Fethiye, Turkye © 2012 Wallpapers Kingdom
IIn hierdie dae waarin ons dikwels lees oor geloof versus wetenskap, wat hewige en emosionele debatte ontlok, dink ek terug aan ‘n ervaring in Turkye in 2008. Dit was ‘n reis geboek deur Trafalgar met vele stoppe en oorstaanplekke wat nog lank daarna in die gemoed sou draal.
Niemand kan waarskynlik die lewe na die dood “bewys” nie. Tog kan niemand telepatiese verbintenisse tússen mense ontken nie. As alles wetenskaplik bewysbaar of kwantifiseerbaar was, hoekom is daar iets soos die digkuns of word ‘n mens ontroer wanneer jy na groot sangers se vertolkings luister? Waarom is daar iets soos ‘n epifaniese oomblik?
‘n Uitsonderlike ervaring vir my was die belewenis van Derwiese dansers in ‘n grot in die sogenaamde Dervish House. In Fodor’s lees ek dat Rumi in Konya geleef het. “Beautiful, trancing and unique” – moenie dit misloop nie, beveel die reisgids.
Derwiese Grothuis © 1998-2013 priceline.com Inc.
Op sulke
georganiseerde bustoere moet mens vir die ekstras betaal soos vir hierdie
vertoning. Die reis deur Turkye is lank en uitputtend met ‘n sjarmante gids wat,
elke keer wanneer ons vra hoé ver nog, lieg met ‘n “ons is amper daar”. In ‘n sirkelreis deur Turkye, wat begin en
eindig by Istanboel. Met ‘n drama wanneer ‘n vrou skielik siek raak en die busbestuurder
na die naaste hospitaal haas. En dit gelukkig net hitte-uitputting blyk te
wees.
Op versoek van ‘n
mede-reisiger besluit ek om tóg die Semâ-seremonie mee te maak, ten spyte van
my onkunde oor wat dit nou eintlik behels.
In die sewe stappe
van die mistieke ervaring, beleef ons woordeloos die inspirasie van Mevlânâ
Celâleddin-i Rumî wat geleef het in die dertiende eeu (1207 – 1273). Die soeke
na die heilige mistieke sirkel om perfeksie te vind en nader aan God te beweeg.
Die sewe stappe is
die volgende:
1. dit begin met
‘n aanprysing (Nat-I serif) van die
Profeet wat liefde vergestalt en om hierdie Profeet te besing, beteken dat God
geëer word;
2. hierop volg
tromslae wat die “Kun-Be” weergee;
3. in die derde
fase luister ons na instrumentele musiek wat die eerste asemhaling voorstel;
4. dan groet die Derwiese dansers mekaar en begin in ‘n drievoudige sirkel te stap, die “Devri Veledi”, wat die voorstelling is
van siele wat mekaar herken;
5. die vyfde fase is die Semâ (op Engels “whirling”) wat uit
vier “Selams” bestaan:
(i) in die eerste groet of saluut word die bestaan van God
as Skepper erken;
(ii) in die tweede groet word die grootsheid van die
skepping geëer;
(iii) in die derde groet word die belangrikheid van liefde
gesien wanneer die
persoon alles aflê om deel te word van die Een. In die
Boeddhisme word dit
Nirvana genoem en hier Fenafillah.
“The aim of Semâ is not unbroken ecstasy and loss of
conscious thought,
but realization of submission to God”, verduidelik die
glansbiljet.
(iv) in die vierde groet word die onderdanigheid aan God
weer beklemtoon
met ‘n erkenning daarvan in Sy werk op aarde.
6. In die sesde
fase word daar uit die Koran gelees. Sura Bakara 2 vers 115:
Aan God behoort
die Ooste en die Weste en waarheen jy ookal beweeg of draai,
vind jy Sy Aanwesigheid.
“He is
All-Embracing, All-Knowing”, lees ons.
7. Die seremonie
kom tot ‘n einde met ‘n gebed om vrede vir alle siele.
Hierna keer die Derwiese dansers terug na hul selle vir meditasie (tefekkür).
En almal is
ontroer.
Derwiese dansers © Bruno Morandi
- Stone/Getty Images
II
So het ek in 2008
op my reis hieroor gedig:
Derwiese dansers
Op ’n keer sien ek
Derwiese dansers
in ’n sirkelgang
soos ’n sissende slang
met rokke wat swaai
in selfhipnose
amper nes ’n trans . . .
Op ’n keer eenmalig
Derwiese dansers
dansend ’n dáns
op ’n sewe maatslag,
tollend weg van die ek.
(Opgeneem in Vuurwiel. Human & Rousseau. 2009)
Maar hierdie
ervaring lê buite woorde. Net so min as wat ‘n mens ‘n spirituele oomblik of die
impak van ‘n gebed kan verwoord…
III
En waarom soveel
jare later hieroor skryf?
Toevallig – maar
ek glo lankal nie maar aan toeval nie – val hierdie brosjure uit ‘n verslete,
voos-gelese grammatikaboek. Op my lang reise lees ek altyd ‘n Franse of
Italiaanse grammatikaboek om my kop skoon te hou. Op ‘n oggend ontvang ek
slegte nuus. ‘n Hartsvriendin is opgeneem in ‘n kliniek met ‘n
lewensbedreigende trombose. ‘n Aar is verstop van haar enkel tot buik en ‘n
operasie is die enigste uitweg. In die hande van ‘n knap sjirurg, wat
verduidelik hoe die hart en longe beskerm sal word met ‘n siffie teen stukkies wat
mag losbreek. Die stappe van die operasie wil ek eerder nie hier verduidelik
nie.
Net dit:
Ek bel my beste
vriende en familie en vra om aan haar te dink. Tydens ‘n slapelose nag mediteer
ek oor hierdie sirkel van mense wat net positiewe gedagtes na haar stuur.
Ateïste en
agnostici mag nou mor en beweer dis daardie uitstekende dokter en mediese
navorsing wat alles laat goed afloop het.
Mag so wees.
Ek weer dink dit
was eerder óns sirkel van geloof.
Bronne: