Gertrud Strauss. The
blood spot and other stories. Solo Collective, 1999. ISBN 978-0620238366.
Resensent: Joan
Hambidge
Gertrud Strauss se debuut kortverhaalbundel The blood spot and other stories begin
met een van daardie sielige voorwoorde: een en almal word bedank en aan
erkenning gegee. As die leser verby hierdie pienk marshmallow-aanslag beweeg,
is die openingsverhaal “The blood spot”, 'n soort rite of passage-verhaal alreeds 'n aanduiding van 'n gevoelige
persoon se blik op die wêreld.
Die verhale het oor 'n tydperk van veertig jaar ontstaan
en hierom waarskynlik die ingehoue aanslag en die vermoë om presies op die
regte oomblik die verhaal te laat eindig. Die leser, 'n voyeur saam met die
jong karakter, Karin beleef 'n intieme oomblik. Vernuftig word dit geplaas
teenoor haar ervarings van verhale in Die
Huisgenoot.
Die amper kinderlike voorblad van Dina Cormick wil 'n
mens ook reeds 'n aanduiding gee van die aanslag en die tematiek: mense se
interaksies met mekaar op sowel 'n persoonlike of religieuse as 'n politieke
vlak word hier onder die loep geneem. Ook sal dit 'n hoofsaaklik
vroueperspektief wees.
Die meeste verhale is tereg nie konvensionele
kortverhale nie (soos die agterflap aantoon), maar hier is dan juis ook die
grootste beswaar wat ingebring kan word. Die verhale gee te dikwels die indruk
van 'n blote “slice of life” en dit mis die kompaktheid en direktheid van die
kortverhaal as genre.
Te veel verhale staan waarskynlik ook nog te na aan die
skrywer wat die leser met 'n gevoel van onbehae laat: hierom waarskynlik die
uitspraak in die Voorwoord en die persoonlike belydenisse?'n Grensoorskrydende
ervaring moet steeds in taal vertel word en die storie moet as verhaal oortuig. Hierom is De Maupassant
of Tsjekof voorbeelde van onsterflike meesters: die een om die ironiese lesse wat
die lewe ons kan leer; die ander om die sosiale werklikhede wat ons ook kan
verander. Beide is egter meesters van taal en struktuur.
En selfs as 'n skrywer die sogenaamde struktuur van die
kortverhaal oortree, soos 'n Raymond Carver met sy dirty realism, is daar
steeds 'n erkenning van reëls. Miskien sou 'n gevestigde uitgewershuis die
outeur van raad kon bedien.
Maar daar is mooi oomblikke: soos die verhale “Maria's
passion” wat die intieme gedagtes oor die dood in dagboekvorm neerskryf en die
skrynende verslag van 'n swart vrou “Listening to Matrina's problems”. Ook
verdien “African tune” vermelding in die
sensitiewe waarneming van huweliksontrou en -verraad. “Her flight and return”
gryp 'n mens ook aan die hart, dis politiek werklik, maar die verhaal beweeg
verby die natuurlike slot verby.
Maar my besware in die geheel bly staan: die verhale het
'n Hettie Scholtz se oog nodig gehad.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]