Ernest Hemingway
I.
So vertrek ek na Mexiko en Kuba met ‘n
volgepakte SAL-vlug na Atlanta. Niks kon my egter op hierdie nagmerrierit
voorberei nie. In my geestesoog het ek
gesien hoe ons op oujaarsaand gaan drink en vrolik wees. Van vrolikheid was daar
geen sprake nie. Trouens, dit was asof daar vooraf besluit is dat die suurste
mense op hierdie vlug sou wees.
My versoek om ‘n plek met baie
beenspasie het toe ‘n plek geword vir baie speenspasie, want so by my kool, ek
land op ‘n ry sitplekke langs ‘n moeder en vader met twee telge van sowat ses
maande oud. ‘n Oujaarsaand met sjampanje en rooi wyn en bottels melk?
Nee wat, dag ek en raak roep die
lugwaardin nader. Beleef, dog effe driftig, beduie ek vir haar dat ek nie kans
sien vir hierdie vlug nie. Boonop het ek lank en fyn beplan aan hierdie duur
reis na Mexiko en Kuba, navorsing gedoen en ja, hoekom moet dit my lot wees om
hier te sit?
Die karma van ander se bagasie, aanhangsels
en kinders is nie my karma nie, dankie.
Na ‘n lang onderhandeling word ek
verskuif. Dit blyk toe dat die sitplek nie leeg is nie; toe weer op. ‘n
Vriendelike jong waardin kom nader en sit my langs ‘n egpaar met een baba. Ewe
fraai deel sy my mee:”Hierdie enetjie is baie soet.” Toe haar vader haar windjies
beginne uitklop, is ek weer op die been.
“Kyk, ek weier om hier te sit. Maak ‘n
plan.” ‘n Paar minute later word ek in ‘n hoekie ingeskuif, met goddank, ‘n
sitplek leeg tussen my en ‘n bot tiener. Maar toe was die vreugde van die vlug
al goed bederf. Min beenspasie, humorlose mede-passasiers, snorkers en daar
gaan ons. Boonop skeur ek ‘n nael en verloor ‘n sleuteltjie vir my een tas se
slot. Gelukkig word die slot op Atlanta oopgebreek.
Toe die kaptein middernag ‘n goeie
nuwejaar aankondig en vra dat almal ‘n glasie moet lig, kon hy liewers maar met
die Nasionale Lykvereniging in Boksburg gepraat het.
Ek luister na die Beatles, kyk Matchstick Men, The little mermaid en lees Anais Nin se prag-kortverhale The model. En vier my nuwejaar, solo
para, terwyl ek smul aan heerlike rooiwyn.
Ons land na 18 ure en veertig minute in
Atlanta met die gewone roetine van doeane en paspoorte en visas. Die strenge
ondersoekbeampte gelas my om my skoene uit te trek, omdat die silwer op my
Bronx skoene die elektroniese ligte laat flits. My draagbare rekenaar word
oopgemaak en ek koop teen $120 vir my al die muurprop-aanhangsels benodig vir
Mexiko en Kuba. En goddank dit werk! Op die lughawe in Atlanta skryf ek aan my
storie “Peyote drome” en maak my gereed vir die vier ure trip na Mexiko Stad op
die eerste Januarie van 3 ure, 43 minute. Op die lughawe trek ek skoon klere
aan.
Teenoor die suur lugwaardinne van my
lang vlug, is die mense op Delta Airlines adret, vriendelik, behulpsaam en
professioneel. Under the Tuscan Sun (2003), so ‘n tranetrekker oor verlore liefde
en die soeke na ‘n nuwe lewensmaat, is die vlug-film. Dis lig en lekker; goed
vir die nuwejaar en ‘n monsteragtige “jet lag” wat op my wag, Essentiale en baie water ten spyt.
Toe ek uiteindelik in Mexiko-stad
aanland, is SA agt ure voor ons in die tyd en ek bykans al vir ‘n hele dag aan
die rondvlieg.
Mexiko-stad is dood op nuwejaarsdag. Ek
huur by die hotel Casa Blanca, ‘n privaattaxi om my deur die stad te neem. My
gids my wys al die landmerke en ons gesels oor Diego Rivera se muurskilderye,
die Asteke en Majas. In die stad is daar ‘n groot feraria, oftewel pretpark. Gillende kinders ry op die Groot Wiel en
ek dink hoe ek en Johann de Lange altyd met die Paasfees heerlike pret ervaar
het op al die stampkarretjies en die Figure 8 daar naby die Skilpadsaal in
Pretoria.
Teen ses uur die middag wys ek: hokaai.
Ek kan nie meer nie. Ek klim in die bed, vra hulle moet my wakker bel om sewe,
maar slaap weer verder. Die volgende oggend is ek wel gereed vir ‘n stad wat
toe lewe kry na ‘n nuwejaarsfees.
Ek bespreek ‘n reis om die Diego Rivera
(1886 – 1957) muurskilderye en fresko’s te gaan bekyk. My bewondering vir hierdie kunstenaar word
net groter: die ervaring van die fresko’s en die metikuleuse detail daarvan is
werklik aanskoulik. Die muurskilderye vertel die geskiedenis van Mexiko en
vergestalt die soeke na identiteit. Dikwels gebruik hy waarskynlik speels sy
vrou, Frida Kahlo as ‘n aweregse model vir ‘n Asteekse vrou! Die vermenging van
sy gepolitiseerde siening van die lewe – naamlik dat alle mense gelyk moet wees
– en sy naïewe, primitiewe skildertegnieke mag waarskynlik vir sommige mense as
te pedanties oorkom.
Een van my toermetgeselle vind sy
kunswerke irriterend, omdat die boodskap so op die voorgrond staan. Ofskoon die
boodskap vooropgestel word waarin die geskiedenis en sorge van sy land beeldend
vertel word, kan ‘n mens nie die enorme drif van hierdie kunstenaar miskyk nie.
Inderdaad staan Marx op die een muurskildery waarin die kerk se bedrog en die
mense se grypsug uitgebeeld word. Dit word alles so vernuftig en kleurryk
gedoen dat ‘n mens dit nie kan verminder nie.
Hierdie muurskildery heet “La Lucha de
Clases” en wys op die verskillende klasse in die gemeenskap. Ek noem hom steeds
die Michelangelo van Mexiko, hoewel iemand hom glo verminderend die Tretchikof
van Mexiko genoem het (op wie is daardie grap?). In die “Secuencia de la historia de Mexiko”
word die oorsig van die geskiedenis gegee.
Hierdie kunswerke is te siene in die
Nasionale Paleis wat in 1523 opgerig is.
Ons besoek die Antropologiese museum wat
waarskynlik een van die mees skouspelagtige in sy soort is met sy versameling
van Asteekse kuns. Ook die vertrek met Maja kuns is die moeite werd om te
beskou. Die eerste dag se besoeke aan
kunsmuseums is opwindend en die Katedraal in Mexiko Stad is werklik pragtig.
Terwyl ons die katedraal besoek, is daar ‘n diens aan die gang en ek vind dit
nogal ontoepaslik dat ons ander mense se gelowige oomblik steur. Ek voel wel
beter toe ek besef dat daar in die agterste gedeelte van die katedraal werkers
besig is met ‘n massiewe restourasie van die katedraal.
Hoewel daar ‘n pragtige antieke orrel
staan , is dit duidelik dat die musiek vooraf opgeneem is. En hier in die
onbekende speel daar “Kom herwaarts getroues” wat die reisiger effens
nostalgies maak
Maar die opwinding van Tenochtitlan,
vandag Mexiko Stad, maak hiervoor op.
II. Mexiko
Mexiko Stad word as een van die mees
besoedelde stede op aarde beskou. En gewis is dit so. ‘n Mens nies en proes
weens die ongelooflike vuil lug. ‘n Bruin wolk hang oor die stad en ‘n mens kan
niks sien nie. Op ‘n bustoer vra ek die gids om vir ons die beroemde berge te
wys wat weens hierdie toestand absoluut onmoontlik is.
Maar desnieteenstaande hierdie vuil lug,
is dit ‘n uiters bekoorlike en oorrompelende stad. ‘n Mens kan die antieke
geskiedenis voel bruis. Onder draai die duiwels rond en die besoek na die
Piramides van die Son en Maan net buite Mexiko Stad is iets om te beleef.
Ons vertrek 9.15 en ‘n mens raak gewoond
aan Mexikaanse tyd wat beteken dat tyd niks beteken nie. Jy moet wag en wag en
wag. Ek neem my draaagbare rekenaar saam en terwyl ons wag vir ‘n laat
toerleier of ‘n fotonemer uit Madrid, hou ek verslag van die daaglikse gebeure.
Taxis in Mexiko Stad bestaan uit ou
groen Volkswagen kewers (teenoor New York se geel cabs). Almal ry nes hulle wil
en ‘n hele paar keer dink ‘n mens nou gaan daar ‘n ongeluk gebeur. Maar watwo!
Die bestuurder glip deur die versperrings, mis ‘n ander motor met twee punt vyf
sekondes. ‘n Bietjie getoeter, maar niemand word kwaad in die proses nie. Almal
ry op hulle toeters, wat wonderlik is vir iemand soos die uwe wat self ‘n
toeter-bestuurder van formaat is.
Die armoede is ook opvallend. Geweldige
rykdom teenoor armoede. Mense wat op straat kos maak, tortillas verkoop en
allerlei ware. Ek koop vir my pragtige Asteekse kunswerkies van rooi klei en
bly op soek na sandale vir ‘n vriendin.
Ten spyte van my intensiewe studie
vooraf, bly ‘n mens bewus van die feit dat daar veel is wat jy nooit sal kan
begryp nie. Die mistieke element van die Asteekse en Maja kulture bly
uiteindelik te groots om werklik te verstaan. Die Maja wêreld kan besigtig word
in die suide van Mexiko, Belize, Gautemala, Honduras en El Salvador.
Ons gids wys ons daarop in welke mate
Mexiko Stad al etlike meters gesak het, omdat dit op water gebou is. Van die
mooiste katedrale staan hier en die piramides is eweneens pragtig.
Ek begaan egter ‘n ordeelsfout om vir
die toergids attent te maak op die besoedeling. Soos ‘n gids in Tokio, vererg
hy hom diep. “Nee, dis net die winterlug. Dis nie besoedeling nie.” Nou ja, wat sal ‘n mens hierop antwoord?
By die twee piramides gekom, klim ek dit
met groot ywer uit, dankbaar vir my besoeke aan die Virgin gimnasium in
Kaapstad. Dit is egter nie so hoog of uitputtend as Macchu Picchu nie, maar
nogtans ‘n tog met dwarswinde wat sand waai en ‘n warm son wat my piets. Die
aand sit ek rooi gebak in die Hotel Casa Blanca en smeer salfies oor die
sonbrand-merke.
Vir ‘n hele dag, teen ongeveer R300, kan
jy die ou beskawing meemaak. Jy word geteister deur bedelaars en verkopers van
allerlei wat wissel van fluitjies in die vorm van Asteekse simbole. ‘n Paar
kinders fluit jou ore van jou kop af.
Ons middagete is heel plesierig met El
Mariachi wat musiekmaak. Verbeel ek my of klink die een liedjie amper nes
“Suikerbossie”?
Die gidse in Mexiko Stad is baie goed
ingelig. Hulle ken die geskiedenis en is minder grypsugtig as byvoorbeeld
Egiptiese gidse wat halwe waarhede verkoop en dan teen die aand bakhand staan
vir ‘wyshede’.
Daar is vele internet-kafees wat ek soos
die pes vermy; anders kan ‘n mens se reis besoedel word deur nuus tuis of
allerlei werkseise. Ek ervaar hierdie reis dus volledig op my eentjie, behalwe
vir ‘n gawe Nieu-Seelandse egpaar wat tweekeer saam met my reis en insigryke
opmerkings maak oor die Mexikane.
Mañana, mañana. Moenie jou
haas nie. More is nog ‘n dag.
En more vertrek ek Acapulco toe. Hoewel
dit die begin van die winter is, hoef ‘n mens net saans ‘n baadjie aan te trek.
Bedags skyn die son en die temperatuur is draaglik. ‘n Mens sal selfs kan swem in Acapulco as jy sou wou. In my hotel
in Mexiko Stad swem daar kinders in die piscine, oftewel swembad, in ‘n retro-sestigerjare
hotel. Dit lyk soos iets uit ‘n James Bond-film en die kelner weer te vertel hy
het vir die filmmaker Broccoli gewerk in vele James Bond-films as ‘n ekstra.
Ek glo hom en bestel ‘n Martini met ‘n
olyf, terwyl ek die hotel se interieur intens bewonder.
In ‘n reisgids oor die Majas, The Maya World (The Rough Guide: Londen, 1999) word die toeris na Suid-Mexiko,
Belize, Gautemala, Honduras en El Salvador geneem. Vir ‘n volgende besoek dan,
want ‘n mens kan met een reis net soveel inneem en verteer. Dis beter om stadig
te reis, as om deur alles te flits soos in daardie wonderbaarlike film If it’s Tuesday, this must be Belgium
(1969).
Tog vind ek byvoorbaat die Maja’s se
obsessie met tyd inspirerend. Hulle het ‘n 260 dae kalender gehad waarin 20 dae
saam gegroepeer is. Die dag (kin) lê
aan die basis van alles en elke dag word met ‘n god geassosieer sodat jou
geboorte hierdeur bepaal word. Ook was die astronomie vir hulle uiters
belangrik en sekere patrone in die hemelruim is deur hulle getrek.
Die sofistikasie van sowel die Asteke as
Majas is verbysterend en ‘n mens durf nie na hulle as ‘primitief’ verwys nie,
omdat hulle op sekere vlakke die moderne mens kon troef met insigte en
interpretasies van die heelal.
Trouens, vele “New Age”-filosofieë keer
na hierdie wyshede terug.
III. Mexiko
“Drink ‘n tequila op my!”, is die
versoek van vele vriende voor my vertrek na Mexiko.
Watter een? Don Julio, Franchas, El
Jimador, 100 Anos, Hornitos, Commerativo, Reposado, Blanco, Tradicional,
Cazadores, Viuda de Romero…
Enige voorste drinker sal kan bely: ‘n
mens kry nie sommer ‘n ‘hang-over’ van ‘n tequila nie, al het jy hoe goed fles
gevat, want dit is suiwer alkohol.
As ‘n rooi wyn drinker, is ek mateloos
geïmponeer met die soorte Cabernet Sauvignon in hierdie kwartiere en as jy rooi
wyn bestel, vra jy vir “rogga” of “tinta” dan begryp hulle.
In die hotelle word baie goeie rooi wyn
bedien teen ongeveer 30 pesos per glas en danksy my vriendskap met die bar man,
Martin in die Casa Blanca, het ek dikwels ‘n glas “on de houze” gekry, soos hy
dit uitgespreek het.
Daar word ook ‘n soort tequila van die
maguey-plant gemaak, van die Agave genus (5 % alkohol) en by ‘n besoek aan ‘n
plaas, wys hulle hoe dit gebrou word: ‘n gat word in die middel van die
vetplant uitgesny, en dan gis die drank letterlik in die middel van die plant.
Douvoordag vertrek ek na Acapulco, stad
van bruising. Dis presies ‘n vlug van een uur. Na die matige weer is die stad
Acapulco ‘n kruis tussen Durban en Maputo tydens ‘n hittegolf. Die stad lyk
boonop nes hierdie stede met ‘n iets van Amanzimtoti ingegooi in die cocktail,
jy weet. Vergeet van die Peter Stuyvesant-advertensie, mymer ek by myself toe
die hotel waarin ek land, Hotel El Tropicana, ‘n iets oor die muur is.
Ongelukkig is alles vooraf betaal so ek kan nie kop uittrek nie. Die mense is
aan’t vakansie hou soos jillende Margate-gangers. My moed sak in my
spreekwoordelike skoene.
