Johann Lodewyk Marais – Sirkelgang. Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-09-6
Resensent: Joan Hambidge
In hierdie bundel vind ‘n mens veral ‘n bemoeienis met Afrika en die natuur.
Die openingsgedig sê dit reeds:
Tel dit met eerbied op: Dit is rou klei
met miljoene vingerafdrukke op.
Die titel van die gedig “Interteks” neem die leser nie net na ander skrywers nie, maar veral ook na die skrywer se ondersoek na hierdie temas, soos nou onlangs beskryf in Kumbukumbu: ’n Reisboek oor Kenia (2022). Gesprekke met skrywers soos hierdie een met Pound:
Ek lees Ezra Pound
in die trein en sien druppels
op die vuil blare. (83)
Ezra Pound:
The apparition of these faces in the crowd:
Petals on a wet, black bough.
In “Reisplan” (92) praat hy met tydgenote en hul reise. Marais met ‘n reisplan op die knie. “Onvoltooid II” (44) is ‘n lieflike palinode op Louw se bekende vers:
Of dalk sterf jy vannag stilweg
met die laaste woorde wat steeds
gesê en ongesê bly voortbestaan.
By hierdie digter is daar werklike reis na onbekende ruimtes, maar ook besoeke in die fantasie en herinnering. Die jeug word dikwels opgeroep wat die idee van ‘n sirkelgang oopmaak. ‘n Mens keer terug na jou verlede om die hede te probeer begryp.
In “Geel Nyl” skryf hy oor die grense en liminaliteite:
Op die grenslyn tussen die dor woestyn
en die doringstruike van die savanne
lê die tekens van vroeër in die sand.
En dis hierdie soeke na tekens wat ‘n mens opval in hierdie bundel met die digter as semiotikus.
Veldslae, grafstene, gedenkplate word gesien in hierdie terugreis na die jeugbestaan in Harrismith met ‘n besinning oor die impak van die Boereoorlog. Figure uit die jeug word argetipes van die bestaan wat die kind blootstel en bekend stel aan pynlike ontnugteringe soos oor Kevin wat weggeneem word na ‘n inrigting en die niggie Charlotte. Hierdie leser sien dan ook die terugkeer van jeugmense terug in die nou in mooi liefdesgedigte – maar iets bly in hierdie sirkelgang onvoltooid en ongesê.
Foto’s wat nie ontwikkel kon word nie en leeg uitkom, maak van herinnering via die skryfproses die enigste uitweg vir die digter: besonder goed beskryf in ‘n gedig oor Etienne Leroux met verwysings na Jan Rabie en sy vrou, die Vlaamse lettterkundige Marcel Jansens en die biograaf en kanoniseerder J.C. Kannemeyer.
Gedigte oor die natuur en diere – is bekend aan hierdie digter se werkswyse - word hier bevestig in ‘n besondere reeks oor slange. In “Gewone luislang” (47) word die slang gekoppel aan die digter se jeugherinneringe.
Gewone luislang
Python natalensis
Tussen die plaashek en die voorhekkie
vlam die weste op in ’n wêreldbrand
soos uit ’n prent in die Kinderbybel
en ek dink die einde het aangebreek.
En uit Genesis hoor ek van die slang
in die Paradys: Adam en Eva
se ontmoeting in hulle vrugteboord
met ’n listige en slu besoeker.
* * *
In die dieretuin op Okahandja
lei Pa my tussen kameeldorings deur
na olifante, leeus, kameelperde
en ape ingehok agter tralies.
Skielik lê reg voor ons oë ’n slang
met yslike donkerbruin rugvlekke,
die kop soekend en nie vermorsel nie
en ek vlug gillend los uit Pa se hand.
Zoopark, Okahandja
Ook sinryk hier omdat die oeroeboros ook die slang van kreatiwiteit is met die ewigdurende siklus van geboorte en dood. Die terugkeer na die jeug en hoe dit die volwassene se lewe bepaal, neem ons terug na Carl Gustav Jung se sieninge oor argetipes, die sirkelgang van die bewuste en onbewuste en die numineuse.
Die politieke verse beklemtoon ‘n verdere sirkelgang van hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Die digter se groenpolitiek word bewys in verse vir en oor Gretha Thunberg met ‘n inspeel op Ingrid Jonker se gedig oor die kind. Die oorlog in die Oekraïne (met moontlikhede vir verskillende weergawes) bewys hoe behendig Marais dig.
Die slotafdeling vergestalt ‘n spirituele bewussyn mooi verwoord as volg:
Die uur
Daar is ’n uur as die lig verander,
die skadu van die bome langer word,
die tortelduiwe se gekoer aanhou
en die kraaie naby die huis kom sit.
Dit is die uur om varkore te pluk
in die ruie tuin van vantevore
en oorkant na die graftes toe te neem
waar my voorouers steeds ter ruste lê
in bestrede en belaste aarde. (86)
Gestroopte verse wat met min woorde ‘n hele sirkelgang laat oopwaaier. Terug na die digter se oeuvre en na ‘n ander digters en plekke:
“vol durf met drif en drang, onbevry”.
Marais is ‘n uiters produktiewe digter en navorser met uitsonderlike historiese studies en reisboeke.
Bronne:
Jung, C. G. 1964. Man and his symbols. Londen: Aldus Books.
Jung, C.G. 1953 – 1979. The collected works (Bollingen series XX). 20 volumes. Vertaal deur R.F.C. Hull. Ed. H. Read, M. Fordham, G. Adler, Wm. McGuire. Princeton: Princeton University Press.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)