So ‘n paar jaar terug het het ek van my
beste vriend ‘n boks James Bond-rolprente ontvang ter geskenk. En vir ‘n lang
tyd hierdie films deurgewerk en die verskillende aspekte van die films
ondersoek. Die belangrikste is hoé James Bond getransformeer het van ‘n
chauvinistiese man wat ‘n vrou klap op die boud (Sean Connery) tot M (Judi
Dench) wat hom aantree oor sy seksuele gedrag (Pierce Brosnan). Sy noem hom ook
‘n seksuele dinosourus.
Die motors, die musiek, die klere –
alles is ‘n representasie van die wonderlike aanbod van 007. Dit het alles
begin met Dr No in 1962 en nou in
2015 met Spectre is dit steeds ‘n
relevante stuk sosiale kommentaar. Die wêreld se vrees vir anargie en
terrorisme is nou die tema van die film – met Daniel Craig as ‘n bykans bloedlose,
robotagtige James Bond.
Die DVD’s bevat ook onderhoude met
filmmakers en Terence Young wat die regisseur was van Dr No en From Russia with
love (1963) – met Sean Connery –
imponeer met sy sin vir presies wat sy kykers verwag: aksie, ‘n held, en natuurlik,
die spanning tussen die Ooste en die Weste, die sogenaamde koueoorlog.
Die aksie is steeds aanwesig in die
jongste film, maar die skeidslyn word opgehef. Dit is nou terreur (Spectre as
‘n bose organisasie) met James Bond se halfbroer as sy teenspeler.
Om nie te veel van die storielyn te
verraai nie (die film is twee en ‘n halfuur lank!), is daar troebel Freudiaanse
spanninge wat hier uitgespeel word; globale beheer; die poging om die 00-missie
uit te wis; die binnedringing van die vyand na die hart van die organisasie én
besoeke aan eksotiese ruimtes soos o.a. Mexiko, die Alpe, Tokio, Londen,
Tangiers, ensomeer.
Daar word selfs ‘n grappie of wat oor
Suid-Afrika gemaak!
Ten slotte ry Bond weg met ‘n ou Aston
Martin as ‘n soort huldeblyk aan Connery!
Die film (geregisseer deur Sam Mendes)
bevat etlike kopknikke na ander Bond-films en vir die ingeligte kyker is dit
wonderlik om te sien hoe hoe die begin inspeel op Live and let die (1973) en die gebruik van voedoe. Die
woestyntoneel wat in Tangiers afspeel, is duidelik ‘n parodie op Bernardo
Bertolucci se 1990 film The sheltering
sky. En die treinreis neem ons terug na From
Russia with love.
So beskou, hou die films ook tred met
die moderne kyker se postmodernistiese verwagtinge en die liefhebber van
intertekste sal Spectre uitermate geniet in al die toespelings, verdraaiings en
in-grappies.
Dit is die 24e James Bond en steeds is
daar pret en genot.
Aan die begin word ‘n gebou verwoes en
die mure stort ineen. James Bond slaan later ook ‘n muur sommer met sy vuis
oop. Alles kodes vir die speurende leser dat jy besig is om ‘n
skouspel of
produksie te aanskou. Kyk dus fyn vir die verwysings na ander films …
Wie gaan die volgende Bond wees?
En soveel mense het al gestry oor wie
die beste Bond was: Connery of die ironiese Roger Moore?
Die voormalige Shakepseare akteur,
Timothy Dalton of Pierce Brosnan?
Of die eenmalige George Lazenby (teenoor
Diana rig gestel), wat in On her
majesty’s secret service (1969) die tragiese dood van sy eggenoot ervaar
wat dalk die rede is vir Bond se voortdurende cruising van mooi vroue is en sy
onvermoë
om tot rus te kom?
In die jongste film is Moneypenny ‘n
mooi swart vrou, Q ‘n nerd en egte kuberkraker en die humor steeds daar.
‘n Licence to kill, shaken not stirred
en die goeie wat die bose oorwin, bly steeds die mantras van die gewilde films
wat genderstellings maak en die politiek van die dag aanspreek.
Uiteraard was daar ook omstredenheid
agter die skerms, soos Pierce Brosnan wat moes plek maak vir Daniel Craig; die
spanning tussen Albert R. Broccoli en Harry Saltzman (wat alles in die
ekstra-DVD’s te siene is); ‘n stotterende Ian Fleming wat sy idee van die
ideale Bond verklap; en ja, die opwindende gebruik van bekende en ernstige
akteurs soos Judi Dench, Christopher Walken, Steven Berkoff, die biseksuele
Alan Cumming as Boris Girshenko in Goldeneye
(1995), Grace Jones, ensomeer. (List of James Bond films - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 24 November 2015)
*
In my studie oor gender het ek die
volgende oor Bond geskryf:
In Jerry Palmer se Thrillers - Genesis and structure of a popular genre (1978) word die genese van dié genre
ondersoek. Palmer verwys na paranoia as 'n belangrike element van hierdie genre
in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology".
Aksie beteken alles vir hierdie soort held en as daar niks gebeur nie, is
hierdie held (soos James Bond) volledig identiteitsloos. Palmer verwys dan ook
na die belangrike passasie in From Russia,
with love:
The blueberry arms of the soft life had
Bond round the neck and they were slowly strangling him. He was a man of war
and when, for a long period, there was no war, his spirit went into decline.
In his particular line of business,
peace had reigned for nearly a year. And peace is killing him. At 7.30 on the morning of Thursday,
August 12th, Bond awoke in his comfortable flat in the plane-tree'd square off
the King's Road and was disgusted to find that he was thoroughly bored with the
prospect of the day ahead. Just as, in at least one religion, accidie is the
first of the cardinal sins, so boredom, and particularly the incredible
circumstance of waking up bored, was the only vice Bond utterly condemned
(Palmer, 1978, 85).
