Wednesday, May 27, 2020

Reisrubriek | ‘n Trem genaamd Begeerte | 2020


Sondag, 24 Mei 2020

Sondag bekyk ek die landskap en ry om die Corniche. My roete: Tamboerskloof – Groenpunt – Seepunt – Clifton – Kampsbaai – Tamboerskloof.

Ek dink aan ‘n reël wat deur my kop draai:

Orals waar ek my voete sit, is water; woorde uit Veelhoek (1962) die digdebuut van die digter Barnard Gilliland (1938 – 1962).

*

Benedict Andrews se produksie van Tennessee Williams se A streetcar named desire kan lewendig gestroom word. Gillian Anderson. Ben Foster. Die produksie van Elia Kazan met die Marlon Brando en Vivien Leigh is in my besit en bly ‘n kragtoer. Ek het ‘n broertjie dood aan her-produksies, maar hierdie nuwe een word gedra deur twee manjifieke akteurs: die gevaarlike Gillian Anderson teenoor die kragtige Ben Foster (A Streetcar Named Desire - National Theatre Live).

So sien die Britse pers dit:

Anderson, best known in the US for the X-Files, is a haunting Blanche, imperious and frail, vicious and injured. She knows the words that will hurt Stanley most, largely because he senses the truth of them, and her flirtation is another way to taunt him. If Foster, who has taken Blanche’s comments about Stanley’s bestiality to heart, lacks the grace and the more obvious sensuality of some interpretations of the character, he inhabits Stanley’s erotic fascination and violent temper without apology or ostentation (A Streetcar Named Desire review – Gillian Anderson haunts in vital staging | Stage | The Guardian. Besoek 24 Mei 2020).

En in New York meen hulle:
Blanche DuBois in A Streetcar Named Desire remains among the most complex female characters in theater – tragically vulnerable and self-deluded on the one hand, coolly manipulative and even wily on the other. But Benedict Andrews’s ferocious new production of Tennessee Williams’ immortal play is the first I’ve seen to make plain that this honey-voiced aggressor can give as good as she gets. So much so, that the defining tussle between Blanche and her nemesis, Stanley Kowalski, elicits conflicting sympathies as seldom before (Gillian Anderson Stars in ‘Streetcar Named Desire’ at Young Vic - The New York Times. Besoek 24 Mei 2020).
*

7nm is ons President aan die woord. Ons mag wel tuis drink, maar steeds nie rook nie. Ons gaan begin werk toe gaan, maar moet eerder van die huis werk, as dit kan.

*

Verander my Whatsapp-profiel: ‘n vliegtuigie, papiermotor uit Kuba, ‘n New Yorkse cab met Russiese poppies van presidente aldaar. 

Besluit self oor die simboliek. En waarom daar geen artefak uit Sjina staan nie.

*
Truffaut se Stolen kisses (uit 1968 / Baisers volés) is ‘n voelgoed-film. Truffaut maak selfs ‘n buiging hier: hy is een van die begrafnisgangers (‘n kopknik na Hitchcock). Hierdie film is semi-outobiografies. ‘n Jong dromer, ontslaan uit die weermag, soek na Ware Liefde. Hy vind die meisie uiteindelik, maar tussendeur is daar wonderlike oomblikke. Hy word ‘n speurder en moet ‘n skoenwinkeleienaar help om uit te vind waarom hy nie liefde kan vind nie en waarom sy personeel hom haat. Dan is die Mevrou op sy spoor en ‘n pragtige, onskuldige verleidingstoneel tussen ‘n ouer vrou en jong man.

Wonderlik hoe hy ‘n brief aan die Mevrou pos. Stempel en ons sien hoe die brief deur die poskantoor ondergronds versend word in buise. En hy leer Engels met die hulp van plate. Ons sien op die TV die studente opstande van 1968. Alles kodes wat die film in die tyd situeer.

Uiteindelik vind hy weer sy meisie. Aan die slot is daar ‘n man wat haar agtervolg en bely dat hy haar liefhet.

Charles Trent se liedjie Que reste-t-il de nos amours? draal deur die film. Le Lys dans la vallée (The Lily in the Valley) van Balzac is ‘n interteks met vele toespelings na ander films van Truffaut soos The 400 Blows.

Die verhouding tussen Antoine Doinel en die violis Christine Darbon is die primêre verhaal. Hy het vir haar vele briewe geskryf – waarskynlik te veel – toe hy in die weermag was. Sy help hom werk soek: eers in ‘n hotel waar hy in onkunde dink hy help mense om betyds ‘n vlug te haal en ontdek te laat dit is die vrou se man (met ‘n speurder) wat haar aan die kaak wil stel. Hierna werk hy in die filmwêreld; ten slotte word hy ‘n speurder. 

Ook die laaste job word verloor en ten slotte word hy ‘n TV-herstelman. Christine haal haar TV opsetlik uitmekaar, en voilà, Antoine is daar. Die uiteinde? ‘n Gesukkel om die TV te herstel, maar hulle liefde gedy weer ná die klein indiskresie met die skoenbaas se vrou. 

Die aanslag is lig. Die toespelings slim. Twee jongelinge stap by ‘n winkel uit met Laurel- en Hardy-maskers.

Is alles net ‘n grap? Die ligte aanslag van die film oor ernstige sake, maak dit sjarmant en onthoubaar.


Maandag, 25 Mei 2020

Na ‘n stormnag is die hele werf vol blare wat ek laatmiddag ophark en in ‘n swart sak gooi. Die DVD-winkel is toe. Die stad is donker. Ek tel twee pizzas op. Neem een vir ‘n vriendin wat nie haar aftree-oord mag verlaat nie weens besmetting aldaar.

Pomp my kar se bande. Maak geselsies met die pompjoggies en die Moeslemman by die hoekkafee.

Op RSG se Moneyweb verduidelik finansiële kenners dat om van die huis af te werk waarskynlik meer produktief is en boonop die maatskappy baie geld bespaar.

