Francois Pienaar. Aan
die einde van die reënboog. Die kaalvuis-outobiografie. Human &
Rousseau /Jonathan Ball, 1999. ISBN 0 7981 3969 2.
Resensent: Joan
Hambidge
Ons leef in 'n wêreld waar die sportman ikoniese status
verwerf het. Kyk maar na Muhammed Ali - float like a butterfly, sting like a bee
- of ons eie Bobby (die Tong) Skinstad. Die tong blyk dan ook nie net 'n
refleks te wees nie, maar 'n uitdagende oorlogsgebaar vir die All Blacks!
Die naam Francois Pienaar is sinoniem met die
Wêreldbeker. Met daardie glorieryke oomblik toe die Springbokke met 'n spoeghou
gewen het. Waar was jy toe die beker ons s'n was? Dis natuurlik vóór hierdie
erbarmlike impasse waarin ons nou
verval het. Toe die All Blacks ons laas vermorsel het, was my vraag: waar is
Francois Pienaar noú. Kom terug, Naas Botha, alles is vergewe!
Die uwe het in 'n sportmal huis grootgeword. En die hele
ontwikkeling van die rugbyspeler (ek en Frik du Preez, net vir die rekord, het
albei aan die Standertonse Hoërskool gematrikuleer) as blote speler, tot Held
en uiteindelik berekende professionele geldmasjien word deur Pienaar gekarteer.
Pienaar was immers self deel van die transformasieproses vanaf amateur- tot
professionele status.
Die boek word nie om dowe neute 'n kaalvuis-outobiografie genoem nie, want Pienaar laat waai. Hy's 'n
man met 'n ego (had ook een aand die voorreg om in 'n restaurant sy lyftaal te
beloer) en vol selfvertroue. Sy haarstyl is nou wat 'n bietjie soos Bart
Simpson s'n, maar die man het 'n mening.
Nie almal gaan hou van sy uitsprake nie. Louis Luyt,
Markgraaff en Naas Botha, by name gaan (en het reeds) luidkeels hul misnoeë te
kenne gegee.
Hy vertel van die boikot deur vooraanstaande spelers om
meer geld en die uitwerking wat dit gehad het op sy provinsiale span, Transvaal
en die SA Rugbyraad. Sy weglating uit die SA span was om die minste te sê,
onverstaanbaar en kleinlik. (Markgraaff krabbel egter in die pers terug met
stories van beserings, leuens en onfiksheid.)
Maar die man hét dit eenvoudig. Die Engelse klub,
Saracens het onder sy leiding as speler-cum-afrigter getransformeer tot 'n
eersteligaklub.
Die boek wil meer wees 'n outobiografie. Dit wil ook wys
op foute -ag, as Dok Craven 'n ego had, weet ek nie wat ons die troonopvolgers
se Ek-heid moet benoem nie? Dalk superego? - en
doen voorstelle aan die hand om van die probleme op te los. Juis omdat
die amateur- na professionele status nog nie heeltemal opgelos is nie.
Hierdie leser het veral die jeugherinneringe boeiend
gevind. Die absolute eerlikheid (die vermeende vinnige vuiste byvoorbeeld en
die mites rondom sy humeur) en die beskeie agtergrond. Die eerste paar bladsye
word ook gewy aan die vertrek uit hierdie land en die daarmee gepaardgaande pyn
en gevoel van verlies en miskenning. 'n Outobiografie moet immers altyd iets
van die mens sélf verraai.
En bepaald kan hierdie teks 'n mens of boei of grondig
irriteer, verveel of so 'n blik op die werklike mens kry dat jy nooit weer onbevange na die persoon kan kyk nie. In die
geval van Pienaar is 'n mens onmiddellik bewus van 'n gedrewe persoonlikheid.
Die eerlike vertellinge rondom sy studies en die opofferinge van sowel sy ouers
as die beplannings wat dit geverg het om sy studies te voltooi, is goeie
materiaal om die ikoon te begryp.
Die skreeusnaakse situasie rondom 'n mondeling met 'n
gevreesde dosent is eweneens goed vertel. Dit is in 'n gemaklike praatstyl
geskryf en dit lees lekker.
Die belangrikste waarde van hierdie outobiografie is dat
dit meer word as 'n sportmanonthulling. Die leser word gaandweg bewus van
iemand wat die mes skerp kan draai, ook op homself. Die boek word van gepaste
motto's voorsien en daar is 'n duidelike spirituele lyn aanwesig. Die outeur
probeer homself in perspektief plaas - met sy foute en beperkinge - teen die
wyedoek van die sport.
So gelees, word dit 'n belangrike verslag van die impak
wat beroemdheid op 'n gewone mens het. Sy eensaamheid na die Bokke die Beker
verwerf het (hy drink 'n bottel sjampanje in sy hotelkamer na die Groot Aand);
sy ervaring van sy eerste kind se geboorte; sy erkenning by gewone mense ensomeer
word met soveel eerlikheid bely dat die leser dikwels ook ontroer word deur die
sportman se siening op sake.
Dit is baie goed en onderhoudend geskryf. Pienaar is
kennelik 'n uiters sensitiewe en intelligente man (hiervan getuig die
goedgekose motto's en die brief aan sy kinders). Diegene wat dink die boek is
uit blote suur druiwe geskryf, lees oppervlakkig. Dis ook nie 'n pennegif nie.
Dit gaan om méér as rugby of geld. Dit is 'n ego-dokument in die suiwerste sin
van die woord. Een van die vereistes van hierdie soort teks is dat die leser
oortuig moet word van die geloofwaardigheid
en menslikheid van situasies. En dit is hier: woedetrane, blydskap, verskoning
en humor.
En boonop is Aan
die einde van die reënboog (dankie, Judy Garland) on-neersitbaar. Die pers
gaan waarskynlik al omstrede uitsprake buite konteks aanhaal. Daarom is dit
dwingend noodsaaklik om die hele boek te lees.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]