selflose wesens
nie en diegene wat die digter se oeuvre aan die digter as mens gelykstel, kan
sigself nogals vasloop.
Na 'n digter se dood - veral as dit tragies was - is die
eerste reaksie verikonisering. Die digter word ikon; die gedig reliek en die
kritiek bewieroking. Alles is oorsaak en gevolg; omdat en opdat.
Johan van Wyk kyk ook deur hierdie bril na Ingrid Jonker
en nou weet die teoretikus dat dit haas onmoontlik is om digterlike kaf van
digterlike koring te skei met so 'n invalshoek.
Die studie lees vlot, ofskoon Van Wyk soms moeilik en
lomp formuleer. Estetika is nie sy eerste uitgangspunt nie, maar eerder 'n
psigoanalitiese cum biografistiese speurtog - wat die Kannemeyers en ander ou
snare die piep sal laat kry - word verkies.
Maar gun elke diertjie syn kritiese plesiertjie. Daar is
tersaaklike inligting (my studente gaan beslis die boek moet aanskaf vir die
kursus Die teks as wond).
Van Wyk betrek ook my gunstelingteoretikus oor die
poësie, Harold Bloom wanneer hy skryf oor die digter se versugting na ewigheid
en onsterflikheid. Daar word ook verwys na haar sosiale gewete.
Sy was duidelik nie 'n besielde skolier nie en haar
skooluitslae was uiters swak met 'n G vir Aardrykskunde! Sy is dikwels ook haar
netheid en opstandigheid betig. Hier kan 'n mens dink aan die feit dat Emily
Dickinson eweneens nooit die tyd tot en met oedipalisasie kon lees nie.
Die invloed van D.J. Opperman word deeglik onder die
loep geneem. Sou die gedigte dalk daar anders uitgesien het sonder die mentor
se raad? In 'n brief na die verskyning van die eerste bundel, het hy baie
besware wat 'n mens laat besef dat hy tog nie werklik as mentor fungeer het
nie. Hieroor sou 'n mens beslis meer kon skryf. Waarom nie?
Vir my persoonlik is die fassinerendste gedeelte die
verhouding met die pa en sy reaksie met die nuus van haar dood. Hier, en soos
die moeder se slopende geestesiekte, lê die sleutel vir vele van Jonker se
probleme. Ook dit word nie naastenby genoegsaam ontgin nie, veral gedagtig aan
'n seminale studie soos Eileen Simpson se Poets
in their youth wat 'n verheldering gee van die redes vir die selfmoord van
John Berryman en 'n hele tydgenootlike literatuurtydperk in die VSA vir die
leser verduidelik.
Na die lees van hierdie studie begryp 'n mens ook
Delmore Schwartz se digkuns en die redes vir sy tragiese dood. Ook word die
romantiese agonie van 'n gedig soos "In dreams become
responsibilities" glashelder en die vroeë kreatiewe stulping verduidelik.
Die redes vir Jonker se selfmoord was banaal. Onder meer
het finansiële probeme 'n rol gespeel en sy sou haar woonstel moes verlaat het
teen die einde van die maand. Moontlik kon Johann de Lange se gedig oor Jonker
hier geplaas word: want wie het
Ingrid Jonker vermoor? Dalk dan eerder wat het haar dood gemaak?
Jonker se afwysing van die kleinlike, bloedskendige
Afrikaanse bedryf laat 'n mens ril en wonder hoe sy die nou eers benoude bedryf
sou ervaar het?
IV.
Miskien het dit haas tyd geword vir 'n ander perspektief
op Jonker se poësie - 'n soberder en meer kritiese interpretasie. Nie
noodwendig grafskending nie, maar iets meer gedistansieerd. Maar dit verminder
nie Johan van Wyk se bydrae wat 'n eerste in Afrikaans was nie.
Hoewel die boek self uitgegee is, lyk dit mooi en kan
dit van bostaande adres bestel word.
Bibliografie
Alvarez, A.: The
savage god.A study of suicide.
Penguin, Londen. 1979.
Hambidge, Joan: Interne
verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.
Hughes, Ted: The
birthday letters. Penguin, Londen. 1999.
Malcolm, Janet: The
silent woman. Papermac, Londen. 1993.
Plath, Sylvia: Letters
home. Penguin, Londen. 1999. Derde uitgawe.
Simpson, Eileen: Poets
in their youth. Picador, Londen. 1992.