Helaas, helaas word daar uitgewys dat die informele geselsies om die koffieketel of waar ookal (badkamers?) dikwels probleme oplos.

En ‘n verdere komplikasie: hoe moeilik is dit om die week van die naweek te skei.

Bepaald iets waarmee die uwe spook. Die dae vloei inmekaar. Die roetine is die ergste virus.

*

Koos Kombuis is nog ‘n romanskrywer wat die tydsgees perfek opvang.

Joe Kitchen – Sushi with Hitler, speculative burlesque fantasy. Naledi, 2020.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman Sushi with Hitler van Koos Kombuis – nou Joe Kitchen – word as ‘n spekulatiewe, burleske fantasie beskryf. Joe Soap, Jan en alleman is die naam nou.

Dit is net as e-boek beskikbaar by Amazon.com en hiermee is Koos Kombuis goed op dreef om die uitdagings van ingrendeling die hoof te bied.

‘n Skrywer moet skryf, maar ten minste ook gehoor of gelees word. En talle skrywers pleit dat hul e-boeke nie nou gratis op die internet versprei moet word nie. ‘n Moeilike een om te beheer, wel. Hoe gemaak met boeke wat mense uitleen?

Hierdie leser was nog altyd ‘n bewonderaar van Koos Kombuis se romans. Somer II in 1985, en Suidpunt-Jazz in 1989 as André Letoit. Sy speelse her-skrywing van ‘n ou klassieke roman van C.M. van den Heever verplaas hy na ‘n moderne ruimte met herkenbare karakters.

Raka die Roman (2005) had my buitelend van plesier. Koos is musiekmaker, digter, rubriekskrywer, komiekstripper, verkleurmannetjie (kyk net hoeveel skuilname was al daar). Sy memoirs verskyn reeds in 2014: Seks & drugs & boeremusiek – die memoires van ‘n volksverraaier. Liza se klavier word heel dikwels oor die radio gespeel tydens ingrendeling.

Kortom, Koos Kombuis is volksbesit. Soms in sy rubrieke is hy ‘n bietjie uit sy diepte wanneer dit oor intellektuele sake gaan, maar hy vergoed ruimskoots hiervoor met humor en erkenning van mistastings. Soos in ‘n resensie oor ‘n daggaboek.

André le Roux du Toit / André Letoit / Koos Kombuis / Joe Kitchen en sy boek is in Engels – en daar was al Engelse tekste soos Paradise Redecorated (1990), Hotel Atlantis (2003), The Secret Diary of God (2003) en The Complete Secret Diaries of God.

In hierdie boek met sy parallelle universum het die skrywer gaan kers opsteek by Zen (Zen and the art of motorcycle maintenance (1974) van Robert M. Pirsig), Douglas Adams, die Beatles (Sushi in die sky with diamonds) en te veel ander op te noem.

Met die openingsin is ons binne-in Dickens: It was the worst of times, it was the most chaotic of times, it was a very bizarre time, it was the most interesting of times, it was the kind of time you wouldn’t wish on your worst enemy, it was a horrible, heart-breaking, extremely intense time, and, to make things even more unpleasant, everything stank of fish.

Hierdie roman kan in een woord opgesom word: Supercalifragilisticexpialidocious!

Hitler, Picasso en Braque? Hieronimus Bosch en Einstein? Mary Poppins?

Op die planeet Aha is daar net drie seisoene: summer, spring and bummer.

Boonop blyk die aarde maar onbenullig te wees. Daar is taboes rondom die eet van vleis ( met die voorspelbare oortreder). Soms word die leser aangespreek; en selfs die redakteur gryp in.

Aha? Soos in die Aha-Erlebnis van Freud? Die oomblik van insig?

Daar is letterlik ‘n grap per bladsy. Verwysings na ‘n hologram, optiese illusies, komiekstrip-karakters, TV-karakters (Ally McBeal), filmsterre (Angelina Jolie), sangers (David Bowie, Tom Waits, die Stones, ensomeer) word langs historiese figure geplaas (Einstein, Hitler, Hawkings). Met kunstenaars (Picasso, El Greco, e.a.) wat ’n mengelmoes-parade oplewer. Die kode is natuurlik Quentin Tarantino wat historiese gegewens slim fiksionaliseer in van sy films. Hierdie roman is ‘n multivers met voetnote.

Dit is vanselfsprekend satire. Ons verneem ook: karakters in die roman moet swart wees en dalk gaan hierdie kwota-sisteem eendag op ons skrywers afgedwing word. Die hemel help ons. Dalk mag iemand aanstoot neem oor die wyn wat verander word?

Die skrywer is bekend met die kodes van scifi-verhale én hoe hierdie romans op ‘n aweregse manier sterk kommentaar lewer op aardse vergrype.

In hierdie dae waarin almal kopkrap wat ná postmodernisme kom, het Joe Kitchen die antwoord: meta-modernisme. En tydens inperking of grendeltyd lewer dit kommentaar op skrywers se fantasie-wêreld wat nie ingeperk kán word nie.

Is die roman geskryf vir ‘n internasionale of plaaslike mark? Volgens die skrywer eerder vir ‘n buitelandse gehoor.

Dis plesierig met ‘n Wok on the wild side (haha) ...

‘n Heerlike spekulatiewe, burleske fantasie met slim verwysings. Die roman kerf "truthers" op en hierom ‘n motto dan uit George Orwell.

Lees dit want dit resoneer met geweldig baie wat ons tans beleef.


Dinsdag, 25 Mei 2020

Hitchcock se Vertigo (1958) word telkens uitgesonder as een die van die beste rolprente nog en word in dieselfde asem as Citizen Kane genoem. Voeg hierby gerus The Third Man.

Vertigo begin met die fokus op die oog van Scottie Ferguson, die speurder wat lei aan hoogtevrees. Dis egter tekeninge van sirkels en die oog is – soos in Psycho – ‘n belangrike aspek van die film. Wie kyk?