Terwyl die sweet my aftap.
Boonop is daar nou net ‘n
tweepunt-muurprop en my elegante prop wat etlike dollars gekos het, kan nie
hier inpas nie. Die gawe hoteleienaar, Caesar, leen sy prop vir my sodat ek ten
minste iets kan uittimmer op my draagbare rekenaar.
Jare se reis het my geleer: moenie jou
verset nie. Moenie onrustig raak nie. Go with the flow. Anders word dit alles
net erger. Die kamer is onluuks, maar skoon. Dit was waarskynlik twintig jaar
gelede ‘n smarterige hotel, dink ek, terwyl ek vaskyk teen die ronde borrels
wat paradeer as ligte. Hef aan! Die hotel haal beslis my lys van die vyf ergste
hotelle waarin ek ooit moes tuisgaan, met ‘n hotel in Kopenhagen as nommer 1.
Maar daar kon ek darem weer wegstap, omdat ek nie vooraf betaal het nie.
Voor my deur lê ‘n bondel vuil wasgoed
wat niemand sommer gou gaan verwyder nie.
Vergeet van al die James Bond-films en
van al die ander lekkerder hotelle net voor jou. En vergeet veral van die Hotel
Casa Blanca in Mexiko Stad.
Die droeër klimaat van Mexiko Stad word
nou vervang deur ‘n humiede, sweetwarm een. Dit sal jou leer. Jy wou mos aaklig
wees oor die besoedeling en die wind wat waai in Mexiko Stad!
Karma, karma!
Maar na ek oor my ergste weersin gekom
het, begin ek die pragtige stad te bespied. Die mense lyk ook anders as in
Mexiko Stad. Die mans loop sonder hemde rond en op almal se gesigte staan
geskryf: ons hou vakansie met hoofletters. Ek daarenteen gaan deur ongeveer
vier hemde per dag weens die versengende hitte wat al hoe meer soos Manaus in
die Amasone beginne voel. Gelukkig is daar ‘n swembad wat ek in die skemeruur
beplas. In die badkamer waai my hemde droog. Chris Barnard se ‘Op pad na
Acapulco’ kry nou ‘n ander betekenis…
Gaan daar muskiete wees vannag? Sal ek
my gunsteling-gedig “Muskietejag” vanaand hier moet voordra?
Reis is nie net ‘n aangename ervaring
nie.Dis ook soms eensaam en ellendig, veral die hotel maar troosteloos is.
Maar nou jou, troos ek myself. Hotelle
is soos liefdesverhoudings. Party is goed, ander ‘n helse ervaring. Maar dit
maak alles van ‘n mens ‘n ruimer, volronder mens. Dis hoekom ek so ‘n vol-ronde
mens is.
Ek sal maar ‘n tequila drink op hierdie
hotel! En gelukkig vergoed die gawe personeel en die lekker restaurant net
langs die El tropicana vir die onaangename intro.
Tussen gaan en bly
Tussen gaan en bly, weifel die dag
Verlief op sy eie deursigtigheid.
Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
Waar die wêreld in stilte beweeg.
Alles is kenbaar en ontwykend,
Alles is naby en onaanraakbaar.
Papier, boek, potlood, glas,
Rus in die skadu van hul name.
Tyd wat in my slape klop, herhaal
Dieselfde onveranderbare sillabe van
bloed.
Die lig verander die ongeërgde muur
In ‘n spookagtige teater van afskynsel.
Ek bevind myself in die middel van ‘n
oog,
Kykend na myself in ‘n ondeursigtige
staar.
Die oomblik breek. Bewegingloos,
Ek bly en ek gaan: ek is ‘n ruspose.
Octavio Paz
(vertaling: Joan Hambidge)
IV. Mexiko
Daar is twee aspekte van reis wat nooit
in reisgidse te berde gebring word nie, naamlik die hoeveelheid tyd wat jy moet
wag op lughawens (die sogenaamde leë tyd van reis) en die verveling of ennui
wat jou soms beetpak.
Reis behels nie net opwinding nie. Dit
behels ook lang tye van wag – byvoorbeeld as ‘n mens inreken hoeveel ure voor
die vlug se vertrek moet jy op die lugawe wees, die vertrek uit jou hotel, die
wag voor jy vertrek, die aankoms, die wag by die doeanepunt… – en dan paradoksaal
na al die opwinding wat jy meemaak, is daar ook tye wat ‘n mens net ennui
ervaar.
Wag en verveling.
‘n Mens kan elke dag net soveel inneem
en sekere stede of plekke bied net soveel te sien. En dikwels wil jy saans net
rus na ‘n dag van piramides uitklim, museums besoek ensomeer. So word ‘n mens
‘n kenner van CNN. Jy ken elke aanbieder se haarstyl, maniërismes en
persoonlike ideologie. Jy word ook ‘n verbete aanhanger van sokker. In
hotelkamers kyk ek altyd na ‘n sokkerwedstryd. In Acapulco was ek saam met die
Americano span teen Atlante. Ek het ook soos hulle afrigter vir die verdomde
fluitjieblaser geskree: ”Maak oop jou oë, jou idioot!”. Toe dit ‘n gelykopstryd
is met een elk, eweneens die skeidsregter die skuld gegee.
Maar daar is sokker kyk, en sokker kyk,
sal Roland Barthes ons leer uit sy Mythologies.
‘n Mens kan na sokker kyk, soos wat hy na die stoeigeveg kyk as ‘n semiotiese
spel.
Die vinnige bewegings van die
sokkerspeler wat doellyn toe haas, die ontoelaatbare vuilspel wat soms kop uit
steek, die enorme spanning wat op die doelwagter geplaas word. Dit is nie net
sokker nie. Dis oorlog.
Hier word geveg om lewe en dood. Sokker
word tereg as een van die gevaarlikste sportsoorte ter wêreld beskou, omdat die
skare dit so ernstig opneem. Mense het mekaar al dood gemaak, omdat hulle span
verloor het. Mense is vertrap omdat hulle onder die voete van hierdie woedende,
verontregte verloorders beland het.
Daar word selfs ‘n kursus aan ‘n Britse
Universiteit aangebied oor die mitologie rondom David Beckham. Hoe hy optree,
wat hy dink en doen. Hy is nie net ‘n sokkerspeler nie; hy is ook ‘n mite. Al
het hy nou gedros na Spanje, bly hy ‘n Britse ikoon.
‘n Mens sou indertyd ook ‘n kursus oor
Naas Botha kon aanbied, omdat hy ook “larger than life” was. Beckham speel ook
in sy persoonlike lewe iets meer uit met sy “Spice Girls”-vrou.
Bog? Nooit as te nimmer nie. Hierdie
wyshede dink ek uit op my reis na Kuba. Ek sit in die IPS-restaurant wat 24-uur
per dag oop is. Ek moet wag vir ‘n daguitstappie en het ‘n paar uur te verwyl.
In Mexiko kan jy eg Mexikaans ook vroegoggend eet! Die kos is voortreflik en ek eet ‘n omelet
natuurlik met Tabasco – vernoem na die plek hier in Mexiko.
Die diens is puik, die koffie lekker en
al is die Engels skraps, is die Mexikane hier baie gaaf en behulpsaam.
Jy laat ‘n footjie van 10 persent in
kontant, asseblief, versoek al die kelners in restaurante, want op
kredietkaarte verdwyn dit in die baas se sak. Maar as jy nie iets wil gee nie,
laat hulle jou verstaan, is dit ook reg.
Nee, ek gee altyd die tien persent
en vir die gawe kelner Roberto in
smullekker seekosrestaurant, gee ek 20 persent, omdat hy my langs ‘n muurpop
sit, my attent maak op al die kodes van Acapulco en vertel van die armoede in
Kuba wat my sal ontstel.
Jare gelede eet ek in ‘n restaurant in
Kaapstad. Een van die tafelgangers het nie kleingeld nie en laat tien sent (ons
had aparte rekeninge) vir die kelnerin. Sy hardloop by die deur uit, agter hom
aan en roep: ”Jy het iets vergeet, meneer. Hier. Ek dink jy het dit nodiger as
ek.”
Die teendeel gebeur egter ook. In Macchu
Picchu se restaurant laat Amerikaners ‘n hele boel note in die middel van die
tafel. En een van die reisigers vergeet sy kamera. Daar stap hulle af met die
paadjie. Die kelner tel die groen note op en die kamera. Hy sien hulle
wegkronkel.
Salida
In die vele hotelkamers
in vreemde bestemmings
my bagasie in- en uitgepak.
In die vele hotelkamers van die liefde
die hotelkaart noukeurig ingevul:
ontmoeting – ervaring – vertrek.
In hierdie hotelkamers
is alles eers klinies – later morsig,
vol beskuldigings, verwyt
oor die onaangename, pynlike afloop.
In die hotelkamers van die wanhoop
soms ‘n soewenier geneem – niks
agtergelaat:
behalwe oortollighede, uitskot
of laaste indrukke soos “ek verkies
dat jy nou gaan en my nooit
weer kontak nie.”
In hierdie vele hotelkamers
nimmer lank vertoef. Maar lank onthou,
getreur. ‘n Gekneusde hart
is soos ‘n oorvol tas wat jy saamsleep
van doeanepunt tot doeanepunt.
Sommige hotelkamers was vyfster;
party minder goed. Maar elkeen was ‘n
vertoefplek,
‘n hawe vir die hart: ‘n paspoort
met visas verval. Jou visa helaas
nog lank nie finaal gestempel:
‘n reis sonder finale bestemming,
eindpunt.
Nou onthou ek net my geliefdes
soos die kamernommers in dié hotelle.
Met jou deur op slot.
Bron:
Roland Barthes. 1957/1972. Mythologies.
Londen: Paladin.
5 Januarie 2004
V. Mexiko
Op pad na Acapulco
My eerste indrukke van Acapulco was
onplesierig. Humied, bedompig, beknop, kloustrofobies. Boonop is die hotel vol
jillende, gillende kinders en ‘n Amerikaner – dronk – wat langs die swembad sit
en Rum drink. Hier blaker hy sy lewenswyshede uit op daardie eg irriterende
Yankee-uitspraak sodat hoor en sien vergaan. Hy is ‘n rasegte Boksburg-special.
Maar ek maan myself. Laat jou nie onder
kry nie. Ek drink ‘n Corona of wat om die ergste hitte te trotseer en stap na
die strand waar die helderste blou see roerloos lê.
‘n Pragtige hotelletjie in Japannese
styl bied ‘n versnaperinge aan in ‘n koel kroegie met ‘n fonteintjie. Japan in
Mexiko. Nou daar het jy dit. My twee onlangse reise sommer metafories hier
saamgevoeg.
Ek verken die stad wat so warm word dat
jy gedwing word om siesta te hou. Teen sesuur eet ek vis en toe dit donker
word, stop ‘n wit en blou kewertjie langs my. ‘n Taxi van Acapulco.
“Taxi?”, vra hy.
Ek knik. Ek vra hom om my deur die stad
te neem en Acapulco in die aand te wys. Ons kruip stadig deur die stad en deur
150 pesos sal hy my die belangrikste punte wys. Hy heet Roberto, ‘n gawe man,
in sy dertigerjare.
“Is jy getroud?” Genugtig, dink ek. Ken
hy dan nie my digkuns nie?
Acapulco is bonsend van lewe. More is ‘n
Katolieke vakansiedag, die dag van die koningin, en almal is vir oulaas op pad
winkels toe. Dis soos ‘n tweede Kersfees.
Danksy my gawe gids, sien ek dele van
Acapulco wat my te voet verby sou gaan.
“Hoekom is ou kewers julle taxis?”
“Omdat die dienste so goedkoop
is,”verduidelik hy.
Die stad bekoor my en op harde
disko-musiek uit die ou Volksie ervaar ek die ambience van die stad vol
drentelende vakansiegangers, slenteraars en inwoners.
Ons stop by die katedraal, ek koop ‘n
geskenk vir ‘n vriendin en trek al my woorde terug oor Acapulco. Ekskuus stad,
ek het jou beswadder.
Acapulco in die aand/nag is ‘n
belewenis. Daar is ‘n gees van feesviering in die lug en “El Condor Pasa” speel
by die feraria. Die mense weet hoe om hullelf te geniet. Ons ry verby ‘n disko
wat volgens Roberto 5000 mense kan inpas.
En die musiek?
“Hip hop, samba, disko, alles wat jy
begeer,” verduidelik hy.
Buite sit die nie-dansers en tequila
drink. Mense stap sommer net vir die lekker. Niemand is gedruk vir tyd nie.
Die huisies aan die boonste gedeelte is
eenvoudig, maar netjies. Dis ‘n baie skoon stad. Die speelplek vir die rykes is
natuurlik reg langs die kus.
Toe hy my uieindelik aflaai, gee ek hom
‘n enorme footjie vir sy gidswerk. Praat altyd met die gewone mense, het ek op
my reise geleer. Hulle kan plekke vir jou oopmaak wat andersins heeltemal by
jou mag verbygaan. In Casablanca het ek bevriend geraak met die concierge en
ons het ‘n motor gehuur, die stad saam besoek en so ontdek jy al die geheime
plekkies en karteltjies van ‘n stad wat buite die reikwydte van ‘n
professionele toergids is (wat in elk geval dikwels verveeld is met dieselfde
vertelling) en verswelg mag word deur ‘n groot toerbus se wiele.
Maar dan moet jy jou oopstel vir so ‘n
ontmoeting. ‘n Mens voel altyd na so ‘n ervaring dat jy ‘n vriend verloor het
en jy bly altyd wonder oor hulle: daardie gawe man in Casablanca, die taxibestuurder
in Acapulco en die gids in Sõa Paulo. Mense wat net die regte ding op die regte
oomblik sê.
Op daardie reis in Suid-Amerika was my
hart gebreek en die liewe vrou het my vertroos, gesê dit sal verbygaan.
Dit was natuurlik toe ek nog ‘n hart
gehad het. Nou leef ek op my plastiekhart, is boonop ‘n opperste
wegkomkansvatter!
I am a man: little do I last
and the night is enormous.
But I look up:
the stars write.
Unknowing I understand:
I too am written,
and at this very moment
someone spells me out.
Octavio Paz
6 Januarie
2004
VI. Kuba
My vlug na Kuba vertrek om sewe. Vyfuur
lui my wekker en ek begin my reis na Havana! Ek word by die hotel opgepik en
5.30 is ons op pad lughawe toe. Die sweet tap my reeds af en op die lughawe
trek ek ‘n vars hemp aan. Hierdie dag gaan eise stel aan die senuweestelsel. Ek
voel ‘n bietjie olik van die min slaap, die warm hitte en dan skielik weer die lugverkoeling.
Vyf onaangenaamhede wag egter op my soos
‘n luislang in die Amasone.
Toe ek deur sekureiteit stap, word ek
gevra om my handbagasie oop te maak. My klein reissakkie met knope, garing en
‘n skertjie word uitgehaal.
“U moet die sker verwyder.”
Ek het vergeet van die nuwe paranaoia
wat op lughawens heers post-September 11. Wie sal ek nou wil aanrand? Ek pleit
selfs dat ek dit in my groot tas sal berg. Hy bly onversetlik. Ek lieg dat ek
‘n huishoudkunde-onderwyseres is wat moet lesse gee in naaiwerk in Kuba. Die
man begin sy humeur met my verloor en ruk die skertjie uit my hand. Ek vloek
hom woordeloos. Jou bronstige brulpadda. Jou misoes van ‘n Mexikaner. Jou
rillende reptiel.
Nou ja, hierdie ou skertjie sal ek maar
afstaan. Dis my geskenk aan Mexiko! Maar wat, die sker is mos ‘n simbool.
Waarvan nou weer? Jy is ‘n sker, beteken mos iets lekkers. Lekkor (sic!) was
nooit sleg nie, of wat praat ek alles. Of dalk is die sker, as ek Jung reg
begryp, ‘n simbool van dit wat ek kan afsny. Die spinsels wat jy kan afsny.
