Ingrid Jonker - Versamelde gedigte.
Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7467 1
Resensent: Joan Hambidge
Ingrid Jonker is ‘n ikoniese digter. Soos Sylvia Plath en Anne Sexton. Nes
die Russiese digter, Marina Tsjetajeva. Hulle lewens is verbind aan hul
bloedige digterskappe wat in selfdood geëindig het. Lees jy die lewens raak in
die gedigte, sien jy die lewe as ‘n litteken. Jy kan nie die verse los van die
tragiese eindes lees nie.
Trouens, die teks is die grafskrif met sy geboorte- en sterftedatum soos die
digter Johan van Wyk in sy studie aangetoon het. Al vier hierdie digters bly
muses veral vir vrouedigters. Hulle bekoor jong lesers. Hulle is soos ‘n
Lorelei. Hulle word mites. Oor die impak van Jonker op Johann de Lange se digkuns het ek al uitgebreid geskryf
op my blog. (Woorde wat weeg. Studie/ Die digter as Lorelei: Die fenomeen Ingrid Jonker en haar tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange)
Jare terug het hierdie leser 'n kursus aangebied ("Die gedig as
wond") waarin Jonker, Sexton en Plath psigoanalities beskou is.
Die Versamelde gedigte is sopas her-uitgegee
deur Human & Rousseau met 'n leesverslag van Danie Marais wat argumenteer
dat haar gedigte as selfstandige gedigte gelees kan word. Sy het dus beduidende
gedigte geskep ten spyte van haar verliese; nie as gevolg daarvan nie. Hy sluit
af met die oordeel dat haar gedigte as gedigte bly staan:"anders sou goeie
poësie so volop soos trane gewees het". Op die agterblad staan
"Ramkietjieliedjie" (89):
Net waar ek gaan
is 'n pad voor my oop
wat skerp uit my oë
soos 'n litteken loop
Hoe dag ook verblou
of rooikam om my
ek volg net my hartseer
en die naambord is jy
Die Amerikaanse digter James Dickey het jare gelede hom sterk uitgespreek
teen die ophemeling van Sylvia Plath se verse en dit as "pateties"
beskryf. Destyds het ek dit skokkend en gemeen gevind. Lees 'n mens Jonker net
as poësie is daar uiteraard 'n handvol sterk, liriese, aangrypende,
meesleurende verse. En vele lesers ken van haar gedigte uit hul kop uit. Daar
is ook lesers in Afrikaans wat soos Dickey krities staan oor die aanprysings.
Sy is gebloemlees, vertaal deur Antjie Krog en haar voormalige minnaar, André P. Brink (Black butterflies)
en vele palinodes, pastiches en teensange is oor haar gedigte geskryf. Sy is
eweneens deur dramaturge (o.a. Saartjie Botha en Deborah Steinmair) ontleed en
biografiese studies het verskyn deur Louise Viljoen en Petrovna Metelerkamp.
Gerrit Komrij het die dokumente gekoop en Portugal toe daarmee gegaan en daar
is songs oor Ingrid Jonker o.a. deur Laurika Rauch en Chris Chameleon. 'n
Brieweboek, Vlam in die sneeu, het eweneens
die komplekse verhouding tussen haar en Brink ontsluit. Daar is films oor haar
lewe. "Die kind" is in die parlement voorgelees.
Daar is waarskynlik meer gedigte oor haar lewe en tragiese selfdood geskryf
as oor enige ánder figuur in Afrikaans.
Gestel hierdie bloemlesing sou ek kon optel sonder om iets te weet van haar
konflik met haar geliefdes en haar vader, en haar selfdood, watter gedigte sou
uitstaan?
"Bitterbessie dagbreek", "Korreltjie sand",
"Toemaar die donker man" , "Die kind wat doodgeskiet is deur
soldate by Nyanga", "Moenie slaap nie", "Ek herhaal
jou", "Windliedjie", "By die
Goodwood-tentoonstelling", "Ontvlugting", "gistraand",
"mamma" en "Waterval van mos en son", sou ek as
uitsonderlik aanteken.
En hierdie verse is dan ook deur die tyd bewese, klassieke, gekanoniseerde
verse. Op haar beste kan sy verdriet en ontgogeling raakvat met min woorde:
die liefde is niks anders
as die verlange
Hierdie bloemlesing is gebaseer op die derde en hersiene weergawe van die Versamelde werke. Daar is 'n
handtekening voor in die bundel en 'n pragtige omslagfoto waar sy gelukkig lyk
en in die veld lê. Dit praat weer met 'n voorblad waar Krog ook op 'n voorblad
in die veld staan.
Danie Marais se flapteks stip vele aspekte van die kompleksiteite aan van
hierdie b(r)oeiende digterskap.
Die lewe en digkuns by Jonker is wat my betref vinkel en koljander.
Koop dit. Amen.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)