Lynne Bryer. The
cancer years. Carapace poets, 1999. ISBN 1 874923 48 5.
Resensent: Joan
Hambidge
The cancer years van Lynne Bryer karteer die pynlike afskeidsproses van
'n vrou, en meer spesifiek, 'n digter wat weet sy het borskanker. Die bundel is
pas voor haar dood vir haar vriendin Hilary Reynolds gegee en die volgorde van
die gedigte is deur die uitgewer gehuldig.
Nou is dit so dat die skryf van poësie sterk aan die
chora of die baarmoeder gekoppel is in Julia Kristeva se terme. Die taal van
die digkuns gaan dus terug in hierdie primordiale bestaan en wanneer 'n digter
skryf, verwag die leser dat hierdie aspek ontgin sal word.
Dit is egter jammer dat hierdie gedigte 'n serebrale
indruk maak en dat 'n mens dikwels iets bloedigs in hul mis. Die gedigte is, om
dit skerp te stel, is te veel met die kop en te min met die hart geskryf. Waar
is die guts van byvoorbeeld Ernst van Heerden se aandoenlike gedigte oor
amputasie? Of Antjie Krog se onthutsende gedigte oor geboorte en aborsie?
Dit is jammer dat die spesifiek-vroulike domein hier na
genoegsaam ontgin word nie. Dit is een van die bundels wat waarskynlik
gepubliseer is omdat die vriende (en die uitgewer) nie genoegsame kritiese
afstand oor die bundel had nie. Die digter is ondertussen oorlede en die bundel
oortuig die kritiese leser nie werklik nie.
Die argumentum ad
misericordiam kan nogal neuk en
die oordeel aantas. Ook is die vele gedigte vir geliefdes en familie geskryf.
Maar dit word nooit 'n vers wat buite die persoonlike kring uitstaan nie.
Hoeveel van die gedigte sou byvoorbeeld die paal gehaal het as dit nie vir die
persoonlike geskiedenis was nie?
Te veel verse laat die leser teruglees en wonder: wat
nou? Of, 'n mens besef jy het die skelet van iets wat vers kon word.
At the night door vra tereg waarom moet die digteres sterf? Maar die vers
kom nie verby die neulerige, die cliché-agtige nie.
I stand at the door and wonder
why it is I have to die
Oh I know I am confusing 'I's'
and it is only the body that goed.
But the I of consciousness
the eye of bliss, is so accustomed
to dwelling here. Will I still
recognise myself? (tweede strofe)
Verkapte prosa paradeer as versreëls en 'n mens kan
hierdie gedigte maar net neffens die wansinnige gedigte van Anne Sexton en
Sylvia Plath sit om te besef hoe 'n mens werklik die dood kán aanspreek. Sexton
en Plath se endogene depressies het aanleiding gegee tot die woedendste en mees
beeldende poësie. Te veel in The cancer
years word nooit beeld nie. Die gedigte hou 'n mens buite, wyl 'n
leeservaring van genoemde digteresse 'n mens steur en tot onrus stem.
Die digbundel gee interessante voorbeelde van die
verskillende fases wat Elizabeth Kübler-Ross aangeteken het wanneer 'n mens met
jou eie dood gekonfronteer word, maar dit spyt my die digteres se vertrek na
die ander oord ten spyt, dat dit as gedigte nie oortuig nie.
The universe, our mother,
says: Be not afraid.
Be not afraid of me.
For I am you
and you are me.
Be gentle.
Be. (p. 40)
Saam met Roy Campbell: waar o waar is die bloederige
perd?
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]