Waarskynlik as straf vir my vervloeking
van die ou brulpadda, tref onaangenaamheid nommer twee my op die vliegtuig van
Acapulco na Mexiko Stad. Die kind voor my (reg in visier) word oorval deur
lugsiekte. Ag, die geluide, die reuk, die verskrikking! Goddank daardie sker is
nie meer by my nie.
Ek is nie
gebou vir hierdie soort teistering nie.
Ek wag
geduldig op my Habana-vlug en drink ‘n koppie koffie. Hier maak ek die mislikste
kelner ter aarde mee. Bot, ongeskik. Of
soos ons in ons kinderdae gesê het: dom, dik en difficult.
“Wat is jou
probleem?,” vra ek toe hy die koffie voor my neerplak. Waarskynlik moes hy óf
daardie lugsiektesakkie skoongemaak het óf ontdek hoe lelik hy regtig is. Toe
ek ‘n tweede koppie koffie bestel, en hy bly stug, besluit ek: jy sal beslis nie
‘n footjie van my kry nie.
Ek neem my
geld, kyk hom reg in sy reptiel-oog, en laat nada.
Toe is dit die
vlug na Habana met die Lugdiens Mexicana wat voortreflik en professioneel is.
Ons ry deur wolke en wat ‘n heerlike ervaring om so deur die digte wolkekrabbers
te vlieg.
Meteens toe
ons daal, slaan my ore bot toe. My hele somerverkoue is in my ore en ek kan nie
‘n woord hoor nie. Die vierde ellende van die dag dus. Ek spuit Vicks
neussproei, maar dit help nie. Ek is stokdoof. Wanneer ek praat, klink dit soos
Hallo blikstem. Ek nies en proes en
hoes.
Kuba-lughawe
is pragtig met vlae en baie modern. Die buitenste gedeeltes van die stad
herinner aan die buitewyke van Maputo: ou huisies uit die vyftigerjare, maar
hoe nader ‘n mens beweeg aan die kern van die stad, des te meer kom jy onder
die indruk van ‘n geweldige historiese verlede, ou geboue en kultuur. Die
huisies aan die buitewyke is daardie soort wat ‘n mens in Afrika vind: sement
en platdakkies.
My eerste
indrukke is, ag vader, wat het my besiel om hierna toe te kom. Maar dis maar
gewoonlik net die moegheid wat praat en ‘n mens se gevoel van ont-heemding. Jy
word verplaas van een land na ‘n ander en omdat die nuwe stad nog nie onder jou
vel ingekruip het, ervaar jy weersin en wens jy het nooit die reis aangepak
nie. ‘n Paar dae later, wanneer jy iets van die kultuur ervaar en ingedrink
het, voel jy totaal anders. Dan bly ook altyd verlang na iets van daardie stad
wat jy nie onder woorde kan bring nie. Jy assosieer dan so ‘n stad met gestolde
tyd, toe jy weg was van almal en al die daaglikse gesleur. En dit bly jy vir
altyd met jou saamdra. Soos ‘n entmerk.
Die middag wil
ek in die hotel Inglaterra, uiters luuks, ‘n aanhangsel via die internet stuur.
Maar hulle internet-diens kan nie stiffies neem nie. Nou is dit soek na ‘n
internet-diens wat wel oor so ‘n diens beskik. Na ‘n lang gesukkel, vind ek
dit, maar ek vir ‘n driekwartuur moet wag en ‘n komputer uit die ark meemaak:
stadig, vuil, outyds. Hoe bederf is ons nie met vinnige in internetdienste nie!
Daar gaan die
aanhangsel. Dis my rubriek “Wegkomkans”.
Ek moes die internet gebruik, om my rubriek te versend. Besluit liewers
nie weer nie, want die internet hou jou soos ‘n naelstring gekoppel aan jou
mense tuis.
En die hotel?
‘n Pragtige, statige kolonistiese hotel so reg uit ‘n Merchant/Ivory film.
Buite staan ou Chevs en vele modelle uit die vyftigerjare gee aan die stad die
allure van ‘n retro-wêreld.
Voor die hotel
staan ‘n weergawe van hul riksja. Vir $5 neem hy my deur die agterbuurtes van
die stad. Niks beweeg hier vinnig nie. Almal slenter rond. Die mense lyk
gelukkig ten spyte van hul armoede. ‘n Jong meisie staan met krullers in haar
hare. Dit is gemaak van die bruin rol van ‘n toiletrol.
My fiets-taxi
is wonderlik. ‘n Mens maak die stad rustig mee en omdat hy om in klein stegies
kan inbeweeg, sien jy gedeeltes van die stad wat jou andersins onbeskore sou
bly.
‘n Aaklige
ondervinding was daar wel. Ek neem foto’s en soek ‘n plek om die spoel te laat
ontwikkel. ‘n jong Kubaan neem my na die foto-plek. Toe ons wegstap, vra hy: ”Koop
vir my poeiermelk, asseblief. Dis vir my boetie.”
Openbare consensus
ten spyt, is my hartjie klein en kan ek swaarkry en armoede nie verduur nie.
Ek gee geld.
Nee, verduidelik hy: dis net vir toeriste. Ek stap saam na die winkel.
Ondertussen het ‘n jong lat, sy vriend, hom by ons aangesluit.
Toe ek sien
die winkeleienaar pak drie pakke melkpoeier in, strip ek heeltemal.
“Kyk,” seg ek
vir hom,” ek het het een pak in gedagte gehad.”
“Maar wat van
my vriend?,” vra hy so ewe.
“In daardie
geval kry jy niks nie.” Toe ek wegstap, hoor ek hoe my vloek op syn Spaans. “Madre @#*, madre @#*,” gil hy.
Bleek van
woede draai ek om. My Spaans na weke se bandjies is heeltemal knap genoeg om
hierdie frase te vertolk. Bykans iets soos “Jou ma wat hoes.”
Ek vloek hom
terug. In my moedertaal: ”Jou stuk slymsnot uit die sypelende sloep van die
proesende oseaan. Fokof.”
Hulle moet
iets begryp het, want hulle hardloop weg.
Ek koop maar
‘n blikkie Cerveza Cristal, die lekkerste bier uit Kuba, ter troos.
7 Januarie
2004
VII. Kuba
Rumi Tiene
Sabor is ‘n orkes wat elke dag regvoor my hotel musiek maak. Guantanamera, Rico
Vacailon daardie klassieke cha-cha-liedjie…
Vir $10 koop
ek hulle CD waarna ek saans luister op my laptop. Hoe wonderlik lewenslustig is
die musiek nie?
Die groep se
voorsanger is ‘n man uit die Karibbiese eilande, geklee in ‘n groen pak met ‘n
Grace Jones-haarstyl, ‘n wit sonbril. Hy kwinkeleer met die gaste en sing oor
die soet en suur van die liefde.
‘n Pensketser
maak vir $1 van die gaste ‘n sketsie. Ek koop myne; dis die soort geskenk wat
jy vir ‘n eks-geliefde kan stuur, omdat dit jou gelaatstrekke grotesk voorstel.
By voorbaat sien ek al hoe dit land op ‘n veerpyltjie-bord.
Stadsekskursies
is daar vele van. Teen $15 kan jy die stad per bus meemaak. Ek gaan op hierdie
trip, maar wil ook graag die Toer Hemingway meemaak. Jammer, verneem ek, daar
is geen belangstelling nie. As u alleen wil gaan na die museum en huis, die
kroeg waarin hy gedrink het, kan ons dit vir u bespreek teen $100.
Nou luister ek
na “Quizas, Quizas, Quizas” oftewel “Perhaps, Perhaps, Perhaps…”
Die
oerverdriet, melancholie maak van hierdie lied ‘n treffer. Dit was so ‘n jaar
terug die temalied van ‘n Britse sitkom oor die liefde.
Havana begin
onder my vel in te kruip. Die aand eet ek in die Hotel Inglaterra se restaurant
en drink Chileense wyn Vina Maipo, ‘n eersteklas Cabernet Sauvignon. Soos ek
nou sukkel om by Hemingway se huis uit te kom, het ek ook in Santiago gesukkel
om Neruda se huis te sien; totdat ek my eie toer georganiseer het.
Nou is dit my
lewensfilosofie: maak die lewe lekker vir jouself & as jy iets nie kan kry,
omdat ander nie wil meedoen nie, gaan alleen!
So Hemingway
se huis sal ek besoek. Kom wat wil.
Die son skyn steeds oor Kuba.
So begin die Lonely Planet se inleiding oor die land wat geteister is deur die
jare van invalle deur die Amerikaners (ons dink aan die Bay of Pigs onder andere).
Dit word ook as die laaste bastion van die Kommunisme gesien en dit is ‘n
geromantiseerde land wat onder meer deur die Britse teoretikus, Robert Young,
besoek en beskryf is.
Dit is die grootste land in die
Karibbiese eilande en in Wim Wenders se Buena
Vista Social Club sien ons die
armoede, maar ook die lewensvreugde van die mense. ‘n Plek om ‘n sigaar te
rook!
Daar woon ongeveer elf miljoen mense op
110 860 sq m en in die hoofstad, Havana, vertoef 2 200 000 mense. Die inwoners
is 60 persent Spaans, 22 is van gemengde afkoms, 11 persent is van Afrika en 1
persent is Sjinees. Die taal is Spaans.
47 persent van die inwoners is Katoliek,
4 persent Protestant en ongeveer 2 persent is Santería. Die kommunistiese land
se hoof is Fidel Castro.
Suiker, minerale, tabak,landbou en
toerisme is die belangrikste inkomste. Handel word gedryf met Wes-Europa,
Latyns-Amerika, Rusland, Sjina, Iran en Noord-Korea.
Ernest Hemingway, het ‘n lang
verbintenis met Kuba gehad. Sy uiteindelike selfmoord is voorafgegaan met
hewige drinkbuie en flirtasies met die dood. In 1954 was hy onder meer in twee
vliegtuigongelukke, waarvan die tweede so ernstig was dat sy dood in die pers
aangekondig is.
Sy verbintenis met Kuba het tot in 1960
geduur. Sy ondersteuning vir die
rewolusionêre magte het hy openlik bely. Hy het ‘n onrustige lewe gevoer. Hy
het dikwels gereis: na Spanje, na Kuba, na Frankryk. Moveable Feast, 1960 lewer verslag van sy bestaan in Parys waar hy
onder andere bevriend was met Getrude Stein en ander lede van die bekende
kunskoterie. Death in the Afternoon
en The Old Man and the Sea is
waarskynlik sy belangrikste werke volgens my, ofskoon sy hele oeuvre belangrik
is. Sy gestroopte styl en gelade sinne, op die oog af kil, maar onderlangs vol
sub-teks, is sy kenteken.
Hy het vele liefdesverhoudings, huwelike
en flirtasies gehad. Dit was glo John Dos Passos wat op ‘n keer gesê het dat
Hemingway met elke nuwe boek ‘n nuwe vrou moes hê.
Ten spyte van sy macho-beeld was hy in
wese ‘n onseker, onrustige mens wat nooit op een plek kon wees nie. Of in een
verhouding nie. Hy was altyd ‘on the road’, aan die wegvlug. Hierom waarskynlik
sy drankverslawing wat gelei tot opnames in klinieke. Hemingway se wond was in
alle waarskynlikheid die selfmoord van sy vader. En sy oorbeskermde moeder na
wie hy uiters onvleiend as ‘n teef verwys het. Die konflik van sowel macho-man
wees as sensitiewe, gevoelige kunstenaar was waarskynlik die duidelikste rede
vir sy selfmoord.
Hy sou net op ‘n visvanguitstappie
gegaan het vir ‘n paar dae in 1932, maar het uiteindelik ‘n verblyf van vier
maande geword en soos Kelley Dupuis meen, het die koms van ‘n nuwe baba en ‘n
moeilike verhouding met sy vrou, Pauline, vir hierdie wegvlug na Kuba gesorg.
Hier het hy in die Hotel Ambos Mundos
gebly en ‘n verhouding begin met ‘n jong vrou, Jane Mason tot die chagrin van
sy vrou Pauline. In Havana het hy bulgevegte en haangevegte ontdek en verwoed
dacquiris gedrink by die Floridita kroeg. Jane Mason was ‘n kortstondige
flirtasie, want hy begin ‘n verhouding met Martha Gellhorn met wie hy later
trou en na Spanje reis. Martha sou hy na Finca Vigia (die “Uitkyk-plaas”)
terugbring.
In die digkuns van Wallace Stevens is
hierdie dae in Havana ‘n tydperk van dekadensie en Dupuis verwys daarna as
Amerika se bordeel. Tydens die oorlog
het hy sy eie vistreiler van masjiengewere voorsien om die Duitsers wat in die
Golf van Mexiko was te probeer fnuik. Skryf was beslis sy groter talent.
Castro het Hemingway se huis ná sy dood
tot ‘n museum verklaar en die skrywer se naïewe bewondering vir Fidel het die
Amerikaanse regering van die tyd die harnas ingejaag, gegee die vrees vir
Kommunisme.
Sy macho-bestaan en sy voorliefde vir
marlyn-vangs is waarskynlik die allergrootste rede vir sy liefde vir hierdie
land soos dit tot uiting kom in The old
Man and the Sea en Islands
in the Stream. Daar is waarskynlik min skrywers wat so
‘n hartstogtelike verhouding met die see gehad as hierdie skrywer. The old Man and the Sea bly steeds ‘n
enorme letterkundige prestasie. Die oënskynlike ekwilibrium wat ‘n mens in
hierdie teks sien, was egter van korte duur vir die outeur daarvan. For whom the Bell tolls (1940) is die ander tydlose prestasie van ‘n skrywer wat die pols van ‘n
stad, land of seestroom in woorde kon stulp: Parys, Spanje en die Golf van
Mexiko, o.a. Death in the Afternoon
is ‘n persoonlike gunsteling.
In 1954 is hy bekroon met die Nobelprys
vir Letterkunde.
Op Sondag 2 Julie, 1961 het hy homself
doodgeskiet in ‘n klein houthuis in Ketcham, Idaho. Time/Life
het jare gelede ‘n foto van Hemingway gepubliseer ‘n paar dae voor sy dood. Hy
staan voor die houthuis en skop argeloos na ‘n blik…
Bibliografie:
Ernest
Hemingway in Cuba. © Ernest Hemingway, 2013
The Ernest Hemingway Home &
Museum. © 2013 Hemingway Home
Ernest Hemingway. 1923. Three Stories and Ten Poems
(Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1925. In Our Time (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1926. The Torrents of Spring (Roman)
Ernest Hemingway. 1926. The Sun Also Rises (Roman)
Ernest Hemingway. 1927. Men Without Women (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1929. A Farewell to Arms (Roman)
Ernest Hemingway. 1930. The Fifth Column and the First Forty-Nine Stories
(Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1932. Death in the Afternoon (Roman)
Ernest Hemingway. 1933. Winner take Nothing (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1935. Green Hills of Africa (Roman)
Ernest Hemingway. 1937. To Have and Have Not (Roman)
Ernest Hemingway. 1940. For Whom the Bell Tolls (Roman))
Ernest Hemingway. 1942. Men at War (Bloemlesing)
Ernest Hemingway. 1950. Across the River and into the Trees
(Roman)
Ernest Hemingway. 1952. The Old Man and the Sea (Roman)
En Postuum:
Ernest Hemingway. 1962. The Wild Years (Versameling)
Ernest Hemingway. 1964. A Moveable Feast (Roman)
Ernest Hemingway. 1967. By-Lines (Joernalistieke verslae)
Ernest Hemingway. 1970. Islands in the Stream (Roman)
Ernest Hemingway. 1972. The Nick Adams Stories
Ernest Hemingway. 1979. 88 Poems
Ernest Hemingway. 1981. Selected Letters
VIII. Kuba
By geleentheid skryf Wallace Stevens: ”Life
is an affair of people not of places. But for me life is an affair of places
and that is the trouble”.
