I
Pedro Almodóvar lewer sydelingse sosiale kommentaar in sy films. In Talk to her is daar die gekke opmerking van die concierge dat die media nie meer is wat hulle was nie. Nie eers één persoon het met haar kom praat nadat die inwoner van haar woonstelblok tronk toe is nie.
“Wat is dit deesdae met die media?”, vra sy verontrus.
In hierdie film word daar ‘n onderhoud met ‘n vroulike matador gevoer wat weier om haar private lewe op ‘n talk show te onthul. Sy staan op (in die middel van die onderhoud) met die vroulike invraer wat haar terugtrek wanneer sy opstaan: ”Waarheen gaan jy? Ons het mos nie vooraf besluit ons gaan nie hieroor praat nie ... nou-nou dink mense die show is nie spontaan nie.”
In Women on the verge of a nervous breakdown is daar ‘n Ecce Omo (sic!)-advertensie. Hierdie Omo was al oorblyfsel van die reeksmoordenaar se grusame dade, en selfs die polisie ruik aan die lakens en stem saam: Uitstekende waspoeier!
Later in die film is die concierge weer aan die woord. (Dieselfde tantetjie van Talk to her.) Sy mag nie leuens vertel nie, want sy is ‘n Jehova-getuie.
Dan sing sy hoe sy die trompette hoor op die oordeelsdag.
Satire. Humor.
II
Women on the verge of a nervous breakdown is Almodóvar se 1988 komedie. Dit is soos ‘n sepie in die hoogste versnelling. In ’n oorklankingsateljee word die lewe van die “sterre” onder die loep geneem.
Die Western Johnny Guitar met Joan Crawford and Sterling Hayden word oorgeklank in ‘n ateljee. Hier vind ons opnuut die kopknik na die films van die vyftigerjare wat dikwels in sy werk aangetref word (Johnny Guitar – Wikipedia. Besoek 29 Desember 2018).
Carmen Maura, toe sy nog Almodóvar se gunsteling-aktrise was, is op haar stukke. Dit word ‘n histeriese send-up van liefdesverraad en -bedrog. Skoene wat deur die lug vlieg, ‘n shoot out op ‘n lughawe, jaagtonele, ‘n prokureur wat deur die gesig geklap word, en slaappille in die gazpacho wat betreders moet stilmaak, is van die elemente in hierdie guitige film. Terroriste kom aan bod en die plot wentel rondom Shiites wat ‘n vliegtuig wil kaap en betrokke is by besoeker Candela. Die slot? Onverwags. Die vrou Pepa Marcos (Carmen Maura) se geheim is dat sy swanger is by Ivan en hierom so histeries optree.
Grappe dus oor die on-snaakse, die tragiese, die ellendige.
‘n Hoenderhok staangemaak op ‘n woonsteldak.
‘n Jonge Antonia Banderas speel hier teenoor die ikoniese Rossy de Palma.
Dit mis egter die menslikheid wat sy latere films kenmerk.
Women on the Verge of a Nervous Breakdown is swart humor verpak met histerie.
Hierdie film verwys implisiet na Gentlemen Prefer Blondes met Marilyn Monroe en Jane Russell. Die 1953 musical waarin Marilyn (as Lorelei Lee) “Diamonds are a girl’s best friend“ sing is ‘n treffer. Die humor waarby Almodóvar aansluit, is heerlik.
Dit is wonderlik om hierdie ou treffer weer te besoek wat gebaseer is op die gelyknamige boek van Anita Loos waaroor T.S. Eliot gaande was.
Hy het bely dat hy dit in een sitting deurgelag het.
Dit is gepubliseer in 1925 met die sub-titel: The Intimate Diary of a Professional Lady.
Sy praat ook vandie “Eyeful” Tower!
Howard Hawks as regisseur verraai iets van kamp humor en die spreekwoordelike one liner.
Die argetipiese Lorelei Lee tref ons in verskillende gedaantes in Almodóvar se oeuvre aan (Gentlemen Prefer Blondes (1953 film) – Wikipedia. Besoek 29 Desember 2018).
Lekker gelag oor die verwysings na Suid-Afrika en ‘n luislang wat MM moet trotseer.
Met Olimpiese manne op die skip wat buitel en dans.
Die pers lewer eweneens kommentaar op die vriendskap tussen Carmen Maura en Almodóvar wat versuur het. Skynbaar omdat sy nie genooi is na die Oscar-aand nie en hy eerder sy vriend saamgeneem het.
Dalk ook ander redes - miskien ‘n wegbeweeg om ander moontlikhede as aktrise te ondersoek buite sy aanslag? (Carmen Maura/ Exclusive interview | Movie News | SBS Movies. Besoek 28 Desember 2018).
In Talk to her is daar ‘n toneel wat glo in Almodóvar se eie huis afspeel, met Caetano wat sing en die regisseur se vriende in die sitkamer. Kyk wie is daar...
Hier is die onderhoud gevoer met hom: Guardian/NFT interview/ Pedro Almodovar | Film | The Guardian. Besoek 29 Desember 2018.
Die sogenaamde realemes waarna die Israeli teoretikus Itamar Even-Zohar verwys.
Met hierdie insetsel lewer die regisseur sosiale en mediakommentaar, want Caetano Emanuel Viana Telles Veloso is a Braziliaanse komponis, sanger, kitaarspeler en politieke aktivis.
‘n Vinjet met ‘n sterk boodskap. Dat liefde ‘n politieke betekenis het.
En van metafore en metonimia begryp hy wél. Die klein stilfilm vertel vir ons op ‘n metonimiese wyse wat in Benigno se gedagtes aangaan, eerder as om die daad van verkragting letterlik te wys. Uiteindelik is hy die mannetjie wat vir altyd in hierdie vrou gaan bly (Woorde wat Weeg/ Filmrubriek | Talk to her (2002)).
So word die kyker subtiel voorberei op die ongehoorde.
Pedro Almodóvar begryp filmtaal.
© Joan Hambidge