H.P. van Coller (Red.) - Perspektief & Profiel: Band I. J. L. van Schaik 1999. ISBN 0 627 02346 0.
Resensent: Joan Hambidge
Perspektief & Profiel -
'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis is
uiteindelik met ons! Deel I is 'n dikke kluif van 'n boek, eintlik kompendium
wat die leser neem op 'n reis deur die Afrikaanse letterkunde.
Daar is baie stories oor die ontstaan van hierdie boek.
Dreigemente oor laat-kommers en laat bydraes. Selfs 'n prokureursbrief het glo
die ronde gedoen. En dis waarskynlik juis die feit dat sommige bydraes vroeër
as ander geskryf is, wat die boek ongelyk in aanbod maak.
Byvoorbeeld Karen
de Wet skryf 'n opvolg by Charles Malan. Hierdie skrywer fokus op die oeuvre, 'n ander kyk na die bydrae. Die
een is poststrukturalisties; die ander outyds teksgerig. Die een literator
skryf nie sonder om 'n hele resepsie van ander by te bring nie, wyl iemand soos
Henning Snyman net op homself aangewese is.
'n Who's who
van die Afrikaanse letterkunde dus, maar waar is De Lange byvoorbeeld? 'n Mens
sou kon fieterfot tot die koeie stal toe loop, maar miskien is dit noodsaaklik
om eerder te skryf dat hierdie studie waarskynlik aan die einde van die
millennium wys dat daar verskillende metodes gedy binne die bedryf en dat
verskillende strominge neffens
mekaar bestaan.
Hierom maak die literatuurgeskiedenis die indruk van 'n
potpourri. Anders as J.C. Kannemeyer se literatuurgeskiedenis waar een stem
alles aanbied of die latere pogings van Cloete, Smuts en Botha, is hier
verskillende metodes en bydraers gevra.
Die gevolg is 'n studie wat ongelyk is, maar een waarna
die student gestuur kan word met 'n opdrag van hoe vergelyk verskillende
bydraes? Watter implisiete ideologie is hier af te lese? Is die kritikus
objektief?
Hoeveel resente teorie is bygewerk? Is die stuk 'n bydrae
of praat dit gewoon net die voorafagaande publikasies na?
Daar kon ook kommentaar gelewer word op die hoeveelheid
vroue wat binne die Afrikaanse letterkunde werksaam is. Die androsentriese
letterkunde het dus plek gemaak vir die vrouestem. Maar hoeveel van hierdie
skryfsters dink soos vroue of is gewoon net verlengstukke van die manlike
denke?
By Lina Spies is daar onder meer 'n vroulike
gevoeligheid te bespeur wanneer sy oor Elisabeth Eybers skryf, maar kan
dieselfde geskryf word van Marisa Keuris wat meer wetenskaplik-neutraal
is?
Perspektief & Profiel wys eintlik 'n interessante probleem van die
literatuurgeskiedskrywing binne 'n postmoderne tydvak (aan die einde van 'n
millennium) uit: teenstrydige, disparate en selfrefleksiewe bydraes teenoor die
outydse momument-agtige kanonisering sonder enige bevraagtekening.
Maar selfs in 'n kompendium soos hierdie is daar ook
implisiete kanonisering aanwesing. Wie het besluit wie die geskiedenis sal
haal? En wie het besluit wie sal 'n kommentaar oor die skrywer lewer?
As Van Wyk Louw geskryf het dat die klou alreeds die
dier aandui, kan 'n mens skryf dat die literator alreeds die gehalte bepaal. As
'n jong literator oor 'n groot skrywer 'n bydrae lewer, dra dit beslis nie
dieselfde gewig as wanneer 'n ouer literator hieroor skryf nie.
By die lees van Perspektief
& Profiel het Kees Konyn se wonderlike artikel “Herkouers” weer
tersaaklik geraak. Hoé literatore in wese napraters van mekaar is. Kees Konyn
skryf:”Ek sien hulle daar rustig lê in die weikampies van Stellenbosch en
Pretoria, Kaapstad en Bloemfontein, van Johannesburg en Pietermaritzburg, die
vreedsame herkouers, met hul groot onskuldige oë, hul gladgelekte lywe, hul
breë, pap bekke wat onafgebroke in beweging is, wat sonder ophou Prinsen en Rijpma
en Van Leeuwn en Rispens en De Vooys en Donker deurmekaar maal tot 'n vormlose,
geelgroen prut”(p. 59).
'n Mens kan hierdie kragtige uitspraak aanpas met 'n die
herkou van die poststrukturalisme en postmodernisme; die resepsie-estetika en
ideologiekritiek. 'n Vormlose geelgroen prut darem nou nie heeltemal nie, maar
beslis 'n kompendium van min opwinding.
Die waarde van die studie lê in die verslag van
verskillende leesmetodes. Vir diegene wat hou van één deurlopende
Kannemeyer-stem met dieselfde kriteria van oordeel en vooroordeel, sal Perspektief & Profiel 'n koorsang
met welluidende en skitterende (en hier daar 'n vals noot) stemme vind. Miskien
omdat die dirigent bloot samesteller was en gesukkel het om almal betyds by die
repetisies te kry.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]