Hy is ‘n
belangrike digter wat dikwels vergelyk word met T.S. Eliot. Sy gedigte
beskryf dikwels ‘n winterlandskap en by geleentheid het hy in ‘n brief geskryf
aan sy uitgewer dat ‘n digter net in die winter werklik kan dig. Maar dit is
ook so dat daar verskeie verse te vind is in sy oeuvre wat handel oor die son
en die eksotika van veral Kuba en Mexiko.
Die kritikus Peter L. McNamara verwys na
die “shrewd insight into sensuous reality” in hierdie digterskap. Stevens was
nie ‘n groot reisiger nie en as ‘n mens sy briewe lees, dan is dit duidelik dat
hy vir kort periodes na Florida, Havana en na Kalifornië gereis het via die
Panama Kanaal. Maar hy geweldig baie gelees oor vreemde lande en in ‘n brief
aan ‘n vriendin in Frankryk skryf hy dan ook dat hy oorleef op poskaarte uit
Europa! (aldus George S. Lensing).
José Rodríguez Feo, ‘n Kubaan het aan
Harvard studeer waar Stevens ook ‘n student was en in 1944 versoek hy Stevens
om sy beroemde vers “Esthétique du Mal” te vertaal vir die tydskrif Origenes. So is Stevens dan bekend gestel aan die
Kubane en uit hierdie vriendskap met Feo het die digter ook heelwat te wete
gekom oor die kuns en letterkunde van Kuba. Stevens het geweldig belang gestel
in kuns en vele van sy gedigte handel dan oor beroemde skilders se werke.
Veral die sketse van Mariano word aan
die digter bekend gestel en die daaglikse bestaan vorm ook deel van hul
korrespondensie, soveel so dat Stevens ook groete stuur vir Feo se moeder en
haar burro, Pompilio! Trouens, een van die briewe van Feo aan Stevens word
later ‘n gedig: dit handel oor die moeder wat die seun waarsku om nie in die
koue Parys te bly nie, maar terug te keer. Die gedig heet “The novel”.
Call the roller of big cigars,
the muscular one, and bid him whip
in kitchen cups concupiscent curds.
Let the wenches dawdle in such dress
as they are used to wear, and let the
boys
bring flowers in last month’s
newspapers.
(“The Emperor of Ice-Cream”).
Nie alleen het Wallace Stevens letterlik
na Kuba gereis nie, maar ook sy gedigte het na hierdie land gereis. Wim Wenders
het in sy lieflike film, The Buena Vista
Social Club die musiek van hierdie land opgevang en ‘n gelyknamige
restaurant in Groenpunt is ‘n plek waar ‘n mens iets van ‘n tweedehandse Kuba
kan ervaar: sigaar in die hand. Hier het ek al met Daniel Hugo gesels asof ons
in Kuba is.
Maar wat behels Kuba?
“Is daar ‘n werklike Kuba of is dit
alles voorstellings wat ons iewers gelees het en wat net lewend gehou word vir
toeriste?”, vra ‘n siniese Duitser my op die stoep van die Inglaterra hotel
terwyl ons saam instrumente bespeel met die Jamaikaanse band.
Nee, Kuba bestaan, verduidelik ek vir
hom. Dis wat ek oor hierdie land gelees het en die bruisende energie het
skrywers soos Wallace Stevens en Hemingway aangetrek. Toe Hemingway die
Nobelprys gewen het, het hy immers opgemerk dat die prys eintlik Kuba toekom,
nie hom nie.
Ek besoek die Hotel waar hy tuis gegaan
het, die kroeg waar hy gedrink het en neem foto’s van o.a. Bodeguita del Medeo
waar hy ook was.
Die Duitser voel steeds Havana is dood.
Jy weet nie waarvan jy praat nie, dink
ek. Die bruisende energie is tasbaar. Dit is soos ‘n aansteeklike siekte.
Die Ambos Mundos Hotel is ‘n museum in
die kleine vir Hemingway. Sy bed, sy tikmasjien, sy lessenaar en ander
memorabilia is alles daar te vinde. Teen ‘n skamele $2 sien jy sy kamer met die
asembenemende uitsig oor oor die see.
Die gids weet te vertelle dat sy
handskrif skeef en afwaarts geloop het weens sy depressie.
En so dig Pablo Neruda oor Kuba:
Nou is dit Kuba
Toe was daar bloed en as.
Binekort sal die palms alleen wees.
Kuba, my geliefde, hulle het jou op die
rak geplaas.
jou gesig gesny,
jou bene van vaalgoud oopgedruk,
jou rooi granaatkont saamgepers,
jou met messe gesteek,
jou aan stukke geruk, jou verbrand.
Deur die valleie van soetheid
het die moordenaars beweeg.
Op hoë berge was die kroon
van jou kinders verlore in die mis,
maar hulle is oorval,
deur die dood,
een vir een,
stukkend geruk in ellende,
weggeruk uit die oorvloedige land van
blomme,
onder die sole van hul voortvlugtende
voete.
Kuba, my geliefde, wat ‘n oorweldigende
vrees
het jou geruk van skuim tot skuim,
totdat jy gesuiwer word,
in alleenheid, stilte, dig groei,
terwyl die krappe veg
om die klein gebeentes van jou kinders.
Ek moet Stevens gelyk gee: die grootste
verhoudings is met stede…
Bibliografie:
McNamara, Peter, L. 1972. Critics on Wallace Stevens. Florida: University of Miami Press. (Hierin opgeneem: George S.
Lensing:”Stevens’ Letters of Rock and Water”.)
Neruda, Pablo (vertaal: Jack Schmitt).
1991. Canto General. Berkeley: University of California
Press.
Stevens, Holly (red.). 1954. Letters of Wallace Stevens. New York: Alfred A. Knopf.
Stevens, Wallace. 1954/1990. Collected Poems. Londen: Faber &
Faber.
IX. Kuba
So beleef ek die twee aand na my aankoms
in Havana een van hul beroemde storms
oftewel “hurricanes”. Dit reën verwoed en net so skielik as wat dit begin het,
net so gou is hierdie storm oor.
Hierdie somer- of winterstorms kan huise
platvee en dakke verwoes. Ek kyk deur die hortjies van my Merchant/Ivory-hotel
na die storm. Aanskoulik soos enige natuurverskynsel wat ‘n bietjie kan hande uitruk.
Kuba lyk glo soos ‘n krokodil, aldus die
digter Nicolás Guillén en die ou Cadillacs en Chevs wat deur die strate kruie,
lyk soos haaie.
Hoekom hierdie ou motors wat ‘n mens nie
meer elders te sien kry nie? Tydens die petrolskaarste mog gewone mense nie
motors besit nie. So as jy reeds ‘n kar gehad het, moes jy dit mooi oppas. Dus
‘n boer maak ‘n plan. Met allerlei blink planne is ander motors se onderdele
gebruik om die motors aan die gang te hou. Fietse is ook ‘n gewilde manier van beweging.
Soos ook die riksja-fietse waarmee jy deur die agterbuurtes kan kronkel. Party
mense meen hulle ry ook in Chevvies om Ché te huldig.
Ek het egter my een oggend vasgeloop met
‘n jong outjie wat telkens van die fiets afklim, en fluister: ”Policia!”. Dan
ry hy weer in die teenoorgestelde rigting, en fluister: ”Policia.”
Maar ons bly in sirkels beweeg in die
labirint van Havana se agterbuurtes. A, besef ek. Hy wil my laat koers verloor
en dan gaan hy my beroof. Maar Ariadne Hambidge verloor nie sommer haar draad
nie. Ek is ‘n deurwinterde reisiger, ek ken al die ou trieks in die boek (het
‘paar selfs uitgedink), en hy sal moet vroeg opstaan om my uit te vang.
Toe hy dus vir die vierde keer van koers
verander, spring ek adret af soos wat Hestrie
Cloete my nie sou kon nadoen nie.
Ek gee hom sy $5 en beweeg vinnig weg.
Ek dra nie verniet ‘n krokodilkenteken op my bors nie, Ouboet.
Toe is ek gelukkig naby Hemingway se
beroemde bar. El Floridita. In die hoek staan ‘n lewensgrote beeld van Ernest
waar hy hang oor die kroeg. Voor hom ‘n glas – altyd gevul -, ‘n boek en sy
bril. Ek vra ‘n toeris om ‘n foto van my en die groot skrywer te neem. Ek en
Hemingway gesels alte lekker oor Graham Greene se Our Man in Havana, die digkuns van Wallace Stevens en waarom
skrywers deur die jare graag hierheen gekom het. Dat daar iets hier onderlangs
aan die beweeg is waarop ‘n mens nie die vinger kan lê nie.
“Ernest,” seg ek, “het jy geweet Italo
Calvino is hier gebore?”
“Kyk, ek is ‘n ‘man’s man’. Daardie tipe
van boeke wat hy skryf, staan my nie aan nie. If on a winter’s night a traveller. Klomp bogtery. Hy kan nie skryf
nie. Skryf moet woeker met die primordiale. Met die mens teen die natuur. The old man and the sea is my beste
poging in hierdie verband. Dit gaan oor die mens se dieper drifte. Die see.
Dink jy Calvino met sy fyn handjies sal ooit ‘n marlyn kan uitpluk?”
“Maar daar is tog verskillende maniere
van skryf, Ernst?”
“Nee wat. Party skrywers mors hulle tyd.
As jy nie skryf met alles binne-in jou nie, moet jy dit eerder los. Moby Dick is ‘n groot boek. Kyk, ek
staan elke oggend vroeg op. Skryf. Smiddae drink ek met my vriende tot laataand.
Daar kry ek idees vir my stories en die volgende oggend is ek weer op die been.
Jy moet lewe om te kan skryf. Ek dink skrywers wat net in hulle studeerkamers
bly, moet liewers skryf los. Ek sit alles in my boeke. My hele lewe. Dis hoekom
my vrouens ook nie lank kan uithou nie. Hulle kan nie my onrus en obsessie
verduur nie.”
“Nog ‘n dop, Ernest?”
“Dankie. My dop bly altyd vol. Ek het ‘n
rekening-in-die-ewigheid hier.”
Toe ek buite kom, staan daar ‘n
bedelaar. Saggies en lief vra hy vir geld. Ek knik nee en die voorspelbare
gebeur. Hy beswadder my. Tipiese van die Kubane.
“Gaan vra vir Ernest Hemingway
geld,”snou ek hom toe.
“Ernest, he dead.”
Ek weet jou swaap.
19 Januarie
2004
X. Kuba
Dis my sesde dag in krokodilland en ek begin die stad soos die palm van hand te ken. Daar is drie gedeeltes, te wete die sentrale gedeelte waar die pragtige Capitolio te siene is, ‘n replika van Washington DC se Capitol. Die twee bronsbeelde is gemaak deur die Italiaanse beeldhouer, Angelo Zanelli.
Die bekoorlike Habana Vieja, oftewel,
die ou gedeelte van Havana is waar jy die gewone mense sien leef. Dis hier waar
‘n mens die werklike polsslag van die stad kan voel: dit wat buite die gewone
toeris se oog lê. Ofskoon die mense baie arm is, die leefwyse oer-eenvoudig
lyk, blyk hulle gelukkig te wees. Hulle praat net ontsettend hard. Gereeld moet
‘n mens in die hotel, of waarookal, jou ore toedruk oor ‘n gesprek wat verby
toelaatbare desibels dreun. Ek neem wel die mooiste foto’s van die onbekende
Havana, dit wat nie in glansboeke geregistreer word nie. Daar is baie jong
kinders: hulle is goed versorg en dit is duidelik dat die ouers omgee vir
hulle.
Skole en universiteite is gratis en
omdat dit die 45 jaar na die rewolusie is, is alle kinders vandag op straat. In
hulle netjiese skooluniforms wag hulle om die generaal in te wag. Dis ‘n dag
van feesvieringe. Die laerskoolkinders in hul rooi uniforms en die
hoërskoolkinders in geel geklee.
Gaan Fidel Castro opdaag?, vra ek die
reisgids. Dit blyk dat hy ‘n afgevaardigde stuur, omdat hy nie gesond is nie.
Maar dit woel op die strate. Ook die ikoon Ché Guevara word orals opgemerk: op
T-hemde en sy gesig is ook op ‘n rewolusie-gebou afgeëts. In eetplekke is daar
vele foto’s van Fidel Castro met ‘n sigaar.
En ook vele foto’s van Hemingway en
selfs ‘n handtekening van Pablo Neruda teen die muur van La Bodeguita del
Medio.
Die westerse gedeelte van die stad heet
Vedado en Plaza.
Die Castilli del Morro, oftewel die stad
se vuurtoring, kan veral van verskillende gedeeltes van die stad gesien word.
Die see slaan dikwels oor die muurtjies, terwyl mense wandel, eintlik
rondslenter.
Wees gewaarsku: moenie kos op straat
koop of van die water uit die krane drink nie. Dit is egter waar van elke stad
op aarde: oppas vir die water as jy ‘n vreemdeling is. Die kos by die mark lyk
nogal vars. Ek waag dit selfs om seekos te eet in die hotel se dakrestaurant en
hoewel ek nog nooit hoog opgegee het oor kreef nie, is hierdie seekos-bord
heerlik! Die vis, garnale en kreef is vars. Ek is gelukkig so geneus, dat ek ‘n
bord kos wat ‘af’ is kan raak ruik soos ‘n narwal ‘n skool vissies.
Die argitektuur van Havana is om van te
swymel. In hierdie verband is die Palacio de los Capitanes Generales ‘n
voorbeeld van agtiende eeuse Barokkuns en beeldhouers soos Gaggini en
Tagliafichi het hier ‘n hand bygesit. Dis waarskynlik wat ‘n mens die meeste
tref, net soos ‘n besoek aan Maputo: iewers, lank lank gelede, was hier ‘n
ander lewe, ‘n ou koloniale bestaan waarvan ‘n mens nou net die vingerafdrukke
en oorblyfsels sien.
Daar is wel duidelike tekens van
restourasie. Geboue word gesloop, mure word geverf. Dit is juis die kreoolse
invloede: die ontmoeting van verskillende kulture en gelowe wat van Havana so
‘n bruisende stad maak.
Necropolis Colón heet die stadsbegraafplaas
waar vele beroemdes begrawe is.
Boonop is ek bevoorreg om in een van die
bakens van die stad tuis te gaan: Die Hotel Inglaterra, ‘n ou statige
vierster-hotel ($100 per nag). Die invloed is Moors en in die foyer vind ‘n
mens Andalusiese mosaïek en hulle weet te vertel dat daar op een van die pilare
in die restaurant geskryf staan: “Alleenlik Allah is die oorwinnaar”. Die hotel
is in 1875 opgerig. Bekende intellektuele soos Martí het hier sy toesprake teen
Spanje gehou en die aktrise Sarah Bernhardt en die Russiese ballerina Anna
Pavlova het ook hier tuisgegaan.
Dis ‘n spoggerige hotel met ‘n mudéjar
of Moorse gevoel. My kamer (nommer 205) kyk uit op die besige stadsplein en as
jy ‘n nappie vang in die middae, word jy laatmiddag wakker gemaak deur ‘n
oempa-band of een van die Afro-Kubaanse
musiekmakers wat daagliks op die stoep speel, hulle CD’s verkwansel en ‘n
wonderlike ambience skep.
In jou kamer is ‘n TV, jy kan ook die
hotel se internet gebruik en soggens ‘n wonderlike ontbyt nuttig met
plaatkoekies. Ook vars vrugte is hier verkrygbaar: altyd noodsaaklik vir die reisiger, glo my. My
stad is ‘n bekende baken en laatmiddag verken ek die ouer gedeelte van die
stad. ‘n Jong man, ook ‘n riksja-man, verduidelik vir my dat die polisie hulle
vastrek as hulle toeriste vervoer. Vergewe my dus, vorige riksja-man, dat ek
jou daarvan verdink het dat jy my wou beroof!