Hy is nie meer ‘n speurder nie na die dood van ‘n polisieman wat hom probeer help in jaagtog op ‘n hoë gebou.

Die fokalisasie is van belang in hierdie film. Die speurder agtervolg die vrou wat kyk na ‘n portretstudie van haar grootmoeder: Carlotta Valdes. Madeleine boots haar klere en haarstyl na, net soos Judy later ‘n nabootsing word van Madeleine.

Scottie word deur haar eks man gevra om uit te vind wat haar bewegings behels.

Dit blyk dat Madeleine onbewus is van hierdie geskiedenis, maar haar man vrees dat sy deur die gees van hierdie vrou in besit geneem is.

Scottie (die speurder wat aan hoogtevrees ly) raak betrokke by Madeleine. Maar wie is sy werklik? Dubbelspel, so bekend aan Hitchcock, dryf die plot. Boonop is sy eks-verloofde jaloers, Midge en maak ‘n portret van Carlotta Valdes tot Scottie se ontsteltenis.

Waansin en selfmoord. Die oorneem van ‘n ander se identiteit. Drome en die parapsigologie is die belangrikste temas behendig hanteer deur Hitch.

Soos Scottie hoogtes vrees, so word die trappe bestyg ten slotte. Met die einde waar dit blyk dat Gavin sy vrou vermoor het en dat dit nie selfmoord was nie. In die ondersoek na Madeleine se selfmoord tel Scottie se hoogtevrees teen hom, hoewel hy onskuldig bevind word deur die jurie. Die aanklaer verwys na die dood van die polisieman.

Alles in hierdie film het ‘n dubbel-bodem. Madeleine is dood; Judy het haar plek ingeneem. Judy, blyk dit, was deel van die set om Scottie saam met Madeleine se eksman te gebruik as ‘n sogenaamde made-to-order-witness.

Na Madeleine se tragiese dood beland Scottie in ‘n inrigting en loop later vir Judy raak. Sy volstaan sy werklik Judy en sy gee selfs vir Scottie haar ID-kaart. In pynlike tonele probeer hy haar verander na Madeleine: die haarkleur en kleredrag word sorgvuldig nageboots.

Sy is – ten spyte van die bedrogspul – werklik lief vir Scottie.

Hy ontdek dan sy hét Madeleine vertolk – sy dra die halssnoer wat die hele spel weggee. Judy was Elster se minnares en Scottie neem haar na die ruimte waar Madeleine dood is. In ‘n dramatiese toneel oorwin Scottie sy hoogtevrees en Judy bely dat sy die mal Madeleine vertolk het.

Gavin het sy vrou se liggaam van die toring afgegooi. Judy val egter na benede wanneer sy per ongeluk haar balans verloor.

Ten slotte word daar kerkklokke deur ‘n non gelui.

*

Om hierdie film so op te som, verminder die impak. Die ongelooflike groot bome (sequioa sempervirens) wat die geskiedenis van die wêreld vaslê in hulle jaarringe, is ‘n belangrike kode.

Die speurder wat onbetroubaar of geskend is deur sy siektetoestand word betrek by ‘n vreemde situasie. Niks is betroubaar nie. En San Francisco word ‘n karakter in hierdie film met bakens wat die plot laat voortsnel.

‘n Vrou (Carlotta Valdes) wat ‘n buite-egtelike kind had by haar minnaar word deur hom verwerp. Dit lei tot waansin en selfmoord. Dit was Madeleine se oumagrootjie.

En Madeleine – volgens haar man – is ingeneem daar haar gees en hierom het sy selfmoord gepleeg. Wat egter nie so is nie. Moord paradeer net as selfmoord.

Die kyker weet ‘n ongelukkige einde is onafwendbaar. Scottie oorwin wel sy hoogtevrees, maar hy verloor sy fantasie. 

*

Swart swaan

Van griffel met lei
tot kryt op papier
inkpot en potlood
later vulpen
tot Mont Blanc:
‘n geskenk van jou.

Altyd ingehak 
teen my bors om
die hartklop van 
‘n gedig op te vang
– die idee loop immer
die ervaring vooruit –
in ‘n swart notaboekie.

Jy bevind jou elders
– die adres onbekend –
maar die Mont Blanc
krabbel steeds voort:
‘n tyd van aflegging,
Van cutting down to size.


© Joan Hambidge

Sunday, May 24, 2020

Reisrubriek | Rame | 2020


Donderdag, 21 Mei 2020 | Berigte te velde

Tel jou seëninge, tel hul een vir een.

'n Miswolk hang oor Tafelberg. Versluierd. Gisteraand het die wind gewaai; vanoggend sak die miswolke oor hierdie buierige stad.

“Vee ellende af aan jou?”, word daar gevra in Lars von Trier se The five obstructions (2003).

Die soeke is na 'n Pinter-kwaliteit. Met ander woorde: met min woorde en suggestie moet daar geweldig baie oorgedra word. In hierdie eksperimentele film is daar voortdurend 'n spel met die werklikheid en 'n framing of reality.

Die niks-heid van die akteur word geplaas teen die agtergrond van 'n bruisende, kokende Moembaai.

*

Vreemde uitsprake gedy in die letterkunde. So meen 'n kritikus en keurder van boeke op die Versindaba dat Uittogboek deur sy geslag gelees gaan word soos Tristia indertyd.

Myburg se boek is goed, maar om dit te loop staan en vergelyk met die ontvangs en impak van Tristia is voortydig.

Dit bewys weer eens: vergelykings is gevaarlik, lomp, ligtartend.

'n Mens kan hoogstens die gesprek tussen Tristia en Wilma Stockenström se Monsterverse aanstip, so van monumente gepraat. Of tussen Tristia en Sheila Cussons se Die swart kombuis.

Die tyd bly maar altyd die béste toets. Om in die oomblik te voorspel, is gewoon onsinnig. Daar gaan nog vele bundels verskyn in Afrikaans wat al sedert 1980 dood verklaar is.

