Karel Schoeman (Red.) Witnesses to war. Human & Rousseau, 1999. ISBN 978-0798138482.
Resensent: Joan
Hambidge
Witnesses to war dra as sub-titel: Personal documents of the Anglo-Boer
War (1899 - 1902) from the collections of the South African Library. Die
samesteller is Karel Schoeman, een van ons voorste romansiers en historiese
navorsers.
Telkemale publiseer Schoeman saam met 'n roman 'n stuk
historiese navorsing. Hieruit kan 'n mens dan aflei dat hy vir die leser
agtergrondsinligting wil gee vir die bestudering van sy eie fiktiewe tekste. Witnesses to war moet dus saamgelees
word met sy jongste reeks romans.
Volgende jaar is dit die herdenking van die
Anglo-Boereoorlog en nou onlangs was daar 'n kongres in Pretoria aangebied oor
die kongres. Ons noem dit nie die Suid-Afrikaanse oorlog nie, sê Swart
historici wat nie almal was daarby betrokke nie. Selfs oor die naamgewing gaan
die vonke spat. En wie se oorlog was dit presies? En as daar 'n gender-analise
gemaak word - soos Helen Bradford van die Departement Geskiedenis aan die UK
gedoen het - dan is daar ook nie
eenstemmigheid nie.
Schoeman skryf in sy Voorwoord dat mense oorloë
romantiseer. Hierdie oorlog was egter een verveling, frustrasie, futiliteit en
fisiese ongemak, skeiding, destruksie, swak vervoer en kosvoorsiening,
disenterie, blase, stof, modder, vlieë, luise - teen die konstante agtergrond
van potensiële geweld en gevaar.
Dit is 'n fassinerende boek wat tydig op my lessenaar
geland het. Dit bevat tersaaklike persoonlike kommentaar op 'n oorlog wat
volgende jaar herdenk word. Antjie Krog het op Donderdag 22 Oktober (in 'n
forum op Stellenbosch) 'n relevante vraag gevra oor ons historiografie: hoé is
dit moontlik dat ons vir dertig jaar in hierdie land met blindheid geslaan was?
En waarom is dit vir ons maklik om oor die Boereoorlog te kan praat en skryf?
Is dit omdat die Afrikaner toe 'n held was?
Gewoon net die hewige reaksie op haar Country of my skull aktiveer 'n
belangrike vergelyking tussen die Waarheids- en versoeningskommissie versus die
dokumentasie rondom die Anglo-Boereoorlog, die term wat ek verkies.
Schoeman se Witnesses
to war bevat hartverskeurende passasies. 'n Mens kan werklik nie ongeroerd
staan teenoor die waarnemings en ervarings oor die onmenslike toestande van die
konsentrasiekampe nie. Die beskrywing van moeder se totale magteloosheid ten
aanskoue van haar kind se siekte, is werklik aangrypend. Ook wanneer die “lijkwagen”
opdaag - en die ritueel vangesange sing - laat geen leser koud nie. En niemand kan sê die buite-wêreld het nie geweet nie. Mevrou Jacoba Lorentz
het in Switzerland etlike lesings gegee oor die kondisies in die kampe.
Die belangrikste effek van hierdie roman is dat dit
onwillekeurig 'n mens dink aan al die verhale wat jy as kind oor die
Boereoorlog gehoor het. Ma weet te vertelle van Ant' Breytie Breytenbach-hulle
wat na die oorlog op hul plaas in Frankfort opdaag. Die Engelse het alles
geplunder. Behalwe: langs die varkhok staan die boerpampoene dik gestoel van
die pitte wat die varke uitgespoeg het.
Daar is vir my nie 'n meer gepaste metafoor as hierdie
een vir die Boereoorlog nie.
Of die verhaal van die boereoom wat verflenterd opdaag
na vele ontberinge in die oorlog, sy ou vrou vir die eerste keer sien na sy uit
die konsentrasiekamp weg is en meteen besef: sý oorlog was absoluut niks in
vergeleke met hare nie.
Of die mite dat die boere gesê het: moenie 'n Engelse
generaal skiet nie. hy is ons beste vriend wat sy swak oordeel en bevele het
die boere menige keer goed te staan gekom.
Schoeman se boek bevat vele wetenswaardighede. 26 370
wit vroue en kinders is dood in hierdie oorlog; en daar is meer swart mense
dood as die 14 154 as wat die offisiële statistiek aangee.
Dit is werklik 'n boek wat 'n mens keer op keer tref.
Soos die profetiese droom van die twaalfjarige Anna Kloppers (p. 161): in
hierdie droom vertel die man vir haar dat God nie die klein volkie sal uitwis
nie.
Of die beskrywing van die lykwaentjie wat die dooie kind
moet kom haal en die ritueel van afskeid. Of die jong kinders wat in die kampe
op die kiste slaap.
Die moderne historiografie is dan ook besonder
geïnteresseerd in die orale oorlewing of persoonlike dokument wat dikwels 'n
verrassende bydrae lewer tot 'n epogmakende insident.
Ook die foto-materiaal in hierdie studie verdien
vermelding. Op bladsy 109 sien 'n mens duidelik hoe swartmense weliswaar deel
gevorm het van die oorlog, uniform en al. Met hierdie publikasie word sodanige
bydraes aan die vergetelheid ontruk.
Ek het lanklaas 'n non-fiksie boek só geniet. In
aansluiting by al die bekendste studies oor die Boereoorlog - waarvan Spies se Methods of barbarism vir my persoonlik
die meeste beteken het - is hierdie dokumente-studie 'n moet alle
belanghebbendes.
Die teks is uiters goed versorg en die Engels vloei
goed. 'n Mens is werklik dankbaar vir Schoeman se ywer.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]