Later die dag sien ek hom en hy wuif
vriendelik vir my. O vergewe my my nare gedagtes!
Elke dag wandel ek deur die stap en neem
veral foto’s van jong kinders: omdat kinders tussen 3 en 5, wat my betref, die
mooiste verteenwoordig van die menslike ras. Drie kleuters sit op ‘n stoep: een
met ‘n drommetjie sit langs twee dogtertjies.
“Mag ek ‘n foto van julle neem?”, vra ek
op fletserige Spaans.
“Ja, seker!” En hulle lag alte fraai in die
kamera in, totaal onbewus van die armoede en swaarkry wat op hulle wag. En my
hart is sommer baie seer. Maar wat, dink ek later. Hulle maak nie van armoede
iets lelik nie, soos ‘n karakter in Antjie Krog se A change of tongue opmerk dat mense in Afrika armoede ver-lelik.
So daar is tog hoop.
“Gracias, nino, ninas!”, seg ek. Hulle
wuif terug. Hulle is nog nie deur die gemeenskap aangetas nie. Hulle kyk nog
onbevange na die lewe, die derdeoog nog oop.
10 Januarie
2004
XI. Kuba
“Hoe lyk dit met ‘n pub crawl deur
Havana?”, vra ‘n nuwe vriend op die voorstoep van die Inglaterra.
Maar alte graag!
Ons begin by die El Floridite waar
Hemingway die daquiri beroemd gemaak het. Rum, suiker, suurlemoen en ‘n paar
druppels maraschino op ys.
In die dertigerjare het die kroegman,
Constante, met die hulp van Hemingway, hierdie drankie beroemd gemaak. (Dit
proe baie soos die caipirinhia wat op sy beurt ‘n mengsel van rum en suiker is
en wat die alkohol weens die suiker daarin per spoedpos na jou bloed versend.)
Constante, oftewel, Constantino Ribalaigua, het die mite van die ‘cradle van
die daquiri’ geskep en vele besoekers tros vandag na die kroeg om Hemingway se
beeld te sien, ontwerp deur Fernando Boada. Ek het nogal geskrik toe ek die
beeld die eerste keer sien: sweer dit lyk nes vriend Jurie Wessels!
La Bodeguito del Medio is ook ‘n goeie
roep vir ‘n drink, behalwe dat almal die plek wil besoek om die beroemdes se
handtekeninge teen die muur te sien: Nat King Cole, George Benson, Jane Fonda…
“Waar is Neruda se handtekening?”, vra
ek. Maar daar is soveel handtekeninge dat ‘n mens vir die eerste keer die woord
“palimpses” reg vertolk. Ek weet ek dit die vorige keer gesien, maar waar is
dit nou?
Palimpses, nee eerder impedimento.
Daar is verskillende soorte Kubaanse
rum: Carta blanca (driejaar oud), Carta oro (vyfjaar oud), Ańejo (sewejaar oud).
Veral Havana Club is nogal uiters gewild
en aan te bevole: veral as jy die rum met ys drink. Ek het in die Amasone kennis
gemaak met die vreugde van die caipirinhia en die “chase” wat dit to gevolg
het.
En die hotel waar ek tuisgaan, die
Inglaterra, het van die beste Franse, Spaanse, Chileense en Kubaanse wyn. Dus
beur ons terug soheentoe. Die Kubaanse huiswyn is wonderlik. Dis lig, sonder om
suur of blikkerig te proe, soos wat dikwels die geval is met goedkoop wyn. Vra
my, want ek is ‘n voorste wynsnob: my huiswyn is Beyerskloof Pinotage en daar
is niks, maar niks wat by Zandvliet Shiraz kom nie, dankie.
So hier in die hotel stop die
kroegkruip. Ons wikkel deur verskillende oesjare en die Chilene kry wat my
betref die eerste, tweede en derde plek met ‘n Cabernet en Merlot.
Hoe dan anders met ‘n land wat Neruda
opgelewer het!
Vir my nuutgevonde vriend, ‘n Duitser,
maak ek bittergou bewus van die feit dat Suid-Afrikaanse wyne besonder goed is.
En dit is nie ‘n soort nasionalisme wat nou na vore kom in die vreemde nie,
maar die keiharde feite. Ons wyne is prima. Met so ‘n aand waar ‘n mens
ruimskoots en gul en sonder brieke proe en bestel en smul, kan jy vergelyk en beoordeel.
My Duitse vriend, Dirk, is ‘n didactus
educatus. Effens irriterend-beterweterig, maar groot pret as dit kom by die
smul aan die wyn en teug aan die Havana-sigare. Boonop weet hy waarvan ek
praat: hy het onse wyne al meegemaak op ‘n besigheidsbesoek aldaar en probeer
verbete om homself in Kaapstad of Johannesburg te vestig.
Ons drink en proe aan die beste wyne en
bepunt hulle, soos ‘n bekende literator graag gesê het.
Die lewe is volgens my te kort om slegte
wyn of slegte koffie te drink. Of met lelike vrouens te lanterfanter. That’s
me, baby.
In die hoek van die hotel is ‘n ou dame
besig om klavier te speel, terwyl die gaste smul aan hul kos. Die kos is
smaaklik en sonder fieterjasies. Die porsies is groot. My dis is gebraaide
hoender (pollo) op sampioene. Aartappels en kool as bygeregte, met die ewige
Kubaanse rys wat orals opduik. Dirk eet gestoomde vis wat bottersag is met
groente wat nie doodgekook is nie. So word die vitamines en smaak behou, dankie.
Ons elkeen se rekening is ‘n billike $20 vir lekker eet en drink. (Ons
proewerasies, uitgesluit. Ek is bang my moeder lees hierdie rubriek.)
Ag, en daar in die hoek tokkel sy my
hele liefdessmart uit: van “Over the rainbow” tot “Somewhere my love” tot
uittreksels uit “The merry widow”.
Vir ‘n oomblik is ek Judy Garland, dan
Julie Christie as Lara…en verbeel my ek is Onse Mimi wat saamneurie aan die
Vilja-lied.
Og, in my teerder jeug sou ek ‘n vers oor
hierdie toeval gemaak het. Nou dink ek net: mag dit goedgaan met almal wat eens
deel was van my lewe! Ek is nou die ‘merry widow’ al het ‘n ou taxi-bestuurder
gister vir my gevra of die oom nie dalk ‘n taxi wil hê nie.
Nee dankie, tannieoom stap sommer deur
die strate, want dit is “a long, long way to Carol OK.”
Wat ‘n wonderlike eiland is dit nie!
Salut!
Bibliografie:
Eyewitness Travel Guide: Cuba. 2002. Londen: Penguin.
10 Januarie
2004
XII. Kuba
Waar ego is,
sal id wees, het Sigmund Freud opgemerk. Jacques Lacan het weer gemeen dat die
onbewuste daardie plek in jouself is waar jy dink jy nie is nie, maar juis is.
En dis so met
reis. Reis is een van die mees verregaande beproewinge wat die menslike psige
kan deurmaak. Dit ont-wortel jou, dit ontheem jou, maar vreemd genoeg bring dit
jou juis die naaste terug aan dit wat jy sopas verlaat het. Jy kry perspektief.
Jy kyk terug en skielik verstaan jy alles omtrent die lewe wat jy agter jou op
slot geplaas het. Jy kyk met helderheid na jou vriende, jou verbintenisse, jou
verhoudings.
Jy word gestroop
van al jou illusies. Jy droom geweldig. Jou onbewuste maak oop en jy beleef
etlike slipperasies van en uit die onbewuste.
Terselfdertyd
is jy aan die beweeg in ‘n nuwe ruimte. Jy neem in, meer as wat jy besef.
Dikwels kan dit jou op ‘n subliminale vlak steur. Jy kan siek word (fisies),
maar die ergste siekte is die psige wat in stukke opbreek.
Aan die begin
van jou reis is jou klere netjies. Soos wat jy verder beweeg – al laat was jy
jou klere in die hotel - begin jy
uitrafel. Jy kan ‘n reisiger op ‘n afstand herken. Die klere is effe
verkreukel. Die skoene vuil(erig), die
aura beklodder.
Jy sien meer
as dit wat in die toeristiese gidse uitgestippel word. Jy tel die ‘vibes’ van
‘n stad op. Toe ek in Rusland was in 1991 – net voor die putsch – kon ek die
naderende omwenteling aanvoel in die mense se optrede.
Es ist in der
Luft, soos die Duitsers seg.
In Kuba voel
‘n mens die gelatenheid van gewone mense.
“As hierdie
mense in opstand kom en die sisteem stort in duie, is ek bevrees die drug lords
van Miami mag inbeweeg, sal die hele ambience van Kuba verander,” meen ‘n
Britse toeris. “Vir nou is alles nog goed en aanvaarbaar. Maar dit kan en gaan
nie vir ewig duur nie. Dan sal mense meer wil hê, meer wil beleef.”
Jy word ook
bewus van hoe duur alles is. Die grypsug van restaurante en toeristiese
attraksies is oorweldigend. Almal staan bakhand. Met dollartekens oor die oë
soos in ‘n komiekstrip. Sit jy op ‘n stoep en luister na musiek, staan daar
skielik ‘n bedelaar neffens jou. Bakhandjie. Gee jy niks, word jy uitgeskel.
Sondagmiddag –
twee weke op reis – en ek is poegaai. Vanmiddag gaan ek inslaap soos die ou
mense sê en ‘n bietjie uitrus. My stukke optel. Die Sondag-melancholie, waar jy
ookal op aarde is, trap in jou spoor
soos daardie hond in Van Wyk Louw se gedig.
Half-vyf skrik
ek wakker en stap na die Floridita. Die spyskaart van die kroeg-cum-restaurant
is rondom Hemingway gekonstrueer.
“Papa and Mary” is kreef en kalfsvleis (gemeng) en die sogenaamde “Giant Hemingway Plate” is duur seekosse op een bord. Vleis en vis, soos Hemingway dit opgesmul het, is al die disse hier. Maar teen uitspattige duur pryse, terwyl jy weet nie een kelner het waarskynlik eens ‘n boek van Ernest gelees nie.
Jy word vir
die spreekwoordelike rit hier geneem. Twee bier en een daicguiri (daardie
rum-drankie) jaag jou $15 uit die sak. Alles is presies tweekeer duurder hier,
omdat dit rondom die mite van Ernest Hemingway gebou is. Jy kan byvoorbaat sien
hoe skrams die paella (teen $15) sal wees. In
die Inglaterra kan jy presies vir die helfte van hierdie prys eet en
drink.
‘n Vegetariese
J.M. Coetzee-restaurant in Kaapstad? Of
‘n steakhouse vernoem na Alexander Strachan?
Nee wat,
uiteet en smulpapery is wonderlik, maar nie teen buitensporige pryse nie. Ek
het my al vantevore in my lewe so laat inloop met ‘n naam ( “o name, o
versugtinge”). Maar net langs die Hemingway-kroeg is ‘n Italiaanse restaurant.
Ek drink ‘n Spaanse wyn (René Barbier van 1997, Penedès) teen $12. Die kos is
wonderlik. Die ambience hartlik, sonder om opdringerig te wees.
Teen die muur
hang daar afdrukke van Rome. Rome in Kuba?
My genotvolle
ete word bruusk onderbreek deur die eens galante eienaar.
“Jy het nog
tien minute, dan moet jy vertrek.” Dit
terwyl ek nog smul aan my Barbier van Seville? En dis nie asof daar ‘n tou
mense buite wag nie. Daar is twee tafels leeg.
“Mag ek my wyn
klaardrink?”, vra ek sarkasties. Ek reken af, betaal die duur rekening, maar
laat geen fooi. Oh hell has no fury as a traveller scorned..
“Meneer,” roep
ek,”jou footjie.”
Hy stap gulsig
nader, neem die bruin rekening-boekie.
Binne-in staan
‘n nota. Net vir hom gekomponeer.
“Jy het sopas
my ete bederf. Ek sal beslis nie weer kom nie. Jy bewys net wat ek reeds weet
van Kuba: julle is geldhonger.”
Hy bloos
wynrooi.
“U het my
verkeerd verstaan. Ek het net bedoel u sit al twee ure hier.”
Ek verlaat sy
restaurant. Spoeg ‘n heksewens op hom en sy restaurant uit.
En onthou:
jare gelede sit ek en Henning Pieterse in Pretoria in ‘n restaurant met ‘n
vriend. Die bestuurderes maak ons stil: julle steur die ander gaste. Daar is
een ander tafel. Steur?, vra ons.
“Dis ‘n grand
plek hierdie,” teef sy. “Jy lag te hard, mevrou,”mor sy.
Nou as jy my
teen ‘n dak wil laat uitklim, noem my mevrou. Of erger nog, vrou. (Wat my ook laat
onthou: jare gelede spreek ‘n kelner my as ‘sir’ aan omdat hy my van agter
aanskou. Die hele aand, tot groot hilariteit het ek plegstatig elke versoek met
“sir” begin.)
“Ag nou ja,
dan gaan ons maar na ‘n ander plek,” retorteer my vriend,” Ek kan sien hoe
besig julle is.” Ons verlaat die plek, ietwat in die wiek geskiet. ‘n Paar
maande later verneem ons die plek moes toemaak.
Nou ja,
Tropicana (wat ‘n naam!): mag die Tiber deur jou sakke vloei.
Nee Oom
Siggie, waar reisigers beweeg, daar is geld.
12 Januarie
2004
XIII. Kuba
Hoe lyk die
landskap rondom Havana?
Ek bespreek ‘n
dagreis om sowat vir drie ure buite Havana te beweeg. Dis ‘n aanskoulike reis.
Waar die stad Havana, neffens die see, ‘n ou kolonistiese wêreld verraai, is
die leefwyse op die platteland eenvoudiger. Daar was indertyd swier in Havana,
die weet ‘n mens. Jy kan dit op die geboue sien.
Buite Havana
lyk soos Magoebaskloof en Mosambiek: welig, geil, tropies. Piesangbome, mango’s,
tabak en geil plantasies groei ongebreideld. Ons sien die mees aanskoulike berg
vol stalagtiete. Gedagtig aan my jeug in die Kango-grotte, wys ek die
grot-uitstappie van die hand. Julle kan my later optel, verduidelik ek. My keel
trek sommer by voorbaat toe.
Voor die grot
is daar teater: twee Indiane (uit Venezuela) speel vir ons hul lewe voor ‘n
tentjie uit. Die jong man met ‘n voorskootjie blaas ‘n lied uit sodat hoor en
sien vergaan.
Habana is ‘n
Indiaanse woord, verduidelik ons gids. Hulle stap die grot binne, ek draai om.
Goddank vir Hewlett Packard se OmniBook
Xe3 waarop ek kan skryf. Sê nou net hulle vergeet van my en ek moet hier
agterbly? In my geestesoog sien ek hoe ek deel word van die teater, ‘n
latter-day Pocahontas!
My reisgenote is Spaans en Italiaans. Die gids verduidelik ter wille van my alles op Duits. Ek raak bevriend met twee Taljaners uit Milaan en ons gooi die tale rond. Bietjie Duits, bietjie Italiaans, ‘n skeutjie Spaans en geniet die dag saam. By Vinales kan jy teen $1 op ‘n torro of bul ry. Nicoletta uit Milaan laat nie op haar wag nie, sy is dadelik op die bul se rug. Iewers weet sosiologie-teoretici te vertel dat mense wat saamhoort mekaar in sulke situasies opsoek en dan as’t ware saam groepeer. Ek dink daar is ‘n studie o.a. oor die metro in Parys gedoen en hoe mense nie-toevallig later begin gesels, verbintenisse skep, ensomeer. Dus, is die Taljaners my reisgenote vir die dag. Die ander suur Spanjaarde groepeer weer saam en ons reisgids vir die dag vreet baie van ons op.