*

Vroegaand is dit pizzas kry by my gunstelingplek.

Die Calzone met die gesmelte kaas en die Pizza met olywe en ansjovis is so lekker. 'n Ander een met avokadopeer en fetakaas met 'n tikseltjie porca.

Ons eet amper ons vingers af aan die dis. Met vars gekapte knoffel in olyfolie en vars rissies.

'n Wiel van geluk.

Die geskiedenis van hierdie dis is fassinerend. Dit gaan so ver terug as 7 000 jaar in Sardinië. Daar is glo verwysings na die pizza in die Aeneid (Boek II en Boek VII).

Celaeno voorspel in die derde boek dat die Trojane nie tot rus sal kom nie totdat honger hulle dwing om hulle tafels te eet. Dit word waar in die sewende boek wanneer hulle ronde brode eet en besef dit is die tafels waarna verwys is.

En die aakligste pizza nóg het die uwe in Chicago geëet. So 'n baksel in 'n pan. Urgh.

Soos 'n dik tert.


Vrydag, 22 Mei 2020

Die koerant gee 'n kaart van sterfgevalle per area in Kaapstad.

7 in my vallei, Tamboerskloof.

Hoé skole sal oopgaan, dit weet ons nog nie.

My bure se twee jaar oue kind mis haar maatjies in die dagsorg. Soggens net na 7 gaan stap die mammas en die kleintjies kry mekaar te siene. Met maskers op.

Ek lees vir haar van Tjoppie se avonture met Flapsie en Flopsie, die twee worshonde. Met verskillende stemme.

Die storie se boodskap: mededeelsaamheid, want Tjoppie is 'n enkelhondjie en hy moet leer om te deel. Liz de Villiers se Tjoppie-reeks is skitterend met illustrasies deur Vian Oelofsen. Human & Rousseau is die uitgewer.

En dis wat ons almal doen in hierdie tyd. Ons is mede-deelsaam. Ons ruil 'n bottel wyn vir 'n bottel beet.

'n Pakkie rookgoed vir 'n DVD.

'n Croissant vir 'n sigaret.


Laatmiddag raas een van die bure oor die blare in die tuin. Dit irriteer wanneer sy die plante moet natgooi. Neem 'n swart sak, en ek en buurman hark die blare op. Geduldig, gedienstig, gedwee ...

Buite help 'n Malawiese man met 'n hark. Hy tel die opgegaarde vullis op. Vir 'n geldjie. Hy het vandag sy smouskarretjie verloor en moes 'n stywe boete betaal.

Die stadsraad het laat weet ons vuilgoed word eers volgende Woensdag verwyder. Covid-19 het toegeslaan. 'n Boek van 'n uitgewershuis word eweneens vertraag weens die virus.

*

Fellini: Lies are fascinating for what they reveal about the liar.

Damian Pettigrew se dokumentêr oor Fellini uit 2002 red die aand. Fellini: I'm a Born Liar Fellini, je suis un grand menteur is in Frans, Italiaans en Engels met onderskrifte.

Manna uit die hemel! Met die uitpak van films uit my filmoteek ontdek ek hierdie film en die gesprek tussen Truffaut en Hitchcock.

Vir Fellini is kreatiwiteit 'n magiese proses waaroor hy geen of weinig beheer het. Iets / iemand neem oor. Hy herskep sy lewe en verlede. Die Rimini uit sy jeug het hy her-dink. Dis 'n konterfeitsel. In 'n besondere vinjet vertel hy van twee drome met Picasso as die hoofkarakter wat 'n omelet van twaalf eiers maak. In die tweede droom is hulle in die see met Picasso wat waarsku dat hy nie moet terugdraai nie. Tyd is vervleg tussen hede, toekoms en verlede. Met leuens wat nie van waarheid onderskei kan word nie.

Sy films sien hy soos volg: hy is 'n trein wat by verskillende stasies 'n idee pluk en saamneem. En films? Lig is belangrik. Dit dra die boodskap oor. Kyk na Kurosawa se Rashōmon en die lig wat op die swaard skyn, meen Federico.

Trouens, 'n film is eers 'n skildery; hierna letterkunde en drama. Met enorme presisie skep hy nabootsings van die see en bely sy kontak met die onbewuste.

En neuroses is belangrik: dis 'n skuur vol kreatiewe idees waaruit hy put. Soos die onsigbare psigiese wonde wat die psige voortdryf.

Italo Calvino, die skrywer, self 'n opskepper van formaat, meen leuens is belangriker as die waarheid. Trouens, hy wantrou die waarheid. (Calvino het eenkeer bely dat hy as jong kind eers moes huiswerk doen voor hy mog gaan fliek. Dan het hy die volgende keer die eerste helfte gesien nadat hy reeds die tweede gedeelte gesien het. En dis hoekom sy romans so terugspring in tyd.)

Pinelli, 'n vervaardiger, meen Fellini wil mense wat met hom saamwerk vernietig, omdat hy net kan werk as daar teenstand is.

Ofskoon Fellini teatraal bely dat hy gaande is oor akteurs, vertel húlle 'n ander storie. Donald Sutherland is uiters negatief oor die hantering van hom as akteur in Casanova met bykans geen aanwysings nie. 'n Diktator, 'n demoon wat skree as jy nie sy fantasie reg vertolk nie. Hy het net 5 minute gekry om nuwe dialoog te leer; en dit baasgeraak. Fellini is die poppemeester, die akteur is in sy hande.

Federico is soos Orson Welles wat 'n leuen geskep het en dit moeilik vind om vol te hou:
“Fellini is constantly threatened by his own superficiality, and is constantly running away from it, in the same sense as Orson Welles. Orson Welles created a lie about himself that was in fact the truth, but he knew that it was a lie he'd created – and once everybody believed it, he found it insupportable.” 
Terence Stamp boots hom perfek na. Met oë wat rek vol vraagtekens. En Marcello Mastroianni is glo die een wat sy non-aanwysings perfek kon uitvoer. En sy liggaamshouding ook kon naboots (Fellini/ I'm a Born Liar - WikipediaBesoek 23 Mei 2020).

