Francois Smith – Kamphoer. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06551 7
Resensent: Joan Hambidge
I
Kamphoer is die romandebuut van die
redakteur, Francois Smith. Dit vertel die verhaal van Susan Nell, 'n vrou wat
wreedaardig verkrag is tydens die Anglo-Boereoorlog en jare later
gekonfronteer word met haar boosdoeners. Die eerste ontmoeting vind plaas tydens die
Eerste Wêreldoorlog in 'n Britse militêre hospitaal waar sy
trauma-begeleiding doen. Die tweede ontmoeting vind plaas ná 'n verhoor van die Tweede
Wêreldoorlog.
Dit is bepaald 'n pakkende roman op
verskillende vlakke. Dit is egter jammer dat die buiteflap met die volgende taal die
boek bemark: "En in die proses word sy teruggestamp in 'n bomkrater wat sy
geglo het lank reeds toegegroei het en veilig bedek was". Ons sien
verder op dat 'n "warrelwind" deur haar ruk. En die roman hou jou in 'n
"yskoue greep".
In die eerste instansie word die gegewe van
die ABO-oorlog op 'n nuwe wyse bekyk, en meer spesifiek, deur die oë van
'n vrou as slagoffer aan die hande van die Britse mag. Die hoogs emosionele
onderwerp van verkragting word besonder goed hanteer.
In die tweede instansie het ons 'n manlike
skrywer wat hom índink in die ervaringe van 'n vroulike subjek en die
verhaal goed vertel. Vir genderteoretici is dit dan 'n belangrike
blikhoek en veral Hélène Cixous se bekende essay Sorties (Exits) opgeneem
in The newly born woman (1975) is hier relevant oor die
konkaaf/konveks-spanninge in skryfwerk. Die feministiese leser sou dus bedag wees op 'n
manlike blik of dalk 'n onvermoë om oor intiem-vroulike emosies en
liggaamlikheid te skryf. Smith verbeeld die emosionaliteit van die vroulike spreker
en háár ervaring van liggaamlikheid op 'n oortuigende wyse.
Veral die gevoel dat sy verminder is deur die verkragting, word uiters simpatiek
beskryf (64):
"Die swartes sing, maar dit maak niks
nie, dit vat niks weg nie. Hulle kan maar met my maak wat hulle wil. Ek is
nikswerd. Die Here sal my uit sy mond spoeg. Hoer is my naam! En uit sy mond kom
'n tweesnydende swaard en zijn aangezicht was gelijk de zon schijnt in
haar kracht, gelijk de zon schijnt in haar kracht".
In die derde instansie erken die skrywer in
'n nawoord dat die gegewe gebaseer is op die werklikheid. Nico
Moolman se The Boer Whore is die interteks wat die outeur Smith herskryf het
in 'n fantasieryke verhaal. Die verhaal van Susan Nell, 'n bywonersdogter,
wat op 1 Januarie 1902 in die Winburgse konsentrasiekamp deur twee Britse
offisiere en 'n joiner verkrag is, kom in hierdie roman aan bod. Sy word
gered deur 'n Sotho-man toe sy van die kamp se lykswa afval. In Kaapstad word
sy versorg deur mevrou Marie Koopmans-De Wet en gaan uiteindelik na
Nederland waar sy in die psigiatrie opgelei word. Francois Smith vertel nie
haar volle lewensverhaal nie. Pynlik om te verneem dat haar naam nie vermeld
word in die Winburgse konsentrasiekamp nie. Ons weet almal dat
vele mense wat gesterf het in hierdie oorlog onbekend gebly het. Die
ongemerkte graf in Winburg, langs
haar vriendin Alice Draper, behoort aan
haar. En hierdie boek ontruk haar aan die vergetelheid, gee aan daardie graf
'n naam. Die graf dra ook die naam van Ntauleng ...
In die vierde instansie is hierdie teks vir
die psigoanalitiese leser 'n belangrike teks. Die spanning tussen
ego/alterego (Jung), die verhouding met Tiisetso (en die voorvadergeeste) en die
verhouding tussen dood en lewe word vernuftig hier uitgebou. Op bladsy 95 is
daar eweneens 'n subtiele toespeling op DJ Opperman se "Sprokie
van die spikkelkoei", 'n gedig wat handel (o.a.) oor die spanning tussen fabel
en die bo-natuurlike:
"Die spikkelkoei, die een met
kolletjies soos 'n tarentaal, die bont ene, dít is die koei".
Die hele teks sit vol kodes vir die leser
wat die chora (fuik) van hierdie teks wil opvolg (88), net soos die gebruik
van die begrip "deurwurm" (70) waar die indrukke van beelde en
herinneringe en die impak op die hoofkarakter se binnespraak beskryf word,
dikwels in poëtiese taal. ('n Hoogtepunt is hoofstuk tien.) Sy is immers
opgelei as verpleegster in die psigiatrie (69) en in hierdie tyd het Freud
al van sy belangrikste werk gelewer oor die onbewuste. Daar is
verwysings na Reymaker Psichiatrie. En die semantiese verskille tussen
"bomskok" en oorlogskok word eweneens verduidelik. Freud is in die teks. Op
bladsy 232 word daar verwys na die belangrike teks: Oor die psigopatologie van
die alledaagse lewe.
In die vierde instansie word die
verwysings- en beleweniswêreld van Sotho-mense oortuigend verhaal. Die vertelperspektief word afwisselend van
buite én binne vertel. Die roman val ook met die deur in die huis met die
konfrontasie met 'n boosdoener wanneer sy die merk op sy oor sien (8).
Dit is jammer van die flapteks - wat die
roman te populisties laat klink - en die deurslaan van die implisiete outeur
se stem op bladsy 58 waar Susan dink die vrou is 'n parodie van die tipiese
streng matrone. Ek is van mening dit sou nie pas in die tyd nie. Hierdie roman is inderdaad 'n tweesnydende
swaard. Dit vertel meer as 'n verhaal van konfrontasie met diegene wat
jou skade berokken het. Hurst, ook, word goed geteken. Dit is eweneens 'n
analise van die geskiedenis, maar veral 'n komplekse teks waar die duiwels
onder draai. Dit neem sy plek in langs tekste oor die boereoorlog en
trauma-letterkunde in die algemeen.
Dit is geskryf met 'n onuitwisbare pen. Vir
my aangrypend, veral oor die slim hantering van Freud, et al.
(Hierdie resensie word geplaas met
vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)