Ons eet eg
Kubaans by ‘n rotskildery buite Vinales – glo met ‘n luidspreker het ‘n
kunstenaar hier vir sy handlangers opdragte geskreeu! – en die kos is
wonderlik. Rou kool en tamatie as die voorgereg (met olyfolie en asyn); dan
bone met die heerlikste beesvleis en patats. Daarna ‘n sjokolade-poeding en espresso.
Dis eenvoudige kos, waarvoor Nicoletta haar neus optrek.
“Die kos is te
swaar hier,” meen sy.
Ek, self ‘n
neusoptrekker, vind dit egter belangrik om ‘n egte Kubaanse maaltyd op die
platteland te eet.
Dis weer sulke
tyd: “Guantanamera” word getokkel op die snare en ek moet bely: ek het nou al
soveel weergawes van hierdie lied gehoor, dat dit bykans my Kubaanse volkslied
geword het. Al hierdie liedjies neem my terug na my jeug. My ouers moet een
aand gaan dans in ‘n hotel. Dis ‘n werksfunksie. My moeder het ‘n mooi aandrok
aan en my vader boek ons in die hotel in. Ons vier kinders mag gebruik maak van
“room service” met die streng opdrag: niemand mag die kamer verlaat nie. My
ouer suster en die een jonger speel kaart. Die babasus slaap in haar dra-bedjie.
En ek? Nadat ek die kelners hot en haar rondgejaag het en lekkers en coke
bestel het, hoor ek die wonderlike musiek. Nee, besluit ek. Ek wil sien hoe
hulle dans. Onder in die lounge dans die grootmense. Op “Gauntanamera” en ‘n
cha-cha. Ek druk my handjie – ek is in standerd twee – deur die half-oop deur.
Betower is ek deur die dansende mense. Skielik vat ‘n hand aan myne. Dis my
moeder.
Sy neem my
terug kamer toe.
“Hoe het mamma
geweet dit was ek?”
Sy lag. “Nee
ek het geweet dit was jy. ‘n Ma weet sulke dinge.” Sy is gelukkig nie kwaad
nie.
En dis waar
alles begin: die avonturier, die soeker na iets buite die gewone…
Ons doen ook
aan by Pinar del Rio om ‘n sigaarfabriek te besoek en rum te koop.
Die grootste
illusie wat reis verpletter, is dat ons in die oomblik leef. Nee, ons leef in
die verlede of toekoms, of word deur herinneringe oorval van ander tye, genadig
en ongenadig. Hierdie dagreis neem my terug na Mosambiek en my reise aldaar.
Dis ook ‘n retro-leefwyse, met ou geboue wat bykans in die tyd gestol is. Die
Portugese/Spaanse leefwyse word gesinkopeer met ‘n Afrika/Kubaanse uitkyk en
die eindresultaat is boeiend en opwindend.
Sulke
primordiale landskappe roer altyd iets primordiaals in my: ek het Lykdigte in
Mocambique geskryf. En daar broei ook dinge uit hier in Kuba.
Iets het
verlore gegaan; iets het behoue gebly in Kuba.
12 Januarie
2004
XIV.
Die besoek aan
kunsgalerye is altyd ‘n waardevolle representasie van die stad of land se gees.
Behalwe dat ‘n mens in Kuba waarskynlik die hele stad tot ‘n museum sou kon
verklaar. Van my hotel, die Inglaterra, ‘n ou Spaans-kolonistiese gebou tot en
met die geboue in die strate, is ‘n mens bewus van die kulturele erfenis.
Die “Museo
Nacional de Belles Artes” gee ‘n aanskoulike uitbeelding van ou koloniale kuns
en moderne, selfs avant-garde uitinge. Teen ‘n skamele $5 kan jy hier vir ‘n
hele dag stap en kyk na wat die Kubane bygedra het tot moderne en pre-moderne
kuns.
Dis ‘n baie
aktiewe en intelligente antwoord op die diskoerse in moderne kuns. In die
moderne saal vind die kyker veral politieke reaksies – Ché is natuurlik ‘n
groot ikoon – en selfs gesprekke met naiewe en pop-kuns. Warhol en sy navolgers
is hier.
Vir my is een
van die interessantste skilderye ‘n beeld van ‘n skoonmaker wat besig is om ‘n
vloer te vee. In sy hand hou hy ‘n besem en dan ondertoe is daar ‘n regte mop!
Asof die kunswerk ‘n inspraak op die lewe wil maak. Die Christus-figuur word
dikwels gedekonstrueer: ‘n beeld van Christus met messe in en drugs om hom
uitgestal, gee ‘n nuwe blik op hierdie vraagstuk. Dis nie ‘n siniese beeld nie;
eerder metafisies in die soeke na ‘n werklike antwoord.
In hierdie
museum vind die kyker werke vanaf die 17e tot en met die 21e eeu! Groot name soos Wifredo Lam en Augustin
Cárdenas is hier te siene. Ook Leopoldo Romanach is hier op uitstalling, nes
die werk van die grensbrekende feminis Amelia Peláez met haar verstommende
fusie van Kubisme en Afrika-kuns.
Die Hotel
Nacional, ‘n art deco-gebou, is ook ‘n wonderlike kunsmuseum. Hier het Walt
Disney, Winston Churchill, Fred Astaire en Buster Keaton kortstondig
tuisgegaan. En natuurlik Mickey en Minnie Muis se wiitebrood is ook hier gehou.Die
hotel is in 1930 geopen en vir die liefhebber van art deco is dit ‘n wonderlike
ervaring.
Die Moorse
invloed laat sig baie sterk geld in Kuba en vele monumente spog met die feit
dat marmer ingevoer is van Carrara. ‘n Eens weelderige lewe was dus part en
deel van die Kubane se leefwyse. Die ou-kolonistiese bestel het ook beteken dat
Sjinese ingevoer is om te kom help skoffel op die suikerplantasies in die
1800’s en hierom vind ons vandag ‘n Sjinese area wat die heerlikste kos berei.
Dit heet Barrio Chino.
Ook die museum
van Dans (Museo de la Danza) is die moeite werd om te besoek: hier vind jy die
enigste dansmuseum in Latyns-Amerika met vele memento’s van beroemde dansers,
soos die legendariese Alicia Alonso.
En die hele Trinidad kan natuurlik as ‘n museum verklaar word met die aanskoulike kerkies en deure. Hier beweeg jy terug in die tyd, in die vervloeë wêreld wat buite enige Westerling se begripsvlak bestaan.
Die grootste
monumente, meen ek, is hulle musiekmakers wat saans aanmeld by die hotel se
patio. Hier bespeel hulle klassieke soos “I did it my way” op ‘n Karibbiese
maat. “Volare” en al die ander ou gunstelinge is ook hier te hore. So halfpad
deur die sessie loop die voorsanger om met ‘n mandjie: jy kan ‘n CD koop teen
‘n skamele $10 en ‘n footjie laat.
Hulle
representeer Kuba. Hulle is Kuba. Hulle is die beste vertoonvenster en bewys dat
hierdie kultuur lewe en altyd sal bly lewe. Geen wonder Wim Wenders, daardie
ongelooflike Duitse filmmaker, so begeester was om die Buena
Vista Social Club te maak nie. Terwyl ‘n mens na hierdie musiekmakers
luister, begryp jy iets van hulle kultuur: ‘n herinterpretasie van bekende
Westerse liedere wat her-interpreteer word en met soveel vuur en drif gelaai
word dat dit mooier is as die oer-lied.
“Rumbantela”, “Sabor
a mi”, “No te digo nada”, oftewel, “Jy hoef niks te sê” is hier te hore. In die
eetsaal van die Inglaterra, tokkel ‘n
vrou, tipies kolonisties, ou klassieke uit vir die verveelde gaste wat hulle
nie op die stoep aan die waansin wil oorgee nie.
Así Son, die
groep van die aand speel. Agter hulle staan ‘n ou gebou uit die negentiende
eeu. So word die verskillende wêreld bymekaar uitgebring.
Kamaraco en
Rumi Tienesabor se musiek is ook uitmuntend.
Die Kubane is inderdaad
begeester met monumente.
Bibliografie:
Cuba: Eyewitness Travel Guide. 2002. Londen: Penguin.
XV. Kuba
Om per skip te
reis, het wyle W.E.G. Louw gemeen, is goed vir die siel. Jy beweeg stadig van
een plek na ‘n volgende en jou siel gaan jy nie vooruit of agtergelaat nie.
Moderne reis, en in die besonder om te vlieg, beteken jy is baie 14-18 uur
binne ‘n nuwe landskap. Dikwels neem dit ‘n paar dae vir jou siel om aan te pas
by die nuwe omgewing. Ook met jou terugkeer, sukkel jy: jou psige is nog in die
vreemde land, al het jy al fisies tuisgekom.
Natuurlik om
baie leë ure te vul, is die wagwoord van reis.
Met vlieg is
jy in ‘n beknopte ruimte en jy mag dalk ‘n film kyk of ‘n boek beginne lees.
Maar nes jy ‘n ent weg is, word jy gesteur deur ‘n mede-passasier of deur die
lugwaardin wat iets aandra. Iets soos hulle antwoord op geskrambeerde eiers.
Maar hoe kry
jy jou liggaam en gees gesinchroniseer in ‘n nuwe ruimte? Want jet lag is meer
as ontwatering en moegheid. Dis ook die siel wat nie heeltemal in ‘n liggaam
tuis is nie.
Slaap, eet,
drink en stap.
Eers as die
nuwe ruimte regdeur jou sisteem gewerk het (u weet wat ek bedoel), begin die
plek in jou inskop. Jy moet jou klere
daar laat was het, jou skoene laat skoonmaak deur ‘n straatpoetser en ten
minste een keer jou humeur verloor het.
Ek verlang
nooit terug huis toe nie. Die oomblik van aankoms beteken ‘n volledige aanpassing
by die nuwe ruimte en met die kodes van die plek. Hierom probeer ek altyd
vooraf iets van die land se taal bemeester en lees ek oor die gewoontes van die
land.
Kubane vat aan
jou arm as ‘n teken van toegeneentheid. In New York sou dit as teistering
deurgaan. Hulle hou daarvan as jy hulle land en kultuur komplimente toeswaai.
Kubane bedoel dit as hulle vir jou sê ek sien jou weer; in New York beteken
“let’s do lunch”, tot siens. In Kuba sal
iemand jou help om ‘n plek te kry (teen ‘n footjie natuurlik); in New York vra
jy nie om hulp nie, want jy mag dalk met ‘n versteurde te doene kry. Hier kyk
jy in mense se oë en jy mag met hulle praat. In New York is dit nie aanbevole
gedrag nie, want oogkontak word as ‘n seksuele uitnodiging gelees.
In ‘n museum
mag ek nie my sak (met my my drarekenaar) inneem nie. Dis teen die wet, sê die
sekuriteitsbeampte. Ek verduidelik vir hom dis my brein en ek kan dit nie
agterlaat by iemand wat dit dalk kan laat val nie.
“Ek begryp,”
murmel hy,”maar dit kan nie.”
“Mag ek dalk
die rekenaar uithaal en die sak agterlaat?”
Nou het ek
onkant betrap, want in sy regulasies staan daar niks van ‘n rekenaar wat onder
die arm vasgeknyp word nie. Hy laat my
deur, maar as ek sou baklei, was dit neusie verby.
En die kode?
Wys ontsag en respek vir ‘n man in ‘n uniform. Gelukkig het ek films soos Boetie gaan border toe goed bestudeer en
‘n man met ‘n pet kry ‘n salueerteken van my.
Op die stoep
van die Inglaterra gaan luister ek weer vanaand musiek. Die voorsanger wys vir
my hoe ek moet saamspeel. Daar bespeel ek die guita met ‘n stokkie waarop jy so
op en af woerts. Later kry ek twee rattles waarmee jy sjiek-sjiek op die maat
van die musiek. Ek word deel van die orkes. Jy dans twee treë vorentoe, drie na
die kant en twee agtertoe. Op die maat van die salsa, die rumba en die
chachacha. Jy kan maar naam weggoi, grensoorskrydend wees: niemand ken jou hier
nie! En nee vir die “back tracks”-debat op Sênet: hoera vir lewendige musiek!
Die voorsanger
probeer ‘n Brit betrek, maar wat, dit deug nie. Hy is Margaret Thatcher se
broer.
Ek kon vir my
geen groter getuigskrif gekry het. Die kelners het dit wonderlik gevind. Geen
footjie sou hulle so behaag het. Wanneer ek op ‘n plek aankom, kry ek eerste
aandag. Stap jy deur die voordeur, dan hoor jy sjiesjie soos iemand my speels
koggel. Dus word deel van die mense se manier-van-doen.
Hoekom is daar
so min dansgedigte in Afrikaans? Is dit omdat ons so Calvinisties geknyp is? Of
omdat dans dalk onbewustelik aan sonde gekoppel word?
Wanneer ‘n
mens kyk na die onbevange manier wat die Kubane dans en die natuurlike ritmes
van hulle lywe, verstaan jy Hemingway en ander skrywers se verslaafdheid aan
hierdie land. Hier het hy die daiquiri ontwerp en glo my, as jy een van hulle
in het, soek jy na daai kierie.
Dis ‘n land
van lyflikheid en sinnelike oorgawe. Met ‘n geloof in “real women have curves”
en kry nog ‘n dop en dans asseblief saam!
Om te dans of
nie te dans nie, dis die vraag in Kuba.
Tussen gister
en more
lê vandag.
Gister se verdriet
sal ek vandag
wegdans,
sodat more se
pyn
- in die hier
en nou -
mag wegklink.
Op die maat
van ‘n
Karibbiese lied
sal ek die
lewe elke dag vier
asof vir die
laaste en eerste keer.
Tussen gister
en more
klink die lied
van die hart.
O, Tussen
gister en more,
tussen gister
more, vier ek die dag.
14 Januarie
2004
XVI. Kuba
Na Hemingway
se dood het Castro sy huis buite Havana tot ‘n museum verklaar. Elke dag hoor
ek by die toeristiese buro in die hotel: is daar vandag ‘n toer na sy huis?
Elke dag stap
ek sleepstert weg. Ek kan, deel sy mee, vir $100 die toer alleen per bus
meemaak. Ek ken egter die stad al ‘n bietjie beter en gesels met ‘n
taxi-bestuurder. Daar is ‘n amptelike tarief en ‘n persoonlike een.
“Sal jy my
neem na Finca La Vigía? Dis in San Francisco de Paula.” (Ons beklink die
transaksie teen $25 en die toertjie om en rond die huis is nog ‘n $7, ver van
honderd, dus!)
Die huis is
sowat twintig minute se ry buite Havana. Dit moes op sy dag deurgegaan het as
‘n grand huis, maar vandag is dit oud
en verwaarloos. Jy mag ook nie die huis binnegaan nie, verduidelik die gids,
omdat mense deur die jare memento’s gesteel het.
So jy loer by
die deur en vensters in. Binne sit daar gidse op Papa se stoele en gesels land
en sand, terwyl die reisigers deur die vensters koekeloer. Jy sien die baie
boeke (ongeveer 8 000), die bokkoppe teen die muur en ‘n bottel met ‘n reuse
brulpadda in. Daar is ook ‘n bottel versterkwater met ‘n geitjie in en leeu- en
koedoevelle bedek die vloere. En jy kan beslis nie die kroeg neffens Papa se
stoel miskyk nie. Daar is ook onsettend baie skoene en stewels in sy huis en
die mokkasins wat hy so graag gedra het staan teen die muur.
Deur die
badkamermuur sien jy hoe hy sy gewig teen die muur geskryf het. Hy was ‘n groot
man en in sy latere jare met sy gewig geobsedeer weens diabetes.