*

Laatnag lees ek Media24 se nuus en die drogredenasies oor sigarette. Pasoppa! As hulle nou 'n skyf in jou kar kry, is jy in die moeilikheid.

En Jean Oosthuizen is steeds besig om goeie berigte weer te gee oor die stryd tussen waar en wolhaar oor die virus (Minister en dokter haaks oor COVID-19 - VoertaalBesoek 23 Mei 2020).

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, en ’n lid van die ministeriële advieskomitee oor COVID-19 en lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Glenda Gray, is in 'n polemiek gewikkel. Gray meen die inperking behoort opgehef te word.

Ander maatreëls, soos gereelde hande was, die dra van maskers, veilige afstande en ’n verbod op byeenkomste is belangriker. Boonop is die uitfasering van inperkings onwetenskaplik. 

Luister ons regering na hierdie MIV-entstof-navorser? Sy is bekroon met die Orde van Mapungubwe. Oosthuizen wys daarop dat sy in 2017 deur Time as een van 100 mees invloedryke mense benoem.

Wanneer 'n mens hierdie berig volledig lees, word dit al hoe duideliker dat die regering nie ag slaan op kundige raad nie. Sowel mediese as ekonomiese raad word van die tafel gevee. Kundiges op laasgenoemde gebied waarsku al vir etlike weke.

Geen wonder mense is so negatief nie en vermoed 'n ekonomiese agenda om ons te kry by 'n nuwe sisteem wat alles en almal wil gelykmaak.

Inmiddels is daar elke dag meer bedelaars op straat. Meer ellende.

*

Die Franse woord vir die dag: menteur.



Saterdag 23 Mei 2020

Die gesprek tussen twee filmmakers te wete Francois Truffaut en Alfred Hitchcock word beskou as 'n baken in die filmkuns. Die een Frans, behorend tot die nouvelle vague-beweging; die ander een Brits, woonagtig in die VSA en die meester van angs en onsekerheid in die filmkuns.

Hitchcock / Truffaut (Kent Jones regisseur) is gebaseer op die gesprek in 1962.

Daar word vertel dat Alfred Hitchcock as jong kind deur sy pa met ‘n briefie na die polisiekantoor gestuur is. In die briefie het daar gestaan dat hy opgesluit moet word vir ‘n paar uur weens ‘n oortreding. Dit is o.a. ‘n rede vir die paranoia rondom die gereg in Hitchcock se films. Truffaut se werklike vader het hom na 'n diefstalklag laat opsluit in 'n verbeteringskool. Hierom sy obsessie met vryheid.

Hulle ontmoet in LA en gesels vir 'n week lank oor die filmkuns. Daar is 'n boek gepubliseer oor hierdie gesprek: 'n werkboek vir filmmakers en vir alle kreatiewe mense. In die onderhoud beklemtoon hy – soos Fellini – dat lig soveel verklap in 'n film.

Die film het onderskrifte. 'n Mens hoor die sekretaresse wat die Frans vertaal; Hitchcock praat Engels. Soms moet 'n mens terugkeer met die afstandbeheer om iets weer te beluister. Jy hoor die Frans en die Engels daaroor / daaragter.

Truffaut is op die jonge ouderdom van 52 oorlede aan breinkanker en hierdie film (en die gepubliseerde boek) het Hitchcock bevry van die algemene siening dat hy 'n populêre filmmaker was. Veral Scorcese beaam dit in 'n kommentaar. “Cinema is poetry,” meen hy. Kurosawa is eweneens vol lof vir die inspirasie wat uit Hitch se presisie gekry het.

Maar die twyfel bly knaag aan Hitch: het hy genoeg geëksperimenteer met die karakters en die narratief? Was hy nie 'n gevangene van sy eie vorm nie?

In die briefwisseling (gedeeltes opgevang in die film) word die wedersydse waardering gesien van twee groot filmmakers. Beide energiek, beide ongelooflik passievol oor hul kunsvorm. Later het hulle mekaar se draaiboeke gelees en raad gegee.

Hitchcock is uitgesproke oor akteurs: “Actors are cattle.”

Vir hom is die kyker (die ontvanger) allerbelangrik. En uit sy stilfilms het hy verder geput. Die fokus op oë, op hande. Trouens, meen 'n kommentator, jy kan sy films verstaan sonder enige dialoog. Hy is die teoretikus van ruimte en in Vertigo word San Francisco 'n karakter met die geboue wat die storie help vertel.

In hierdie dae gaan ek weer Vertigo bestudeer. Hitch was 'n opgeleide ingenieur wat kortstondig vir 'n advertensiemaatskappy gewerk het. Wat hy dáár geleer het, het hy ingespan. Die storttoneel in Psycho is gebaseer op sketse en dit is meer as 17 keer in slow motion verfilm om die regte effek te kry.

*

Hoogtepunte vir my by Hitchcock:

The 39 Steps (1935), The lady vanishes (1938), Rebecca (1940), Spellbound (1945), Notoriou(1946), Dial ‘M’ for murder (1954), Rear window (1954), The man who knew too much (1956), Vertigo (1958), North to Northwest (1959), Psycho (1960) en The birds (1963).

Hoogtepunte vir my by Truffaut:

Jules and Jim (1962 ), Stolen kisses (Baisers volés) uit 1968 ... The last metro (Le dernier métro) uit 1980 ... eintlik sy hele oeuvre!

In The woman next door (La femme d’à côté, 1981) – met die twee ikone uit die Franse filmtradisie, Gérard Depardieu en Fanny Ardant – ondersoek Truffaut obsessionele liefde. ‘n Egpaar woon in Grenoble, hulle kry nuwe bure en die man ontdek dis sy minnares van agt jaar terug.

