Eben Venter – Decima. Penguin, 2023. ISBN 9781415210017
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie roman uit die pen van die veelbekroonde skrywer Eben Venter se pen is gewoon meesleurend. Outofiksie, fabel, ‘n speurverhaal, jeugherinneringe, reisverslag én wetenskap word saamgesnoer om te skryf oor bewaring. Die megaherbivoor, die renoster, word in hierdie boek beskryf vanuit verskillende invalshoeke met talle stemme en fokalisasies.
Veral op ‘n taalvlak is dit ‘n boeiende roman, omdat die outeur se Afrikaans ook ‘n soort bewaringsaksie word soos die benaming van bossies: bababoudjies en lammerlat, boesmankers en vêrpis, kwaaiman en ghaap en dawidjiewortel, skryf hy op bladsy 85.
Name in die Groot-Karoo en die taal van sy moeder kan nooit uitgeban word nie, net soos die benaming van daardie bossies nie vernietig kan word nie. Want die name is verewig in hulle wortels, hulle lattakke en saaddoppe. ‘n Besonder belangrike kwessie, juis in hierdie dae waar Standaard-Afrikaans opnuut gekritiseer word en variëteite beskou word as tale met ‘n gelyke status as die standaard. Politieke kwessies, inderdaad.
Tale transformeer en is gebed in die konteks van die tyd: un gros légume of petit poisson in Frans word vandag nie meer gebruik nie, omdat die indertydse boeremilieu van Frans verander het.
Maar daardie begrippe bestaan steeds.
II
Decima gaan oor renosterstroping op die eerste storievlak. Maar dit gaan uiteindelik oor meer as dit: stroping, tradisionele medisyne, bewaarders, veldwagters, kansvatters teenoor mense met integriteit.
Selfs die renoster word aan die woord gestel. So begin die teks:
Vandag moet ek die sangoma gaan spreek. Die lug is yl met vlokke bleikgoud – vroeglente in die Oos-Kaap. ’n Polohemp met helder, dik strepe en swart jeans voel reg. Gedurende die skraal oggenduur hierdie brokke in my droom: ’n “teken hier”-vorm wat aanhoudend vervaag, ’n hand winterwit en leweloos, en die kleur blou. Niks hiervan beteken iets totdat ek by die sangoma gaan sit nie.
…
My ma wag op my by die eetkamertafel. Sy het gedek met ’n outydse, gehekelde tafeldoek en ’n Noritake-bord. Daar is twee goudbruin beskuite op die bord, en bitterige Nescafé in een van haar blommetjieskoppies – in dié deel van die storie is ek in Paradys-aftreeoord. Nou glip my ma se hand om die bekertjie warm melk en vou myne toe vir die ontbytgebed. Dan sê sy: Jy kan my kar vat. Ek bedank haar, ook vir die gebed wat ek beskou as ’n seëning omdat ek nie meer bevoeg is om vir myself te bid nie.
Ek maak als bymekaar vir die konsultasie, my Leica-kamera, gelaaide iPhone, notaboek, potlood en water, toe my ma my vasgryp met haar benerige, skone hand: My kind, sê sy, ek wil nie hê jy moet doodgaan voor my nie, dis al wat ek vra.
*
Daar is verskillende stemme of sprekers aanwesig.
Saamgesnoer deur ‘n slim gefiksonaliseerde outeur met besoeke aan museums (in België) en ‘n sangoma in die Oos-Kaap. Hongkong en ander buitelandse ruimtes. Jeugherinneringe op ‘n skaapplaas ruk aan die hart. Besoeke aan die moeder in die aftree-oord is pynlik en helder beskryf. Daar is Athule Bomvane en Frankie van der Merwe, en die lewensmaat. Ross en vele ander stemme wat help vertel in ‘n soort Faulkner-agtige aanbod. Dr Heinz Mödler, onder andere rubriekskrywer, is ook hier. Hy is veral bekend vir sy insigryke rubrieke oor historiese en mediese kwessies.
Skrywers soos Proust, Flaubert, George Orwell, J.M. Coetzee saam met Claude Lévi-Strauss begrond die verhaal verder. En uiteraard: Eugėne N. Marais se Dwaalstories.
En Lucretius se siening dat geslagte tot niet gaan. En so gaan dit altyd wees (114).
Die voorblad van Albrecht Dürer se ikoniese renoster is treffend en aktiveer ook die vele kunsgesprekke en beskouings van die diorama. Besoeke aan België en ontmoetings met kenners analiseer die impak van die Belgiese Kongo en Koning Leopold II se kolonisering van swart mense.
Die sieninge en beskrywings van Roosevelt se brutale jagekspedisies en sy verminderende uitsprake oor renosters is eweneens tersaaklik nes J.M. Coetzee se belangrike studie The lives of animals (1999).
III
Verskillende perspektiewe: Die stropers Athule, Frankie van der Merwe, die Chinese diplomaat en die Big Boss wat alles orkestreer teenoor die wildbewaarder, Ziyanda wat weet hoe hierdie stropers werk, maak van hierdie gegewe ‘n soort speurverhaal. Klinies beskryf hoe die stropers wil geldmaak anders as die simpatieke Ziyanda.
Teenoor die siening van die medisinale effek van renosterpoeier word die verteller gekonfronteer met sifilis en ‘n besoek aan ‘n Westerse dokter. Die navorsers Roslyn en Leigh-Ann wat in Hongkong moet meer te wete kom oor wat ágter die skerms alles gebeur met renosterhorings en al die mites daaromheen ontmasker.
Die taal van die dier (vertolk deur die verteller) in Afrikaans teenoor Kantonnees en Xhosa.
Die hele kwessie van navorsing en etiese kwessies word subtiel aangespreek. Wat mag die navorser in ‘n studie weergee? Wat mag uit ander dagboeke of vertellings “oorgeneem” word in ‘n roman? Hierom dan die lang lys van erkennings deesdae so opvallend in die romankuns.
Uiteindelik word die moeder en dier teenspelers van mekaar. Dit word ten slotte ‘n portret van die moeder wat sterf. Hoe sy vertrek en van haar waardigheid gestroop word, is eweneens tersaaklik: die dood maak ons niks, on-waardig. Die dood dan as die groot stroper.
Ligte wat skyn in huisies in die Oos-Kaap om die dooies te gedenk.
Die boek word opgedra aan die werklike moeder, Maureen Venter en die roman is voortdurend besig om die grense tussen fiksie en werklikheid uit te daag.
Op ‘n eerste vlak is dit die storie van Decima, getraumatiseer deur haar moeder se dood in die Groot Visrivier-park en dat diere waarskynlik meer weet as wat ons besef.
Elegie en ekologiese studie. Fiksie en faksie. Die waarheid gelieg met die verteller wat telkemale die perspektief verander amper soos in ‘n dokumentêre rolprent.
Dis ‘n asemsnakkende mooi roman. Dit betower, sleur jou mee in bykans 200 bladsye. Daar is eweneens ‘n tersaaklike bibliografie en selfs een wat versin is.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)