In hierdie
huis het hy vir twintig jaar geleef en beroemdes soos Ava Gardner en Ingrid
Bergman het hier kom kuier. Daar word vertel dat hy ook vir Ava afgeloer het
toe sy eenkeer kaal geswem het in sy swembad. Daarna het hy altyd sy gaste na
sy swembad geneem met die woorde: “Hier het Ava Gardner kaal geswem.”
Wat die museum
wel interessant maak, is dat dit gelaat is soos wat Hemingway geleef het. Jy
sien die borde op die tafels, ‘n glas op die tafeltjie in die sitkamer,
skilderye teen die muur. Hemingway mag
enige oomblik weer sy opwagting maak, vertel hierdie museum.
In die tuin is daar ‘n katbegraafplaas en natuurlik die beroemde boot, die Pilar wat oorgebring is van Cojimar na die huis. Op hierdie boot het Hemingway gedrink, visgevang en ‘spioen-spioen’ gespeel vir die Kubane tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Sy vriend,
Gregorio Fuentes, het hom altyd vergesel op sy visvangekspedisies.
Ek sou graag
sy boekery wou beloer. Black Narcissus
is een van die titels wat my oog vang. Maar ek sou eerder ‘n dag lank wou kyk
wat hy besit het en vermoedelik gelees het. ‘n Skrywer se boekery is altyd ‘n
tersaaklike bibliografie tot sy werk.
D.J. Opperman
het ‘n geweldige bewondering vir Hemingway gehad. Ek luister op my rekenaar na Verswêreld en hoe hy daardie prag-vers oor die ander beoefenaar van die
machismo voordra, te wete Roy Campbell.
“Ek ken die
brons krisante van die pyn”, kan ook op Hemingway van toepassing gemaak word:
agter die groot man, die uitbundige lewe, die jagekspedisies, was daar ‘n brose,
verwonde mens.
In 1962 toe
die nuus van sy selfmoord Kuba bereik het, is die huis tot ‘n museum verklaar.
En dit is presies toe wat die Hemingway-industrie begin is.
Lorca was
hier, Neruda het hier besoek afgelê, Wallace Stevens was gek oor die landskap…
Maar Kuba
behoort aan Hemingway. En Hemingway aan Kuba. Hy die leefwyse en kultuur volledig
geassimileer en hierom ook dan die beroemde foto’s van hom Fidel Castro.
Hierom toe hy
die Nobelprys ontvang het, was sy woorde: “Hierdie prys behoort aan Kuba,
aangesien my woorde geskep is in en verwek is deur Kuba, met die hulp van die
inwoners van Cojímar, waar ek ook ‘n inwoner is.”
Die prys het
hy glo by die Madonna del Cobre geplaas.
Volgens die
legende het daar vistermanne in 1606 amper verdrink by die Baai van Nipe, was
dit nie vir die Swart Madonna-beeld wat hulle gered het nie. Hulle is deur die
beeld gered van die Madonna wat oor die waters na hulle aangekom het. In
werklikheid, het die beeld van Illescas gekom, omdat die goewerneur ‘n Madonna
vir sy stad wou hê.
Wat ookal die
waarheid mag wees, vir die Kubane is sy beeld van die bo-natuurlike en magiese
kragte. Sy verteenwoordig ook die aanwesigheid van die Afro-Kubaanse kultus en
die geloof in santería.
Hoekom het
Hemingway dit gedoen? Waarskynlik omdat hy geweet het dat Kuba vir die
primordiale staan, vir dit wat nie deur logika of rede begryp kan word nie.
XVII. Kuba
My laaste dag
in Havana.Gewoonlik raak ‘n mens so by die laaste vier, vyf dae op vir reis.
Jou klere beginne vervaal en verkreukel, al laat jy dit getrou was by die hotel
se wassery en die bestaan binne ‘n vreemde ruimte laat jou ook uitsien na die
tuiskoms.
Na almal wat
op jou wag. Jou vriende, jou eie ruimte met ‘n telefoon, e-pos, wasmasjien,
stoof, yskas, boekery, musiek.
Met my
Kubaanse reis is dit anders gesteld. Ek begin fantaseer oor ‘n bestaan hier.
Gestel ek had genoeg geld soos die Getrude Steins van die kunswêreld of ek is
soos Susan Sontag geborg deur die Guggenheims, sou ek hier kon agterbly?
Ja en nogmaals
ja. Met my hotel, die Inglaterra, wat uitkyk op die plaza en die ou buurt van
Habana, die luimige gaste wat teen sononder-tyd daiquiries en caipirinhas drink
en luister na Afro-Kubaanse musiek, as die sentrum.
Op my
dra-rekenaar het ek genoeg dokumente om te lees vir die res van my lewe. Ek
skryf aan ‘n roman (“Dit was geskryf op Varkensblaar”) en my weeklikse
reisrubrieke trek al maande vooruit. Opdragte gee en ontvangs ons via die
internet, as dit by werksake kom en ‘n sabattasverlof in hierdie ruimte klink
net na die plek vir kreatiewe navorsing.
Suid-Amerika,
Mocambique, Kuba, Mexiko. Dit is die soort lande wat met my praat.
‘n Plek soos
Habana waar jy ‘n “cocktel”-bar kan besoek! Cocktel! Die barbudos of bebaardes
van hierdie stad is vriendelik en behulpsaam en vanaand gaan ek vir oulaas na
die Marina Hemingway, ‘n hele seekos-buurt neffens die see.
Ek stap op my
laaste aand deur die strate van Havana. Ek voel soos ‘n tiener met ‘n crush op ‘n onnie. Hoe gaan ek deur die
dae kom sonder jou? Kan ‘n mens verlief raak op ‘n stad? Voel vir my so, want
ek gaan met ‘n swaar, swaar hart hier weg.
‘n Middeljarige
egpaar stop my: ”Soek u ‘n restaurant?”
“Ja, graag.”
Alberto en Teresita. Hulle werk is om toeriste na hulle vriende se nuwe
restaurant vir ‘n kommissie te neem. Dis hoe hulle aan die lewe bly.
Natuurlik gaan
ek saam, ou weekhart wat ek is. Bestel vir haar Coke, vir hom rooi wyn. Hulle
is baie intelligent en ingelig. Ons gesels baie lekker. Ek bestel die
geroosterde vis wat uit die boonste rakke is.
Net jammer die
kelnerin snuif so diep.
“Kan jy haar
vra om op te hou? Ek gril.” Hy vra haar mooi. Sy stop. Julia Kristeva se The powers of horror kom by my op. Die
mag van die abjekte; die weersin wat ‘n snuif, ‘n skifsel op koffie kan
veroorsaak. Dis dan ook my lot om ‘n spoegende man op straat te sien, twee
parende honde. My grilvlakke word bo hul kragte beproef.
Buite blaf ‘n
hond. ‘n Kind terg hom. Ek neem afskeid van hierdie stad. Dis swaar.
Ek stap terug
hotel toe. ‘n Man kom nader.
“Jy is
pragtig,” hy vee grensoorskrydend oor my boud.
Ek weet wat
kom. Ek lieg. “Ek moet my man in die El Floridita ontmoet. Nou. Hy is baie
groot en baie jaloers. Sy naam is Ernest Hemingway.”
“Maar hy hoef
nie van ons te weet nie.” Ek glip vinnig by die kroeg in. Wag ‘n rukkie. Stap
toe na my hotel. Maar, nee. Hy is weer agter my.
“Jy het vir my
gelieg,” kerm hy.”Daar was geen man nie.”
“Nee, hy is by
die hotel. En ek beloof jou: hy gaan jou platslaan. Gaan nou, asseblief.”
Hy slink weg
soos ‘n geslaande hond.
More vlieg ek
na Cancun, dan na Atlanta, Georgia en dan begin die lang reis terug huis toe.
Ek ontdek hierdie vers van Fernanda Padura:
Ode aan Havana
Wat is dit met
jou stad
dat jy vele so
begeester?
Ou verloopte
stad
vol kronkels
en draaie.
Stad van
hartstog,
ou-hoerstad
gevul met polsende ritmes.
Stad van
salsa, rumba en bands:
“Guantanamera”
en “Quizas, Quizas, Quizas”…
Leef vir die
oomblik, die nou,
vergeet van
gister, vergeet van more.
Dis die
getelde oomblik. Die vreugde van in
jou lyf en
hart wees. Nie toe nie. Ook nie dan
nie. Maar
nou. Soos ‘n hoer wat geld ontvang,
vir dienste
gelewer, sonder skuld. Dis net hoe dit is.
Verloopte,
verinneweerde stad, jy lyk slonsig;
jy ruik na ou
sweet van ‘n lang nag. Dis juis
wat jy is:
gefokte, verinneweerde, afgetakelde hoerstad.
Vir die
oomblik, vir die nou. Eens was jy ryk en
statig.
Besing deur Lorca
en Neruda in lang odes.
Bewoon deur
Hemingway
en ryk
bankiers wat gedigte maak oor die lewe se moontlikhede…
Miskien,
miskien, miskien -
tot die onthou
ons skei, stad van my verbeelding,
stad van my
drome, ek min jou
in jou
afgetakelde swier, jou huidige lewensdrif.
Onthou,
onthou, onthou -
Joan Hambidge
Bibliografie:
Kristeva, Julia. 1984. Powers of Horror. An essay on Abjection. New York: Columbia University Press.
XVIII. Kuba
Vir oulaas sit ek op die stoep van die
Inglaterra en die orkes speel al my ou gunstelinge vir my. Ek beloof dat ek
weer sal terugkeer en ek weet ek lieg nie. More moet ek half-vyf opstaan om
Cancun toe te vlieg en dan na Atlanta. Die lang pad huis toe begin.
“Klap julle handjies, alle
bobbejaantjies,” draai deur my gedagtes. En “Jy met jou mandolientjie, ek met
my bandolientjie,” maar ons sing almal driftig saam met die orkes.
Aan hierdie polsende Kubaanse en
Latyns-Amerikaanse liedere. En dan skielik, sonder waarskuwing stop die lied.
Soos hartstog wat verkil.
Die ‘band’ pak op. Ek moet gaan rus. Ek
kan egter nie geslaap kry nie. More vlieg ek om 7.20, so ek moet 4.30 begin
roer. Muskiete draai om my soos helikopters.
Buite rumoer die stad. Die nagklub
oorkant die Inglaterra spoel uit oor die straat. Blou polisieligte flits. Daar
is gille. ‘n Vrou beskuldig haar minnaar van ontrouheid. Dank Vader, ek is
klaar die dinge van die smart! Hierdie reis het net twee verse opgelewer, wat
immer dui op ‘n gesonde hart.
Ek speel voyeur en sien hoe die twee
minnaars verder stry. ‘n Ander vrou staan op ‘n afstand en toekyk. A, die ewige
liefdesdriehoek. Vroeër sou ek hieroor ‘n vers kon maak; nou is ek net vermoei
deur die intrige wat my uit die slaap hou.
Ek dink aan W.H. Auden se grootse gebaar: as die liefde skeefloop, laat ek die een wees wat die meeste ly. En sy pragtige vers, “Gedig nommer XXXIV”:
W.H. Auden
Ek dink aan W.H. Auden se grootse gebaar: as die liefde skeefloop, laat ek die een wees wat die meeste ly. En sy pragtige vers, “Gedig nommer XXXIV”:
Stop al die klokke, sny af die telefoon,
verhoed die hond om te blaf vir ‘n
sappige been,
maak stil die klaviere en met ‘n
gedempte drom
haal die kis uit en laat die roubeklaers
kom.
Laat vliegtuie sirkelend kerm oorhoofs
skryf in die lug die boodskap Hy Is
Dood,
sit papierstrikkies om die wit nekke van
publieke duiwe,
en laat die verkeerspolisie swart
katoenhandskoene kry.
Hy was my Noord, my Suid, my Oos en Wes,
my werksweek en lang, stil Sondagreses.
My noen, middernag, my gesprek en lied;
Ek het gedink dat liefde vir ewig sal
duur: nou net verdriet.
Die sterre word nie nou behoef; maak
elke een dood,
bêre die maan en laat die son uitdoof,
giet uit die oseaan en vee die woud op;
want niks kan weer goed wees nie.
(vertaling van die gedig uit April,
1936).
In my toestand van frustrasie kyk ek na
‘n film op televisie. ‘n Jong man en sy geliefde se verhouding eindig. Hy is ‘n
filmmaker, sy ‘n model. Sy verlaat hom, maar hulle kan mekaar nie vergeet nie,
omdat hulle mekaar onbewustelik verwyt vir die aborsie wat sy moes ondergaan.
Uiteindelik kry sy ‘n kind by ‘n ander man, maar hy vergeet haar nooit nie. Die
film eindig met die wyse woorde: daar is net drie waarhede, te wete ons word
gebore; ons sterf en dinge verander voortdurend.
My tasse is gepak. Die twee Cellini
Microlites is reg vir die reis na Mexiko. My kamer behoort nie meer aan my.
Nommer 205 het plotseling ‘n vreemde ruimte geword. 4.30 lui die wekker.
Handdoeke lê op die badkamervloer, stompies sigarette in ‘n oorvol-asbak. Ek
wil nou gaan. By ontvangs moet ek wag. Die kamerbediende moet eers gaan kyk of
die kamer in orde is. Alles blyk reg te wees.
Ek het presies een uur geslaap weens die
liefdesrumoer buite die hotel. Ek maak die asbak leeg. En ek dink aan die wyse
woorde van die filmkarakter dat alles altyd verander. Indertyd sou ek so kon
dig; nou nie meer nie:
Eat your
heart out, Emily D.
Nog ‘n slapelose nag
in ‘n vreemde hotelkamer
digby ‘n lughawe.
Nog ‘n weerlose nag
in ‘n enkelkamer
weg van jou.
Nog ‘n rustelose nag
met verfrommelde lakens
sonder jou.
Nog ‘n uitputtende nag
van vreemde enkelkamers
met verfrommelde lakens
en uitgebrande hartstogte
in oorvol asbakke.
Nog ‘n nag van ver
-geefse vergeet.
New York
(Uit: Ewebeeld. 1997.
Johannesburg: Perskor.)
In Havana vind ek totale vrede en rus
vir die gemoed. Dit is ‘n landskap wat ‘n mens skoonbrand, het Jungiaan eenkeer
verduidelik. Binnekort vertrek ek met
Vlug MX 7901 na Cancun. Daar is geen reis wat my nog ooit so vervuld en
gelukkig gemaak het as hierdie reis nie.
Geen terugverlang, geen eensaamheid,
geen ennui.
Net ‘n totale aanvaarding van die
oomblik, die landskap, die mense, die kultuur, die stad. Wallace Stevens had
gelyk: ‘n mens kán ‘n verhouding met ‘n stad begin.
XIX. Cancun – Atlanta
Op die hiper-moderne lughawe in Cancun
koop ek ‘n kaart vir $5 om die internet te gebruik by ‘n gesofistikeerde
masjien waarop jy vinger swaai, en voila, daar gaan alles oop voor jou. Maar
ongelukkig weier mweb om my password te aanvaar. Die vrou wat aan my die kaart
verkoop het, is reeds terug na die kiosk en ek swets onderlangs.
Boonop is mweb ook baie hulpvaardig: bel
hierdie nommer in Suid-Afrika as jy jou password wil verander.
Dus staan ek voor dooiemansdeur. Op ‘n
lughawe waar die Engels skraps is en my humeur kort. Maar aanhouer wen. Ek
probeer weer en weer en moes per ongeluk ‘n knoppie gedruk het want skielik
werk die net! Aha, “you’re connected”.
Om te reis beteken dat jy dikwels voor
dooiemansdeur staan, omdat jy die taal nie verstaan nie of ‘n kode mislees. So
kan jy, soos ek, amper op ‘n verkeerde lughawe afklim (15 minure voor Cancun)
omdat daar ‘n dwase regulasie bestaan nadat al die passasiers moet aflklim en
hier deur doeane gaan.