Ons het hier ‘n raamvertelling: ‘n vrou geskend deur die liefde (sy wou selfmoord pleeg, maar het te lande gekom op ‘n glaspaneel) is die waarnemer van die verbintenis wat op ‘n ramp afstuur. Klein kodes – soos die vrou wat ‘n tekenprent maak van ‘n vrou in ‘n bloedplas – berei die kyker voor op die einde met sy loeiende sirenes.

In Bed and board (Domicile conjugal, 1970) ondersoek hy die verhouding tussen ‘n jong getroude paartjie: hy is ‘n floris wat blomme artifisieel bespuit om die regte kleur te kry; sy gee vioollesse. Hulle woon in ‘n afgeleefde woonstelblok waar die bure kommentaar lewer op die geboorte van hul kind en die verbrokkeling van hul huwelik wanneer hy verlief raak op ‘n Japannese vrou by sy nuwe werk. 

Die film is net na die studente-opstande in Parys gemaak en kenners meen dit is Truffaut se opstand teen die eis dat films net politieke kommentaar behoort te lewer. 

‘n Oomblik om te onthou: die Japannese vrou versend boodskappies in ‘n ruiker blomme vir hom. Hy gooi egter die blomme weg. ‘n Buurkind tel dit op en sy vrou sit dit op die tafel. En, voilà, wanneer die blomme oopgaan, weet sy hoe sake staan want die stukkies papier met haar liefdesverklarings val op die tafel.

The story of Adèle H. (L'Histoire d'Adèle H.) 1975. Die pragfilm had drama agter die skerms. Isabelle Adjani was nie aangetrokke tot die regisseur nie.

The films in my life (1975 / 1980) is 'n boek waarin hy verklap watter films hom beïnvloed het. Die rusie met Jean-Luc Godard is bekend. In 1973 was eersgenoemde krities oor Day for night waarop Truffaut se respons was: “The Ursula Andress of militancy – like Brando – a piece of shit on a pedestal.”

Ten spyte van Godard se pogings tot versoening, wou Truffaut niks weet nie.

Regdeur Truffaut se films is daar 'n soeke na vryheid – waarskynlik omdat hy as buite-egtelike kind soveel ellende moes verduur en rondgestuur is na pleegversorgers.

Hitchcock was bekend vir sy kamee verskynings in sy films. Truffaut weer was dikwels 'n akteur in ander se films soos in Spielberg se Close encounters of the third kind. In The story of Adèle H. is hy 'n offisier.


© Joan Hambidge

Thursday, May 21, 2020

Reisrubriek | Die banaliteit van boosheid | 2020


Maandag, 18 Mei 2020 | Stopseltjie van my twak

Frustrasievlakke styg. Ek gesels vroegoggend met 'n ou vriendin en ons stem saam: al het jou hoeveel ondersteuning van vriende in hierdie tye, die prate raak op.

Al is 'n mens hoe lief vir vriende of kennisse of familie: die storieput raak droog.

*

Numéri met sy rites en rituele is fassinerend. En die diskriminasie. Indien 'n vrou skuldig is aan owerspel, bly sy altyd onrein.

En die man?

Die simbool vir ambulanse en paramedici staan opgteken in Die Bybel.

Numeri 21:9 en Johannes 3:14.: ’n Ster kom te voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op.

Soveel van ons denke word hierdeur bepaal. Soos om 'n gat vir iemand anders te grawe.

Hierdie boek werk met enumerasie en getalle. Die retoriese strategie is dan ook om getalle te herhaal om 'n punt te maak. 'n Fassinerende boek wat begin by die berg Sinai waar die Israeliete die wette en verbond ontvang. Die opdrag is om die Beloofde Land in te neem en almal – ook die diere – word getel. Dit is 'n onaangename tog met die Israeliete wat kla oor al die ontberings. Hulle kom uiteindelik aan by Kanaän, maar negatiewe verslae laat hulle weier om die land in te neem. Hulle bly in die wildernis sodat 'n nuwe geslag God se verbond kan uitvoer.

Numeri is die hoogtepunt van die Israeliete se eksodus uit verdrukking in Egipteland na die beloofde land. Die Land van Kanaän was elf dae se reis van Egipte af, maar weens die twaalf spioene se slegte berigte rebelleer die Israeliete en weier om na die land te gaan. Die rebellie is teen God. Die reis het hulle 13 780 dae geneem.

Hulle het helaas nie ag geslaan op Josua en Kaleb se gunstige verslae nie.

Moses het hierdie dwarstrekkers gelei en toe God hom beveel om die Rots aan te spreek, het hy die Rots tweekeer geslaan. Hierdie ongehoorsaamheid was dan die rede hoekom hy nooit die Beloofde Land kon binnegaan nie.

Hierdie boek resoneer dan sterk met die gevoel van 'n tussen-toestand wat menige persoon tydens grendeltyd ervaar.

*
Come and see verwys na die apokalips van Johannes: ідзі і глядзі.

Requiem for a Massacre.

Hierdie Russiese-Belarus film van Elem Klimof is in 1985 uitgereik en sopas het ek dit vir die tweede keer meegemaak. Nie gekyk nie: beleef.

Dit is 'n anti-oorlog film en handel oor die Nazi's se besetting van Belarus met 'n jong seun, Flyora wat alles waarneem. Teen sy moeder se wil word hy deel van die Belarus-weerstandsbeweging.

Dat hierdie film beskou word as 'n klassieke film, is eenvoudig so. Dit maak 'n sterk politieke stelling, maar ook die kamerawerk en simboliek is uitstekend. Die slot o.a. waar die Nazi's paradeer in films, word teruggedraai. Hierdie bekende footage word dus nou vanuit 'n ander hoek bekyk. Om sy wrewel uit te leef, mik Flyora met sy geweer na 'n portret van Hitler in 'n poel water en dit word surrealisties, droomagtig weergegee. Hitler wat steier. Hitler wat stop. Hitler as kind. En dan: Hitler as jong kind op sy ma se skoot.

Flyora kan egter nie op die kind skiet nie, omdat dit die trauma van sy ervaring in die brandende skuur herroep. Die Nazi's het beveel dat alle kinders moes agterbly in die skuur.

