Elza Lorenz. Transverse.
Gnomic Press, 2000. ISBN 0 620 24 0059.
Resensent: Joan Hambidge
Nou dat die uitgewershande toe hand staan vir die
digkuns, word die Afrikaanse leser gebombardeer met bundels wat nie op peil is
nie. Daar is 'n stortvloed van swak bundels wat op alle fronte aan die uitpeul
is. Transverse van Elza Lorenz is
uitgegee by Gnomic Press en hoewel hierdie digter se verse potensiaal toon, is
dit jammer dat daar nie 'n redakteur was nie.
Die pogings van tuis- en alternatiewe publikasies wat
staan en spog dat hulle nie die hoofstroom-huise nodig het nie, is werklik
irritant. Nou sit 'n mens met Lorenz en jy wonder hoe kon die verse gelyk het
met vooraf kritiek?
Om 'n goeie digter te wees, beteken dat jy goeie verse moet
ken. En ook jou plek in die kanon. Dan weet jy dat die reeds gesêde net
uitgespreek kan word as dit verïroniseer word - of as dit getroef kan word...
Helaas, helaas. Die probleem is met so 'n publikasie is
dat die waan geskep word dat ons hier 'n digter het (my eksemplaar is selfs
geteken!)van statuur. Ons verneem dat 'n volgende publikasie Verskeurings sal heet.
Daar word in sowel Engels en Afrikaans gedig. Ons skop
af met haikoes wat alte dikwels die punt mis van 'n konkrete beeld wat die
abstrakte moet vergestalt. Dan is daar gedigte wat soos pooizie klink. O die
verhewe woord wat opgestapel word. Die Groot Insig. 'n Verwysings selfs na
Vader Tyd!
Net een strofe:
Muis
Uit sy mondhuik rys 'n lugblaas
voor hy soos ontredderde sperm
wegsink, blind stu en beur (19)
Die hele boek is een van “innige beroering”.
O wie sal die hek teen hierdie poëtiese kabouters sluit?
As jy wil lees, bestel by Gnomic Press, Posbus 1388,
Heidelberg, 2400.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]