Hoekom?
Niemand weet nie.
Net soos niemand ooit sal weet hoekom
mweb by herhaling my toegang geweier het nie. Gul gee ek my kaart met
oorblywende geld aan ‘n mede-reisiger.
“Ek herken jou,” bely hy. “Jy het
eergister in dieselfde restaurant as ons geëet. Jy wou Tabasco hê, en dit was
ongelukkig op.”
En ek herken jou, lieg ek. “Jy het begin
met ‘n Chici, Sangra gedrink en daarna ‘n Tequila Sunrise…en ‘n Fresa Colada…”
Sy ogies blink. “Jy’s reg! Hemel jy het
darem goed waargeneem daar in die Mexikaanse restaurant.”
En dan begin die gewone lughawe
gesprekke wat Jacques Lacan as “miles and miles of empty speech” beskryf het.
Daardie soorte gesprekke wat soos hysermusiek jou ore vul, maar eintlik
bitterleeg is. Jy konnekteer met mense op lughawens op ‘n direkte, dikwels
intense manier en tog weet beide partye: ons gaan mekaar nooit weer sien nie.
In die aankoms- en vertreksaal word jy
deur bekendes ontvang of afgesien. Daarna beweeg jy deur doeanepunte en jy
ontmoet mense: kortstondig, vlietend.
Op so ‘n reis, wie sal ‘n mens onthou?
Beslis die kroegman in die Casa Blanca
Hotel in Mexiko Stad wat my elke keer ‘n gratis glas wyn op die huis gegee het.
Die hoteleienaar in die El Tropicana in
Acapulco wat vir my ‘n muurprop geleen het vir my rekenaar.
Beslis die gawe taxibestuurder wat my
deur Acapulco in die nag geneem het en my al die onbekende bakens gewys het van
die prag-stad.
Macario Román wat in Rusland gestudeer
het (as ingenieur) en in Havana my na die Hemingway-museum geneem het en na die
lughawe.
En lughawens?
Beslis die aanskoulikste en mooiste is
die een in Havana. Modern. Ook kan die een in Cancun nie misgekyk word.
Eweneens hiper-modern. En dan Atlanta…
Om in Cancun in te boek vir ‘n vlug is
‘n belewenis. Jy wag en wag en wag, want hulle maak net die komputers oop
presies twee ure voor die vertrek. Dit lyk soos Doop op Makwassie.
Voetjie-vir-voetjie gaan jy vorentoe en soos die noodlot dit wil hê, skuifel
almal voor my deur na ‘n ander ry. Jy wag weer. Gelukkig word my tas nie
oopgemaak nie. Voor my staan ‘n egpaar uit Amerika. ‘n Pynlik-netjiese tas word
omgedolwe. Geskenke word oopgemaak. En dan weer toegeplak. Weer moet hulle
inpak. Die lang en netjiese beplanning binne twee minute omvergegooi.
Dan kom dit by die wag in die kafeteria
waar ‘n stukkie pizza $3 kos en ‘n flou bier ‘n hele $5. Maar jy moet hier
koop. As jy nie wil sterf van die dors nie. Jou voete begin pyn. Oor vyf minute
gaan jy aan boord na Atlanta en dan is die lang reis agter jou: net om more die
hellevaart van meer as veertien ure terug Kaapstad toe aan te pak.
Bly rustig. Swem saam met die stroom.
Trap water. Bly vrolik al is jy in Kamp Staaldraad of Kamp Staalwol. ‘n Mens
vergeet altyd gou van hierdie teistering. Wat skryf Arthur Haley in Airport nou weer?
‘n Ervaring op Atlanta vat die
spreekwoordelike koek. Ek reis met twee Microlites (een op rug, een op
wieletjies) en ‘n laptop in my hand. Sekuriteit hier vereis dat jy die rekenaar
in ‘n plastiekhouer moet plaas. Ek maak so en gedagtig aan my ervaring met my
aankoms toe my skoene se buckles die sirenes laat gil het, trek ek die uit en
plaas dit in ‘n ander houer.
Die sirenes gil weer.
‘n Ongeskikte vrou beveel my, links, jy
moet ondersoek word. Ek sien egter hoe haar trawant my skoene bo-op my laptop
plaas.
“Is jy van jou sinne beroof?,” gil ek.
Drama.
Ses beamptes is nou om my. Ek
verduidelik waarom ek vies is. (Ondertussen is dit my leerbelt met die silwer
buckle se skuld dat die sirenes afgegaan het.)
Toe ek al my besittings weer bymekaar
het, stap ek na die hoofbeampte. Ek verduidelik my chagrin. Hy vra beleefd om
verskoning. Ek kan sien uit die hoek van my oog hoe almal weet hulle is in die
moeilikheid.
“Wil u ‘n amptelike klag lê?”
Nee, dink ek. Ek is buite myself van
ontsteltenis. Ek huil van woede.
Toe ek wegstap, besluit ek. Hoekom nie?
Wie gee hierdie mense die reg om so met ‘n mens se besittings te werk.
Ek stap terug, skryf my verslag. Aha,
nou verander die eens sjarmante sekuriteitshoof in ‘n somber baas. ‘n Swart
polisieman staan langs hom.
“As u ‘n klag indien, moet ons ook ‘n
verslag skryf. Volgens my beampte het u obstruksie gepleeg. U kan nie nou
terugtrek nie. Dis nou amptelik.” Die polisieman maak kwaai ogies.
Wat?, dink ek. Ek snap. Hy is aan hulle
kant.
“Nee, kom ons los alles.”
“Dan moet u u verslag teruggee.” Ek
frommel dit op, gee dit terug aan hom en stap weg.
‘n Indiese man sien my nood. Hy kom
nader en neem my na die rotunda waar ek my bussie na die hotel, Wellesley Inn,
moet kry. Ek vertel hom wat gebeur het.
“Vergeet dit. Jy het die regte ding
gedoen om die klag te laat vaar. Hulle sou jou dalk in die tronk gegooi het.
Hulle is magsbehep, ongeskik en het geen respek vir mense nie. Na 11 September
is die paranoia-vlakke baie hoog.”
In Mexiko en Kuba het ek nie sulke ervarings
gehad nie, maar ek is nou in cowboy-land, nee, in die land van “thugs” en
“godfathers”. Hoe mislik word die reis nie afgesluit nie!
In die bussie na die hotel is ek steeds
ontstig. ‘n Amerikaanse vlieënier meen ook dat dit beter is ek het alles laat vaar.
Wat se indruk gee hierdie mense nie van
die VSA nie? Ek wat nog altyd die grootste Amerikanofiel was, sien op na ‘n
verdere besoek aan die land van sterre en strepe.
“Toemaar, more is daar ander mense aan
diens. Vergeet dit nou. Dis maar hoe dit is.
Hulle is ‘n wet op hul eie. En hulle
dink waarskynlik dat jou besittings eintlik nie aan jou behoort nie.”
Ek sou die stap onder ander
omstandighede gaan besoek het. Ek besluit om liewers te gaan rus. Met die wete
dat ek nie sal toelaat dat dit my reis na Mexiko en Kuba sal bederf nie.
Oh Georgia on my mind…. Nou weet ons
presies waarom Hemingway eerder in Kuba wou woon.
Afskeid
Daar is sekere stede (soos geliefdes)
wat mens moeilik verlaat.
Deur hulle word mens geteister deur ‘n
vlugvertraging
van herinnering of verlies aan jou
enigste paspoort
tot nuwe ervarings, liefde of ‘n
belangrike afspraak.
Daar is sekere stede (soos geliefdes)
wat mens swaar verlaat.
Oor hulle draai die vliegtuig vir oulaas
te lank
vir ‘n panoramiese blik of keer selfs
terug weens die weer
van hul veranderende emosies – net om
mens wéér in die steek te laat.
Daar is sekere stede (soos geliefdes)
wat mens nooit verlaat
weens willoosheid, herinneringe of ‘n
onverwagse coup d’etat.
XX.
Post mortem: Kuba en Mexiko
So verlaat ek
Atlanta en Mexiko en Kuba lê ver agter my. Ek was nog altyd ‘n begenadigde
reisiger wat kon slaap op ‘n vliegtuig. Hierdie keer helaas nie. Waarskynlik
het die slegte ervaring op Atlanta my so omge-ellie, dat ek nie kan rus nie.
Verder is ek knorrig, omdat die wonderlike reis – daardie seepbel waarin ek was
– geprik is deur die ongeskikte Atlanta-beamptes.
Boonop het ek
die nag waarskynlik te veel geslaap, omdat ek die vorige dag uit Havana al om
4.30 begin reis het en vroeg bed toe is. Langs my sit ‘n jong man van 18. Ek
vertel hom van my aaklige ervaring en hoe die sekuriteitsbeamptes sonder respek
my laptop hanteer het.
“Dis niks,” sê
hy,” ek is in hegtenis geneem in Florida, omdat ek, ‘n minderjarige, ‘n bier
gedrink het. Kyk, ek moet die 12e in die hof verskyn, maar my pa het gesê ek
moet terug kom. Ek het my vlug verpas en moes die nag in die tronk met
misdadigers slaap.”
“Jy besef jy
sal nooit weer na die VSA kan gaan nie.”
”Ek gee nie om
nie.” Ek, hy en sy vriend gesels deur
die nag oor hoe hulle Florida ervaar het in die rykmans-spa waar hulle
vakansiewerk gedoen het.
“Daar is fout
met hulle. Hulle oorreageer. Hulle kan nie meer die lewe na 9.11 geniet nie.”
Skielik weet
ek hoekom Havana my so aangespreek het: daar is niks Amerikaans om hierdie stad
nie. Behalwe vir die ou Chevs uit die vyftigerjare, het die Amerikaners nie die
land gekoloniseer nie.
Die bruisende,
outentieke energie kon hulle nie doodkry nie.
Toe ek land in
Kaapstad beleef ek ‘n hittegolf. En jet lag. Vir die eerste keer in my lewe
weet ek wat dit beteken om reismoeg te wees. Snags kan ek nie slaap en wandel
deur my woning en verlang terug na Havana. Bedags is ek moeg, naar en ek hoor
te laat van die pil wat ‘n mens se liggaamsklok glo herstel. Maar my dokter
verseker my dit help nie regtig nie. Jy moet jou liggaam se natuurlike ritme
herstel en onthou dat jy nege ure terug geleef het.
Ek probeer
bepaal waarom die reis so wonderlik was. Die musiek, die Hemingway-museums, die
ou pragtige geboue in Havana bly my by. In Vuelo, die reisgids van die Mexicana
Lugdiens, word die bydraes en uitvindings van Mexiko vermeld:
Chiles; La
Guadalupaaana, oftewel die maagdelike gelukbringer wat sokkerspelers en
besigheidsmanne dra; 717 verskillende soorte reptiele; vanilla roomys; el nopal,
oftewel die turksvy wat onder andere om medisinale redes gebruik word; stoei;
koring; El Mariachi; funghi (waarvoor daar 300 resepte bestaan); die
doodskultus (la muerte) wat tot gevolg het dat jy kopbene kan koop; kakao; die
alebrije of dierfigurasies waaraan allerlei mitiese boodskappe gekoppel word…
En natuurlik
die digkuns van Octavio Paz!
Tussen gaan en bly
Tussen gaan en bly, weifel die dag
Verlief op sy eie deursigtigheid.
Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
Waar die wêreld in stilte beweeg.
Alles is kenbaar en ontwykend,
Alles is naby en onaanraakbaar.
Papier, boek, potlood, glas,
Rus in die skadu van hul name.
Tyd wat in my slape klop, herhaal
Dieselfde onveranderbare sillabe van
bloed.
Die lig verander die ongeërgde muur
In ‘n spookagtige teater van afskynsel.
Ek bevind myself in die middel van ‘n
oog,
Kykend na myself in ‘n ondeursigtige
staar.
Die oomblik breek. Bewegingloos,
Ek bly en ek gaan: ek is ‘n ruspose.
Octavio Paz
En oor Wallace Stevens, bestaan die
volgende vers. Ek is immers Kuba toe om ‘n boek oor Stevens te skrywe, maar my
vasgeloop in ander ervarings. So praat Bro met Stevens:
13 Ways Of Looking At
Wallace Stevens
Seth Michael Bro
I.
Two dates nestled between
closed parentheses.
Before & after, words
not belonging to Wallace
Stevens.
II.
The tower & its
imprisoned bell,
trained to beautify the
passing
of time. Within its echo,
the voice of Wallace
Stevens.
III.
On the corner of ten o'clock
a young man clutches a
saxophone
the way one might imagine
Wallace Stevens
holding his pen.
IV.
Wallace Stevens is with us
this season.
He was away for some time.
V.
In the space between the
city
a child grows, believing
his father to be Wallace
Stevens.
VI.
Beneath the dull gleam
of the classroom scalpel,
the student
was consumed & repulsed
by the open corpse of
Wallace Stevens.
VII.
Placing the hat upon the
snowman,
he claimed it was Wallace
Stevens.
We laughed, & for the
span of our laughter
there was a wintry faith
that it would never melt.
VIII.
Beneath sight didactic ants
scurry in orderly panic
with pieces of earth. They
are
patiently constructing
Wallace Stevens
within their nest. Only
instinct
knows of this intention.
IX.
Quit wringing out the days
with your talk of what is
& what might be.
Who do you think you are,
Wallace Stevens?
X.
In daylight the statue
stood, pale & austere.
But passed later that night
if fell under the dappled
shadow
of Wallace Stevens.
XI.
The wood had been spent
& they were freezing.
Wallace Stevens was thrown
upon the fire.
It burned the same.
Meteens snap ek my liggaamlike kondisie
ten volle! My liggaam kan nie aanpas by my nuwe omstandighede nie, omdat my
siel nog in Mexiko en Kuba is. Maar
solank as wat ek kan, gaan ek op die fantasie van hierdie reis leef. ‘n
Wonderlike, vervullende, allesoorweldigende reis.
En Kuba? Die land van die salsa, die
rumba, die mooiste art deco, Spaanse argitektuur, skuba-duik, ongeskonde
strande, sigare, rum, daiquiries en musiekmakers.
Eddy Kohli se pratige fotoboek oor Kuba
verwys na Lorca se bekende stelling: as ek wegraak, kom soek na my in Kuba en
Graham Greene se siening oor die mense se skoonheid.
En die Chevvies? Natuurlik meen partye
mense dis omdat Che een gery het, dat almal ‘n Chev wil ry….
Dis ook omdat mense nie kan nuwe motors
invoer nie.
Lorca, Hemingway, Neruda en Wallace
Stevens was gaande oor hierdie land. Hemingway was uitgesproke oor sy
skatpligtigheid jeens hierdie land en sy mense.
In die Hemingway-huis staan ook trofees
uit sy besoeke aan Afrika. Veral Kenia en Tanzanië het hom bekoor. Hy het ook The snows of Kilimanjaro geskryf en ‘n mens sou ‘n Hemingway-reis
kon onderneem … na die hotel Hemingways in Kenia.
En my volgende reis?
Ek soek ‘n verskoning om weer Kuba toe
te gaan. En terloops, die digter Fernanda Pardua bestaan nie. Sy was sommer my
alter ego…
Miskien het my versugting om in Kuba te
bly die volgende tot gevolg gehad. Pas ‘n week gelede ontdek ek iemand gebruik
my kredietkaart in Mexiko of Kuba. Die bedrogeenheid van die
kredietkaartafdeling stop my kaart subiet, betaal die geld terug. Ja, sê my
vriend Murray La Vita, daar is iemand wat nou reis as Joan Hambidge, omdat jy
nie wou terugkom nie.
Hmmm, dink ek: miskien skryf sy verse
onder die naam Fernanda Pardua en gebruim my kaart wederregtelik. ‘n Volledige
alter-ego dus!
Bibliografie:
Kohli, Eddy. Cuba. New York: Rizzoli International.
© Joan Hambidge