Vroeg in die film strompel hy oor 'n voëlnessie. Ons sien die voëltjies in die vertrapte doppe - 'n prospeksie van die oorlog se vernietiging.

Wanneer hy terugkeer na sy moeder se huis (die bevelvoerder stuur hom terug, omdat hy sy stewels vir 'n ouer man moet gee), fokus die kamera op sy sussies se speelgoed. Hierna soek hy en Glasha na hulle en waad deur 'n moeras.

Wanneer die Nazi's 'n dorp verlaat, word 'n seniele ouma op haar bed in die middel van 'n straat gelos met 'n weersinwekkende boodskap dat sy baie kinders mag baar.

'n Nazi speel met 'n lemur wat op sy skouer lê; 'n ander Nazi sodomiseer 'n apie met sy vinger. 'n Man wat verkrag word, werk met blote suggestie. Hy hardloop weg van die soldate met sy broek op sy knieë.

Die waarnemer vind sy geweer terug; weggesteek in die hooi. Sterk simboliek. Sy oorlog sal nooit verby wees nie. 'n Verminkte voet is 'n verdere simbool vir hierdie wrede oorlog.

Luister hoe word Mozart se Lacrimosa gebruik en Wagner se Rit van die Walkures en die Overture tot Tannhäuser – die liggaamlose taal van musiek soos Elisabeth Eybers dit noem - sub-teks skep.

Die toneelspel is sidderend goed, veral wanneer 'n Duitser ontken dat hy 'n booswig is. Sy maat meen egter dat die Russe geen toekoms het nie; hierom is die kinders verbrand. 'n Duitse offisier neem 'n eettafel oor met volledige disrespek, terwyl die Russe probeer gasvry wees.

In die wraaktoneel waar die Russe die booswigte brand en skiet, sien ons Flyora se oë en hoe hy getransformeer het van jong seun tot 'n man. Wanneer sy vriendin Glasha – verkrag en vermink – bely dat sy net wou liefhê en kinders kry, is haar oë doods, terwyl hy met ontsteltenis na haar kyk. Woordeloos.

Hy is ten slotte nie meer 'n kind nie: grys en oud.

So eindig die rolprent: 628 Belorussian villages were destroyed, along with all their inhabitants.

*

Liefde in die tyd van korona

Vanselfsprekend 'n masker
vir beide liefhebbendes,
geen aanraking of soen nie; selfs
in verskillende tydsones, vreemde
vastelande nes 'n kinderlegkaart
verkeerdom of onderstebo afgedruk.
Jou plek én myne (terselfdertyd);
net 'n gedeelde skerm: min of meer.


Dinsdag, 19 Mei 2020

Die ennui, soos die Franse dit roep, beginne byt.

*

Lars von Trier se film oor 'n film met Jørgen Leth heet The five obstructions (2003). Hy gee sy mentor, Leth, die geleentheid om sy gunsteling-film A perfect man vyf keer oor te maak. 

Dit is 'n dokumentêr wat baie verklap van die Deense filmmaker se werkswyse. Tydens grendeltyd (grendel on my mind) is die sosiale aspek van die film belangrik.

Hoe word 'n film gemaak? En hoe reageer twee kreatiewe mense op mekaar? Leth erken hy het 'n dop nodig; Von Trier vertel dat 'n mens beslis nie kaviaar met 'n metaallepel eet nie. Dit moet 'n houtspaan wees. Hulle welvaart word in opposisie geplaas met die akteurs wat hulle inspan. (Kommentaar op die filmmaker wat sy akteurs "gebruik"?)

Dus rykdom wat later in die film gedekonstrueer word met besoeke aan Indië waar 'n bedelende vrou met 'n kind geld kry deur 'n taxi-venster. Of die ryk hotel in Havana. (Die hotel herkenbaar vir hierdie reisiger.)

Hier is dan die vyf obstruksies:

1. Hy moet die film in Kuba maak met geen agtergrond en geen skoot mag langer as 12 raampies wees nie; hy moet ook die vrae beantwoord wat in die oorspronklike film gevra word;
2. Hy moet die film op die mees troostelose plek op aarde maak. Hy kies Moembaai se rooilig-distrik. Leth moet die rol van die man vertolk sonder die vrou (wat in die eerste een wel aanwesig is). Daar moet 'n maaltyd wees, wat hy alleen nuttig;
3. Die tweede opdrag is onsuksesvol en hierom mag hy die film oordoen op sy eie manier. Of: die obstruksie in Moembaai herhaal. Leth kies om die film in Brussel te maak met 'n split-screen. 'n Kopknik na Annie Hall;
4. Die vierde opsie (en vir my die interessantste) is dat hy die film moet maak as ''n cartoon. Hy gebruik Bob Sabiston, 'n kenner van rotoscoping. Die film is dus nie 'n propperse cartoon nie, maar 'n animasierolprent. Von Trier is wel tevrede met die produk;
5. Die vyfde een is dat Von Trier alreeds die film vervaardig het, maar Leth moet dis as sy eie film beskou met 'n voice-over vanuit sy eie perspektief. Die voice-over is ook deur Von Trier geskryf. 'n Kommentaar dus op kollaborasie in die kuns. Die regisseur se insette word vertolk deur die akteur/aktrise.

*

Die swaar, stadige films neem my terug na Seisoen 1 van Seinfeld vir 'n bietjie afwisseling.

Die grappe in die eerste een is flinker; die laaste paar reekse raak al hoe meer risqué met die ondersoek na taboe-onderwerpe.

In die eerste epsiode meen George die moeilikste vier woorde is:

We have to talk ...

of:

Whose bra is this?

Die analise van manlike vriendskappe is puik. Mans is net bevriend, omdat hulle mans is. Dis al, meen Jerry. Hy sukkel om van 'n lastige skoolmaat, Horneck, ontslae te raak wat hom met trane manipuleer.