Dieselfde geld Sherlock Holmes in
Wisteria Lodge, argumenteer Palmer verder:
My dear Watson, you know how bored I
have been since we locked up Colonel Carruthers. My mind is like a racing
engine, tearing itself to pieces because it is not connected up with the work
for which it is built. Life is commonplace, the papers are sterile; audacity
and romance seem to have passed for ever from the criminal world.
Die James Bond-verhaal funksioneer
rondom binêre opposisies en Umberto Eco in "James Bond: une combinatoire
narrative" het die volgende opposisies uitgewerk: opposisies van karakters
soos held/skurk; held/vrou - opposisies van waardes soos geldmag/idealisme;
programmering/risiko. Bond is dan by uitstek in staat om telkens te kan
improviseer binne 'n moeilike situasie, soos Palmer aantoon(1978, 7). Bond
steek 'n sigaret aan en glip die pakkie in sy bo-sak wat uiteindelik verhoed
dat 'n koeël hom tref. Hy maak asof hy dood is en vind dan 'n mes digby sy
baggasie wat hom uit hierdie netelige situasie red. Hy dra dus altyd 'n
"bag of tricks" met hom saam wat wys op die gevare wat as't ware
voorsien of geprogrammeer is.
Ook sy vyand het hul stel planne wat
daarop ingestel is om Bond s'n te neutraliseer. Wat wel tersaaklik is, is dat
Bond telkens staatmaak op vorige missies waarop hy dan improviseer binne 'n
moeilike of dreigende situasie.
Palmer (1978, 14) meen egter dat Eco se
klassifikasie nie voldoende is nie. Hy verwys na die
amateur/professioneel/burokraat as 'n handiger sisteem.
Volgens Palmer is die amateur en
burokraat nie in staat om uit ervaring te leer nie. In die wêreld van die
burokraat is daar niks nuuts en onverwags om te ervaar nie. Alles bestaan soos
wat dit behoort te bestaan.
Ook die amateur kan eweneens nie uit
ervaring leer nie, gewoon omdat alles nuut is. Hierteenoor is die
professioneel, soos Bond met sy licence to kill, in staat tot improvisasie. In
vele Bond-romans en -films is dit juis hierdie aspek wat die leser/kyker
betrek. In die jongste Bond-films is die spesiale effekte al hoe aanskouliker.
Die oortreding van reëls of aanwysings word dikwels in Bond-tekste gevind omdat
dit die enigste manier is wat hy werklik sy vyand kan uitoorlê. Palmer (1978,
63) betrek tereg Casino royale (1953)
waar Bond van dobbeltafel na dobbeltafel beweeg ten einde meer te wete te kom
oor sy vyand.
Tog herhaal die films telkens dieselfde
struktuur wat herinner aan Vladimir Propp se Morphology of the folktale
(1913) waarin die optrede van dieselfde figure telkens teruggevind kan word:
die held of doener; die Prinses of "sought-after person"; die boef,
en dies meer.
Elkeen van hierdie karakters het volgens
Propp spesifieke funksies. Palmer wys ook daarop dat die skurk byvoorbeeld
betrokke raak by 'n situasie weens wraak, geld of 'n maglus (soos in die geval
van Dr. No)(1978, 16). Om die eksotiese lewenstyl uit te leef, moet die skurk
dus beweeg in die wêreld van die ondergrond of die onwettige bestaan. In
hierdie opsig is Fleming se skurke in wese parodieë op onderwêreldse mens of
primitiewe krag, soos dikwels in feëverhale aangetref word. Hulle leef selfs
onder die see of in luukse skepe; in tombes van staal wat dit uiters moeilik
maak vir die held om hierdie gevaarlike onderwêreld (ook 'n manifestasie van
die onbewuste) te betree.
Palmer voorsien dan ook die volgende
tabel:
Professionalism Amateurism
Bureaucracy
Reciprocity Ectopia
One-way information
flow
Experience Arrogance
Incompetence
Participation Isolation
James Bond-verhale maak ook spesifieke
gender-stellings wat die leser/kyker nie kan negeer nie. Bond met sy Aston
Manor en beretta het 'n licence to kill. Hy drink sy Martini's "shaken and
not stirred" en hy is bestand teen moegheid of enige nagevolge van sy
liefdesavonture. Hy word voorgestel as 'n super-man en vroue is eweneens nie
bestand teen sy sjarme nie.
Hulle is dan dikwels die prooi ten einde
'n missie suksesvol af te handel. Maar die vroue gebruik Bond ook weer vir húl
doeleindes wat die kritiek dat Bond misogonisties is, bevraagteken. Ook is dit
so dat hierdie teks hul gender-rolle oordryf en bykans parodieer. Dit wat
vergroot word (die term blow up uit Umberto Eco se The role of the reader, 1978) moet uiteraard weer beskou word.
Die uitstal van James Bond se machismo
is sowel die Fleming-tekste as die films maak 'n spesifieke gender-stelling. Op
die oog af lyk Bond misogonisties en sou die leser/kyker selfs kon kommentaar
lewer op die seksisme waaroor verskeie feministiese kritici al kommentaar
gelewer het. Die vroue is egter ook spioene wat Bond soveel misbruik as wat hy
hulle gebruik.
Bond se machismo word geëwenaar deur
vroulike lis of geslepenheid. Hierdie vroue vertolk net oënskynlik die rol van
die "tweede seks". In wese is hulle gelyk aan hom en manipuleer hulle
hom soveel deur middel van seks as hy vir hulle.
*
Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: 'n Ondersoek in kultuurstudies, literêre
teorie en kreatiewe skryfwerk. UK, 2000.
© Joan Hambidge