Seinfeld so tussen al die grappe deur, maak 'n mens attent op sosiale kodes en mores. Dit hou 'n spieël voor jou. Soms herken jy jouself met ontsteltenis of met deernis. So was ek ook ...


Woensdag, 20 Mei 2020

Die gewone roetine van opstaan, skryf, winkel toegaan.

By die apteek is daar 'n jong bedelaar. Ek gee brood. Hy eis nog melk en ander kos. Ek kan helaas nie vir almal gee nie en dit word 'n onaangename uitskelsessie.

Die sekuriteitsbeampte doen niks nie. Dit neem buitensporige tegnieke om te begryp waar sy woede vandaan kom.

Dan ry ek Col'Cacchio toe en belowe dat ek moreaand pizzas sal bestel.

Die bestuurder is bly om my te sien.

Meer as 50 dae gelede het ons mekaar gesien. Die vensters is toegeplak met bruin papier. Buite staan daar motorfietsies en wag op bestellings om dit na die bestemmings te neem.

*

Johan Myburg word bekroon met die Hertzogprys vir poësie. So het ek oor Uittogboek besluit:
Dit is ’n ryke, komplekse bundel wat getuig van baie nadink en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie, omdat die digter sy eie outentieke ervaring daarvan weergee in ’n pragbundel van oor die honderd bladsye waarin vele tale en kulture beslag kry.
De Waal Venter wen die vertaalprys vir sy vertalings van Pablo Neruda.

In die bekende “Oda al libro (I) / Ode aan die Boek (I)” bely Neruda:

Ek sal nie geklee gaan
in volumes nie,
ek kom nie uit versamelde werke nie,
my gedigte
het nie gedigte geëet nie,
hulle verslind
opwindende gebeurtenisse,
hulle verorber
swaar weer,
grawe hulle voedsel
uit die aarde en mense. (66, 67).

Op albei drink ek 'n alkoholvrye dop! Cheers.

*

Laataand soek ek in my DVD-kas na 'n film wat ek nog nie gesien het nie.

Ek vind The Element of Crime (Forbrydelsens Element), Lars von Trier se film uit 1984 in Engels en Arabies. Film noir met dialoog wat 'n mens moeilik volg weens die voice over. Dit vorm deel van sy trilogie Epidemic (1987) en Europa (1991).

Speurder Fisher, ekspatriaat woonagtig in Kaïro, ondergaan hipnose om sy laaste saak te probeer onthou. Hy beleef Europa, donker en newelig. Dan onthou hy die moordenaar se naam: die Lotto Murderer. Hierdie reeksmoordenaar het jong meisies wat lotto-kaartjies verkoop het, verwurg. Hy gebruik die metodes uit die boek The Element of Crime geskryf deur sy afgedankte kollega, Osborne. In sy soektog word hy vergesel deur Kim, 'n prostituut, wat 'n kind gehad het en vermoor is deur hierdie reeksmoordenaar.

'n Vreemde soektog, omdat Fisher sy ondersoek baseer op Osborne se sogenaamde tailing verslag, wat handel oor 'n man wat moor op dieselfde manier as die Lotto Murderer. Die voorskrifte van die boek vereis dat jy moet dink soos die moordenaar. Uiteraard lyk Fisher dan na die verdagte.

Hotel Elite se naam is uiters ironies. 

Die kyker is nie seker wat waar of wat fantasie is nie. Soos 'n sekwens van verkragting op 'n motor. Gebeur dit werklik of is dit gewoon 'n droom of hallusinasie van Fisher?

Daar is vreemde dialoog:

Fisher: Is it always as dark as this at this time of year?
Housekeeper: There are no seasons any more. The last three summers haven't been summers. The weather changes all the time. It never alters.

En objekte uit een toneel word gesien in 'n ander. Papier, ligte, skêre, speelgoed, Coca-Cola-blikkies, seëls en 'n hotelregister.

Dis nag. Donker dus en die film het 'n geel gloed. 'n Representasie van die droom? Verder is dit geskiet in sogenaamdesodium light afgewissel met rooi en blou.

Egte film noir.

Hierdie film is bekroon met die Bodil- en Robert-pryse. In 1984 genomineer vir die gesogte Palme D'Or.

'n Speurder wat na die moordenaar soek en homself vind, is 'n gewilde tema in boeke en veral in die filmkuns.

Angel Heart (1987) van Allan Parker aktiveer dieselfde kwessie. Harry Angel (Mickey Rourke), 'n New Yorkse speurder, soek na Johnny Favorite in New Orleans. Hier word hy blootgestel aan moorde. Hy ontmoet Louis Cyphre ('n homofoon vir Lucifer), vertolk deur Robert de Niro toe hy nog kon toneelspel in pakkende films en nie in derderangse home movies lanterfanter nie.

'n Karakter se naam is Epiphany.

En Harry Angel is geen engel nie, maar vertrek na die hel (per hysbak). Is Harry en Johnny een mens?

De Niro neem as duiwel besit van sowel Harry as Johnny se siele.

In my lewe het die uwe 'n paar keer films gesien waar die flirtasie met boosheid in die fliekhuis oor jou spoel. Ander voorbeelde: Rosemary's BabyThe Silence of the Lambs, The Exorcist ...

Maar dit bly steeds goeie films.

*

Die afgelope paar jaar was moeilik: #Rhodes must fall, #Fees must fall, Eskom, die Waterkrisis, die dood van my moeder ...

En nou die kroon van ellende, onsekerheid ...

Numeri leer ons tel. Al 55 dae?

*

Masjrabijas

In Tunisië
op 'n mes-
punt is daar
geboue met 
maskers:
haremvensters.

In die buite-
plein van Tunis
staan hulle ver-
sluierd in turkoois
of ligblou gebaai:
uitsig vir die ongesienes.

Op my balkon
oop en bloot
waarnemer van
onklaar bouwerk
ligte brandend
in 'n gebou

asof iemand 
die ligte aan 
vergeet het.

© Joan Hambidge